“Met kroes krulle gan ek nêrens!”

  • 3

Iewers innie nientags was daa ’n song gerelease in Indië wat toe geremix was deur ’n local Capetonian DJ. Die remix was heavy popular oppie Vlaktes. Dit het innie Jolle, Matinees, oppie straathoeke, langsie Vrydagaandvure, innie Mob se texies en innie Game-shops gespeel. En amal het saam gesing, maarie ding is dié: ôs hettie in Hindi gesingie, dit was alles in Kaaps. En amal van jonk tot oud het dit soe geken.

“Meisie kyk hoe lyk jou hare. Dit lyk soes ghoema, ghoemahare!”

Nou, as kind het ek baie goed vestaan hierrie struggle mettie anvaring van “ghoema”- hare, kroes krulle. Dit maak nou nie saak offit jou eie issie. Assit groot was, dan het djy alles in jou vemoë geproebee ommit plat te maak. Djy’t alles gekoep, alles opgesit, en allie oumensrate getry net soerat djy nie hoef te warrie oorie “kroes van jou krulle” nie. Nou, in vandag se dag, is daa somme baie, volgens hare, wat gechange het, maa baie wat noggie selle is.

As tiener het ek my hare gebruik as ’n simbool van rebellion, en oek reg deu my 20’s. Dit was dié cut, dan dáái cut, dit was dié dread, dan dáái braid, dit was dié blond na dáái rooi. Dit was my way om te sê: “Djy besit my nie.”

Die eeste kee wat my hare “ge-onspan” was, was ek dêtien jaa oud. Dis nou nie dat my hare gestres wassie. Niee, dit was perfek! Swart sagte krulle. But never mind the perfection van my hare. Ek was nog steeds baie impressed met net hoe glad my hare op my kop was, na daai onspanning. Of nou wat ek dink daa-an, miskien wassit dood? Anyway … Dit was pikswart, en dit het geval soes die wit mense se hare oppie TV val. Djy wiet daai vrou wat aliewig uittie water uit spring en sy smyt soe haa hare agtentoe, en you know, dit lyk net soe Hollywood. Wel, ek het soes daai gevoel, antreklik. Nie net deu my groot imaginationie, maa oek ommat amalie mense om my het my vetel hoe “mooi” en “pragtig” ek lyk, met my Gladdis nights. Vi julle wattie wiet wat Gladdis nights issie, dis gladde hare. Dit was oek ’n baie confusing experience vi my, wan annie een kant was ek bly dat mense finally die “mooi” in my gesien het. Ek was dankbaar dat ek oek kon uitstaan. Lae selfvetroue en geloef, you know. Call it what you like. But annie annekant het ekkie lekke gevoel oo die hare wattie myne wassie. Because ek wou maa net geanvaar wôd soes ek was, met kroes krulle en al. But dissie hoe die liewe ôs treatie.

Na daai mooi woorde oo hoe mooi ek lyk en hoe pragtig my hare lyk, uitgesterf het saamit my swart Gladdis nights, het ek besef dat die hele hare-biesagheid somme net alles ’n klompie leuens is. Ek het beginne dink die maak vi iemand heppie, maa daai iemand issie ekkie. My ma miskien, offie hairdresse, maa nie vi my nie. Ek is dankbaar daa wassie altyd geld vi sulke onnodige dinge nie.

Dit was vannie kere wat ek gesien het hoe mense nie heppie oo my wassie, maa die heppiness het gegan oo hoe “wit”, “smart”, “styl” (’n term wat bedoel “glad”), “sonne kroes krulle” my hare was. Kallid-moeders van giste kon nooitie mooi in kroes krulle sienie. “Stress-free” hare het vi hulle heppie gemaak. Maa ek hettie van dit gehou nie. Dis toe ek my ma sê: “Mammie, ek willie wee my hare relexie, wan dit briek my hare af.” Ek kon mos oek nou nie sê wat dit an my hart of my ego doenie – al wou ek dit gesê het, het ek maa stilgebly. Wetend dat sy my sou dwing om my hare “bietere” te maak, en soe sê ek toe oek innie selle asem: “Ek dink as ek straightene ansit dan sallit bietere wies.” Nou straightene is ampe soes relexe, maa dit het net ’n bietjie minner chemicals in gehad as relexe.

Dis hoe ek myself moes troos mettie feit dat daa minner chemicals in was.

Nou ek wietie hoe dit is om as kind ’n wit of swart experience te hê nie, maa kallids, innie algemeen, wôd grootgemaak sonne ienige outonomie. Soe djy het gien sê oo jou eie liewe nie. Djy kannie besluite maak vi jouselfie, wan besluite is grootmensdinge. What a way to kill personal development nog voorit beginnit. En soe die pesoon wat djy raak hangie van jou affie. Sulke goed het ek, selfs as kind, tien gebaklei.

Ek moes die keuse maak om my hare te gebruik as ’n wapen om te veg tienie powers that rule teenoo wat goed genoeg is en nie goed genoeg issie, en wie ek mag, en wie ekkie mag raakie. Those days hoef mensie ver te gegan het om daai stemme van Mag te hoo nie. Die vroue in my liewe het my voogesê oo hoe ek moet lyk, voel, en wies om daai “regte man” in my liewe te kry. Wan daai is al waavoo vroumense nodig was in ôs wêreld. Dis toe ek besluit het om daai stemme en die stemme vannie gemeenskap stil te maak deu my hare, “my Trots en Kroon”, trug te vat en te maak met dit wat ek wil.

En ek wiet oek dat dissie soe maklik vi vroumense om hulleself trug te vattie. Maa dis waa dit vi my begin het, en ek het van daa af net vêder gegroei.

Ek het opgegroei met sêgoed soes: “Wanne djy ’n man vat dan moet djy mooi vat, wan djy moet dink annie nageslag”; “Wanne gan djy iets an daai kop van jou doen?” En dan oek Saterdagmiddag was hare-was-dag. Die getrek van hare ommie meeste krul uit te kry, dan was daa die indraai met groen en oranje rolles, depending alles op hoe lank jou hare was, dan was dit die halfuur se gesit onner ’n blow-dryer wat hien-en-wee deur my ma se hand, oo my kop gestuu wôd. Dan was dit daai klimaks na vie tot ses ure se gesuffer. Die straal van anvaring op my ma se gesig. Soes om te sê: “OK, nou is djy my kind.” En daai oomblik het vi my baie heppie gemaak. En soes ek ouer geraak het, het ek my alles geproebee om soeveel as moonlik daai glans in my ma se oeg te sien. Dit was make-up, dit was hare doen, dit was rokke antrek, wat ekkie rêrig van gehou hettie, dit was boyfriends wat ekkie rêrig wil gehad hettie, but soelank ek daai gesig van heppiness kon sien, was dit alles OK. Tot ek net een dag opgehou het. Daai dag het ek besluit dat ek soekie mee daai high of daai trippie. Daai dag het ek begin dink an my hare as my eie.

My ma is afstammeling vannie Griekwa, ’n stukkie vannie Oorlam oek. Die deel wat sy die meeste van hou is haa voo-ouers wat Nederlanders was. Nie iets om rêrig oo trots te wiesie, but my ma sê sysie ’n “Hotnot” nie. (’n Topic vi môre.) Djy kannie mense die waarheid lat sien as hulle stêk in ’n leuen in gloe nie. Anyway ... My ma sien haaself as bieter dan ’n Hotnot, bieter dan my. Wan it just so happens that I have always searched for a part of my ancestry that wasn’t praised and worshipped by the people around me. Daai deel van myself wat swart is, wat inheems is. Ek wou nog net altyd uitgevind het van my swart kant. Dit was nog altyd ’n ding vi kallids om te relate mettie wit kant van hulle, die “bietere” kant soes hulle dit sien, but die swart kant, wel ... En wie kan hulle blameer? Ek het dit proebee doen, om my mense te blameer oo hulle soe rassisties is, maa ek het kô vestaan dat soe baie van hulle, ennie way hoe hulle dink oo hulleself, in vegelyking met anners, en ek praat nou vannie “swart” anners, is rêrigie hulle skultie.

Ek dink hie an Adolf Hitler en sy gedagtes oo leuens en liegtery in sy boek Mein Kampf waa hy praat oorie “Groot Leuen”, en soe elke kee wanne ek myself kry om te dink oorie feit dat soe baie kallids hulle sien as witter dannie swartes, en “nader” an God, dan kom die gedagte by my op oo wat ek vestaan het toe Hitler gepraat het oo liegtery. Vetel ’n leuen lank genoeg en mense sal gloe in dit – al wys djy hulle die waarheid, sal hulle nog steeds met alles van hulle in daai leuen gloe. En elke kee wanne ek ’n draai kô maak by my mense en hulle rassisme, en oek my eie vedrukde lae van rassisme, dan dink ek an Adolf Hitler, en sy propaganda gedagtes. Hy was ’n slim man, nog steeds ’n moordenaar, maa slim. En ek dink daa an wan dis soe maklik, ok dis maklik as mens 4 generasies as maklik beskou, om mense vas te hou innie leuens wat vi hulle vetel was. En hoe moeilik dit rêrig is om hulle daa uit te kry.

Hare en hoe hare mie gewêk wôd, is rassisties, en seksisties. Dis polities oek, wannie pesoonlike is mos altyd polities. Dis oek kapitalisme, wan hoeveel geld spandeer ôsie op “mooi” maakie, op “straight” maakie, en nou op “natural” maakie. Ek dink trug annie potloodtoets vannie apartheidsjare. Wie het met daai idee opgekô? Druk ’n potlood in jou hare, assit bly dan is djy swart, en assit uitval dan is djy nie. Is dit waa die hele ding van hare begin het vi kallids? Wan ek wiet oek dat baie kallidfamilies deu dié gemôstoets opgebriek was. Die een broe se hare was te glad en sy vel te lig toe is hy wit, die anne suste se hare was te kroes krullerig, en haa vel te donke toe plak hulle hulle sticke, “swart”. Miskien het my ouma se oumas haa soe gelee om te onthou dat die wit man sal jou weg vat as jou hare te krul, of te kroes is. Miskien is dit daa wat dit begin het. Miskien was dit toe my ouma se oubaas haa vetel het om haa hare toe te maak, wan hy likes ittie.

Soes ek opgegroei het, was daa weinig wat ek my ouma sonner ’n doek gesien het. Ek het haa toe gevra maa sy’t sulke pragtige grys krulle, hoekô stiek sy it weg. Ek het nooit gedink ek sal soe ’n antwoort van haa af kry nie. Ek wietie dat ek ooit gedink het in terme van my ouma wat eens ’n “slaaf” wassie tot sy my gesê het. “Miesies het gesê Oubaas hou nie van my ‘kroes krulle’ (my woorde) nie, en ek moet dit toemaak. Sy’t my ’n doek gegee, en gesê ek moet dit toemaak, en nooit weer sonder ’n doek voor hulle kom nie.” Hoe hanteer mens iets soes dit? Woorde, meeran woorde, maa ’n experience wat jou grootma ervaar het. Wan soeveel goed het vi my opgekô. Soes: wat exactly was vekeerd met haa hare? Was dit te eksoties? Was dit te na an sy eie? Wat was dit rêrig?

Ek wiet oek dat apartheid (“segregasie” in allie anner dele vannie wêreld) hettie net swart mense en “kallids” veskee van hulle menslikheid affie. Ek dink mee soe, dat wit mense die êgste see gekry het, wan hulle was heeltemal gedisplace van hulle menswies af, ennie net in Afrika nie maa die hele wêreld vol, deu ’n leuen dat hulle bieter is dannie res vannie mensdom. Deu ’n leuen dat wit, en alles wat wit is, die beste en reinste is, djy wiet, die Gladdis Nights, die ligte velkleur, die geld, die “beste” van alles, die “Jesus” wat soes “hulle” lyk, in al sy foto’s, die taal wat hulle praat wat nou die hele wêreld vol lê.

Hitler was reg. Vetel ’n mens ’n “lieg”, en al sit djy die waarheid voo hulle, sal hulle jou afstry en opstaan vi daai leuen.

But hoe relate dié dinge trug na hare toe en hoe kallidvroumense nog steeds hulle kroes krulle afstaan, al maakit hulle hoe siek of arm? Al wat ek wiet, die geloef wat baie kallids nog steeds besit is dat assitie wit issie, dan issitie genoegie. En soe as daai hare nie sonne kroes krulle issie, dan issitie goed genoegie. Soe GHD, relex, straighten, strykyster, tang, ennie lis gan an, is die ienigste ding wat goed genoeg is, “wan met kroes krulle gan ek nêrensie”, soe sê ôs mos oppie kallid-Vlaktes.

  • 3

Kommentaar

  • Aangrypend. 'n Mens besef elke dag meer dat daar soveel maniere was en is waarop mense gekwets en verneder kan word. Die "haarkwessie" is die afgelope jare weer duidelik in die kollig, maar hierdie artikel toon ook dat selfs binne die groep mense wat daardeur geraak word, is daar uiteenlopende ervaring en mening. En 'n les, weereens, dat as jy dit nie verstaan nie, moet jy liefs stilbly en probeer uitvind en verstaan, pleks van jou mond daaroor uit te spoel.

  • Absoluut hartbrekend! Dankie, Olivia, vir hierdie treffende skryfsel. Mag dit duisende se verwysingsraamwerk verbreed.

  • Wow! n Mondvol waarheid. Ek dink die ergste van alles is wanneer ’n kind se ma begin skaam kry oor die kind se hare. Ai! ’n ma se liefde behoort van beter te weet. Maar, dalk dink die ma: "Ek wil my kind aanvaarbaar vir almal maak". Aanvaarbaarheid daarbuite is ’n pad wat ’n kind maar self moet stap. Die ma moet net die kind bystaan.
    Ja, dit vat my terug as kind, toe elke “auntie van ons wat kom kuier het, die Mediscalp aan my kop moes sit”, want my ma en my stiefbroers en stiefsuster se hare was 'glad' en myne soos my ma se eerste man s'n. Toe familie die dag vra ek moet by ’n troue strooi, toe vra my ma "En wat van die hare?" Die auntie sê toe, "Moenie daaroor worry nie. Ons vat haar hairdresser toe".
    Those were the days ...
    Vandag, baie jare later, hou ek van my hare krullerig dra. So af en toe “tong” ek dit uit of “blow”, net om ’n bietjie te spog dat dit lekker lank is.
    Maar, ek dink, in vandag se dae is hare-issues heeltemal iets van die verlede. Daar is wigs, hair extensions, braids, clip ins, you name it ... Maar, bo alles bly ’n issue ’n issue en sal mee gedeal MOET word, want dit maak jou dan VRY!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top