Met The Second Coming of Mavala Shikongo demonstreer Peter Orner sy talent as jongleur van die woord

  • 0

Titel: The Second Coming of Mavala Shikongo
Outeur: Peter Orner
Uitgewer: Back Bay Books
ISBN: 9780316066334
Publikasiedatum: Mei 2007
Aantal bladsye: 311

Klik op die omslagfoto van The Second Coming of Mavala Shikongo om jou kopie by kalahari.net te bestel.

Afrika. Ondeurdringbaar. Misterieus. So kyk gefassineerde buitestanders na ons "donker kontinent". Maar fassinasie neig altyd daarna om greep te verkry. In die geval van die kolonisering van Afrika gebeur dit sowel letterlik as simbolies. ? Bekende geval van simboliese toe-eiening is Joseph Conrad se klassieke roman Heart of Darkness (1902) oor 'n uitmergelende tog op weg na die nog ongekaarte binneste van Afrika. Ten spyte daarvan dat dit briljant geskryf is, is Conrad se boek eksemplaries van Afrika-representasies wat besmet is met 'n té opsigtelike buitestandersblik.

Genadiglik is daar ook uitsonderings. Soos die Amerikaanse Peter Orner, wat met sy debuutroman, The Second Coming of Mavala Shikongo, bewys dat hy na Afrika kan kyk asof hy nog nooit iets anders geken het nie. Die vanselfsprekendheid waarmee hy oor dié kontinent skryf, toon boonop geen geforseerdheid nie. Hierdie roman, wat in Frans, Italiaans, Nederlands en Duits vertaal is, was finalis vir die Los Angeles Times Book Prize en wenner van die Bard Fiction Prize. Orner het al met sy veelbekroonde Esther Stories (2001) bewys dat hy ? behendige jongleur van taal en vertelling is.

Larry Kaplanski, die hoofkarakter en een van die vertellers in Orner se debuutroman, is ? Joodse Amerikaan wat vrywilligerswerk kom doen in Goas, ? afgeleë Namibiese nedersetting. Dit was oorspronklik ? plaas wat behoort het aan ene Dupreez, ? moedelose man wat alles gedoen het om van sy nuttelose stukkie grond ontslae te raak. As hy sonder sukses in 1941 sterf, bemaak hy sy plaas aan die enigste wat dit nie kan weier nie, God, en by dié se afwesigheid aan Sy aardse verteenwoordiger, die Rooms-Katolieke Kerk. Radeloos met hierdie nalatenskap stuur die kerk twee Duitse monnike daarheen om ? boerdery te begin. Die kerk se houding was: as die monnike daarin slaag om wins te maak, prys die Heer; as hulle in die wildernis dood neerval, laat Gods wil geskied.

Gods wil hét toe geskied, en die kerk was weer hande in die hare. Vir lank het hulle nie geweet watter kant toe nie. Maar in 1967, toe swart kinders deur die Suid-Afrikaanse groepsgebiedewet uit die dorpe verjaag is, het hulle skielik ? plan gekry vir dié stuk grond: ? seunskool is gestig.

Met hierdie en ander historiese besonderhede vleg Orner die geskiedenis van Namibië deur die roman heen en wys hoe selfs die onbenulligste stukkie aarde deur die ratte van die geskiedenis geraak word.

As Larry Kaplanski in 1991 arriveer, word hy iewers in die woestynagtige omgewing van Goas afgelaai. Die laaste ent moet hy self loop. Uiteindelik aangekom, moeg en gedaan, maak die direkteur dit duidelik dat dit veel beter sou gewees het as hy geld gestuur het. Maar omdat hy tóg daar is, moet hy maar ? kamertjie in die vrygeselle-kwartier betrek en Engels en Geskiedenis gee.

In die stowwerige Goas verrys die vlam van begeerte wanneer ? voormalige vryheidsvegter uit die Namibiese onafhanklikheidsoorlog haar verskyning maak: die jong onderwyseres Mavala Shikongo, wat, gekleed in kort rokkies en hoëhakskoene, met luie grasie oor die sanderige terrein beweeg. Maar so misterieus as wat sy verskyn, verdwyn sy weer en laat Goas waansinnig van frustrasie agter, tot sy ? paar maande later weer haar verskyning maak, dié keer met ? kind met wie niemand raad weet nie, Mavala self nog die minste.

Geheimsinnig soos sy is, trek sy Larry in haar web in, totdat hulle daagliks tydens die siësta by ? paar afgeleë grafte uiting gee aan die ingehoue passie van die hele Goas, sonder dat daar sprake is van enige eksplisiete sekstonele. Dit wil gedoen wees! In plaas van eksplisiete seks, fokus Orner op die sukkelende geselsies tussen die twee, wat sonder veel sukses tog meer oor mekaar probeer uitvind. Meer leegtes as woorde. Soos die landskap om hulle. Die styl is ingehoue en die atmosfeer ? styfgespanne snaar - ? besonderse vaardigheid binne ? ruimte waarin weinig gebeur.

Byna ongemerk, en daarom des te vernuftiger, kry Orner dit reg om Kaplanski naatloos met Goas en sy inwoners te laat versmelt. Hy vertel vanuit die ingewande van die gemeenskap. Tog toon hy aan hoe mense nooit regtig mekaar vind nie; elkeen ly aan sy eie isolerende geskiedenis.

Mavala verdwyn weer, Larry keer terug na Cincinnati, en die leser voel homself agtergelaat in die sanderige landskap van die onbenullige Goas.

The Second Coming of Mavala Shikongo is ? soepel en elegant gestileerde roman oor begeerte, leegte en die wegbly van vervulling.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top