Met die son as wysgeer

  • 5

Voor mens weet is jy deel daarvan. Onverwags. Jy wou nog keer. Jy was die een wat hulle aanvanklik geterg het. Nou is jy een van hulle. ’n Sosiale netwerk hipster. Daardie mense wat onwillekeurig elke vyf minute op hul Facebook-blad loer. Net om te sien dat Renate weer wit wyn gedrink het op ’n wit strand in ’n spierwit linnerok. Of dat Sandri en Sarel oor 10 slapies trou en nie meer kan wag nie. Jy self tweet en post lustig saam. Digkuns, somerkos, laatmiddagson. Asof daar nooit vuil skottelgoed in jou wasbak is nie. Jou kos lyk altyd soos iets uit ’n glanstydskrif en jou kêrel hou daarvan om sy sokkies binne-in die wasgoedmandjie te gooi.

Tot eendag. Wanneer die verkeer eenvoudig te erg is. Die eposse te veel, die kliënte se humeure te kort. Jy gee uiteindelik in om die wildernis saam met jou kêrel te gaan verken. En nie sommer enige verkenningstog nie. ’n Ordentlike primitiewe staptoer. In die regte wildernis. Een waar selfone en straighteners en Woollies se vars salm nie ingepak kan word nie.

Opgewonde vertrek ons uit die goudstad. Op pad na die juweel van KwaZulu-Natal. Die Hluhluwe-Umfolozi Game Reserve. Ons wil wees waar die wilde diere is.

Ons begin laat die eerste oggend vanaf die Mpila-ruskamp stap. Al die benodighede verdeel tussen almal se rugsakke. Genoeg kos vir vier aande en vyf oggende. Geen tente. Vir die volgende paar nagte is die sterre ons plafon.

Die gids vra almal waarom ons die stap doen. Hy lees vir ons van balans en respek vir die aarde. Dat ons moet probeer om ons harte oop te maak sodat ons kan deel word van die veld. Ons begin in stilte in die warm son stap. Ek wonder wat my besiel het. Die sakke sit swaar en ongemaklik, maar daar is tog ’n deel van my hart wat soos ’n avonturier van ouds voel. Wild en vry.

Die eerste dag se stapgedeelte gaan sonder erge opdraande verby. Hier en daar iemand wat moeilik dra aan ’n swaar sak of spyt is oor al die ekstra happies en gin en tonic wat later die aand sonder ys gedrink gaan moet word.

Ons is omring deur die mooiste doringbome. Die pad maak verskillende kronkels. Met elke tree sit die sak gemakliker. Die gemoed ligter. Soos die van ’n klipspringer. Iemand met goeie oë sien ’n witliesbosbontrokkie. Die mooiste klein skat van die wildtuin. Hy vlieg heelpad saam.

 Niks kon my voorberei op die rou skoonheid wat ons eerste nag se slaapplek is nie. Ons moet oor die rivier stap om by die rotse te kom. Almal gaan sit in die modder en trek stadig hul skoene uit. Die laatmiddag se water is koel onder mens se bedompige voete. My kêrel pluk aan my arm. “Ons loop deur dieselfde rivier as waardeur die olifante loop my lief, die wilde honde en die luiperds ..."

“ ... en die krokodille,” fluister ’n wysneus van agter.  

 Na almal afgepak is klim ons tot heel bo. Ons sit soos mense in ’n fliek teen mekaar op die rots se punt. Almal onbeholpe om die regte woorde te vind om die mooi te beskryf. Soms is dit beter om stil te bly.

Die gids roep ons agt stadsjapies bymekaar.

“In die dag werk ek, in die aand werk julle. Almal kry ’n beurt om wag te hou. Vir ’n uur lank in stilte. Hou die vuur aan die gang. As jy ’n luiperd aan die oorkant sien, geniet dit en ag jouself diep gelukkig. As daar ’n olifant deur die bosse breek maak my wakker.”

Een van die ouens vra hoe ons moet weet wanneer die uur verby is. Die gids glimlag. “ Die maan en die sterre, my vriend, hulle sal jou lei.”

Daar val ’n ligte reën toe ons in die bed klim. Die druppels is koud en helder teen my wang. ’n Stukkie geluk na die hitte.

Die son bak ons vroegoggend wakker. Almal vol stories oor hul waghou-beurt. Ons stap die oggend sonder ’n sak. Los almal se besittings op die rotse. Niemand vrees vir skelms nie.

Vroegoggend wys die gids ’n klein tambotieboom uit. My gedagtes gaan na die Heuwels Fantasties-liedjie. Mens het inderdaad nie ’n kredietkaart of graad nodig om in die wild te baljaar nie. Maar dalk ’n goeie hoop bravade.

Die gids wat voor stap stop skielik. Roep die een wat agter stap nader. Beide hou hul gewere nader. Hul wys saggies die grys vel uit. ’n Renoster. Ongeveer 100 meter van ons af. My hart staan stil. Nog nooit was ek so naby aan ’n wilde dier sonder die beskerming van ’n kar nie. Die gids beduie hoe ons kan nader loop. Ons gaan staan stil toe ons so dertig meter vanaf haar is. Dit voel onwerklik. Haar horing is so mooi dat ek wil huil. Ek is minder bang, want blykbaar bestorm wit renosters nie maklik nie. Maar nie die een nie. Asof sy dink dat ons heeltemal te gemaklik is, draai sy skielik om en pyl op ons af. Die een gids gooi die klip wat hy vroeër opgetel het na haar. Die ander een maak klikgeluide en die stadsjapies hardloop almal in ‘n ander rigting. Hoede bly agter, party hardloop dwarsdeur ’n spinnerak of doringboom, maar ons hardloop. Uiteindelik kalmeer sy. Ons sug van verligting. Lag oor ons wonde en mekaar se benoudheid. Nog nooit het ek so lewendig gevoel nie. Daardie aand slaap ons soos dassies op die rotse. Uitgeput van die oormaat adrenalien.

In die volgende paar dae leef ons naby aan die aarde. Bad soos Cleopatra in die rivier. Natuurlik sonder die melk, heuning en slavinne, maar nogtans. Ons eet dankbaar aan die eenvoudige kos en filosofeer oor die beskawing se aanhoudende soeke na meer.

My hart voel vol terwyl ons terug ry huis toe. Die wildernis is inderdaad die oorspronklike katedraal. Die oorspronklike plek waar ’n deurmekaar gemoed kan vrede kry.

 

  • 5

Kommentaar

  • Lauren Stander

    Almal vergeet waaroor die lewe werklik gaan. Dankie vir die herhinnering dat ons moet lewe

  • Laat my terugdink aan Biedouw 2001 ... Jy skubaduik nie dalk nie? Ek sal graag 'n duikverslag van jou wil lees. 🙂

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top