Dagsê Jan ou maat
Ek’s nie kwaad vir jou nie indien jy tot sodanige gevolgtrekking in my brief rakende Rooi Daantjie gekom het.
Jy skryf aan my: “daar is ouens hier, soos daardie ploert van Sjina byvoorbeeld, wat veel erger dinge oor die Afrikaner kwytraak en daaroor rep jy geen woord nie.”
Waarom moet ek? Ek vat FW glad nie ernstig op nie, hetsy oor die Afrikaner, die Afrikaanse taal en enige ander onderwerp wat hy mag aanhaal. Ek het hom al lankal opgesom. Hy het sy eie agenda wat hom plesier gee en ander laat kots. Ek gaan nie dat hy ook my knaters kners om van pyn te tjank soos hy met vele ander hier op SêNet doen nie.
Hy speel kat en muis met elkeen se troetel onderwerp hier op die Net, en dit word nie eers deur die betrokke persoon gewaar nie. Ek lag te lekker wanneer ek sien hoe ieder en elkeen wat hom so ernstig opneem in woede en frustrasie ontaard. Hy ontbreek beslis nie aan vermaaklikheidsnut nie.
My logika oor hom sê vir my:
Die man is ’n Vrystaatse Afrikaner in murg en been. Sy optrede sê ook dit vir my. Als Afrikaner kan jy ook ANC wees in politiek; swart mense als jou medeburgers aansien; ’n Boeddhis in leefwyse wees; ’n loslappie; oor die kleurgrens spyker; ten spyte van negatiwiteite in die land, ’n trotse Suid-Afrikaner wees. Hy is uit om die tradisionele Afrikaner “establishment” te skud en te skok tot nadenke, en soos dit vir my wil voorkom kry hy dit hier op SêNet reg.
Jy wat so gesteld is op die Afrikaanse taal. Kan jy enigsins sy Afrikaans fouteer? In elk geval, dis veel beter as myne. Sy beeldspraak, baie sy eie ontwerp, is uniek, deurspek met humor.
Ek kan met FW se skrywes saamlewe. In teenstelling wil Rooi Daantjie met alle skynheiligheid Afrikaners na sy noue en verkrampte siening probeer manipuleer, en dit walg my.
Jaco Fourie

