Meryl Streep skitter in The Iron Lady, maar dis al

  • 1


The Iron Lady

Regisseur: Phyllida Lloyd
Kamerawerk: Elliot Davis
Rolverdeling: Meryl Streep, Jim Broadbent, Alexandra Roach, Olivia Colman, Anthony Head, Richard E Grant, Harry Lloyd
Tydsduur: 105 minute
Musiek: Thomas Newman
Punt: 2.5 uit 5

Margaret Thatcher is ’n merkwaardige figuur. Sy was die eerste vroulike leier van ’n hoofstroom politieke party in die Verenigde Koninkryk, die eerste Britse vroulike premier (ook die enigste tot op hede), en die langsdienende Britse premier van die 20ste eeu. Margaret Thatcher is egter ook ’n kontroversiële figuur. Haar standvastigheid in haar destruktiewe neoliberale ekonomiese beleide het Brittanje onherroeplik verander en het haar populariteit by die Britse bevolking sien daal, maar haar rol in die oorlog met Argentinië vir die Falklandeilande het haar populariteit herbevestig – in so ‘n mate dat sy vir byna twaalf jaar haar premierskap behou het. Dit is hierdie kenmerkende standvastigheid (of, anders bekyk, hardkoppigheid) wat haar die bynaam “the Iron Lady” besorg het. Dit is amper vanselfsprekend dat so ’n invloedryke persoon op ’n stadium deur die kameralens nuwe gestalte sal kry.

The Iron Lady open met ’n bejaarde Thatcher (Meryl Streep) wat melk koop sonder dat enigiemand haar herken. Die kyker leer haar ken as ’n bejaarde, maar steeds waardige en netjies-geklede dame in haar Londense woning. Toenemend word dit egter duidelik dat haar lewe eensaam is en dat hierdie eensaamheid vererger word deur demensie. Regisseur Phillida Lloyd (bekend vir haar teaterwerk, maar alombekend vir haar regie van 2008 se Mamma Mia!) skep hierdeur ’n simpatieke beeld van Thatcher. Haar lewe is nou ’n skadu van ’n roemryke politieke lewe en sy het ’n reliek vir Konserwatiewe kuiergaste geword. Dit is dan ook deur hierdie perspektief dat die kyker hier en daar terugkyk na belangrike oomblikke uit Thatcher se politieke en persoonlike lewe. Ongelukkig begin dinge hierna erg skeefloop, omdat heeltemal te veel tyd afgestaan aan Thatcher as verwarde bejaarde.

Die terugflitse begin met haar dae as ’n werkende jong vrou (vertolk deur Alexandra Roach) in haar pa se kruideniersaak, en in hierdie tonele word dit duidelik dat Margaret se politieke ingesteldheid sterk deur haar hardwerkende vader beïnvloed is. Deur ’n vinnige verwysing na haar verhouding met haar ma en haar eerste ontmoeting met Denis Thatcher (met wie sy daarna sou trou), skep die film die konteks van die patriargale politiek van Brittanje in die 1950’s en die afwysings waarteen sy gevolglik te staan kom wanneer sy ’n politieke loopbaan in die imposante Paleis van Westminster begin. Jammer genoeg word hierdie tema nie juis suksesvol ontwikkel nie.

As mens in ag neem dat die gebeure in The Iron Lady oor ’n tydperk van meer as ’n halfeeu strek, is dit verbasend hoe kort die film is. Ongeveer 100 minute is bloot nie genoeg om al die hoogtepunte en laagtepunte van Thatcher se loopbaan in te pas nie. Die fliek probeer egter hard om juis dit reg te kry: regdeur die film is daar (te danke aan die dikwels melodramatiese musiek) ’n magdom montages van protesaksies, politieke praatjies, aankondigings, en Thatcher en haar politieke raadgewers wat die gange van Westminster platloop (mens wonder naderhand of hulle ooit gesit en werk het). Die film kon beslis daarby gebaat het as die skrywer, Abi Morgan, net ’n paar gebeure gekies het en dit volledig bewerk het, eerder as om net ’n harwar van herinneringe en nuusbeelde daar te stel. Hierdie harwar moes dalk Thatcher se verwarring vir die kyker duidelik maak, maar eintlik slaag dit net daarin om die kyker te irriteer. Die haastige (amper dokumentêre) aard van die film lei daartoe dat die ontwikkeling van die verhoudings tussen Thatcher en diegene wat haar omring, óf bra oppervlakkig is (haar man en kinders), óf heeltemal afwesig is (haar politieke vennote). Deur die terugflitse uit haar lewe moet mens aflei dat Thatcher vrede maak met gedane sake. Uiteindelik voel mens jammer vir die ou vrou wat voor jou staan. Maar juis dít is die probleem: die kyker voel nie jammer vir Margaret Thatcher oor gebeure uit haar ganse lewe nie. Enige meegevoel is bloot vir die bejaarde vrou, wat inderwaarheid enige bejaarde kon wees.

Die film se drang om simpatie vir die karakter te skep lei daartoe dat ander belangrike aspekte ook afgeskeep word. Eerstens is daar baie min te sien van die uitdagings waarteen Thatcher te staan gekom het in die seksistiese politiek van die 1950’s, en hoe dit tot en met die 1980’s verander het (of dan juis nie verander het nie). Tweedens is daar baie tonele van die stakings teen die Thatcher-regering wat so ’n kenmerkende beeld van Brittanje van die 1980’s geword het, maar daar word geen korrektief daarop gebied nie – sy is immers twee keer herverkies! In hierdie opsig moes die vervaardigers bietjie meer respek getoon het vir hulle internasionale gehoor, wat nie noodwendig so vertroud is met onlangse Britse politieke geskiedenis nie.

Harry Lloyd en Jim Broadbent is goed as onderskeidelik die jonger en ouer Denis Thatcher, terwyl Alexandra Roach ook ’n baie goeie vertolking van ’n jonger Margaret gee. Meryl Streep skitter as die middeljarige en bejaarde Thatcher, en dit is duidelik waarom sy reeds vir dié vertolking Golden Globe- en BAFTA-toekennings verower het, asook ’n Academy Award-benoeming. Streep se puik transformasie – van haar voorkoms en maniertjies tot die lae gesaghebbendheid van die Thatcher-stem – is egter geensins genoeg om ’n deurmekaar en oorvol draaiboek te red nie.

Die film se titel kon eintlik eerder bloot Margaret Thatcher gewees het, want The Iron Lady impliseer ’n baie sterker verband met die politieke konteks van haar lewe as wat deur die film weergegee word. Dit sou interessant gewees het om meer te sien van Thatcher se verhoudings met ander lede van haar kabinet, veral Geoffrey Howe (Anthony Head) en Michael Heseltine (Richard E Grant), wat albei tot haar uiteindelike ondergang bygedra het. Ek het gehoop dat hierdie fliek dalk meer lig sou kon werp op die blywende effekte wat Margaret Thatcher op Brittanje en die wêreld gehad het, en hoeveel waarde geheg kan word aan die omstrede vrou se lewensloop, impak, en die benaming “the Iron Lady”. Want, kan mens vra, sou ’n verband met die aktuele hede nie beter gewees het as bloot die verband met ’n seniele persoonlike hede nie?

Toe David Cameron verlede jaar ’n vroulike opposisielid in die Laerhuis toegesnou het met Calm down, dear het dit weer eens duidelik geword dat die diskriminasie in die Britse politiek waarmee Thatcher te kampe gehad het, nog lank nie dood is nie. Kykers wat hoop om meer te sien oor die kompleksiteit van die eerste vroulike Britse premier – wat dit nie sou vat as ’n man haar in die Laerhuis toegesnou het met “Calm down, dear” nie – gaan bitterlik teleurgesteld wees. In The Iron Lady is daar klaaglik weinig te sien van die meeste aspekte van Thatcherisme en Thatcher-feminisme, en dis jammer, want dit is tog wat haar eintlike nalatenskap is.


   

  • 1

Kommentaar

  • Waar sou Engeland vandag gewees het sonder Me Thatcher? Sy is 'n brawe, dapper vrou en dit wys tot aan die einde waar sy haar man se klere moet wegpak. Ek het die film geniet en met deernis en bewondering na die bejaarde vrou gekyk.  Ek gee dit drie en 'n halwe sterre.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top