Merwe Scholtz (1924–2005)

  • 0

 

Sêgoed van Merwe Scholtz

Oor die jare wat verloop het tussen sy eerste en tweede bundel: "Agterna gesien, was daar tog ’n soort aanloop. Ek het daar teen 1969 se kant half nostalgies aan ’n paar jeugherinnerings begin skryf, in prosa. En toe ek agterkom, toe galop die prosa. Toe ek my weer kom kry, was ek deur die 'klankgrens' en was die prosa ’n soort vers. En ’n mens wéét dit, want die woorde begin hulle totaal anders gedra: hulle pomp mekaar in die ribbes, grinnik en runnik oor en weer. Van daar af aan kan enigiets wat gebeur het of nog sal gebeur of nooit sal gebeur nie, die proses aan die gang sit. Dis soos Eliot êrens gesê het: 'the mind of the poet is always assimilating disparate experience': die geratel van ’n tikmasjien, ’n eier wat sis in die pan." (Die Burger, 4 November 1976)

"As digter het jy nie ’n kat se kans om die eienaardige gang van sake te keer nie, jy moet hoogstens probeer die teuels behou, beheer probeer behou." (Die Burger, 4 November 1976)

"Die Bybel sê mens moet ’n wag voor jou mond hou. Wanneer ’n mens ’n gedig skryf, is
daar uit die aard van die saak poësie talle wagte voor die mond." (Die Burger, 4 November 1976)

"Nòg die een, nòg die ander werklikheidservaring verklaar die gedig, of help die voltooide gedig verklaar: wat dié te sê het, moet hy self sê en kom klaar. Of hy het sy sê as gedig nie gesê nie." (Die Burger, 4 November 1976)

"Om met ’n goeie gedig te werk, kwit jong, dis soos om ’n volbloedperd in te breek, as jy sien wat daar uitkom. Hóé ’n gedig beteken – dit is die hoogste avontuur wat die kritiek kan hê." (Die Burger, 8 Julie 1999)

Francois Smith wou weet of ’n mens die lewe moet ken om te kan lees: "Ek dink jy moet êrens die verwysingsraamwerk hê om dit te sien. As jy 'n baie beskutte lewe gelei het, kan jy nie die pit sien opgaan in sê nou maar Karel Schoeman se werk nie. Jy kan nie die vibrasie optel as jy nie die potensiaal het om dit self te ervaar nie."

Gebore en getoë

Hendrik van der Merwe (Merwe) Scholtz is op 8 Julie 1924 in Utrecht in Nederland gebore. Sy vader het in Utrecht onder prof CGN de Vooys studeer en dit was in daardie tyd dat hy daar gebore is.

Pieter Fourie het ná Merwe Scholtz se afsterwe vertel dat Merwe ’n baie goeie verhouding met sy pa, H van der Merwe Scholtz, eerste rektor van die Universiteit van die Vrystaat, gehad het. Merwe kon op ’n onderhoudende manier vertel van sy pa wat ’n grootwildjagter was en só ook oor hulle ritte tydens hulle vakansies elke jaar vanaf Bloemfontein na Kleinmond. Hy kon alles tot in die fynste besonderhede onthou van hierdie uittogte in die 1930's.

Fourie vertel (Beeld, 18 Januarie 2005): "Dit was ’n konvooi van twee motors: die Scholtz-familie voor in hul Chevie en die DF Malherbe-familie agter in hul Dodge. Omtrent heelpad grondpad en hekke by hul honderde. Geen padkos vir dié rit van vier tot vyf dae. Die safari het gewoonlik douvoordag begin en die eerste aand is oorgeslaap op die walle van die Kafferrivier – 50 myl van Bloemfontein! Die kinders was vroeg honger – ook die seun wat op die Dodge se sytrap moes sit vir hekke oopmaak – en die patriarge het die moeders beloof die geelvis en die kurpers sou byt!"

Verdere studie en werk

Merwe Scholtz het na skool sy BA aan die Universiteit van Suid-Afrika behaal en sy MA aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus). In 1947 is hy na Amsterdam vir verdere studie. Hy is in 1948 in die Gelderse Eda getroud met sy universiteitsliefde Rita Karstel. Hulle het drie seuns gehad.

By die Gemeentelike Universiteit het hy die lesings van die bekende (en ook gevreesde) Wytze Hellinga oor stilistiek op linguistiese grondslag bygewoon. Hellinga het ’n belangrike invloed op Scholtz gehad. Op 23 Mei 1950 het hy sy doktorsgraad behaal met die proefskrif “Sistematiese verslag van ’n stilistiese analise: Eugène Marais: ‘Die towenares’”, wat op die taalkundige struktuur van daardie werk van Marais gefokus het. Daarna is hy aangestel as senior lektor aan die Universiteit van Pretoria; hy het in 1955 medeprofessor geword.

Op 16 Oktober 1959 het hy sy intreerede aan die Gemeentelike Universiteit in Amsterdam gelewer, waar hy vir NP Van Wyk Louw opgevolg het as hoogleraar in Afrikaanse Linguistiek, Kultuur en Geskiedenis, ’n pos wat hy vier jaar lank beklee het. Onder sy studente was Roswitha Geggus, Rouston Gilfillan, Abraham de Vries en Leendert Dekker. In 1963 het die Scholtz-gesin – Merwe, sy vrou Rita en hulle drie seuns – na Pretoria teruggekeer.

In 1966 is hy aangestel as professor in Afrikaanse taalkunde aan die Universiteit van Kaapstad totdat hy in 1979 as professor in die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch aangestel is, waar hy tot sy aftrede in 1986 werksaam was.

Merwe Scholtz het in 1947 as digter gedebuteer met die bundel Vlugtige spore. In Ons Eie Boek van Desember 1948 het HA Mulder geskryf: "Hierdie eersteling-bundeltjie maak die indruk asof die digter sy instrument eers wil stem voordat hy ons sy eintlike musiek gee. Dit bevat as ’t ware die boustene vir poësie, maar is self nog nie poësie nie. Tog verkies ek dit met al sy onafheid en onafgerondheid bo menige bundeltjie wat prosodies miskien suiwerder, maar innerlik veel minder lewenskragtig is. (...) Al besit hierdie bundeltjie dan ook nie die volgroeidheid wat die debute van ’n Opperman of Watermeyer gekenmerk het nie, meen ek tog dat dit hier en daar, hoe vlugtig ook al, die kenmerke van waaragtige poësie besit. Aan die einde van die bundeltjie vind ons selfs reeds die vae, maar tog suggestiewe omtrekke van enkele gestaltes soos Beatrys en Ulysses waaruit blyk dat daar nog allerlei moontlikhede in hierdie digter sluimer."

Op die Afrikaanse diens van die SAUK op 29 Desember 1948 het Gerrit Dekker gesê dat ’n mens nog nie kan sê wat daar in die toekoms van die digter verwag kan word nie. "Sterk, hewig van konflik is hierdie poësie nog nie, en of Scholtz by toenemende lewensverdieping tot groter en sterker kuns-skepping as hierdie kort gediggies sal groei, sal die toekoms moet leer. Maar ek hoop dat uit my bespreking wél sal geblyk het dat Vlugtige spore kwaliteite besit wat ’n belofte inhou."

Na ’n digterlike stilte van byna dertig jaar is Merwe Scholtz se tweede bundel, Grimas 1969–1973, in 1976 gepubliseer. Hy het met Kerneels Breytenbach oor die tweede bundel van hom gesels (Die Burger, 4 November 1976). Volgens Scholtz was die jaartal 1973 nie heeltemal reg nie, aangesien daar tog gedigte in die bundel is wat hy geskryf het terwyl die bundel persklaar gemaak is. Maar die meeste van die verse val wel binne die tydperk wat genoem is. "Ek het gedink dat dit net 'fairplie' sou wees om aan die leser ’n aanduiding te gee van wanneer af ek so ongeveer weer, ná al die jare Kalahari's wit papier, uit die lug uit met ’n aantal gedigte geval het."

Hy het gedurende die jare wel hier en daar ’n paar gedigte geskryf waarvan ’n paar in Standpunte verskyn het. "Intussen het ek maar altyd op ’n manier aan die poësie besig gebly, hoofsaaklik deur as kritikus aan ander mense se gedigte te torring. Hoe ’n mens na soveel jare van net nou en dan skryf weer byna stryk begin gedigte skryf?

"Daar is seker gewone aardse en ook geleerde verklarings ('hormone!') vir die verskynsel. Al wat mens self eintlik weet: jy stap doodgewoon ’n alledaagse dag, uur, minuut, sekonde binne, en jy kom totaal anders anderkant uit. Dit zoem in jou kop soos in ’n byekorf: woorde, flardes sinne, gevulde of nog ongevulde ritmes. Soos Valéry sê: ’n leë ritmiese vorm. Jy raak tegelyk verruk vol woorde en nogal vervelig asosiaal."

In Oggendblad van 28 Julie 1977 het Niel van Tonder geskryf dat Grimas ’n "verrassende welkome geluid is na ’n opvallende stilte van ongeveer dertig jaar. Dit betrek op ligte speelse wyse ’n ruim verwysingswêreld, bied die vers-inhoude aan op ’n beskouende, maar deeglik deurskoude manier – telkens vanagter die Grimas soos die ietwat ongewone bundeltitel te kenne gee."

Van Tonder het die gedigte beskryf as verse waarvan die eenvoud nie so voor die hand liggend is nie. "Dit is ligte speelse poësie meestal met dikwels ’n ernstiger ondertoon met ironiese trefkrag veral in die puntigheid van die korter verse."

Van Tonder het aanbeveel dat die verse in Grimas meer as een maal gelees moet word om dit na waarde te beoordeel. "Dit is hoogs gekonsentreerde verse, kristalpoësie met ’n eie karakter. ’n Mens hoop dat daar nie weer dertig jaar sal verloop voordat ’n opvolger vir Grimas verskyn nie."

In Rapport van 21 November 1976 het die resensent (die naam word nie op die knipsel vermeld nie) geskryf dat Grimas, as ’n "skerp en sterk ironies en ironies-sképpende blik op ’n wêreld gevang in die worp van die strak beswerende woord en gerelativeer deur die wrang lag wat van alles net té veel begryp om deur illusie begoël te word, ’n waardige en belangrike bydrae tot hierdie jubeljaar in ons literatuur is".

Henning Snyman (Die Burger, 7 Oktober 1976) het geskryf: "Grimas is inderdaad ’n eenheidsbundel, want die verse, uitmuntend gerangskik, sluit volkome. En ’n beter titel, glo ek, is haas ondenkbaar."

Scholtz het nie weer dertig jaar gewag voordat hy sy derde bundel die lig laat sien het nie. Tien jaar ná Grimas het Mantessa in 1986 verskyn. Maar vir Daniel Hugo (Volksblad, 20 Desember 1986) was die bundel ’n teleurstelling. Vir hom het die gedigte in Grimas ’n "gedrongenheid en meerduidigheid gehad wat een van die hoogtepunte van die vernufspoësie in Afrikaans verteenwoordig het". Die gedigte in Mantessa is "oper" en meer toeganklik, maar hierdie "oopheid" lei tot "spanningloosheid" en in ander gevalle ook tot "onbeholpenheid".

Die erotiese ervaring tussen man en vrou is die hoofkenmerk van die meeste van die verse en dit spreek reeds uit die titel: Man + Tessa. Mantessa kan ook gesien word as die vroulike vorm van "mantis". "Mantessa kan vir diegene wat die gesprek oor intra- en intertekstualiteit naspoor, onuitputlike stof bied, maar ongelukkig sal diegene wat lief is vir die meer afgeronde vers, dit nie as ’n inspirerende leeservaring ondervind nie."

Ook André P Brink het (in Rapport, 28 Desember 1986) geskryf dat Mantessa teleurstellend was. Hy het wel gevind dat die titelgedig ’n "kragtige stukkie werk is waarin die soetigheid en die sterkte as ’t ware gerym word om beswerend en oorwinnend die woord as gifpyl, wapen en towerspreuk aan te wend”. Daar is ook ander gedigte wat hy as "voortreflik" beskryf, en ander wat hy dink "bekoorlik" is, maar nie veel om die lyf het nie. Daarna verwater die gedigte na probeerslae om vir Boerneef te probeer "nasing" en ander wat "mik in die rigting van die intertekstuele", maar wat nie regtig geslaagd is nie, aangesien daar nooit in werklikheid in gesprek getree word met die ander tekste nie.

In Beeld (1 Desember 1986) het Ernst Lindenberg geskryf dat Mantessa nie alleen ’n swak bundel is nie, maar ’n "verleentheid".

Dit was egter op die gebied van die literêre analise dat Merwe Scholtz sy belangrikste werk, wat ’n mens ook baanbrekerswerk kan noem, gelewer het, volgens Hans Ester (Zuid-Afrika, Maart 2005). Louise Viljoen het geskryf dat sy doktorale studie oor Eugène Marais se “Die towenares” die Afrikaanse letterkundige kritiek in ’n nuwe rigting gestuur en ’n toonbeeld is van die "mees noukeurige vorm van close reading wat ons ooit in die Afrikaanse letterkunde gehad het" (Tydskrif vir Letterkunde, 2005).

Daarna het hy saam met WGS Hellinga meegewerk aan Kreatiewe analise van taalgebruik wat in 1955 gepubliseer is, en Viljoen beskryf dit as ’n "belangrike moment in die geskiedenis van die literatuurwetenskap, hier sowel as in Nederland".

In die 1970's het Scholtz twee bundels opstelle geskryf – Herout van die Afrikaanse poësie en ander opstelle in 1975 en Die teken as teiken in 1978. En vir Viljoen is hierdie twee bundels sprekende voorbeelde van twee van Scholtz se belangrikste en vir haar "die mees oorrompelende eienskappe van sy werk as letterkundige. Die opstelle in die bundels is van die beste letterkundige opstelle wat daar in Afrikaans is: hulle glinster van skerpsinnigheid, van die vermoë tot helder segging, van intellektuele vernuf en van dit wat die Engelse wit sou noem. In die tweede plek demonstreer hierdie twee bundels se vermoë om ’n literêre teks so indringend en vernuwend te lees dat dit voel asof jy vir die eerste keer kyk na ’n teks wat jy eintlik jare lank al ken. (...)

"Wat ek as leser uit ’n later era veral in hierdie opstelle bewonder, is Merwe Scholtz se vermoë om jou tot op ’n bepaalde punt te lei in die oopmaak van ’n gedig en hom dan te onttrek net voordat die laaste stuk van die legkaart op sy plek gesit word, net voordat die finale en sluitende woord in die interpretasie gespreek word. Hyself het by geleentheid gesê dat hy daarvan hou om die 'leer onder sy leser weg te skop' vóórdat daar ’n finale antwoord is. Ek sou dit byna postmodernisties wou noem, maar ek dink nie dit is ’n etiket waaraan hy veel erg sou hê nie."

Oor Herout van die Afrikaanse poësie was die kommentaar net gunstig. In Die Burger (2 Oktober 1975) het IJ de Villiers geskryf dat daar min kritici is "wat met die aardse gevatheid en speelsheid met die tong ’n stuk literatuur kan 'oopbreek' soos Scholtz en tog as 'close reader' en objektief-wetenskaplike beoordelaar die eerbied vir die kunswerk behou. Sy verbluffende aanvoeling vir die struktuur van die kunswerk, sy blootlê van nate, patrone, kwaste en kleure, getuig daarvan dat hier iemand aan die woord is wat by alles ook die gees van die digter 'nie met nate nie' ontvang het."

Vir Ernst Lindenberg (Beeld, 28 Julie 1975) is Merwe Scholtz se artikels in Herout van die beste in Afrikaans en tel dit ook onder die genotvolstes. "'n Mens lees sy stukke met

plesier, want hulle is skerpsinnig en spitsvondig, vol onverwagte kwinkslae en onverwagter interpretasies. Natuurlik lok hy ook dikwels verset uit – ek stem heel, heel selde saam met alles wat hy sê – maar so vlot die literêre gesprek mos: deur ’n voortdurende dialektiek en nie deur ’n joviale (of dooierige) saamstemming nie. (...) ’n Mens is so dankbaar vir ’n 'geleerde' wat so onderhoudend en intelligent kan skryf, dat jy die feit moet betreur dat Scholtz nie méér van hom laat hoor nie."

Ninon Roets (Buurman, Augustus 1975) het geskryf dat Herout se opstelle ’n voorbeeld is van ’n "formidabele belesenheid op die gebied van die literêre teorie, die taalkunde en die letterkunde, veral die poësie. Verder openbaar [Scholtz] insig en begrip en die vermoë om selfs die mees verwikkelde begrip op ’n redelik 'enkelvoudige' manier aan sy leser te verduidelik."

Ook André P Brink was (in Rapport van 20 Julie 1975) net vol lof. Vir hom was dit ’n "diepgaande genot" om hierdie opstelle te lees en weer te lees, al was sommiges van hulle al bekend aan hom. Hy het Merwe Scholtz beskryf as ’n literator wat "sy vak nie net in breedte en diepte deurskou en deurgrond en dit beheers met ’n intensiteit en virtuositeit wat bewondering afdwing nie, maar wat bowendien oor die kosbare vermoë beskik om van die literatuurvorsing ’n avontuur en ’n verkwiklike genot te maak. (...) Dit is juis Scholtz se ontdekkingsywer, sy weiering om hom binne aanvaarde mure te laat inperk, wat hierdie reeks opstelle, oud en nuut, so ’n unieke ondervinding in ons oor die algemeen só swaarwigtige literatuurkritiek maak.

"Want hier gaan ’n skerpte van begrip en ’n oorwoënheid van formulering sáám met ’n briljantheid en gevatheid wat die opstelle [...] avonture van verbeelding maak."

Net soos Herout van die Afrikaanse poësie het ook Merwe Scholtz se volgende bundel opstelle, Die teken as teiken, die kritici beïndruk. Dit gaan weer hoofsaaklik oor die poësie, maar hierby is ingesluit twee voorlopige besprekings van JC Steyn se Dagboek van ’n verraaier en André P Brink se Gerugte van reën.

Merwe Scholtz was in die laat 1970's onder meer voorsitter van die letterkundige komitee van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en ook lid van die Publikasieraad. Hy was ook direkteur van die Nasionale Toneelorganisasie, Truk, Kruik en die SAUK en hy was veral bekend vir sy onverbiddelike standpunt teenoor binnesensuur.

Hieroor vertel Pieter Fourie in Beeld van 18 Januarie 2005: "Die Nico Malan-teater is op 31 Mei 1971 met Koning Lear geopen, onder leiding van die befaamde Duitse regisseur Dieter Reible, en nie met Germanicus soos bepleit, bearbei en beknoei deur WEG Louw en Fred le Roux nie. Hul heksejag op Koning Lear en Dieter Reible het geen gelyke gehad in die Suid-Afrikaanse teatergeskiedenis nie. ’n Paar jaar later het Kruik besluit om Reible weer na Kaapstad te bring vir Die Oresteia en Faust.

"Die oggend voor sy vertrek bel Reible benoud om te sê sy visum is geweier. Merwe was toevallig in my kantoor. Hy gryp woedend die telefoon. 'Nou sal Klipoog sy ding moet doen!' Binne ’n minuut is hy in ’n kriptiese gesprek met die minister van binnelandse sake en sluit af met: 'Andries, as my bona fides enigiets vir jou beteken, is Reible vanaand op daai vliegtuig!'"

"Wat die insident geskiedenis maak, is dat die mag van die Broederbond in 'verkeerde' hande invloedryk vir die suiwer kunste kon wees. Merwe se aandeel in die Hertzogprys vir Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein! onderstreep dit verder."

In 1979 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Gustav Preller-prys vir Literatuurwetenskap aan Merwe Scholtz oorhandig. In sy huldigingswoord het AP Grové gesê dat Scholtz se bydrae gemeet word aan sy groot aantal publikasies, onder meer sy proefskrif, sy versamelings opstelle en resensies, asook die werk wat hy gedoen het as redakteur en medewerker van versamelbundels. Ook was die invloed wat hy uitgeoefen het, en steeds uitoefen, van belang.

Op 12 Januarie 2005 is Merwe Scholtz ná ’n beroerte in die Monte Rosa-tehuis vir bejaardes oorlede. Hy was al ’n geruime tyd daar versorg.

Huldeblyke

  • Abraham H de Vries: "Benewens sy gedigte was Merwe, wat die literêre teorie betref, een van die heel grotes. Hy was dié baanbreker op die veld van hoe ’n Afrikaanse teks gelees en ontleed behoort te word. Hy was ’n groot korrelkop, maar ’n vreeslike menslike mens. As hy geweet jy het iets nodig, sou hy enige ding gedoen het om jou te help." (Volksblad, 13 Januarie 2005)
  • Wium van Zyl: "Ek onthou Merwe Scholtz as iemand wat internasionaal kon saampraat, ook oor die Nederlandse letterkunde. Absoluut stimulerend en skerp." (Die Burger, 13 Januarie 2005)
  • IL de Villiers: "Dit was die geweldige entoesiasme waarmee Merwe alles gedoen het wat hom so ’n gewilde dosent gemaak het. Wanneer hy ’n lesing gegee of iets vir jou verduidelik het, het hy dit met sy hele bestaan gedoen. Hy was een van die grootste kenners van die Afrikaanse literatuur en uiters belese. Daarby was hy ’n lojale vriend, behulpsaam en het altyd ’n stoutigheid in die oë gehad." (Die Burger, 13 Januarie 2005)
  • Etienne Britz: "Merwe Scholtz was die opwindendste dosent wat ek ooit op Stellenbosch meegemaak het. Hy kon ’n literêre teks omtower tot iets heeltemal anders as wat ek ooit vermoed het. En my perspektief in die proses permanent verander." (Die Burger, 17 Januarie 2005)
  • MM Walters:  

Vir Merwe    

Vanwege mijn eigen lengte
houd ik mijn
gedichten zo kort mogelijk.
Marijke Boon

Tagtig jaar vra soms vir besondere verering
bundels opstelle; fugas en simbale
vir dié wat lank die rostrum gedomineer het.
Dan kry elke beuel sy beurt, blaas
trompette luid hulle horings: solo's wind
wat klink soos die baas hul gedirigeer het.

Ander, meer bemind, vind minder dawerend waardering,
’n enkel vers: die vibrering van viole,
’n ritseling van snare, vlugtige spore,
eggo's van ’n ligter aanslag, partituur
van fyn samehang: eine kleine Nachtmusik
wat naklink, herinnering wat duur. (Beeld, 24 Januarie 2005)

  • Pieter Fourie: "Hy was blitsig en sekuur op die draw. ’n Clint Eastwood met die tong. Heel gepas kom sy gunstelingreël uit die wêreldliteratuur dan ook uit ’n Wilde Weste-roman van Louis L’Amour: 'Life is tough. You don't leave it alive.' Hy het die lewe inderdaad gelééf: wyd, oop, verkennend, intens, verreikend en verrykend. Ook op die letterlike jagveld was sy vinger op die sneller die pols van die doodskoot. (...) In die jare toe Afrikaners aan Engelse universiteite die brandmerk van rock spider moes dra, was hy een van die drie wat die doodskote deur hulle blote teenwoordigheid uitgedeel het: NP Van Wyk Louw (Wits), André P Brink (Rhodes) en Merwe Scholtz (Kaapstad). (...)

"Ontluikende kunstenaars met ’n sterk eie stem is onmiddellik deur sy valkoog vasgevang, en hy was gereed om al die moontlike te doen om hul loopbane te help vestig ... dikwels sonder dat hulle dit geweet het. Net enkeles: Hardy Botha, Jan Vermeieren, Marthinus Basson. As stigtingsadviseur van die KKNK – saam met Adam Small – was hulle die regte manne op die regte tyd. Wat daardie bibberkoud vier winterdae in Julie 1994 tussen Merwe, Adam, Jans Rautenbach en my onder die sneeubedekte Swartberg besin, vervloek, herontgin en herkou is, was ’n sterk dosis adrenalien om die normale Suid-Afrika tegemoet te loop.

"Vir hom was die kern van die lewe sinvolle kontinuïteit. Sy vrou, Rita, is die één mens wat die uitlewing hiervan vir hom moontlik gemaak het en is sélf ’n rots van kontinuïteit. Sy testament-tyd het aangebreek." (Beeld, 18 Januarie 2005)

  • Louise Viljoen: "Merwe Scholtz sal altyd binne die Afrikaanse letterkunde onthou word vir die sfeer van intellektuele opwinding wat hy met hom saamgedra het. Dit was iets wat nie net sy tydgenote geïnspireer het nie, maar ook ’n hele generasie Afrikaanse letterkundiges wat met hom in aanraking gekom het deur sy werk of deurdat hulle sy studente was. (...) Hy het deur sy voorbeeld die entoesiasme vir die 'baie fyn' dink oor die letterkunde oorgedra aan kollegas en studente. (...) Om onder Merwe Scholtz se leiding te werk aan ’n doktorale proefskrif was te alle tye ’n intellektuele avontuur, by tye selfs ’n intellektuele geveg waarin jy jouself en jou warse opvattinge baie deeglik moes kon verantwoord.

"Hy het hom ook op vele ander terreine van die intellektuele lewe laat geld. As digter het hy ongelukkig net ’n klein oeuvre nagelaat ... Verbasend genoeg vir so ’n robuuste intellektueel is daar iets delikaat aan hierdie poësie wat verband hou met die 'baie fyn dink' wat sy akademiese loopbaan gekenmerk het. Verder was hy die intellektuele skermmaat van groot Afrikaanse digters soos Van Wyk Louw, DJ Opperman en Sheila Cussons. (...) Miskien kan ’n mens jou troos aan die feit dat die intellektuele energie wat van iemand soos Merwe Scholtz uitgaan, sal bly uitkring in en deur mense met wie hy in aanraking gekom het." (Tydskrif vir Letterkunde, 2005)

  • Lisbé Smuts, oudstudent (op Scholtz se 80ste verjaardag): "Sy stilistiese en oratoriese vermoëns het ’n besondere indruk op my gelaat. Hy het in elke klas ingestap en met passie ’n lesing gegee wat klink soos die opstelle in sy bundels. Ek dink ook ek het by hom leer skryf, omdat hy ons opstelle oor en oor laat skryf het en die besef tuisgebring het om nie tevrede te wees met jou eerste poging nie." (Die Burger, 8 Julie 2004)
  • Wilhelm Liebenberg, oudstudent (op Scholtz se 80ste verjaardag): "Scholtz het die Engelse Close reading met linguistiese en literatuurwetenskaplike insigte verryk en verder gevoer om in Afrikaans die kuns van die 'baie-fyn lees' te vervolmaak. Dit is by uitstek die leeswyse wat dié werk [Tristia] van Van Wyk Louw tot sy reg laat kom. Die digkuns van verskillende eras vra om verskillende leesbenaderings, en waar Tristia as die hoogtepunt van die modernistiese digkuns in Afrikaans beskou kan word, was Scholtz se literatuurkritiek na my mening die hoogtepunt van die leesbenadering waarom dit vra." (Die Burger, 8 Julie 2004)
  • Rouston Gilfillan (op Scholtz se 80ste verjaardag): "Ons paaie het die eerste keer gekruis toe ek student was en hy ’n uitdagende en briljante intellektueel aan die Universiteit van Pretoria. Vir ons, studente uit konserwatiewe Afrikaanse huise, het hy gekonfronteer met die ongekarteerde streke van ’n eie innerlike landskap. Later as kollega het my eerste indrukke van hom bly staan: Merwe Scholtz was steeds ’n kompromislose individualis en kunstenaar. As jong dosent al het hy die gevestigde norme uitgedaag – selfs in sy kleredrag. Op Stellenbosch was dit nie anders nie. Aan sy studente en personeel het hy hoë eise gestel en nooit verlief geneem met halwe waarhede nie. Sy beslissings was soms onkonvensioneel; so ook sy literêre opvattings. Geen wonder dat sy ruim gees by tye bekneld geraak het in die kleindorpsheid van Stellenbosch nie. Om deur hom as vriend gereken te word, was nog altyd vir my ’n eer."

Publikasies:

Publikasie

Vlugtige spore

Publikasiedatum

  • 1947

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Sistematiese verslag van ’n stilistiese analise: Eugène Marais: Die towenares

Publikasiedatum

  • 1950

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM

Literêre vorm

  • Letterkundige studies
  • Doktorale proefskrif

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kreatiewe analise van taalgebruik. Saam met WGs Hellinga

Publikasiedatum

  • 1955

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Amsterdam: Noord-Hollandsche Uitgeversmaatschappij
  • Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Literatuurwetenskap

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

 Publikasie

In en om die gedig (oor "Dis al" van Jan FE Celliers)

Publikasiedatum

  • 1959

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Intreerede

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Herout van die Afrikaanse poësie en ander opstelle

Publikasiedatum

  • 1975

ISBN

0624006921 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Letterkundige studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Grimas: 1969–1973

Publikasiedatum

  • 1976

ISBN

0624008770 (hb)

Uitgewer

Kaapstad:Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Wyn en wysheid: vier sienings. Saam met Marthinus Versfeld en IL de Villiers

Publikasiedatum

  • 1978

ISBN

0624011534 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Filosofie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die teken as teiken: opstelle oor beduidende Afrikaanse literatuur

Publikasiedatum

  • 1978

ISBN

0624012018 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Letterkundige studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Mantessa

Publikasiedatum

  • 1986

ISBN

0624024156 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Merwe Scholtz as samesteller

  • Sestigers in woord en beeld: Abraham H de Vries. Johannesburg: Perskor, 1986 [ISBN 0628033451 (hb)]
  • Opperman, DJ: ’n Keur uit sy gedigte. Amsterdam: GA van Oorschot, 1960
  • Biermann, Barrie: Red wine in South Africa. Kaapstad: Buren, 1971
  • Die lewende Totius: ’n bundel opstelle saamgestel deru Merwe Scholtz vir die Totius-eeufees in 1977. Kaapstad: Tafelberg, 1977 [ISBN 0624009742 (hb)]
  • Boerneef: Versamelde prosa. Kaapstad: Tafelberg, 1979, 1982 [ISBN 0624011909 (hb)]
  • Leipoldt 100: ’n bundel opstelle saamgestel deur Merwe Scholtz vir die Leipoldt-gedenkjaar 1980. Kaapstad: Tafelberg 1980 [ISBN 0624014045 (hb)]
  • Leipoldt, C Louis: Moederplig: ’n toneelstuk in vier bedrywe. Kaapstad: Tafelberg, 1980 [ISBN 0624014029 (sb)]
  • Leipoldt, C Louis: Slampamperliedjies. Kaapstad: Tafelberg, 1980 [ISBN 0624015335 (sb)]
  • Marais, Eugène N: Meesterverhale van Eugène N Marais. Kaapstad: Human & Rousseau, 1994 [ISBN 0798131926 (hb)]
  • Marais, Eugène N: Die beste verhale van Eugène N Marais. Kaapstad: Human & Rousseau, 2012 [ISBN 9780798159173 (sb)] (Eerste uitgawe was Meesterverhale van Eugène N Marais)
  • Vertellers: die groot Afrikaanse verhaalboek. Kaapstad: Tafelberg en Human & Rousseau, 1990 [ISBN 0624028887 (hb)]
  • Vertellers 2: die tweede groot verhaalboek. Kaapstad: Human & Rousseau, 1991 [ISBN 798128534 (hb)]
  • Visser, AG: Versamelde gedigte. Kaapstad: Tafelberg, 1981 [ISBN 0624014886 (hb)]

Merwe Scholtz as redakteur

  • Wynland: padlangs deur die wynroete. Kaapstad: Buren, 1969
  • Wine country: journeys along the Cape wine-routes. Cape Town: Buren, 1970
  • Biermann, Barrie: Red wine in South Africa. Kaapstad: Buren, 1971
  • Joernaal van ’n trek: uit die dagboek van Erasmus Smit. Kaapstad: Tafelberg, 1988 [ISBN 0624026779 (sb)]

Merwe Scholtz as vertaler

  • Aristophanes: Die paddas (vertaal uit die Grieks). Johannesburg: Perskor, 1978 [ISBN 0628014295 (hb)]

Artikels oor Merwe Scholtz beskikbaar op die internet

Artikels deur Merwe Scholtz beskikbaar op die internet

 

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-09-23
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top