Merang deur Neil Cochrane en Alwyn Roux (redakteurs en samestellers): ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 5

  • Belangeverklaring: Daar is werke van Charl-Pierre Naudé in Merang opgeneem en dit word vanselfsprekend nie in hierdie LitNet Akademies-resensie-essay bespreek nie.

Merang
Neil Cochrane en Alwyn Roux (redakteurs en samestellers)
ISBN 9781067234577
Naledi 2025

  1. Inleiding: Resensent se verantwoording

Merang ... Die woord beteken “fees” in Kaapse Moslemafrikaans – en dit is beslis ’n gebeurtenis in die annale van die Afrikaanse digkuns. Die idee daaragter was om voorheen ongepubliseerde gedigte te oorweeg om ’n versameling tot stand te bring wat aan die poësieleser ’n soort bubbling under-indruk kan gee van wat in Afrikaanse skeppende skryfkringe aan die gebeur is.

Die publikasie vra dus van ’n resensent om op die uitkyk te wees vir tekens wat iets kan verklap van die Afrikaanse gees se huidige wêreldoriëntasie – om uit te kyk vir strekkinge, en modaliteite van segging, sowel as van lewensuitkyk en ervaring. Die skryf van gedigte (ás die gedigte goed is) veronderstel ’n staat van verhoogde bewustheid/ bewussyn. Hieroor het die Franse digter en kritikus Paul Valéry (1871–1945) uitgebreid geteoretiseer (sien bibliografie).

Om ongepubliseerde gedigte van belowende of bewese digters te vra is ’n baie geldige fokus vir enige bloemlesing. Veral in ’n samelewing wat in intense vloeiing verkeer. Dit gee ’n vooruitskouing oor die stand van die kollektief – sy wense, sy neuroses, vrese – al is dit in gesuggereerde vorm.

Om hierdie rede moet gedigte wat opgeneem is, in spanning met mekaar (sowel as met die “kanon”) beskou word, wat ek ook sal poog om te doen – ten einde sinergieë sowel as onderling afstotende kragte te identifiseer wat werksaam mag wees binne die taalkollektief op die huidige tyd.

........
Waarom is “verhoogde” bewustheid belangrik? Omdat dit as sosiale barometer meer betroubaar is as die mediaanvlak van bewustheid. Die verhoogde bewussyn verwag iets van sigself, en gebeur selfs in weerwil van sigself – juis omdat dit kragte nader wat groter is as die self.
........

Waarom is “verhoogde” bewustheid belangrik? Omdat dit as sosiale barometer meer betroubaar is as die mediaanvlak van bewustheid. Die verhoogde bewussyn verwag iets van sigself, en gebeur selfs in weerwil van sigself – juis omdat dit kragte nader wat groter is as die self.

Om nou te kom en ’n gebeurtenis soos Merang te verskraal tot hoofsaaklik ’n blote produk in die spel van “kanonisering”, is om erg reduksionisties te dink. Dit is om die skep van letterkunde te reduseer tot ’n slim spel van vermoedelik begaafde mense, niks meer nie. Dit is ook om kenne te gee dat jy lankal nie meer daarin belangstel om die verborge fasette van jou samelewing te verken en daardeur verbaas te word nie.

Met “wêreldoriëntasie” bedoel ek nié in die eerste plek literêre kategorieë van ervaring nie (soos die kategorie “individualisties”) of literêre strominge (soos “eksistensialisties” byvoorbeeld) nie, hoewel dit ook belangrik is. Dit gaan hier oor die potensiaal van gedigte om die kollektief te vorm, en ten goede. Ja, min mense lees gedigte of letterkunde, maar soos die sielkunde sowel as die filosofie al uitgewys het: Alles wat gebeur, deursuur die kollektief, al gebeur daardie dinge slegs met enkele individue.

Bloemlesings is dus nié net om nougesette literêre redes nie, maar ook filosofies en sosiologies van belang.

Maar terug na die teks: Ek sal probeer aantoon dat hierdie ’n baanbrekerspublikasie is. Dit is die eerste keer dat ’n bundel ongepubliseerde gedigte van soveel digters met so ’n diverse profiel gepubliseer is. Ook die tematiese aanbod is wydlopend. Ek sal aantoon dat die stilistiese aanbod meer gevarieerd is as wat op oogopslag blyk. Dit is uniek in die Afrikaanse digkuns. Dit is ʼn gevarieerdheid wat nou skakel met samelewingskragte van die tyd (soos radikale demografiese verskuiwings), en verklap méér as oor net die digkuns.

 

  1. Die bundel se opset

Daar is verskeie “kategorieë” digters merkbaar in die versameling: 1) gevestigde digters; 2) digters wat onlangs met ’n solobundel gedebuteer het; 3) digters wat reeds al bekendheid verwerf het via plasing van gedigte in versamelbundels, tydskrifte en digitale platforms; en 4) nuwelinge wat vir die eerste keer gedigte publiseer.

........
Daar is verskeie “kategorieë” digters merkbaar in die versameling: 1) gevestigde digters; 2) digters wat onlangs met ’n solobundel gedebuteer het; 3) digters wat reeds al bekendheid verwerf het via plasing van gedigte in versamelbundels, tydskrifte en digitale platforms; en 4) nuwelinge wat vir die eerste keer gedigte publiseer.
.........

Daar is veteraandigters soos die Hertzogpryswenner Johann de Lange, Johann Lodewyk Marais, Marlise Joubert en Louis Esterhuizen teenwoordig. Hulle het al talle solobundels die lig laat sien. Die bloemlesing bevat ook gedigte deur Ilse van Staden en twee ongepubliseerde gedigte van my.

Daar is ’n hele klomp nuwelinge opgeneem, en name soos Yolanda van der Mescht, Erica Schoeman, Kobus Kotzé en Joha van Dyk is onder hulle.

NB-Uitgewers

Hier is name van digters wat in ander genres bekend is, maar hier met gedigte ’n buiging maak. Ihette Senekal en Amanda Marais (voorheen Lourens) (beide akademici en literêre kritici) en die vermaarde operasangeres Linette van der Merwe val op. Ek praat onder korreksie, maar was die laaste operasanger wat die Afrikaanse poësieveld gehad het, nie wyle Rosa Nepgen, eggenote van WEG Louw nie? Sy is die briljante vertaler van die Italiaanse digter Eugène Montale.

Hier vind ’n aanvulling plaas tot die reeds bekende digtersname wat in gewilde musiek werk.

Die bekende prosaskrywers Jaco Fouché en Stefaans Coetzee publiseer hier vir die eerste keer gedigte.

Daar is 11 tematiese afdelings in die bundel aan bod, wat opvallend nie benoem word nie. Dit onderskryf my indruk van ’n speling in vertolking wat die samestellers beoog het.

Merang is saamgestel om saam te val met die herdenking van Afrikaans se honderdjarige mylpaal as amptelike taal, maar dit vorm nie deel van die Afrikaans 100-vieringe nie. Dit is ’n outonome publikasie van Naledi.

Merang het nie dwingende maatskaplike of tydsgebonde redes vir die samestelling daarvan nie, byvoorbeeld oorlogsgedigte of gedigte oor die ekonomiese sentrum Johannesburg, soos met Fanie Olivier se destydse Goudaar (Perskor, 1986). Dit is in hierdie sin ’n lukrake sondeerstok, wat oop moontlikhede gee. Ek mis egter name soos Marlene van Niekerk, Antjie Krog, Johann Myburgh en Carina Stander hier. Afrikaans sowel as sy variante is hier verteenwoordig.

 

  1. Tradisie en vernuwing in Merang

Hierdie is ’n klem wat sigself onmiddellik aanbied by die lees van ’n gedenkjaarbundel waarin daar dus sprake is van ’n historiese tydsbestek. Daar is die digters wat meer trekke van die historiese hoofstroomtradisie toon soos dit in Afrikaans tot stand gekom het, soos Johann Lodewyk Marais; digters wat tussen daardie tradisie en onlangse ontwikkelings soos die vertelvers staan, soos Louis Esterhuizen; die nuwer stemme, soos Alwyn Roux en Emma Bekker; en eksperimentele digters soos Hennie Meyer en Aryan Kaganof wat heel aan die ander kant van die spektrum staan. Meyer vlieg hierdie bloemlesing binne soos ’n wonderbaarlike dronk mossie en gooi ’n literêre lampkap of twee om.

........
Daar is die digters wat meer trekke van die historiese hoofstroomtradisie toon soos dit in Afrikaans tot stand gekom het, soos Johann Lodewyk Marais; digters wat tussen daardie tradisie en onlangse ontwikkelings soos die vertelvers staan, soos Louis Esterhuizen; die nuwer stemme, soos Alwyn Roux en Emma Bekker; en eksperimentele digters soos Hennie Meyer en Aryan Kaganof wat heel aan die ander kant van die spektrum staan. Meyer vlieg hierdie bloemlesing binne soos ’n wonderbaarlike dronk mossie en gooi ’n literêre lampkap of twee om.
.........

Die leser word deur die samestelling bedag gestel op ontwikkelings in die digkunsveld, en ook ontwikkelings in die oeuvres van spesifieke digters.

Dit is opvallend dat die bundel oorwegend ’n bekende sfeer uitstraal wat styl en vorm betref (soos Louise Viljoen ook in haar resensie uitwys). En tog is die vernuwende pool allermins afwesig.

Die vier gedigte deur Johann Lodewyk Marais (ble 60–3), wat voorkom in die afdeling oor die liefde, naamlik “Ek herhaal jou”, “Herhaal”, “Naggesprek” en “Vertrek”, weerspieël ’n onlangse klem in dié digter se tematiek. Maar dit mis die indruk van kompaktheid en resonansie van sy beste digkuns, dalk juis weens die losser struktuur. (’n Los struktuur is nie per definisie afvallig nie; dit gaan afhang van die digter.)

Naledi

In Aves, moontlik Marais se beste bundel, is daar puntige indrukke oor voëls, wat wil-wil uitwaaier in meervoudige implikasies. Die uitbeeldings daarin herinner aan die etos van Opperman se korter verse, en ek sou hierdie digter op sy beste in daardie ontwikkelingslyn plaas. (Die invloed van Aves blyk uit ’n bedekte verwysing na die bundel deur Jerzy Koch in sy vers op bl 123, “Die uil en die ster”.)

JL Marais se gedigte in Merang bevat sy kenmerkende glinsterende elegansie, maar onder die oppervlak skuil ’n tamheid en ’n geyktheid wat al ’n rukkie in sy mees onlangse bundels aankom. Iewers het ek tog al gelees van “die glooiings van die berge”? En “paddavissies wat hul sterte verloor”? En die geliefde bevind haar oor “die verwyderde oseaan” – wat nie heeltemal sê wat dit poog nie. Dit is die oseaan wat die “verwydering” doen, dus sou mens die woord “verwyderende”, en nie “verwyderde” nie, verwag.

’n Ander gemis vir my in JL Marais se oeuvre is dat dit dikwels genoeg briljant is op beskrywende vlak, maar meestal nie poëtiese dieptespanninge besit wat tot werklik transformerende betekenisversnellings lei nie. Hierdie aspek gaan nie alle ernstige lesers pla nie, maar vir my is dit een van die basiese dinge wat ’n goeie gedig moet doen. Dit lei op die duur tot ’n tematiese en stilistiese dreun. Desnieteenstaande lees ek hierdie digter se vroeër verse graag.

Daarteenoor toon Esterhuizen se “Niekerbôl” ’n verstewiging van beeldende fokus wat sy digkuns tot eer strek. (Ek het nog nie sy “laaste” bundel met die veelseggende titel Klaarte gelees nie.)

Ilse van Staden se aanbod sluit ook aan by die hoofstroomtradisie, maar “die eie ek” (37) mis die helder fokus van byvoorbeeld Esterhuizen se genoemde vers. Die metafoor van die gedig bly effe wasig. Haar “flits” (309), daarenteen, is sterk en verwys onder meer na twee ikoniese gedigte van die tradisie: “Man met flits” (Opperman) en “Die beiteltjie” (Van Wyk Louw). Hoe sy die twee verwysings saamsnoer en die werf-Afrikaanse metafoor van ’n “beitel” met die metafoor van “lig” met al sy moderne wetenskaplike konnotasies vervang, is sekuur, treffend en eietyds.

Protea Boekhuis

Twee van die sterkste tematiese aanslae op die tradisie oor afgelope dekades is die queerdigkuns (gedigte met ’n homoërotiese ervaringsveld) en digkuns van vroue wat die vroulike ervaring uitbeeld. Eersgenoemde word by uitstek in hierdie bundel verteenwoordig deur een van Neil Cochrane se bydraes, en dié van een van die nuwer digters van queerdigkuns, Jaco Barnard-Naudé. Die sentrum van hegemoniese denke in die letterkunde is deur die homoërotiek en die ervaring van die homoseksuele mens nie net op reële vlak ontsetel nie. Op metaforiese vlak het ’n “nuwe” morele grammatika tot stand gekom wat voormalige sekerhede op losse skroewe geplaas het.

.........
Op metaforiese vlak het ’n “nuwe” morele grammatika tot stand gekom wat voormalige sekerhede op losse skroewe geplaas het.
.........

Ek wil kortliks illustreer wat ek hiermee bedoel. In Cochrane se "No need to argue" word sterk kritiek uitgespreek teenoor institusionele geweld (staat, skool, kerk en die mediese establishment) wat op verskeie vlakke ’n verwoestende invloed op die queer jeugdiges het. Die gedig speel in op die onreg teenoor queer persone tydens die apartheidsregime, maar bly in ’n groot mate ook relevant vir vandag. Dit is ’n narratiewe vers waarin die individuele lot ingebed is in groter sisteme, iets waarna ek in my verantwoording verwys. Die titel en slot waarin dieselfde woorde voorkom, "No need to argue", verkry ’n skreiende ironiese resonansie. Een van die gevare van die narratiewe vers, dat dit begin dreun, is ongelukkig plek-plek in die gedig te bespeur.

Saam met die vroulike ervaring (deur vrouedigters verwoord) het ons hier dalk die twee grootste “Derridaeske” gebeurtenisse wat vernuwing betref in ons letterkunde. Jacques Derrida en ander postmoderne filosowe het aangetoon hoedat die betekenis van tekens bepaal en omskryf word deur die effek van ander tekens op daardie tekens. Dit sal dus interessant wees om studies te lees oor die impak van queerletterkunde op heteroseksuele letterkunde. Hoe lyk daardie invloed? Dalk bestaan sulke studies alreeds. Hierdie is die soort vrae wat deur Merang losgemaak word.

........
Dit sal dus interessant wees om studies te lees oor die impak van queerletterkunde op heteroseksuele letterkunde. Hoe lyk daardie invloed? Dalk bestaan sulke studies alreeds. Hierdie is die soort vrae wat deur Merang losgemaak word.
.........

3.1 Tradisie en vernuwing (vervolg)

Ek wil kortliks wys op nog interessante spanningsvelde wat tussen die digtradisie en digterlike vernuwing bestaan, en wat in Merang aan bod kom.

Enkele pragtige verse wat die tradisie verteenwoordig, kan uitgesonder word. Daar is Johann de Lange se “Ruimte”, ’n kwatryn (90). Die vers is verstegnies sowel as in uitkyk heel konvensioneel, maar besonder elegant gestel.

Daar’s plek vir die korsmos & kosmos
in vier reëls, vir huilbos & dolos,
vir die dood soos mos wat als bedek
& welig sy wilde spore los.

Die vers se effek berus op eenvoudige teenstellings en ’n welbekende betekenisrooster: dood en lewe, klein en groot, begin en einde. Dit verhinder egter nie dat die effek daarvan ’n merkwaardige leesoomblik oplewer nie.

Nog ’n konvensionele gedig, maar besonder treffend, is Marié Nöthling se “ek is nie ’n digter nie”, geskryf as ’n villanelle. Dit is ’n toonbeeld van ’n goeie villanelle, wat glad nie so maklik is om te skryf nie. Dit is ’n vorm wat op fasiele wyses egter maklik gesimuleer word. Nie hier nie. Nöthling bou spanning op deur middel van die behendige herhaling van reëls, wat elke slag effens verskil van die vorige herhaling, en dmv die sekure plasing van emotiewe woorde. Dit alles maak van hierdie vers een van my top tien gunstelinge van die bloemlesing.

Vergelyk dié twee gedigte nou met byvoorbeeld “monrou” (Barnard-Naudé, 296), Aryan Kaganof se absurdistiese “Die verdwyning van die aktrise” (286), of Bibi Slippers se “HAT (p 1068)”. In hierdie drie verse strook die beelding nie met die “ordelike” aard en die gegewendheid van die beelding in die genoemde kwatryn of villanelle nie. In hierdie drie gevalle word juis die draak gesteek met betekenis per definisie, en met die ordes daarvan. Daar is ’n binnestebuite gedraaiery van verwagtinge, van gewone sekwensie, en van bekende logika. (Hierdie absurdistiese wending, wat in Soekenjin (2023) van Slippers mooi blyk, het die tradisie so onkant gevang dat min, indien enige iets, nog daaroor geskryf is.)

NB-Uitgewers

Die laaste paar dekades was voller gepak met vernuwende wendings as enige vorige tydperk in Afrikaans se bestaan, deels omdat Afrikaans veel oper staan tot assimilasie uit die wêreldletterkundes as tevore. Dit beteken nie noodwendig dat daar meer “briljante” digters is nie, of dat die wendings belangriker is as vorige wendings nie. (Dit is juis belangrik om daarop te let dat wendings soms kantelings verteenwoordig wat onvermydelik geword het weens die aanvoorwerk van die tradisie oor ’n lang tyd, en juis minder te doen het met die spesifieke skrywers wat uiteindelik daaraan vorm gee.)

Helaas, ondanks al die vernuwende wendings word daar in die laaste jare ooglopend in die kommentaar en kritiek weggeskram van woorde soos “vernuwend” en “oorspronklik”, wat daarop dui dat die woorde se betekenisse in vloeiing verkeer. Dalk is dit ook omdat hierdie woorde te maklik rondgegooi is in die tyd wat gevolg het op die modernistiese vernuwing in Afrikaans. Maar daar is ook ’n verdere rede, naamlik dat hierdie waardes vir selfgerigte, ambisieuse praktisyne net te gesog geword het om te erken dat dit bestaan waar dit bestaan. Hulle dring in effek daarop aan dat onlangser kantelpunte van vernuwing sover moontlik geïgnoreer word as hulle nie daarby betrokke is nie. Hiervan kan ek heelparty voorbeelde gee, wat nie in die bestek van ’n resensie soos hierdie pas nie. Genoeg om te sê dit strem onbevange ondersoek. Dit is genoeg om te sê Bibi Slippers se Soekenjin is ’n pertinente onlangse geval. (Die meer skroomlose literator Karen de Wet gebruik wel die woord “vernuwende” in haar flapteks tot Merang, wat sy as ’n “vernuwende bydrae tot die landskap van die Afrikaanse poësie” beskryf.)

Nog ’n wending van die afgelope tye is die narratiewe vers, en die vers met ’n vertelstruktuur. Dit is verse waarin die ritme dikwels meer prosa-agtig of “losser geweef” is, en die vertelling nie slegs die draer van metafore is nie, maar sélf die sentrale metafoor word. Hierdie veranderde rol van die vertel-element (’n element wat in álle gedigte uitdruklik of implisiet voorkom) het onder meer ’n invloed op sinsritme, die vaart van ontplooiing, lengte van die gedig, en die gedig se tipografiese voorkoms. Daar is steeds nie genoeg onderskeidings waarmee die narratiewe vers in al sy vorme benader word nie. ’n Term soos “expansive verse” in die internasionale domein is ’n beter versamelterm as “narratiewe vers” of “vertelvers”, laat staan nog die wyse waarop die betekenisse van “parlando” en “narratiewe vers” al met mekaar verwar is!

In onlangse jare is daar ook nuwe verhoudings jeens die serebrale of die besinnende element in die liriese digkuns. Soms word selfs filosofiese inhoude uitgedruk, hoewel die betekenis van wat “filosofies” in die letterkundebeskouing is, nog nie naastenby goed geformuleer is nie.

NB-Uitgewers

Een so ’n “filosofiese” vers, dalk die opvallende een in die bloemlesing vir die speurende leser, is Amanda Marais se “die wêreld is ons woning nie” (124). Ondanks iets in die sintaksis wat hinder (twee opeenvolgende strofes wat met “maar” begin), is die vers ’n baie mooi, wrang-humoristiese digterlike besinning oor die doodsdrang van die mens. Freud het gepostuleer dat die doodsdrang (en nié die oorlewingsdrang soos algemeen aanvaar word nie) die mens se sterkste drang is. Die gedig se trefkrag berus op hierdie paradoksale insig van Freud, en Amanda Marais se gedig ontgin dit knap.

Daar is digkunsontwikkelings wat aan bod kom in Merang wat ’n politieke karakter het. Eerstens, die sterk groei van digkuns uit die geledere van Nathan Trantraal, Lynthia Julius, Ronelda Kamfer, Veronique Jephtas en Jolyn Phillips en meer, demografies vervolgde sektore van die samelewing tydens apartheid. In Julius, Phillips en Trantraal se gevalle gaan dit soms gepaard met asemrowende beelding. Ná ’n miskraam word ’n vrou byvoorbeeld afsydig teenoor haar man soos “’n vol pakkie Courtleigh sonner ’n lighter” (Julius, “Vir Eugene”, 179).

NB-Uitgewers

En dan is daar rap, of digkuns van die gesproke woord. Hiervan is digters soos Churchil Naudé (“sê”, 36) en Diane Ferrus verteenwoordigend. Danie Marais se “Geld” (239–34) funksioneer as beide gesproke woord en leesgedig. Die seleksie gee asem aan beide strominge.

3.2 ’n Sensitiewe netwerk

Oor die spanning tussen tradisie en vernuwing kan ten slotte gesê word dat dit ’n simbiotiese verhouding is. Die een pool is nie belangriker as die ander nie; hulle “teer” op mekaar, en kan nie sonder mekaar strewe nie. Maar soms word in te letterlike besprekings die twee pole skerp geskei, asof dit afsonderlik van mekaar bestaan.

Daar is ’n baie sensitiewe netwerk van interaksie in die spel tussen tradisie en vernuwing wat eindeloos kompleks is en nie op letterlike, oorvereenvoudigde wyse benader behoort te word deur kritici wat ook digters is omdat hulle koesterend voel oor hul eie plek “in die kanon” nie.

........
Daar is ’n baie sensitiewe netwerk van interaksie in die spel tussen tradisie en vernuwing wat eindeloos kompleks is en nie op letterlike, oorvereenvoudigde wyse benader behoort te word deur kritici wat ook digters is omdat hulle koesterend voel oor hul eie plek “in die kanon” nie.
........

3.3 Twee gedigte wat die interaksie tussen die tradisie en vernuwing verteenwoordig

Ek het dit reeds gestel dat hierdie ’n ragfyn verhouding is. Twee gedigte in Merang kan as voorbeelde aangehaal word om dit te illustreer. Ek bespreek kortliks “Geld” (Danie Marais) en “begrafnis tref die mooiste, mooiste maand” (Jaco Barnard-Naudé).

Beide gedigte vind teen ’n milieu plaas waarin ’n historiese ikoniese gedig sentraal staan.

In die geval van “Geld” is daar die gedig “Love is …” van die Engelse “beat poet” Adrian Henry (1932–2000). Henry was verantwoordelik vir die blitsverkoperbloemlesing The Mersey sound saam met Brian Patten en Roger McGough. Die Mersey is die rivier waarop die stad Liverpool gebou staan. Die Beatles kom ook van hierdie stad, en die invloed van die Mersey-digters is duidelik in die Beatles se lirieke te bespeur.

So lui die eerste twee strofes van die gedig:

Love is feeling cold in the back of vans
Love is a fanclub with only two fans
Love is walking holding paintstained hands
Love is

Love is fish and chips on winter nights
Love is blankets full of strange delights
Love is when you don’t put out the light
Love is

Dit is ’n gedig wat minder as ’n bladsy lank is. Dit was sterk in sy tyd, maar sy beelding het erg vervaal met die jare. Die gedig het T-hemde en advertensieslagspreuke deur die jare geïnspireer. ’n Mens kan sê die gedig is die Che Guevara van ikoniese gedigte.

Daar is soortgelyke gedigte wat uit Amerika se beat-beweging gekom het. Beide bewegings, wat breedweg beat-bewegings is, werk soms baie sterk met die herhaling van frases, wat deur die “beat”-begrip (in die geval van die Amerikaanse beweging) onderskryf word, en is dikwels deklamerend, aktivisties en ingestel op die ontginning van intens subjektiewe ervarings van die alledaagse.

Danie Marais se gedig ontgin die spanninge tussen sý tema en die “Love is”-tema. Marais het eintlik ’n soort “hate is”-gedig geskryf oor die invloed en plek van geld. Net soos in die beat-beweging is die gedig se beelding buitensporig en subjektief-begogelend, waarin sy roekelose krag ook lê. Daar is allerlei insinuasies en heerlike afleidings wat gevra word om gemaak te word deur middel van ’n intertekstuele lees van Henry se historiese teks in spanning met Marais se gedig. Een so ’n afleiding is dat die herhalende frase “geld is” lateraan atavisties-ritualisties begin oorkom, met die betekenisimplikasie dat geld ’n afgodsbeeld en ’n afvallige godsdiens is (net soos die liefde).

Hierdie is ’n sterk voorbeeld van hoe poëtiese tradisie vra om “vertaal” te word in die hier en nou – nie noodwendig deur middel van ’n “kantelpunt” nie (wat ek ook “vernuwing” of iets dergeliks sou kon noem), maar dan minstens in ’n knooppunt van intertekstuele gesprek.

Die tweede gedig ter bespreking, die een van Barnard-Naudé, is geskryf met die doel om in spanning met TS Eliot (1888–1965) se eerste gepubliseerde gedig, “The love Song of J Alfred Prufrock” (1910) gelees te word.

Daar is verskeie punte van ooreenkoms en spanning tussen Barnard-Naudé se gedig en Eliot se lang gedig (wat op sy beurt ’n gedig van Rudyard Kipling met ’n soortgelyke titel oproep).

NB-Uitgewers

Beide gedigte begin met ’n aanhaling uit ’n gestorwe taal: in Eliot se geval uit Dante Alighieri se Florentynse Italiaans, en in Barnard-Naudé se geval uit Latyn of uit een van Latyn se uitvloeiseltale wat as ’n uitgebreide aanhaling boaan sy gedig verskyn.

In beide gedigte gaan dit oor momente waarin die verganklikheid intens aangevoel word. Beide gedigte het ’n bewussynstroomsamestelling, van frases wat oorloop in ander frases, en van spronge in plek en logika.

Beide gedigte verwys ruim na ander tekste. In Eliot se geval is dit meer meestertekste soos die Bybel, en Shakespeare. In Barnard-Naudé se geval sluit dit gewildheidsliteratuur soos tydskrifte ooreenstemmend die gedig se postmoderne karakter in. Eliot se teks bevat die reël “April is the cruelest month” (net voor Mei, wanneer die lente begin), en Barnard-Naudé se gedig se eerste reël is “oktober is die wreedste maand”, met dieselfde konnotasie. Prufrock lamenteer sy bestaan as ’n geïsoleerde moderne wese; Barnard-Naudé ervaar eweneens gevoelens van isolasie soos hy tot ’n begrip kom van sy lewe as ’n gay man. Hierdie is ’n voorbeeld van hoe tradisie met vernuwing in interaksie tree.

(Terloops, “Geld” as gedig onderskryf my eie oordeel in ’n dagbladresensie oor Danie se jongste bundel, Ek en jy bestaan nie, dat die gedig wat draer is van die beeld, tans meer uitbreidingsmoontlikhede aan sy digterskap bied as die vertelvers, wat in sommige gevalle in ’n dralende toon verval het) (sien bibliografie).

 

  1. Is dit ’n eksperimentele gedig of nie?

Ek wil nou ’n spanning rondom twee stellings wat oor Merang in die pers gemaak is, ondersoek.

Op 30 Junie 2025 op Netwerk24 sê die een samesteller, Neil Cochrane, aan die kunstejoernalis AJ Opperman Merang is (merendeels) “toeganklike verse, hoewel die bundel ook eksperimentele verse insluit” (my kursivering).

Op 20 Julie 2025, ook op Netwerk24, drie weke later, skryf die literator Louise Viljoen in haar resensie dat dit “opvallend is dat daar nie ’n sterk aksent op ongewone digvorme en tegniese eksperimentering is nie” (my kursivering).

Dit is waar dat daar nie ’n sterk aksent op sekere aspekte is nie, en tog beteken dit nie dat hulle afwesig is nie.

Dit is belangrik om daarop te let dat daar ’n subtiele verskil tussen Cochrane se beskrywing “eksperimentele verse” (sonder ’n beskrywende adjektief “tegniese”) en Viljoen s’n mét die adjektief “tegniese” is. Hierdie verskil – tussen tegnies en andersins – suggereer ’n begrip oor die eksperimentele wat hier uitgedof staan en wat belangrik is vir die waardeskatting van die eksperimentele al dan nie in hierdie bloemlesing. Die webwerf Literêre terme en teorieë werp lig op “eksperimentalisme”. In die eerste plek beteken dit om te eksperimenteer “met die vorm, die woord, die sin, die klank en die vers”. Hierdie is waarneembare tegniese aspekte. Maar die handleiding gaan verder: Die eksperimentalisme wil die onontginde velde van die werklikheid ontgin. Dit beteken dat nie alleen die taal nie, maar byvoorbeeld ook die onbewuste as objek van ondersoek (my kursiverings).

Die handleiding praat dan oor twee emblematiese eksperimentele digters:

– Lucebert, wat aan een van sy bundels die tiperende titel Van de afgrond en de luchtmens gee, waar­in duidelik iets geïmpliseer word van die mens se los-wees van ankerpunte of tradisionele vastighede.

– ’n Ander belangrike eks­perimentele digter, Gerrit Kouwenaar, wat hom eweneens afwend van die mimetiese digkuns (my kursivering).

Uit bostaande aanhalings blyk dit dat benewens die eksperimentering met (1) vorm, taal en klank, die eksperimentele te doen het met (2) die aangryp van die onbewuste en (3) ’n afwend van die mimetiese.

Hierdie inskrywing, “Eksperimentele poësie”, in Literêre terme en teorieë dui die beweging Dada (vanaf 1916) aan as die begin van die eksperimentele poësie. Dit is verkeerd. Die begin daarvan was eerder die beweging Sturm und Drang in die Duitsland van die laat 1700’s. Ek haal aan oor Sturm und Drang uit my boek In die rede geval: Waarom die mens mites maak (2023):

In Sturm und Drang is die beste uitkoms nie vooraf teenwoordig soos in die Romantiek nie, óf in prinsipe haalbaar as ’n rasionele uitkoms soos by die Verligting nie. Dit is onseker en moet in stryd vervaardig word.

Dié aanhaling verskaf die allerbelangrike vierde kenmerk van die eksperimentele: (4) Dit vertrou in ’n “onbekende uitkoms”. Dit is in ’n mindere mate waar van alle gedigte, maar die oorgawe aan ’n onvoorsiene uitkoms dra veel meer van ’n “roekelose” klem by die eksperimentele vers.

Op hierdie vier kenmerke af meld onder meer die volgende gedigte in Merang aan as van eksperimentele aard: “Zenjinskap” (Hennie Meyer, 308), “Die verdwyning van die aktrise” (Aryan Kaganof, 286–95), “Geld” (Danie Marais, 236), die genoemde verse van Barnard-Naudé (verspreid in die bundel), en die fragmentariese gedigte van Alwyn Roux (48–51).

Protea Boekhuis

Die epitoom van die eksperimentele in hierdie bloemlesing is beslis die asemrowende gedig deur Kaganof. Ek verstaan dit nie goed genoeg om dit noemenswaardig in kritiese terme te kan bespreek nie, en juis dit maak van die gedig ’n klokhelder verteenwoordiger van kenmerk 4 van die eksperimentele. Dit is ’n gedig wat die onderbewuste en onbewuste roer deur middel van absurdisme, sweme van ’n losskakelende en uitmekaar drywende narratief, en briljante sinne en frases wat onsinnig ingespan word. Sodoende problematiseer die gedig die idee van narratiewe skakels en bied dit skakels aan wat normaalweg nie skakels sou wees nie. Hilda Smits se tergende gedig “in die vlak aand”, wat ook skakels problematiseer (53), kan in aansluiting by Kaganof gelees word.

Protea Boekwinkel

Dit is moontlik dat Kaganof se vers geskryf is as cento, met ander woorde dit bestaan uit ’n samestelling van frases en sinne uit beduidende literêre werke gelig en dan in Afrikaans vertaal. Cento is ’n enigmatiese spoeg-en-plak-genre en word wel deur Kaganof beoefen. In daardie geval verminder Kaganof se kapitaal as oorspronklike skrywer, maar nie as eksperimentalis nie.

 

  1. Emosionaliteit uitgedruk in die digkuns

Ek wil enkele opmerkings maak oor emosionele kwaliteit (’n belangrikste oogmerk van die liriese digkuns) aan die hand van ’n handvol gedigte uit Merang. Die gedigte wat ek wil bespreek, is “Om ’n mens te ma” (Emma Bekker, 174), “begrafnis tref die mooiste, mooiste maand” (Jaco Barnard-Naudé, 214) en “ars melancholia i, ii, en iii” (Mellet Moll, 208–10).

Daar is verskeie vorme van weemoed wat in die bundel uitbeelding vind. Bekker se gedigte toon sterk ontwikkeling sedert haar twee solopublikasies in poësie.

In die genoemde gedig word ’n sterfgeval, van ’n baba wat die lewe verloor voor geboorte, uitgebeeld binne sinstrukture met ’n toon van nerveuse saaklikheid. Maar die gegewens van die gedig kontrasteer met hierdie “saaklikheid”, asof die verteller eerder haar emosies inhou.

’n Jong ma wat haar baba in die vreemde (die groot stad Parys, hoofstad van romantiek en verlange) verloor, word deur die stem van die gedig gedenk in taferele wat die ma se Afrikaanse aard in spanning plaas met die wêreldwye. Die spanning tussen segswyse en vertelmateriaal is ’n wyse waarop hierdie gedig emosionele lading bou.

Barnard-Naudé se gedig beeld ’n baie fynbesnaarde emosie uit. Dit is subtiele weemoed, egte melankolie, maar die verteller benader die weemoed op sylangse maniere omdat dit te veel is om in die oë te kyk. Dit is dieselfde vorm van weemoed, oor verlies of oorgang, wat voorkom in Peter Blum se “Wat het geword van Ursula?”, en dis ’n weemoedsvorm wat ook voorkom in Eliot se genoemde gedig. Die leser word al hoe meer bewus van die weemoed soos wat die digter ’n stroom gedagtes versaak ter wille van ’n ander stroom, en wanneer hy spring tussen plekke in die geheue. Die effek is dat die weemoed hangend gelaat word in die leser. Daar is nie ’n resolusie nie, want dit is nie moontlik nie.

Moll se gedig noem sy spesifieke weemoed by die naam: melancholia. Die plek van melankolie in die moderne digkuns – wat in die manier waarop dit bestaan, die produk is van ’n ou wêreld wat onherroeplik in ’n onbekende, moderne een oorgegaan het – word duidelik daarin dat Moll sy melankolie terugvoer tot by Charles Baudelaire, die vader van die moderne digkuns in Frans. Die vertellerstem in die gedig bevind hom in een van die ou stadsgedeeltes van Parys, Montmatre (“Heuwel van smarte”) en ontmoet ikoniese Franse digters soos die beeldmeester Mallarmé en die groot digter Paul Valéry in die gees. Uiteindelik ontmoet die verteller die verpersoonlikte Melankolie, en in van die mooiste reëls in die bloemlesing gaan soek hy en die twee Franse digters (wat hom per motor oplaai!) vir Melankolie:

ons het jou gevolg na waar die dood
met ’n flits in die laatnag loop
hulle het my afgelaai met die opkom

van ’n swart son in die verte
oor die milt van Parys

en geswyg.

Die onthutsende beeld van ’n “swart son” is kwalik ’n nuwe beeld, maar dit kan nie anders as om dieselfde effek vir altyd te behou nie. Let op die wisselwerking tussen lig en donker, en “afgelaai” en “opkom” in die gedig. Die melankolie is ’n weemoedsvorm wat juis uit ’n teenstryd van emosies opgewek word.

 

  1. Voorbeelde van hoe die poëtiese reël gelees kan word

My doel met hierdie afdeling is om die leser van Merang te prikkel om die diepgang van reëls te ontgin. As mens dit een of twee keer gedoen het, sal gedigte altyd weer vir jou oopgaan.

Marius Crous se “foucault”, oor die Franse filosoof, is my eerste halte. Die stem in die gedig is Foucault s’n en sinspeel op die biografiese en die private lewe van die filosoof. Selfveragting en seksuele begeerte is die oorheersende emosies die vers, waarin dit die homoërotiese praktyk van cruising is wat met die metafoor van filosofiese argiefsoeke uitgebeeld word. “Die argief” is een van Foucault se groot filosofiese begrippe. Só eindig die gedig:

op my argiefsnuf deur die labirint
na die vont van die goue strome.

Dit is by uitstek ’n gedig oor ’n erotiese lewenswyse, nie kennissoeke nie, en die tikkie humor ontgaan my nie. Die begrippe “soeke” en “vondse” speel ’n rol.

Let op hoe dig gepak met konnotasies die slotreël is: “goue strome” dui op die rykdom van insigte wat die argief kan bied, maar dit dui ook op ’n sadomasochistiese seksuele praktyk, wat reeds in die woord “snuf” klem verkry het. Die woord “vont” (wat die woord “vonds” eggo), roep terselfdertyd ’n doopvont op en die prille onskuld van ’n nuwe mens. “Goue strome” verkry verder ’n sprokiekwaliteit deur middel van die “goue” in die beskrywing. En só vermeng seks, religieuse ritueel, filosofie en die gebroeders Grimm (as’t ware, en pun intended) met mekaar om ’n opvallend sterk slot te lewer.

Naledi

My tweede halte is Kleinboer se gedig “gerda se oorwinning”. In hierdie snaakse gedig gaan dit oor ’n “oujongnooi” wat op die punt staan om deur ’n inbreker verkrag te word. Sy verweer haarself deur die inbreker se adamsappel met ’n besemstok in te druk. Hy sak op sy knieë neer (amper asof hy ootmoedig om verskoning sou vra). Die gedig eindig só:

maar dis te laat
want Gerda se hande is reeds
om ’n swaar blompot.

Hier is allerlei konnotasies op humoristiese wyse ingebed. Dit is die gesuggereerde konnotasies van “blompot” wat my interesseer. Die inbreker wou Gerda verkrag. En nou gaan die “oujongnooi” hom doodslaan met ’n blompot. Wat blompotte betref, dink aan die Engelse woord “deflower”. Gerda se hande koester haar blompot, sy hou dit vas, maar by implikasie is dit haar lewenstyl en haar vroulikheid wat sy beskerm. Dit is “swaar”, want dit is kosbaar, en nou gaan sy dit op die oortreder se kop moet breek.

Mens kan verder gaan: “blompot” roep die konnotasie op van “wall flower” en suggereer hier ’n persoon wat meer van ’n muurdekorasie in haar lewe was as dat sy in haar volheid geag was. Die gevaar van seksisme in Kleinboer se gedig is groot, maar hy systap dit vernuftig met humor en empatiese dubbelsinnigheid.

My derde halte: Tom Dreyer se “ek sien my voorsate” (150). Dreyer skets verskeie scenario’s waarin hy sy voorsate in sy geestesoog oproep. Dit is almal taferele uit die geskiedenis, behalwe in die laaste reëls, waar die voorsate van meer onlangs is. So lui die slot:

[Die voorsate is]
soms slu en afgetrokke in die eerste lig
of uitgespan langs bantam-bakkies
met hardgekookte eiers tussen die vingers.

Die uitbeelding gaan van eertydse voorsate wat die land en natuur onderwerp het, dikwels op “slu” wyses, na hul nasate as moderne jagters of avonturiers in hul “bantam-bakkies”. Bantam-bakkies is klein voertuie, vernoem na kapokhoenders; dis nie groot viertreknommers nie. Hierdie ouens is “klein Buyse”, as’t ware, veel nederiger, maar wil graag nog pionier speel. Hulle is egter hier cut down to size.

Dit is die beskrywing “hardgekookte eiers” wat ek wil uitlê. Die “pioniers” het piekniekmandjies saamgebring met hardgekookte eiers in. Die eiers sinspeel op die mans se eie eiers, wat tussen hul bene hang en simbool is van hul manlikheid. Hulle is hardgebakte ouens, of so sien hulle hulself, maar hul manlikheid, wat lank gelede vrye teuels gehad het, is nou ingeperk. Soos woorde soms gesluk moet word, moet hulle die manlikheid van die vaders ’n bietjie sluk. Die gedig is nie sonder deernis nie, en heel waarskynlik het hul vrouens by die huis vir hulle daardie mandjies gepak.

Ek hou van die wyse waarop hierdie gedig opgevolg word deur Toast Coetzer se “die verdwyning”, wat ook praat van “voorvaders”. Lesers kan in gedagte hou dat daar ook tússen gedigte konnotasies is wat deur die samestelling se ordening geaktiveer word. Hierdie aspek van Cochrane en Roux se bloemlesing is, soos vele ander aspekte, uitstekend gedoen en verg ’n bespreking op sy eie.

My vierde halte: Dit is Alwyn Roux se “met elke trek ’n dieper ek”. Twee van die vier gedigte deur Roux is uit fragmente saamgestel. Dit veronderstel dat die leser die wit tussen die fragmente moet probeer vertolk. Soos in die geval van Bekker, Coetzer en Crous, om drie te noem, gee die bloemlesing hier blyke van ’n definitiewe ontwikkeling by Roux, wat in 2024 ’n belofteryke debuut, Weerskyn, die lig laat sien het. Hier volg een van die fragmente:

dat ek nie volledig een kan wees nie
maar kennis dra van die atoom
dat ek nie een is nie maar twee
die saamgestelde aard van nood

Die fragment speel met die idee dat geen aantrekking gebeur sonder die gelyke beginsel van afstoting nie. Dit is ’n wetenskaplike feit wat deur die atoomfisika bewys word. En, ons is almal uit atome opgebou. Dit is ’n prikkelende idee wat Roux dan gebruik om iets te suggereer oor intieme verhoudings. Waarom juis intieme? Wel, wat is meer ingevou, ingebed, versteek – intiem – as ’n atoom?

Die “atoom” en die intieme is hier die spil van die versteekte mededeling. Net soos ’n paartjie een is, en óók twee, net so is ’n individu nie net “een” nie, maar “twee”. (Ek wil nie te veel uitlê nie, want van uitlê kom doodlê.) Roux se nuwe fragmentariese gedigte is heel ryk aan suggestie en allusie.

 

  1. Spore van die Afrikaanse tradisie in Merang

Hier bo verwys ek na Ilse van Staden se “flits” wat doelbewus in gesprek tree met twee kanonieke Afrikaanse gedigte. Daar is ook die twee bespreekte gedigte wat aansluit by die Engelse wêreldletterkundetradisie.

(Nog ’n geval wat aansluit by ’n gedig uit die internasionale letterkunde, is Renée Marais se “Cantilena”, wat ’n gedig van Pablo Neruda, naamlik “Wanhoopslied”, na-dig. Die toon van kompromislose kwesbaarheid en eerlikheid van die Neruda-vers beïndruk ook in Marais se vers. Herhaling is ’n belangrike vormgewende element by die emosie sowel as die voorkoms van haar gedig, net soos by die Neruda-vers. Ongelukkig kantel dié tegniek effens in die Afrikaanse gedig en kry die gedig gevolglik ’n dreun. Jo Prins se liefdesgedig, “afstand” (78), beïndruk ook met hierdie soort kompromislose eerlikheid.)

Dit is miskien nodig om meer gevalle van aansluiting by die Afrikaanse tradisie te bespreek. Hierdie gevalle is dikwels beperk tot reëls en titels, en is dikwels versteek. Dis ’n speurtog wat vir ’n skerp leser besonder interessant kan wees.

Amanda Marais se “Madama Butterfly by haar Celestron” is die humoristiese, hiperboliese relaas van ’n eietydse vrou wat vergeefs wag op ’n geliefde. Dit gebruik as metafoor die storie van Puccini se opera waarin ’n skone Japannese geisja op die terugkeer wag van die Amerikaanse vlootoffisier op wie sy verlief is. In die gedig wag die moderne vrou met ’n Celestron-teleskoop (die geliefde kom van ver af, sien), gerig op die hawe waar die geliefde vermoedelik aan land sal kom. Sy het boonop ’n oogstuk op, want sy is al baie oud. Van al die wag, natuurlik. Die kombinasie van disparate elemente soos tegnologie en sprokie (oftewel ’n romantiese opera hier) herinner in sfeer, troop en humor aan sommige van Marlene van Niekerk se gedigte, veral in Sprokkelster (1978) en Groenstaar (1983).

“Sol y sombra” (wat “son en skadu” beteken) van Johann de Lange verwys na Uys Krige se bundel kortverhale oor Spanje met daardie titel. Die gedig, wat handel oor ’n skildery van Francis Bacon, sluit aan by ’n lang tradisie van “skilderygedigte” in Afrikaans. Aansluitend hierby kan ek dink aan Bibi Slippers se gedig oor Lucian Freud in Fotostaatmasjien (2016). ’n Moment in hierdie tradisielyn wat uitstaan, is die bundel Heldedade kom nie dikwels voor nie (1981), van Johan van Wyk (1956–2022), wat aan die tema gewy is. By uitstek word mens ook herinner aan Van Niekerk se twee bundels Gesant van die mispels en In die stille agterkamer (2018).

Linette van der Merwe se gedig oor Walter Battiss (280), “Stammoeder van Fook-eiland”, Gerda Taljaard se “Nighthawks (1942)”, Selwyn Milborrow se “die skilder” (281) en Martin Kruger se “Vir Giancarlo De Carlo” sluit by hierdie tematiese tradisie aan. Daar is gedigte oor films in die bundel wat soortgelyk funksioneer.

Heinrich van der Mescht se knap “Olimpiese goud 2008” herinner aan sportgedigte soos “Die gewigopteller” van Ernst van Heerden, wat die menslike liggaam en sy prestasies vereer.

Barnard-Naudé se verwysing na ’n “wit kombuis” (215) vra om in spanning met “Die swart kombuis” van Sheila Cussons gelees te word. Cussons se gedig teken ’n grutoneel met nagmerrietone; Barnard-Naudé s’n suggereer dieselfde, maar dit is as’t ware ge-whitewash.

Dan is daar die gedigte wat Antjie Krog se invloed eggo in standpuntinnames oor vrouwees: “Laat dit juig” (Veronique Jephtas, 182), “sondagskool” (Rentia Weber, 169) en die genoemde gedig deur Linette van der Merwe (280). Ronelda Kamfer se aansienlike invloed is ook plek-plek merkbaar (juis in Jephtas se gedig).

Die gedig “monrou” deur Jaco Barnard-Naudé (296) speel in op die tematiese tradisie in die Afrikaanse digkuns om gedigte aan media-ikone te wy. Die opvallendste hiervan is gedigte oor die tragiese sekssimbooll Marilyn Monroe, soos Barnard-Naudé se gedig ook, spesifiek die beroemde foto van haar waar sy naak op ’n rooi agtergrond uitgestrek lê. TT Cloete, Joan Hambidge, Johann de Lange en enkele ander digters het Monroe-gedigte gelewer. Neil Cochrane se aandoenlike gedig oor die tragiese “Dolores O’Riordan [1971–2018]” (299) sluit hierby aan.

 

  1. Hoogtepunte in die bloemlesing

NB-Uitgewers

Buiten vir die gedigte wat ek reeds bespreek het, wil ek graag nog ’n klompie uitsonder wat vir my van beduidende gehalte is. (Ek mag dalk een of twee gevalle per ongeluk weglaat – dit is ’n dik bundel.) My verdere lysie: “The way back” (Nini Bennet-Moll, 45), “Goue uur (Ihette Senekal, 54), die crisp poëtika van Nathan Trantraal in “Ouija, or The Wonderful Talking Board” (160), die allerpragtige “Wederkoms” van Kobus Lombard (166), Chrisna Beuke-Muir se lieflike “lank voor ek spikkel was” (158) Marlise Joubert se “gestrand” (152), “Gerook” (Anton Döckel, 163), Adri Breed se skitterende “Mandjie op die Nyl” (181), Jolyn Phillips se “mammie jy gaan lank lewe” (186), “insect embalmed in amber” (Ronelda Kamfer, 187), Marthé McLoud se uitstekende, aandoenlike “Nuusberig” (200)’ “Wegkomsprokie” (René Bohnen, 203), “skaakmat” (Toast Coetzer, 230), Kenan Davids se “Die verlore stem”, 246) en “Asgeslag” (Neil Cochrane, 237). Heilna du Plooy se “bome” (115) staan tegnies uit. En daar is Marlize Hobbs se “Lykbesorger” (120). Prins se genoemde gedig, “afstand” (78), kan ook hier kom staan, maar dit kort nog werk.

Oor Klara du Plessis, een van Afrikaans se nuwe digters, se “Nieskulptuur” kan ek op hierdie stadium nog nie kommentaar lewer nie; ek hardloop nog agterna by wyse van spreke – mea culpa.

Dié groot ontdekking vir my in Merang is egter twee verse deur die bekroonde romansier Jaco Fouché. Ek bespreek die gedigte in die volgende onderafdeling.

8.1 Jaco Fouché as digter

Jaco Fouché se “Generasie” (89) en “Nalatenskap” (275) is belangwekkend. Dit is veral die gehalte en kwaliteite van sy beelding wat opval, ’n prikkelende kombinasie van abstraksie en die konkrete. Ek wil beweer dit is beelding wat tegelyk in die lewe en die nadood kan staan (by wyse van spreke). Die beelde is van die varsste in ’n lang tyd in Afrikaans. Hy klink amper soos ’n Afrikaanse George Trakl.

Dit lyk of die gedig oor die verbygaan van ’n generasie handel, en dit spreek die dood, wat “die liggame kom neem” (wat aan verbybewegende wolke herinner), regstreeks aan – nié deur te kyk na die objek van die lamentasie nie, naamlik die verdwynende generasie, maar na die “weerlig” (die nuwe generasies), wat in beginsel, al is sommige van hulle nog nie gebore nie, reeds begrawe word.

Protea Boekhuis

“Nalatenskap” (275) handel oor ’n opgediepte dolk van weleer, en roep die gedig (in Engels vertaal) van Jorge Luis Borges op: “The dagger” (sien bibliografie).

Die opgediepte dolk, wat eertyds aan iemand uit vervloë tye moes behoort het, iemand wat die verteller nooit sal ken nie, word deur die verteller gerestoureer tot iets wat hy “sy eie kan noem”. Die gedig het ’n soortgelyke ironiese en lamenterende krag oor die verbygaan van die tyd as Borges se prosagedig. Dit is klokhelder geskryf en werk tot ’n aandoenlike klimaks op.

 

  1. Punte van kritiek

Graag wil ek nou wys op moontlike foute in die bundel wat met die eindredigering te doen kan hê. Op bl 65 staan “golwe onder ons voete”. Moet dit nie wees “golfies aan ons voete” nie?

Op bl 118 staan “Al dit en meer”. “Dit alles, en meer” sou veel beter wees.

In “andersins” van Marlise Joubert staan: “dat my huis op / ’n lugballon / tussen maan / en woorde dryf”. ’’n Lugballon? Dit moet sekerlik “lugkussing” wees.

In Pirow Bekker se mooi mymerende vers oor ’n vismot staan “waar ek sit op die toilet se bank”. Sou “toilet se bril” nie beter pas nie?

Op bl 150 word die woord “opgroei” gebruik pleks van die eleganter en akkurater woord “grootword”.

In Meyer van Rensburg se “Bestemming” verskyn “paraat” en “op aandag” direk na mekaar, in ’n hinderlike toutologie.

’n Hedendaagse neiging is om die werkwoord te dikwels in die middel van die sin in te span. Op bl 168 staan “hoe ek my pen / dryf deur jou kop”. Dit sou vlotter lees as “deur jou kop dryf”.

Op bl 204 staan: “moes ek aftree van my hoë krans”. Tog sekerlik “af tree” (twee woorde)? Of “na benede tree”?

Kleinigheidjies, in ’n andersins meer as welkome publikasie wat ook sy gebreke het. Die gebreke is egter meestal die gebreke van digterswerk wat onderweg is, en kan nie noodwendig voor die deur van die samestellers geplaas word nie.

 

  1. Sosiologiese afleidings

Dit is ’n publikasie deur ’n wye spektrum stemme uit verskeie dele en skadudele van die Afrikaanse demografie. Dit verleen sigself tot ’n sosiologiese lesing (sien 1 hier bo).

Daar is veel wat oor ’n maatskappy afgelei kan word deur te kyk hoe die voorhoede van die gees op die werklikheid reageer. Die kuns is, net soos die religie, beide van die oudste maniere waarop die mens sinmakend omgaan met die alomteenwoordige chaos, wat ’n groot skoot verskrikking insluit. (Plesier en ontspanning kan as reaksies op die verskrikking gesien word.) Ek behandel hierdie toedrag indringend in my genoemde filosofiese boek (sien bibliografie).

Merang verklap veel oor die stand van die Afrikaanse kollektief, en ek wil kortliks ’n paar van hierdie trekke bekyk.

Dit is ’n kollektief wat diep verdeeld is wat maatskaplike ervaring betref. Maritha Broschk se “Inbraak” (247) beskryf baie gevoelvol die effek van geweld op slagoffers, en gee die gevoel deur dat verlore waardes bekla word. Nathan Trantraal se “little ease” (245) skets weer ’n samelewingsgewrig wat gewoon nooit die waardes wat in Broschk se gedig verlore geraak het, op ’n volhoubare manier kon bekostig nie. Die historiese kwessie van ras speel steeds ’n rol. Ek het reeds die kwessie van queer (of gay) mense (van alle geslagte) aangeraak.

Daar is verder ’n inwaartse migrasie van gees te bespeur in Merang. Baie gedigte handel oor herinneringe, van gestorwe mense en landskappe, of aan familie. Dit kan dui op ’n vergrysende digterskorps of op sosiale en politieke verlies (hetsy dit as sodanig herken word of nie).

Buiten enkele gevalle, waarvan Mellet Moll en Barnard-Naudé twee is, is daar nie soveel interaksie met die intellektuele geskiedenis nie.

Naledi

Dit is nie nuus dat die Afrikaanse kollektief redelik oor die wêreld versprei is nie, en hierdie uiteenspatting het ’n melankolie van sy eie wat in die bundel oorkom.

Wat uitstaan, soos in die verlede, is die Afrikaanse kollektief se verknogtheid aan die Afrika-bodem, soms hier uitgedruk in terme van historiese onreg (Trantraal).

Daar is nog afleidings van ’n sosiologiese aard wat gemaak kan word uit die lees van Merang, en ek moedig die leser aan om hierdie dimensie te verreken.

 

  1. Merang se belangrikste toevoeging tot die kritiek

Die samestellingsbeginsels van Merang, wat baie opmerklik is, problematiseer die historiese samestellingsbeginsels van bloemlesings in Afrikaans. Dit is die bloemlesing se belangrikste effek op hierdie stadium.

Die beste manier om my punt te illustreer is om uit ’n ander resensie, wat op Versindaba verskyn het en geskryf is deur Marlies Taljard, aan te haal. Dit is ’n resensie wat historiese benaderings tot antologieskepping as ankerpunt gebruik in haar bespreking. Dit is juis hierdie ankerpunt wat deur Merang geproblematiseer word. Die webmeesteres skryf in haar resensie:

’n Punt van kritiek wat ek hier wil opper, is dat die redakteurs ’n lengtebeperking aan digters moes gestel het. Versuim om dit te doen, het beteken dat ’n gedig wat tot 10 bladsye beslaan, geplaas is, asook enkele ander besonder lang gedigte, wat streng gesproke onregverdig is teenoor ander digters én terwyl mens by so ’n publikasie eintlik spaarsaam met bladsye omgaan […] Hierdie is geen geringe saak nie, aangesien die aantal bladsye wat in ’n bloemlesing aan ’n digter toegeken word, ’n invloed het op dié digter se simboliese kapitaal en sy/haar statuur binne die kanon. […] Digters se statuur word binne die Afrikaanse letterkunde dikwels gekoppel aan die hoeveelheid [sic] gedigte en bladsye in die Groot verseboek. Dit geld natuurlik tot ’n geringer mate ook ander bloemlesings.

Hierdie is ’n vergeelde idee oor ’n samestellingsbeginsel wat lank nie meer van toepassing is nie. Dit is as beginsel reeds onder verdenking geplaas deur die tweetalige bloemlesing SA in poësie / SA in poetry (samestellers Johan van Wyk, Pieter Conradie en Nick Constandaras, 1988), maar Merang hervestig die problematisering onteenseglik.

Trouens, ’n mens wonder of die beginsel van getal bladsye nog ooit ’n swart-en-wit beginsel was vir bloemlesingsamestelling. Dit sou aangetoon kon word dat selfs Opperman met sy samestellings van Groot verseboek lang gedigte van homself ingesluit het, nie ter wille van ’n gewaande bladsy-vir-bladsy-kanonstatuurskepping nie, maar weens die aard van die betrokke gedigte.

Die gedig van 10 bladsye waarna die tradisiebegeesterde webmeesteres verwys, is die een deur Aryan Kaganof. Ek het hier bo verwys na hoedat die onlangse ontwikkelings van die narratiewe vers bladsylengte kan beïnvloed en dat dit met die aard van gedigte te doen het. Verskillende vertelbeginsels is in die spel. Die aanhaling uit Taljard se resensie toon duidelik die opsetlike blinde kol jeens onlangse vernuwings in die Afrikaanse digkuns waarna ek vroeër verwys het.

 

  1. Slotopmerkings

Merang is ’n waterskeidende bloemlesing hierin dat dit sommige samestellingsbeginsels wat lank by versamelbundels gebruik is, op kleurvolle manier problematiseer.

Daar is groot toewyding van samestellerskant te bespeur wat hierdie unieke versameling die lig laat sien het. Die wydlopendheid van aanbod, die gehalte van gedigte, die nuwe stemme wat almal belofte toon wat geplaas word naas ouer stemme waarvan sommige hul belofte reeds vervul het, is indrukwekkend en implikasieryk.

 

Bibliografie

Borges, J. 1972. Selected poems 1923–1967. New York: Penguin.

Eliot, T. 1963. The lovesong of J Alfred Prufrock. In Collected poems 1909–1962. Londen: Faber paperbacks. https://www.poetryfoundation.org/poetrymagazine/poems/44212/the-love-song-of-j-alfred-prufrock (3 Augustus 2025 geraadpleeg).

Goldkorn, D en J de Lange. 2014. Carapace 100 Bumper issue. Kaapstad: Snailpress/Carrefour.

Henry, A. 2019. Love is. Poem analysis. https://poemanalysis.com/adrian-henri/love-is (3 Augustus 2025 geraadpleeg).

Marais, J. 2002. Aves. Pretoria: Protea.

Naude, C. 2023. In die rede geval: Waarom die mens mites maak. Kaapstad: Naledi.

—. 2024. Digter se “unberable whiteness of being”. Netwerk24. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/digter-se-unbearable-whiteness-of-being-20240708.

Olivier, F. 1986. Goudaar: gedigte oor Johannesburg. Kaapstad: Perskor.

Opperman, A. 21 Julie 2025. Merang. Poësiebloemlesing laat Afrikaans soos ’n fontein borrel. Netwerk24. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste.boeke/merang-poesiebloemlesing-laat-afrikaans-soos-n-fontein-borrel-20250627.

—. 2025. Fees van Afrikaans oor allerlei. Die Burger, 30 Julie.

Slippers, B. 2016. Fotostaatmasjien. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2023. Soekenjin. Kaapstad: Tafelberg.

Valéry, P. 1950. Selected writings of Paul Valéry. New York: New Directions.

Van Niekerk, M. 1978. Sprokkelster. Kaapstad: Human & Rousseau

—. 1983. Groenstaar. Kaapstad: Human & Rousseau.

Van Wyk J, P Conradie en N Constandaris (samestellers). 1988. SA in poesie / SA in poetry. Durban: Owen Burgess.

Viljoen, L. 2025. Skeppende energie borrel hier in Afrikaans. Netwerk 24. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/skeppende-energie-borrel-hier-in-afrikaans-20250720 (4 Augustus 2025 geraadpleeg).

Lees ook:

Feest der Afrikaanse poëzie: Yves T’Sjoen in gesprek met de samenstellers van Merang

Gevarieerdheid en inklusiwiteit laat Merang vonkel: ’n lesersindruk

 

  • 5

Kommentaar

  • Charl-Pierre Naude

    Korrek, dankie. Rosa Nepgen was 'n komponis in die lieder en verwante genres, wat 'n verbintenis met opera en operasang toon.

  • Daar staan in die resensie: "(Die invloed van Aves blyk uit ’n bedekte verwysing na die bundel deur Jerzy Koch in sy vers op bl 123, “Die uil en die ster”.)". Dit klink goed, maar... nee... ek is jammer, ek ken die bundel "Aves" nie, en het hom tot dusver nog nie gelees nie. In my gedig is eerder 'n eggo van Totius en party Dertigers as 'n mens wil dieper grawe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top