![]() Foto: Wikipedia (openbare domein)
|
|
Sêgoed van MER “Die proses van ouer word – baie oud word – is nie soos ek altyd gedink het ’n aftakeling nie; meer ’n gestadige slytasie; interessant nogal om gade te slaan.” (Steyn, 519) “Die skrywer het nie met homself te doen nie; hy is nie betower deur die feit dat hy skrywe skryf nie; hy is betower deur die mens of ding of verskynsel wat hy beskryf; dit kry hom beet, en hy wil dit weergee.” (Bron en datum onbekend) “My eie skryfwerk het ek nog nooit as ‘letterkunde’ gereken nie; nou ook nie. Ek het ’n begeerte gehad om ons mense se waarde te beskryf, deurdat ek hulle afgeskilder het soos hulle is.” (Bron en datum onbekend) Wat was die skryfkuns vir haar? “Dit is nuuskierigheid, om uit te vind. Kyk, jy het die aktiwiteit van skepping; jy skep met jou hande; of jy probeer uitvind waarom daar skepping is, jy ondersoek; dit is alles deel van die lewensmetode om uit vind wat die lewe eintlik beteken: waaruit dit gekom het, waarheen dit gaan. Elke mens het dié nuuskierigheid, dink ek, in een of ander vorm.” (Gesprekke met skrywers, 3. Tafelberg, 1973) Waarom het sy begin skryf? “Ek weet nie, ek wonder of enige skrywer vir jou sou kon sê waarom hy graag skryf. Elkeen het maar sy aktiwiteit, elkeen volgens sy geaardheid. Ek het begin skryf in die Laeveld, want dit was baie eensaam daar – ons het selde mense gehad.” (Gesprekke met skrywers, 3. Tafelberg, 1973) “Die storie wat met ’n bedoeling geskryf word en met ’n tegniek geskryf word, is nie so spontaan en word nie deur ander mense so gelees as ’n storie wat homself skryf nie.” (Gesprekke met skrywers, 3. Tafelberg, 1973) “Die joernalistiek is ’n sielsbevredigende werk vir die joernalis. Ek dink vir die skrynwerker is die skepping van ’n mooi meubelstuk net so sielsbevredigend; en vir die boer, die opbou van ’n plaas uit die kaal veld uit … So, elkeen na sy soort, elkeen na sy aard …Dis die skepping wat die vreugde gee; die gevoel dat jy iets tot stand bring wat nog nie daar was nie; iets goeds, iets blywends, iets wat vir die mensdom nodig is; en dit was nog nie daar nie, en jy het dit gebring.” (Gesprekke met skrywers, 3. Tafelberg, 1973) Oor godsdiens: “Om God lief te hê bo alles, en die naaste soos jouself. Ons kan nie die God wat ons lief het, verstaan nie; nie in die verste verte nie. Maar ons kan wat goed is, lief hê; en wat die naaste betref, dit begryp ons goed. Ek neem dus maar aan: die ‘raison d’etre’ is vir my onbegryplik; en wat van my na hierdie lewe word, dit is nie my saak nie; maar Jesus het ons geleer hoe om hierdie lewe te voer en ek probeer om dit te doen.” (Steyn, 517) “Ek is oud genoeg om te weet dat dit belangriker is om te luister na wat mense nié vir jou sê nie as wat hulle wel vir jou sê.” (Bron en datum onbekend) “En noudat ek oud is, sien ek so duidelik dat die mens se lewensgeluk afhanklik is van sy verhouding, nie alleen met die ewemens nie, maar met die hele Skepping waarvan hy deel is.” (Bron en datum onbekend) “Wat lyk na die onmoontlike taak – dit sal die jammer hart as vanselfsprekend ervaar!” (Bron en datum onbekend) Verskeie kere het MER mense vertroos ná die verlies van geliefde familielede. Met die afsterwe van Rykie van Reenen se moeder het MER die volgende aan Rykie geskryf: “Ja, so sal jy die pyn van die leegte nog voel, maar ná ’n tyd is die leegte weer vol van die liefde wat gelyk het of dit weg was. Kyk, as julle nou eendag die tyding kry dat ek uitgestap het, moet dit nie glo dat ek weg is nie, want ek sal nie weg wees nie, nooit nie. Van julle wat ek liefhet, gáán ek nie weg nie.” (Steyn, 471) “Maar die mens wat iets skep, hy vergeet baie van die swaar en die skades wat hom oorkom.” (Bron en datum onbekend) “Ons is oud genoeg om te weet dat ’n mens baie banger is vir die waarheid wat verswyg word as vir die deel daarvan wat jy hoor.” (Bron en datum onbekend) “Die vrou is die aankantmaker van die wêreld.” (Gesprekke met skrywers, 3. Tafelberg, 1973) “Want kyk, deur die lewe is ’n mens tog besig met iets bou – die koers wat jy maak: jy wil nie hê dit moet vandag hier loop en môre daar nie; daar moet iets konsekwents in wees, om jouself te bevredig.” (Gesprekke met skrywers, 3. Tafelberg, 1973) “Maar liefde is die groeipunt van die mens en die mensdom, daarsonder kan dit mos nie.” (Die Burger, 8 September 1975) “Elke mens kry sy uur van waarheid, jy moet dit net nie aan jou laat verbygaan nie.” (Die Burger, 8 September 1975) Oor optree voor gehore: “Ek het tog altyd van die baie huldebetuigings en lofgesange wat hulle vooraf oor ’n spreker het, so min gehou. Ek het altyd gevoel: Kry nou end dat ek kan ‘get on with the job!’” (Die Burger, 8 September 1975) Ná haar toetrede tot Die Burger in 1922: “Ons kyk in die staatshuis en sien dat die opvoeding van ons kinders ondoeltreffend is; ons sien ’n verbasende gebrek aan kennis omtrent volksgesondheid; ons sien ons volk lees nie …” (Die Burger, 28 Augustus 1975) “Ook leef ’n mens nie alleen in eie persoon nie, maar deur en met jou groep of volk. Word die volk se lewensfunksies gekeer, kwyn die individu ook.” (Die Burger, 28 Augustus 1975, uit My beskeie deel) |
Gebore en getoë
Maria Elizabeth Charlotte Rothmann is op 28 Augustus 1875 op Swellendam gebore en op 31 Oktober in die NG Gemeente gedoop. Die C van “Charlotte” het egter net op ’n paar amptelike dokumente wat sy onderteken het, voorgekom.
MER was die jongste van nege kinders van Gert en Annie Rothmann. Haar vader, Gerhardus Johannes Hendrikus Rothmann, is op 12 November 1833 in Swellendam gebore. Hy was ’n smid van ambag, asook ’n wamaker van naam. Hy het ook meubels gemaak en was ’n intelligente en vernuftige man met ’n wakker en oordeelkundige persoonlikheid. Jaap Steyn skryf in sy biografie van MER dat Gert Rothmann se kennis van landsake gewig gedra het en dat sy winkel die geselsplek van die mans was. Sy bynaam was Gert Politiek.
Gert se eerste vrou, Maria Christina Kuhn, is in 1854 oorlede met die geboorte van Chrissie, hulle oudste kind, wat toe by familie van haar oorlede moeder grootgeword het. Op 9 Oktober 1855 is Gert weer getroud, met Anna Wilhelmina Liebenberg, of Annie, soos sy bekendgestaan het, wat op 12 Junie 1837 gebore is. Sy was ’n dogter van Frederik Lukas Lindenberg, ’n wetsagent van Worcester, wat ook ’n klein winkel gehad het.
Van Gert en Annie se nege kinders is twee jonk oorlede, naamlik ’n oudste seun Hendrik Sebastian in 1856, en die agtste kind Jan Carel in 1872. Ná Hendrik is Gerhardus Johannes, ook bekend as Oubaas, in 1858 gebore. Daarna het Frederik Lindenberg (Frits(z)) gevolg (1860). Die eerste dogter, Martha Louisa, of Martjie, is in 1862 gebore met Hendrik Benninghof in 1863 en Aletta Amelia (Lettie) in 1866 en Annie (gebore Anna Wilhelmina) in 1868, met MER sewe jaar na Annie.
Aanvanklik het dit finansieel goed met die Rothmann-familie gegaan, maar binne ’n paar jaar het die posisie drasties verander. ’n Paar geboue van die familie het afgebrand, maar dit was nie al oorsaak van die agteruitgang van die ambagte van die gemeenskap in die algemeen nie. Die vraag na waens in die Vrystaat het verminder as gevolg van die oorloë teen die Basotho’s. En nie lank ná die brand nie het MER se vader bankrot gespeel.
Om ’n bestaan te maak was moeilik, want ander ekonomiese rampe het die dorp en distrik getref. ’n Groot deel van Swellendam is in 1865 deur ’n brand verwoes en ’n depressie in die 1870’s het toestande net vererger. Werk was moeilik verkrygbaar en vir die kinders van die eens gegoede ambagslui was daar min geleenthede om ’n bestaan te maak. Hulle het nie die geleerdheid vir professies gehad nie en geld om te gaan boer was daar ook nie. Al die betrekkings in die handel en staatsdiens is deur Engelse beklee.
MER het later onthou hoe baie seuns van die ou ambagsmanne allerlei los werkies moes doen om kop bo water te hou. Dit was juis toe Gert Rothmann op Montagu was vir so ’n los stuk werk dat hy agt maande na haar geboorte op 4 April 1876 op ’n jeugdige 42 jaar oorlede is. Hy het maagkoors opgedoen en het in ’n ylende toestand buitentoe gedwaal, die veld in, waar hy later dood langs ’n stroom gevind is. In dieselfde jaar, 1876, is MER se oudste suster, Martjie, op 10 November op veertienjarige ouderdom ook aan maagkoors oorlede.
Ná sy vader se dood was Gert (Oubaas) die vernaamste broodwinner van die gesin, al kon hy nie veel in die timmermanswerkswinkel verdien het nie. Hy was sy moeder se regterhand en vertroueling, volgens Steyn, en het ook in en om die huis gehelp. Maar ook hy is aan maagkoors oorlede, op 22 Maart 1878 op 19-jarige ouderdom. Sy dood, so gou na dié van sy vader, was ’n groot slag vir die gesin.
Frits, die tweede seun, was van 1875 af vir ’n rukkie ’n winkelklerk en ook ’n bibliotekaris en het elke maand ’n paar pond tot die huishouding bygedra, maar omstreeks 1879 is hy na die Vrystaat en later na Transvaal, en wanneer hy kon, het hy ’n paar pond huis toe gestuur. Die derde seun, Hendrik, het darem ’n skrale betaling as bode by die poskantoor ontvang.
MER se ma, Annie, was die persoon wat die grootste invloed op haar gehad het. Die huwelik tussen Gert en Anna was nie baie suksesvol nie. Dit het MER later afgelei uit gesprekke met ou vriende van haar ouers. Annie was ’n moeilike mens met ’n humeur wat sy maar moeilik kon beteuel as sy teengegaan word. Haar samewerking met ander mense was ook nie altyd na wense nie. Haar kinders was, selfs in moeilike tye, nie toegelaat om haar in die huis te help nie, omdat sy nie die nodige geduld gehad het om hulle te leer wat om te doen nie. En al was Gert ’n goedgeaarde man wat ook verstandig, intelligent en ontwikkeld was, het hy geen idee gehad hoe om iemand met ’n “gees” soos Annie s’n te hanteer nie (JC Steyn: Die 100 jaar van MER, bl 25 (hierna Steyn gevolg deur die bladsynommer(s)).
Volgens MER het haar ma tog baie goeie karaktereienskappe gehad wat sy aan die kinders nagelaat het, soos “’n onverskrikbare moed, grenslose opoffering van alles behalwe die eie wil, eerlikheid wat alle huigelary en gemeenheid verag het, sterk pligsgevoel, keurige sindelikheids- en ordentlikheidsgevoel – en nog meer: sy was gevat, intelligent, en het ons onder die grootste teenspoed nog laat uitsien na die tyd wanneer ons die armoed onder die voete sou kry. Maar as ’n mens se eie wil vir hom die enigste maatstaf is, dan maak al die geestesgawes die saamwerking met ander nog nie moontlik nie.” [Steyn, p 25]
Hierdie tekortkoming van haar moeder het die kinders “so dikwels in ’n ongeleentheid gebring met ander mense dat daar ’n skaduwee oor onse pad gevorm het”. Die kinders het min maats gehad: “Dit was so ’n afsondering, so ’n bewustheid van anders te wees, wat elke kind gekrenk het, en nie die spesifieke foute, hoe afkeuringswekkend ook, wat my moeder gemaak het nie.”
In My beskeie deel (1972) het MER geskryf: “Waar so ’n onbuigbare wil sy uiting soek, skep dit ’n leegte: die ewemens bly eenkant om skade te vermy. In so ’n leegte, so ’n gebrek aan die natuurlike verkeer met vriende wat by ons natuurlik moes gevorm word, het ons almal die eerste jeug deurgebring – totdat die eie persoonlikheid, in elkeen se geval, in later jare sy aanknopings gemaak het.”
Gedurende daardie jare (die laat 1800’s) was daar feitlik geen terrein waar die kind aan die Engelse invloed kon ontkom nie. Engels praat was ’n “bewys van bekwaamheid en wêreld-aanpassing”. Saam met die taal het veral die meisies in hierdie Victoriaanse tydperk alle ingevoerde goedere bewonder: alle Engelse romans, kinderstories, liedere. Van die inheemse blomme het mens ook min gedink. MER het self geglo dat niks by ’n “primrose” of “buttercup” kom nie.
Ook die skole was Engels, en die NG Kerk, al het dit Nederlands bewaar, het ook ’n Engelse gees gehad. In 1838 het die gemeente van Swellendam Engelse dienste ingevoer. Vir die destydse predikant, dr William Robertson (1833–1871), was een van sy belangrikste take om die gemeentelede Engelse onderdane te maak en om die Engelse taal en instellings in Swellendam te bevorder.
Die gesin sou beslis nie die NG Kerk verlaat het as MER se pa nog geleef het nie, maar hoewel haar moeder wel godsdienstig was, was sy nooit eintlik kerkvas nie. Haar moeder se pa was ’n Lutheraan wat meerderwaardig opgetree het teenoor Calvinistiese kerkgenootskappe en hy het haar sterk beïnvloed. Die Rothmann-kinders het dus nie grootgeword met gewoontes soos huisgodsdiens nie en sy het eers later besef hoe kosbaar die skat van Nederlandse gesange en psalm was wat sy verloor het.
In 1882 het die Rothmann-gesin ’n breuk met die NG Kerk gehad toe MER se suster, Lettie, nie aangestel is as onderwyseres in die sendingskool onder toesig van ds George Murray nie, maar ’n ouer vrou met meer ondervinding. Hulle ma was onversoenbaar en is oor na die Anglikaanse Kerk. Die kinders wat nog in die huis was, moes saamgaan, al was hulle onwillig. MER is daar aangeneem toe sy dertien of veertien was en Lettie en Hendrik is ook oor na die Anglikaanse Kerk, maar Annie, wat net so koppig soos haar ma was, het geweier.
Die huistaal het egter Afrikaans gebly. Annie het volgens MER nooit in haar lewe Engels gepraat nie, hoewel sy dit vlot kon lees. Wanneer sy wel Engels gepraat het, was haar uitspraak “altyd fantasties en het haar kinders daarvoor gelag”. Sy het ’n baie “mooi” Afrikaans gepraat en MER was self, soos haar ma, lief vir die ou werkwoordvorme had en wis.
As Anglikaan het MER bekeerd geraak deur een van die opwekkingsdienste van Spencer Walton, een van die talle Engelse opwekkingspredikers wat Swellendam besoek het met die aanmoediging van die NG Kerk. Sy het ná die diens agtergebly, haar sonde bely en haar hart aan die Here oorgegee. Sy het “aan alles en in alle opregtheid” meegedoen.
Al was MER Anglikaan, het ds George Murray meer tot haar vorming bygedra as enige van die Engelse predikante. Hy het die godsdienslesse op Dinsdagoggende by die skool kom gee en die hele skool, behalwe die heel kleintjies, het in die “Middle Department” bymekaargekom. Daar het ds Murray aan die leerlinge uitgelê wat Christus aan die mense geleer het – “omtrent die reine van hart wat God sal sien, omtrent die barmhartiges en dié wat na die geregtigheid verlang; omtrent die skade wat ’n mens self ly as jy iemand haat en kwaad aandoen. Daardie lesse onthou ek nog. Ek sal seker nooit weer ’n mens so onvoorwaardelik glo soos vir mnr Murray nie.”
Murray het ook die leerlinge aangemoedig om hom uit te vra en “so volkome saam met ons het hy die sake nagegaan, dat onse vrae spontaan gekom het – myne in elk geval, want ek was ’n uitvraer en het by die huis, van Ma en van Annie, baie min aanmoediging gekry. Ma was te besig en ongeduldig, en Annie, met sewe jaar meer lewensondervinding as ek, was te gesteld op haar meerderwaardigheid.
“Ek moet glo baie uitgevra het – nie te veel vir mnr Murray se vriendelikheid nie; hy het dit eerder aangemoedig – maar ek onthou dat Miss Middleton, eendag ná die les die kinders berispe het omdat hulle so dooierig gesit het en die ‘duet between Mr Murray and Miemie Rothmann’ laat voortgaan het.” (My beskeie deel, 1972)
Tot 1880 het die kinders, en veral die meisies, op Swellendam en naburige dorpe geleerdheid net op genade gekry, skryf MER in My beskeie deel. “As êrens ’n los vroumens te kry was wat kon lees, skryf en eenvoudig reken en wat weens gebrek aan of verlies van mannelike ondersteuning self iets moes verdien, dan kon sy ‘skoolhou’, op dorp of plaas. Op sommige plase in ons distrik was die meisies eintlik beter daaraan toe as ons op die dorp, omdat hulle saam met die seuns onder die hande van die meester gekom het; en na wat ek verneem het, het die boer gewoonlik darem ’n beter leerkrag uitgesoek as diegene op die dorp wat vir die klein meisieskooltjies verantwoordelik was. Vir die seuns is kwalifikasies verlang; vir die meisies het dit daar nie op aangekom nie.”
MER is op vyfjarige ouderdom skool toe. Sy is eerste na die Christ Mission School. Waarom Annie Rothmann haar kinders na die Engelse skool gestuur het, is nie duidelik nie. Dit was wel die naaste skool en ook was sy in haar jong dae op Worcester ook in die Engelse skool.
MER kon wel onthou dat Miss Ella, haar eerste onderwyseres, haar volgens die “Look and Say Method” geleer het. “Dit was nog lang jare voordat iemand aan ’n klankmetode gedink het – iets wat ook vir die Engelse taal nie gebruik kan word nie. Die ‘Look and Say’ was die metode waarvolgens ek met my geleerdheid begin het, en dit was nog, en is nog – want dit bestaan nog – so oud as die eerste moeder, mens of dier, wat ’n kind gebaar en grootgemaak het. Sy sê, op watter manier ook: ‘Kyk hier – dit is só!’ En dan as die kind gekyk het, dan weet hy.
“Onder Miss Ella se leiding was dit dalk die laaste van die regte ‘dame schools’ op Swellendam, oorgeplant uit die oorsese lande soos Engeland. Miss Ella het die nodige bevoegdheid daarvoor gehad; sy kon ons leer lees, skryf, tel en sommetjies maak en versies opsê.”
Miss Ella was die oudste dogter van The Rev Bramley, die Engelse predikant. Sy moes die huishouding waarneem nadat hulle moeder vroeg oorlede is. MER kon nie veel onthou van haar eerste lesse nie – dalk omdat sy Engels nog nie goed geken het nie. ’n Engelssprekende buurseuntjie, Rodie, het haar redelik goed touwys gemaak wat Engels praat betref toe sy begin skoolgaan het. “Ek dink dit was net dat Miss Ella te haastig was vir die kinderlike brein se vatvermoë.”
As daar egter een ding was wat MER nie kon snap nie, was dit Miss Ella se metode om aftreksomme te doen. Daarmee het sy gesukkel totdat ene Marghie eendag by haar kom sit het en, vir die belofte van ’n soet saffraanpeer, ingewillig het om MER te help. Marghie was ’n groot meisie, heelwat ouer as MER, en haar ma, Ai Sofie, was bruin.
En haar metode: Sy skryf 88 neer, met 49 daaronder – ’n moeilike een. “‘Nine from eight, kan nie. Nou neem jy one van hierdie ander eight. Dan is dit sewe. Die one sit jy voor die diskantse eight, so, dan is dit mos eighteen. Nine from eighteen ...’ Marghie tel met haar vingertoppe op die bank. ‘Nine-ten-leven-twelve-thirtn-fourtn-fifn-sixtn, seventeen, eighteen ...’ en sy hou die vier vingers van die tweede handtelling in die lug: ‘Nine!’ Sy skryf neer. ‘Nou ja, dis mos nou seven hier.’ ‘Four ...’ weer op die vingers ... ‘five-six-seven.’ Drie vingers in die lug. ‘Three.’ En sy skryf hom neer.
“Ek het die peer eerlik gebring – en daarvandaan was ek subtraction se baas. Tot vandag toe, as daar om my geraas word, ‘subtract’ ek met my vingers.”
MER het haar eerste paar jaar op skool aan een van die plaaslike sendingskole deurgebring. Sy onthou dat daar, soos Marghie, ook ander bruin kinders saam met hulle die sendingskool bygewoon het. Op tienjarige ouderdom is sy na die “goeie meisieskool” waar haar ander susters reeds was.
Ds George Murray, broer van Andrew Murray, was predikant op Swellendam en hy het, soos sy broer, na Amerika gegaan om daar onderwyseresse vir die meisieskool te kry en so het Miss Newton, Miss Howe en Miss Colby na Swellendam gekom. En daarmee het die wêreld vir die meisies oopgegaan en het hulle besef dat hulle opgelei kon word om ’n “ewe belangrike baan as onse onderwyseresse” te betree.
MER het in My beskeie deel geskryf dat Miss Colby die gees was wat skool vol lig en lewe gemaak het. Sy was net drie maande op Swellendam, waarna sy hoof van Bloemhof Meisieskool op Stellenbosch geword het, maar dit was drie maande wat die kinders nie sommer sou vergeet nie.
Na Miss Colby was daar nooit weer Amerikaanse onderwyseresse op Swellendam nie. Miss Middleton uit Engeland het haar opgevolg en het jare aan die hoof van die meisieskool gestaan. MER het onder Miss Middleton haar Elementary en School Higher gemaak, destyds twee mylpale wat leerlinge moes bereik om hoërskool te kon bywoon.
MER het haar vyf jaar aan die plaaslike meisieskool onthou as gelukkig, al was daar dinge wat die kinders in ’n mate teruggehou het, soos eenvoudige klere en ’n armoedsagtergrond. Sy het ook veral vir Johanna Brinckner, Miss Middleton se assistente, onthou, wat meer kwalifikasies vir die afrig van leerlinge vir eksamen gehad het as die prinsipale self. Sy was die dogter van ’n Rynse sendeling, afgetree na lange diens in Suidwes-Afrika (Namibië), wat saam met sy gesin op Stellenbosch gaan woon het.
Johanna het vir MER onder haar vlerk geneem en só het MER in aanraking gekom met die buitewêreld van ons eie land. Stellenbosch het vir haar die beloofde land geword. “Ek het toe maar, as enigste weg daartoe, kliphard geleer en my Skool Hoër-eksamen met lof afgelê en ’n beurs gewen. So ’n £20 as ek reg onthou. En Johanna het etlike drade getrek, op Swellendam en Stellenbosch, met die gevolg dat ek ‘Rhenish toe’ gegaan het – my eerste groot lewensavontuur!” (My beskeie deel, 1972)
Die Rhenish Institute was ook ’n opleidingskool vir onderwyseresse. Daar was destyds, so min of meer in 1890, geen spesiale aparte opleidingsinrigtings nie, maar die SGO, dr Dale, het genoeg vertroue in die hoof van Rhenish, Miss Pick, en haar werk gehad om te bepaal dat onderwysers daar bekwaam kon word.
MER en haar groot vriendin, Marianne Korsten, was sover sy kon onthou, die enigste van die kosgangers wat só opgelei is. Terwyl hulle vir matriek gewerk het, het hulle by Miss Metcalfe les gekry uit ’n “onsmaaklike boek”, School Method, en moes hulle ’n sekere aantal kere per week “skool hou”. “Dit was ’n ondervinding – die vyf uur in ’n smal, benoude kamertjie met een van Miss Jurgens (die hoof van die Infants Department) se klasse. Geen mens het ooit eens die deur oopgemaak om te kyk wat aangaan nie. Die lesse moes ook alles in Engels geskied en al plesier wat ons gekry het, was om vir mekaar die kinders se gesegdes oor te vertel: ‘Oh, Miss, donjerknow whither is my spuns?’ (Die ‘spuns’ was die stukkie spons waarmee die leie skoongemaak moes word.)
“Ek dink die eintlik pit van hierdie ‘opleiding’ was ons Matriek, en dat ons na die slaag in hierdie ‘Matriek Plus’, ’n T2 gekry het, dit wil sê, Tweederangse Onderwyser – Second Class Teacher.
“Vir finale toets tot toekenning van hierdie graad moes ons in Kaapstad persoonlik verbykom by ’n Raad: klashou voor hulle, onderhoude deurmaak, gedig opsê en in ander toetse slaag. Ek en Marianne moes toe in Kaapstad tuisgaan (as ek reg onthou) by die YWCA in Langstraat – ’n belangrike ondervinding. Ek dink dit was my tweede kennismaking met die Kaap. (Toe ek 14 was, het broer Frits my Kaap toe saamgeneem.) Wat ek duidelikste van hierdie tweede besoek onthou (behalwe die T2!) was dat ons by Dix gaan roomys eet het – my eerste roomys.
“Die eksamentoetse voor die gewigtige, deftige here, oorlopend van geleerdheid – dit onthou ek! My les voor ’n klas wildvreemde kinders (dit was oor ‘Muscles’) het lam-lam geloop, soos ook maar al die ander ontmoetings – op een na. Behalwe die klaswerk moes ons elkeen, in ’n kamer met al die eksaminatore gelyk, iets opsê. Toe ek, hart in die skoene, instap en plek neem voor hulle, sê een gelate aan my: ‘Friends, Romans, Countrymen?’
“Ek kom skielik penregop. ‘No!’ sê ek. Ons het daardie jaar vir Matriek Shakespeare se Julius Caesar gehad. ‘No!’ sê ek, en ek begin Cassius se verbitterde vertelling: For once, upon a raw and gusty day / The troubled Tiger chafing in her shores ...
“Ek het eersteklas gekry!” (My beskeie deel, 1972)
MER het in 1893 matriek geslaag – tesame met die eersteklas het sy ook die “Honours division” geslaag en was ook tiende op die landswye lys van diegene wat matriek geslaag het. Sy het ook T2 gekry. Musiek en teken uit die vrye hand was twee opsionele vakke wat sy geneem het, en laasgenoemde het sy met onderskeiding geslaag.
Verdere studies en werk
Nadat MER klaargemaak het met haar skoolloopbaan aan Rhenish, sou sy gaan onderwys gee het. Maar die familie het gemeen dat sy Kaap toe moet gaan om iets van ’n kunsopleiding te gaan haal, aangesien sy altyd met potlood en verfkwas geteken en geskilder het en dit ook baie goed gedoen het. Sy het toe by ’n tante van haar swaer Tomlinson in die Kaap gaan inwoon en lesse by die Duitse kunsonderwyser Herr Morstatt gekry. Maar nie lank na sy daar aangekom het nie, het sy die nuus gekry dat daar ’n Queen’s Scholarship vir haar oop staan by die South African College. Die ander nege wat bo haar gestaan het in die matrieklys, moes bedank en toe was sy aan die beurt. Die beurs sou haar klasgelde dek, maar dan was daar nog die losies, die boeke en die klere. Maar toe kry MER berig dat sy ook die Webb Scholarship vir geskiedenis gewen het, en dit het £80 per jaar vir twee jaar beteken. Dit het die deurslag gegee.
In 1893 is MER “universiteit” toe, hoewel daar in daardie jare nie van universiteit gepraat is nie – ’n mens het “college” toe gegaan. Daar was destyds net een universiteit vir die hele land en die studente het na dié se verskillende kolleges gegaan: in Kaapstad, op Stellenbosch en in Bloemfontein. Die South African College van Kaapstad was die eerste wat meisies as studente toegelaat het. MER was die vierde damestudent, saam met mej Shaw, die dogter van die hoof van College School. Maar mej Shaw het na ’n jaar besluit om kop uit te trek.
Vir die “Intermediate”-kursus moes MER, soos al die ander studente, Grieks, Latyn, letterkunde, Engels en Nederlands, fisika, rekenkunde, algebra, meetkunde, driehoeksmeetkunde en ’n “bitter ding met die naam van Constitutional History” leer. Sy het die Intermediate naelskraaps deurgekom en, soos sy later vertel het, met weinig spoor van al hierdie dinge wat in haar oorgebly het.
Ná die eerste jaar kon die studente tussen twee kursusse kies – die een was in die natuurwetenskappe en die ander die klassieke of letterkundige kant. Sy was al meisie in die klas vir die volgende twee jaar.
In 1896 het MER die BA-eksamen in lettere en filosofie in die eerste klas geslaag. Sy was vierde op die lys met nog ’n student van die SAC, C Gutsche, tweede. Vir MER het haar BA beteken dat sy daardeur gelykstelling gekry het met ander jongmense met dieselfde mate van verstandelike ontwikkeling: “Dit was nie nodig vir my om vir hulle agteruit te staan nie; gevolglik het dit vir my ’n selfvertroue gegee wat ek uiters nodig gehad het.” Sy was een van die geleerdste jong vroue in Suid-Afrika.
Nadat sy klaar studeer het, het MER ’n ruk lank op Swellendam in haar eie dorpskool onder Miss Middleton onderwys gegee. Sy het in die “Home”, die losiesinrigting vir die onderwyseresse en ’n aantal leerlinge, gaan inwoon en was gelukkig in haar werk en blyplek.
Maar sy wou Transvaal toe waar Frits en Annie was – hy in die myne en sy in die onderwys. En aan die begin van 1898 is sy noorde toe. Sy het saam met Annie ingetrek – eers in Eloffstraat en toe in Fordsburg. Frits het buite die stad gewerk, maar het altyd by die twee susters kom bly wanneer hy stad toe gegaan het.
MER het verder in My beskeie deel vertel dat sy nie regtig van die skoolhouery gehou het nie, en het deur ’n vriend van Annie en Frits ’n werk as klerk in ’n kantoor gekry. Dit was nog voor tikmasjiene uitgevind is en sy moes, sover sy kon onthou, afskrifte maak en hier en daar ’n brief skryf. “Dit spyt my om nou te onthou hoe sleg ek hierdie werk uitgevoer het. Ek was seker maar neus-optrekkerig vir die affêre en het die baas ongeduldig gemaak, want toe ek ná ’n maand of so daar weg is, was dit nie ek alleen wat op die uittog besluit het nie.”
Gewapen met haar T2 en ander sertifikate het sy ’n onderwyspos by ’n openbare skool in Fordsburg gekry. Die hoof van die skool was ’n Nederlander, aangesien die Transvaal in daardie tyd baie Nederlanders vir die onderwys laat kom het. En hoewel die boeke in Nederlands was, was Afrikaans die werklike voertaal.
Annie was ook ’n onderwyseres, maar nadat sy die trekpas gekry het omdat sy godsdienstig te “liberaal” was, het sy haar na die onderwys buite die staatstelsel gewend en is sy op een van die groot myne, Simmer and Jack, as onderwyseres aan ’n Engelse skool aangestel. MER is as haar assistente aangestel. Die beheerliggaam het uit amptenare van die myn en uit ouers bestaan. Na ’n jaar het die leerlingtal egter in so ’n mate afgeneem dat twee onderwyseresse nie meer nodig was nie en het MER ’n pos gekry in die Engelse skool op Boksburg, maar sy het nog op die myn gewoon en elke dag ses myl per fiets van huis na skool en weer terug gery. Aangesien die Engelse skool heelwat kleiner as die Goewermentskool was, was MER die enigste onderwyseres daar. En dit was op Boksburg waar sy die dag beleef het toe sy en Sophie Minnaar op 11 Oktober 1899 saam by die uithangbord voor die poskantoor staan en kyk na ’n telegram van Pretoria met net een woord daarop: OORLOG.
Die skool het gesluit en vriende van MER, die mynkommissaris en sy vrou, het haar gevra om aan te bly en hulle kinders saam met ander te leer. Die skooltjie op Boksburg het al kleiner geword, totdat sy nie meer daarvan kon bestaan nie. Annie het by die Jodeskool in Johannesburg ’n pos gekry en MER en Annie het saam in ’n huis op Hospital Hill ingetrek: Annie om te verdien en MER om huis te hou.
Teen Julie 1900 het die drie Rothmann-kinders in die Transvaal besluit dat MER moet huis toe gaan om vir hulle ma te gaan sorg. Sy het ’n “Free pass” ontvang. Een van die persone wat sy moes agterlaat, was Matthys Roux, aan wie sy gedurende daardie tyd verloof geraak het. Hy het besluit om in Johannesburg te bly.
Op Swellendam was die krygswet in volle gang; en dorp en distrik was onder beheer van die Britse leër. Annie het ook huis toe gekom, maar selfs voor Annie daar was, het MER aansoek om onderwysposte gedoen, maar oral bloutjies geloop. Die skoolkomitees was ten gunste van haar aanstellings, maar die Onderwysdepartement het dit telkens geveto, aangesien hulle as “undesirables” uit die Transvaal gesit is.
Dr Muir, die SGO, was op ’n stadium op Swellendam en Annie en MER het besluit om die saak persoonlik met hom te gaan bespreek. Dit het egter nie veel gehelp nie; hy was onwrikbaar. Met die uitstap het Annie omgedraai en gesê: “You can say what you like, Dr Muir, but between you and us it is a question of Englishman and Afrikaner!”
Hierdie storie het vinnig versprei, totdat MER op ’n dag hoor van ’n boer in die Montagu-distrik wat ’n privaatskool op sy plaas gehad het en op soek was na ’n onderwyseres. Die eienaar, Bêrend Burger, was egter “loyal” aan die Britte en die salaris het ook van staatsweë gekom, maar ten spyte daarvan het sy gebly en was hulle baie goed vir haar. Die skooltjie was klein, die kinders soet en die plaas en omgewing pragtig. Daar het sy haar eerste bydrae vir ’n koerant geskryf: ’n sketsie in Nederlands getiteld “Ons Land?”.
Na drie maande moes MER egter die plaas verlaat nadat die skoolinspekteur haar by die Departement gaan aangee het.
Intussen het die Afrikanergevoel onder die krygswet op Swellendam al sterker geword. MER het baie Transvaalse landswapens verkoop wat op borde van papier-mâché in olieverf geskilder is. Verder het sy Boeregeneraals se name in mooi kleure op hoedlinte geskilder en stilletjies verkoop.
Op ’n dag het die kommandante van Swellendam en Montagu die Rothmanns se huis kom visenteer en is hulle beveel om nie die huis te verlaat nie. Dit het die lewe baie eentonig gemaak, veral vir MER en Annie, wat saans hul huise skelmpies verlaat het en mekaar êrens ontmoet het net vir die pret.
Die drie jaar in Transvaal het van MER ’n oortuigde republikein gemaak en ’n groot teenstander van die Britse imperialisme. Sy het die vryheid wat Transvaal en die Vrystaat gehad het en die Kruger-nasionalisme geïdealiseer.
Sy kon die ledigheid by die huis op Swellendam nie verduur nie en toe Hendrik, haar broer wat in Grahamstad se poskantoor gewerk het, haar laat weet van ’n onderwyspos by ’n privaatskool in Grahamstad, het sy nie op haar laat wag nie. Dit was ’n laerskool met oorwegend seuns van Engelse ouers en die hoof was HCG Oakshott, met een assistent. Die hoof het ook leerlinge gehad wat deur middel van ’n korrespondensiekursus gestudeer het en hy het ’n persoon gesoek wat hierdie kursusse kon opstel – en dit is wat MER op Grahamstad gaan doen het.
Sy het op Grahamstad by Hendrik en sy vrou, Anna, gebly. Oakshott was ’n interessante mens van iets oor die veertig – ’n besonder begaafde onderwyser met ’n Oxford-MA – en MER kon goed opgaan in haar werk. En dit was nie lank voordat die twee in 1901 op mekaar verlief geraak het nie. Sy het uitgemaak met Matthys Roux en tot Hendrik se groot ontevredenheid aan Oakshott verloof geraak.
Voor die troue is sy Swellendam toe om te gaan regmaak en al wat sy kon onthou, is dat haar ma gesê het: “Sy is ge-mesmerise!” Haar ma was baie gekant teen die huwelik met ’n Engelsman só kort na die oorlog. Volgens mej Solomon, die assistent, was Oakshott getroud, met twee dogtertjies. Sy vrou het hom in Mosambiek gelos en hy het die kinders na sy broer in Bristol gestuur, maar sy hart was gebreek. Sy vrou is, volgens hom, ook terug Engeland toe, waar sy ’n paar jaar later oorlede is.
Volgens die storie was hy dus ’n wewenaar en dit is wat op die trousertifikaat ingevul is toe die twee op 18 September 1902 “by special licence” in Grahamstad getroud is. Na die troue het sy met haar werk aangegaan en Solomon se werk oorgeneem toe sy gaan trou het. Gou na die troue het MER tot haar ontsteltenis agtergekom dat haar man se skuld heelwat meer was as wat sy gemeen het, naamlik £300, en dit was wat hy ongeveer in ’n jaar verdien het. Hy was ’n kompulsiewe koper en die skuld het teen rasse skrede toegeneem, en aan die einde van 1903 was dit £500.
Vir MER was dit byna onaanvaarbaar, want sy het dit van haar ma “diep ingewortel gekry dat die enigste manier om vry en jouself te kan wees, is om aan niemand iets te skuld nie”.
Op 14 Augustus 1903 is die egpaar se seun, James Rothmann, gebore. Haar ma was daar en dit was ’n moeilike geboorte. Nadat hulle gedink het die seuntjie is doodgebore, het haar ma en haar vriendin, Charlotte Human, hom versorg en bygebring.
Intussen het die skool aan die einde van 1903 tot niet geraak as gevolg van die uitgawes en die eise van die krediteure wat te veel geraak het. MER is met ’n siek James na Swellendam, waar sy ’n “huisietjie” gehuur het vir haar, die baba en ’n bediende, Sofiétjie. Oakshott het in die Kaap werk gekry as boorman. Annie was ook terug op Swellendam, waar sy ’n onderwyspos gekry het.
Op 11 Julie 1904 is Anna gebore, ’n baie makliker geboorte met dr Andrew Whyte en Sofiétjie in beheer daarvan. Anna is op 6 Oktober 2000 op die ouderdom van 96 op Swellendam oorlede.
Met MER en Oakshott se huwelik het dit al slegter gegaan. Hy het gedreig om James, of Jacobus (wat later Koos geword het), soos hy verafrikaans het, weg te vat. Sy het regsadvies ingewin en op grond daarvan is die twee in 1905 “informeel” geskei en in 1911 formeel geskei.
Frits het op sy buitelandse besoek onder andere gaan ondersoek instel na Oakshott se agtergrond en omgewing. Oakshott se broer en gesin in Bristol het ’n goeie indruk gemaak. Volgens hulle was hy egter nooit op Oxford nie, en was hy ook nooit, na hulle wete, getroud met kinders nie. Hy was altyd ’n probleem vir die familie en hy “broke his mother’s heart”.
Ná die egskeiding het MER aanvanklik vir Annie huisgehou, en vertalings en afskryfwerk gedoen. Sy het ook op doodskiste die naam, ouderdom en ’n skrifwoord in olieverf geskilder. Sy het baie swaargekry na die egskeiding, want in daardie jare was egskeiding ’n groot skande, maar met die hulp van vriende soos Marianne en ander het sy weer die lig gesien.
Oom Tommie Ravenscroft, ‘n bekende fotograaf, het haar sy kuns geleer en met Frits se hulp is ’n donkerkamer in die agterplaas gebou en goed toegerus.
In 1907 was Annie assistente in die groot skool onder die “loyal” prinsipaal Bowes. Annie en Marthinus Siebert het ’n konsert gereël en met die inkomste het hulle Nederlandse boeke vir die skool se boekerytjie aangekoop, onder meer al D’Arbez se dertien boeke. Mnr Bowes het die inspekteur laat kom en dié het beslis dat elf van die dertien boeke ongewenste leesstof is. Anna, Marthinus en Klaas Lindenberg is by die skoolkomitee en Departement aangekla, verhoor en gevonnis, en Annie is “dismissed for insubordination”.
En daar sit die twee susters weer, sonder verdienste. Van die skoolkomiteelede het egter sleg gevoel omdat hulle nie vir Muir en Bowes teengestaan het nie en het voorgestel dat Annie en MER met ’n “Privaat Skool” begin. Vroeg in 1907 het hulle die huis van Lettie se man, Tomlinson, betrek en die skool daar ingerig. Hulle het met 23 leerlinge begin. Annie het met die kleintjies gewerk en MER met die groter klasse. Hulle moes na ’n ruk ’n assistente bykry, want die werk het te veel geword. MER het standerds VI tot X onder haar vlerk gehad, Sara, die assistent, standerd V, en Annie al die ander klasse. MER moes soggens en smiddae werk – met die eksamenleerlinge smiddae tussen twee-uur en halfses en die ander soggens. Een van haar matrikulante was Coenraad Beyers, later hoofargivaris van die Unie. Haar leerlinge het goed in die eksamens geslaag.
Hulle het egter begin vasdraai en het daaraan begin dink om aansoek by die Staat te doen om as aparte skool, en onder die skoolraad, uit die landskas gesteun te word. Nadat hulle ’n petisie na sir Frederic de Waal, hoof van onderwys van die Kaaplandse regering, geneem het, het hy na Swellendam gekom. Nadat almal aangehoor is (ook mnr Bowes), is hulle ingelyf by die groot skool met MER as eerste assistente. Verder is drie voorwaardes gestel: godsdiensoefening sou al om die ander dag in Nederlands gehou word; vaderlandsgeskiedenis sou in Nederlands gedoseer word; en Latyn sou nie meer verpligtend wees as vak nie. Dit het alles gedurende April 1910 gebeur.
MER het egter nooit van die onderwys gehou nie. Sy het soms in die klaskamer gestaan en “met innige teensin” na die rooster gekyk. “Vir die kinders ’n stukkie hiervan en daarvan, ’n skeppie geskiedenis en ’n strooiseltjie rekenkunde ...” Recht Malan het vertel dat die kinders nooit iets van hierdie teensin opgemerk het nie. Om die dooie Latyn bietjie op te kikker, het sy vir hulle die Kerslied “Adeste Fideles, laeti triumphantes” (“Kom, alle getroues”) geleer om by die prysuitdeling te sing.
Om die geskiedenis interessanter te maak het sy ’n reeks stories geskryf – na haar oordeel “swak goedjies, hoewel in daardie dae welkome leesstof”. Dit was nie ’n konvensionele skoolboekgeskiedenis nie, maar vertellings oor die lewenswyse en lotgevalle van die voorouers van die Afrikaners wat in Amsterdam, Frankryk en Suid-Afrika afspeel. Die reeks, met die titel Sannie, was MER se debuut in Afrikaans en het van 28 Desember 1912 tot 15 Februarie 1913 onder die naam ME Rothmann in Die Voorloper verskyn. Dit was ook later in Die Huisgenoot en is uitgegee onder die titel Vanmelewe. Stories van die voorouers.
Ook in 1910, op 5 Maart, het MER uit die “Engelse kerk” na die NG Gemeente Swellendam gekom. Daar was teen daardie tyd geen besware meer van kerklike kant teen haar nie en in 1905 het die kerkraad ook die Engelse dienste in die gemeente afgeskaf.
In 1911 is MER na Bloemfontein om haar wettige egskeiding van Oakshott te kry. Die skeisaak is op 4 Julie 1911 in die Bloemfonteinse Hooggeregshof verhoor en is in minder as tien minute afgehandel.
Die besoek aan Bloemfontein het vir MER kosbare herinneringe gebring. Op 5 Julie het Mike du Toit, die kommissaris van polisie, vir haar en Annie na Onze Rust buite Bloemfontein geneem vir ’n besoek aan president MT Steyn. Die besoek was vir haar so belangrik dat sy ’n verslag daarvan opgestel het vir haar skoolkinders.
MER se volksgevoel is met hierdie besoek aan president Steyn nog verder versterk. Vanaf 1896, toe Afrikanerskap as ’t ware ontwaak het, het sy saamgeleef met alles wat met die Afrikaner gebeur het: “Wat met ons as volk gebeur het, het vir my, soos vir elke normale Afrikaner, altyd diep aangegaan. As ek nou terugkyk op my lewe en op wat ek van die voorgeslag weet, dan sien ek dit kon en kan nie anders nie: dit is ’n kwessie van selfbehoud, van dood of lewe. En lewensbehoud is ’n gesonde en basiese strewe by alles wat bestaan. Ook leef ’n mens nie alleen in eie persoon nie, maar deur en met jou groep of volk. Word die volk se lewensfunksies gekeer, kwyn die individu ook” (My beskeie deel, bl 166).
Sy het op Swellendam onderwys gegee tot 1917 toe haar moeder, wat by haar ingewoon het, oorlede is en die planne vir ’n tweede huwelik misluk het. Sy het haar kinders in kosskole geplaas, Koos op Ermelo en Anna op Worcester, en het vir twee jaar by Frits op sy plasie in die Laeveld gaan woon; en hier het sy op 42-jarige ouderdom ernstig begin skryf – artikels vir Die Brandwag en toe Kinders van die Voortrek, haar eerste gepubliseerde werk, wat deur haar broer geïnspireer is.
Oor Kinders van die Voortrek het MER in My beskeie deel geskryf dat van alles wat sy geskryf het, hierdie boek haar die naaste aan die hart sit. Dit was nie haar eerste poging nie, maar Kinders van die Voortrek was meer Frits se boek as hare. Sy het die karakters en die tonele bedink en beskryf en die storie aan die loop gesit. Maar elke hoofstuk is aan hom voorgelees en hy het niks laat verbygaan wat betwyfelbaar was nie.
Sy het in 1920 ook vir ’n jaar lank Latyn op Ermelo gegee, waar sy vir Koos kon dophou so in sy skool en onder sy maats.
Gedurende hierdie tyd het Mabel Malherbe die tydskrif Die Boerevrou begin en is MER vir twee jaar as subredaktrise aangestel. Sy is aanvanklik vir ’n proeftydperk van ’n maand aangestel en sy en die twee kinders is sak en pak Pretoria toe – Koos was ’n knap en briljante leerling en het met ’n graadkursus aan die Transvaalse Onderwyskollege begin, terwyl Anna van Worcester af gekom het vir matriek aan ’n Pretoriase skool.
As subredakteur moes MER kopie nasien, stories en sketse skryf en baie pentekeninge maak. Sy het ook een keer ’n sangspeletjie geskryf. Sy het Eugène N Marais ’n klompie jare vroeër leer ken deur haar vriendskap met Sara Niemeyer, wie se skoonma ’n ouer suster van hom was. Sy moes dus as subredakteur Marais se werk nasien. Magriet van Laastelust moes sy stuk vir stuk by sy kantoor gaan haal. Sy Dwaalstories is in Die Boerevrou geplaas en MER moes ’n paar tekeninge by die stories maak – “maar beroerd as tekenings, maar darem ’n poging om iets van die gees van die stories weer te gee”. As gevolg van ’n geldelike tekort moes Malherbe vir MER laat gaan. Anna het pas matriek klaar geskryf en wou Stellenbosch toe gaan, dus het MER besef dit sou vir die beste wees om na die Kaap terug te keer.
Danksy Louis Hiemstra se bemiddeling is sy in 1922 by De Burger in Kaapstad aangestel om die nuwe vrouerubriek te behartig, en met die koninklike salaris van £35 per maand het sy in die redaksie van hierdie koerant beland. Die redakteur van De Burger was sedert 1915 DF Malan en saam met MER op die redaksie was Frederik Rompel, Louis Hiemstra, J Steinmeyer, JH Vaughan, DP du Toit, Izak van Tonder en vir ’n kort rukkie ID du Plessis (sportredakteur) en daarna PA Weber. Vroeg in 1922 is die naam van die koerant verander na Die Burger en is die hoofartikels in Afrikaans geskryf.
MER se rubriek, “Vrouesake”, het van Woensdag 10 Mei 1922 af weekliks verskyn, maar dit het gou op Dinsdae verskyn. Sy het dan ook vroeg in haar joernalistieke loopbaan opgekom vir die “vrouebeweging” en die belange van die vrou in Die Burger verdedig. Die “verplante Boervrou” was tegelyk ook ’n “nuwe vrou”: Afrikanerfeminis en Boere-intellektueel.
As joernalis het sy haar ook beywer vir die bewaring van die Suid-Afrikaanse natuur- en kultuurerfenis. Veral die blommeskat en die noodsaaklikheid van die beskerming daarvan het haar na aan die hart gelê.
In Die Burger en Die Huisgenoot het sy uitvoerig geskryf oor Suid-Afrika en sy mense, sy plante en natuurskoon, asook oor die volksgewoontes en taal. Vir haar was die bewaring van die verlede baie belangrik. Só het sy geskryf: “Moenie dat ons die paar kosbare herinnerings aan ’n groot verlede – die paar wat nog oorbly onder ’n deur oorlog geteisterde volk – ook laat verlore gaan nie. Hou vas!”
MER se belangstelling was nie net beperk tot wit mense nie. Sy het in een van haar plakboeke ’n artikel gehad (vermoedelik deur haar self geskryf) getiteld “Dogter van ’n slavin vertel / ’n 101-jarige oor die ou dae”, waarin gelees kon word van Lena Abdol, dogter van ’n slavin in die Kaap.
Soos ander Afrikaanse joernaliste moes sy woorde help maak vir sake waarvoor daar nie geskikte terme was nie. By Die Huisgenoot moes sy ’n Afrikaanse woord vir sandwich kry. “Ek het gedink aan ‘toe tertjie’ teenoor ‘oop tertjie’, en toe maar die toebroodjie-woord in my artikels gebruik. Dit het posgevat. Almal was bly om ‘sandwich’ na sy eie taal te laat vaar” (Steyn, 147).
In Die 100 jaar van MER (151) skryf Steyn dat MER as gevolg van haar werk as joernalis opgeneem is in ’n netwerk van vroue wat betrokke was met maatskaplike werk en die opheffing van die volk. Sy het deel geword van ’n kleiner groepie wat bestaan het uit Afrikaanse skrywers en ander wat belang by die letterkunde gehad het.
Nie lank nadat sy by Die Burger begin werk het nie, het sy vir Sarah Goldblatt ontmoet. Sarah was op daardie stadium besig om die proewe van Langenhoven se “Aan stille waters”-rubriek na te gaan. Sondagaande het Goldblatt, en ook Langenhoven wanneer hy in Kaapstad was, het gewoonlik by die koerantkantoor gaan kuier en dan ook ’n draai by MER gemaak.
Sarah het haar voorgestel aan HA Fagan, sy vrou, Queenie, en dié se suster, Ida Theron. Queenie en Ida het nog twee begaafde susters gehad, Daisy en Erika.
Langenhoven was die skrywer met wie MER waarskynlik die meeste in aanraking gekom het. Min skrywers het so ’n groot aansien by die Afrikaanse publiek geniet en MER het sy vriendskap hoog op prys gestel. Wanneer hy in die Kaap was, het hulle feitlik elke dag saam by die Koffiehuis gaan eet.
Die armoedige lewensomstandighede van verarmde volksgenote was vir MER, soos vir baie ander Afrikaners, baie erg en sy het met die skryf van haar artikels vir die koerant probeer om hierdie haglike omstandighede onder die aandag van die lesers te bring. Volgens JC Steyn kan MER se artikels gesien word as die “eerste groot stuk ondersoekende joernalistiek vir ’n Afrikaanse koerant. Sy het intensief oor ’n lang tydperk alle aspekte van die vraagstuk gedek” (Steyn, 156).
Op 23 Mei 1922 het Rompel aan MER opdrag gegee om die 77ste-verjaardag-party van Elizabeth Roos by te woon. Dit was onder Roos se leiding dat die ACVV in 1904 tot stand gekom het, en sy was steeds ’n dryfkrag in hierdie organisasie. Op die partytjie het Roos aan MER gevra of sy nie by die ACVV (Afrikaanse Christelike Vrouevereniging) in die Kaap wou aansluit nie. Sy was alreeds lid op Swellendam, en het ingewillig. Dit was die begin van ’n verbintenis wat sy as “een van die sterkste en seënrykste van my lewe” beskou het.
Sy het saam met mej Steenkamp van die ACVV ’n paar van die verarmde Afrikaner-huisgesinne wat onder die verstedeliking gely het, gaan besoek en in die koerant daarvan vertel.
Nadat sy in 1928 by Die Burger weg is, het sy ’n medewerker gebly en weekliks artikels gelewer. In dieselfde jaar het die ACVV haar as die eerste reisende en organiserende sekretaresse aangestel teen ’n geringe honorarium van £100 per jaar. Sy het vir haar ’n huisie op Swellendam gebou, waarvandaan sy die ACVV se werk gedoen het.
Hierdie rietdakhuis het sy in 1928 laat bou op ’n stukkie potkleigrond hoër op vanwaar sy ’n goeie uitsig sou hê. Sy het dit nooit betreur dat sy die plekkie met die uitsig gekies het nie. As 84-jarige het sy in ’n brief aan Alba Bouwer (17 Maart 1960) geskryf: “Ver sien, dit is heilsaam. Ver, en onbeperk; daar moenie ’n afsluiting wees nie; ek dink soms dat dit die geheim is van die uitsig hier van onse voordeur af, na waar die berge ’n soort uitgang na die ooste wys. Veral, verbeel ek my, as die uitsig noord of oos tussenbei is.”
Die Carnegie-kommissie het haar gevra om saam met hulle te werk in hulle ondersoek na die armblankevraagstuk in Suid-Afrika. In 1929 het MER saam met hulle die land deurkruis en sy is beide die ACVV en die kommissie baie dank verskuldig dat sy vir hulle kon werk. Die werk was nie alleen ingrypend interessant nie, maar “om so van naby met jou mense op alle plekke en onder sulke verskillende omstandighede kennis te maak – dit is verrykend” (My beskeie deel, 1972).
Deur haar werk vir die Carnegie-kommissie het sy ook kennis gemaak met baie interessante mense, onder andere Raymond Wilcocks, Ernie Malherbe, Johannes Grosskopf (wat haar later baie met haar skrywery gehelp het) en ds Jan Albertyn.
MER het in Maart en April 1933 saam met Erika Theron die boswerkers in Knysna gaan besoek om die swak maatskaplike toestande onder wit boswerkers in die bosstreke onder die ACVV se aandag te bring en hulle te vra om iets daaraan te probeer doen. Hulle het die werk in vyf weke uitgevoer.
Koos, MER se seun, is op 17 September 1928 in die Groote Kerk in Kaapstad getroud met Sara Debora de Vries van die plaas Dikmatjie, Gamoep. Ná Koos uit Pretoria weg is, is hy na Britstown en het in 1923 na Kaapstad gekom. In 1930 is Koos se dogtertjie, Maria Elizabeth, gebore en het MER ouma Miemie geword.
Frits het in 1929 by haar kom inwoon op Swellendam nadat sy gesondheid te swak geword het vir hom om verder in die Laeveld te boer. Hy is op 5 Februarie 1932 op 71-jarige leeftyd in haar huis oorlede nadat hy siek vanaf sy jaarlikse vakansie Mosambiek teruggekeer het.
Met die afsterwe van Frits het MER haar vernaamste letterkundige raadgewer verloor. Daarna het sy al hoe meer op haar dogter Anna begin staatmaak vir ’n oordeel oor haar skryfwerk. Tussen MER en Anna was daar altyd ’n besonderse vertrouensverhouding en in haar briewe aan Anna kon sy soos aan ’n suster of ’n vriendin alles kwytraak: van skinderstories oor haar susters tot haar onsekerheid oor haar skryfwerk en haar blydskap oor lof wat sy naderhand vir haar literêre werk ontvang het.
Sy was een van die herstigterslede van die Voortrekkerbeweging in 1931 nadat dit in 1929 doodgeloop het. Sy het ook later in die redaksie van Die Kleinspan (die voorloper van Die Jongspan) gedien.
Die emansipasie en die vrouestemreg was aktuele kwessies terwyl MER by Die Burger gewerk het. Sy moes meermale daaroor kommentaar lewer en van die joernaliste het haar as ’n strydvaardige feminis beskou. Die partypolitiek vir die vroue het in die twintigerjare begin met die stigting van die Nasionale Vroueparty in 1923. Die vooruitsig was dat die vrou ’n belangrike rol in opvoeding, gesondheid, behuising en armblanke- kwessie kan speel. Die party het egter met die bewindoorname van die Nasionale Party daarby aangesluit.
Gedurende die dae van die samesmelting het sy in die partypolitiek betrokke geraak en was selfs in 1933 ondervoorsitter van die Nasionale Party onder dr DF Malan, ’n posisie wat sy vir ses maande beklee het. Dr Malan was in daardie dae teen die samesmelting van die NP en SAP (Suid-Afrkaanse Party) en hy het sy eie politieke party gevorm en dit was van daardie party wat MER ondervoorsitter was.
In die dertigerjare was MER baie teleurgesteld in genl Hertzog toe hy besluit om ’n koalisie met Smuts se SAP aan te gaan. DF Malan was daarteen en die teenstanders van die samesmelting was hoofsaaklik afkomstig van Kaapland. Op 4 Oktober 1933 sou Hertzog en Malan beide op die NP-kongres in Port Elizabeth optree. In die voorafgaande weke het MER, met haar groot invloed op die vroue, ’n betekenisvolle bydrae tot die saak van die antismelters gelewer. Twee van haar gereelde bydraes was oor die politiek en het op Die Burger se hoofartikelblad verskyn. Die kongres het met ’n groot meerderheid teen die samesmelting gestem. In April 1934 het MER uit die hoofbestuur van die Nasionale Party bedank, omdat dit met haar gesondheid op daardie stadium nie baie goed gegaan het nie.
Teen die middel van 1934 is MER en Ida Theron per skip na Europa. Sy het gereeld briewe aan haar dogter en artikels vir Die Burger en Die Huisgenoot geskryf wat ’n fassinerende verslag van haar en Ida se reiservaringe op die see, in Italië, Duitsland, Denemarke en Noorweë bied, asook van haar kunsinsigte en historiese en geografiese kennis. Hulle het op 4 Oktober weer in die Kaapse hawe aangekom en MER kon dus nie die volkskongres in Kimberley oor die armblankes bywoon nie. Ná die kongres is ’n voortsettingskomitee gekies wat die probleem verder moes voer en MER was een van die lede van dié komitee.
In 1938 het MER en haar suster Anna ’n Carnegie-beurs van £300 (vir albei saam) gekry; Anna moes hulle museum-skooldienste nagaan en MER die armoedsprobleem in die suidelike state in die berge. Oor hierdie lang reis het MER weer ’n hele reeks bydraes vir Die Burger gestuur. Anna het ook bydraes vir Die Jongspan gestuur.
Met haar terugkeer na Swellendam het sy op 63-jarige ouderdom uitgetree as reisende sekretaresse van die ACVV. Albei haar susters, Lettie en Annie, het haar bure by haar huis Komnader geword. Oor hierdie reëling het MER einde 1939 geskryf: “Ons is nie saamwonerige mense nie, maar ons staan mekaar darem by” (in ’n brief aan M Roome, 3 Desember 1939).
Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 en met die kwessie van Suid-Afrika se deelname aan die oorlog het die regeringsparty geskeur en het Hertzog en sy volgelinge hulle by DF Malan geskaar. MER was baie dankbaar oor Die Burger se hoofartikels teen die oorlogsverklaring en hoewel sy teen Suid-Afrika se deelname was, het sy nie toegelaat dat dit haar vriendskappe met andersgesindes beïnvloed nie. Haar seun, Koos, het sy werk verloor omdat hy sit en eet het by een van die geboue gedurende die gereelde bidpouses wat gehou is om voorbidding vir die geallieerdes te doen.
Die belangrikste verandering in MER se lewe na die uitbreek van die oorlog was dat sy en haar twee susters by die Ossewabrandwag (OB) aangesluit het. Hierdie organisasie is op 4 Februarie 1934 gestig.
Die impetus agter die stigting daarvan was die “Afrikaans-nasionale” entoesiasme wat deur die Ossewatrek van 1838 aangewakker is, asook die ongelukkigheid oor die politieke verdeeldheid onder Afrikaners. Ida, Daisy en Erika Theron het ook aangesluit. MER was streekskommandant van die Swellendamse vroue.
In 1940 is die Afrikanereenheidskomitee, of die Afrikaner-volksfront, gestig waarin die NP, die OB, die FAK en Reddingsdaadbond (RDB) verteenwoordig was. Maar spanning het uitgebreek tussen die OB en die NP en MER het gevoel dat jy aan albei kan behoort – die OB en die NP – maar in September 1941 het die FAK en die RDB uit die eenheidsfront getree. Dit het daarna nie lank geneem vir die front om te ontbind nie, veral nadat DF Malan lede van die Nasionale Party gevra het om uit die OB te bedank.
MER het egter besluit om van albei lid te bly en daarmee het sy haar die gramskap van baie persone op die hals gehaal en het dit haar ook ’n paar vriendskappe gekos.
Met die 1948-verkiesing het MER haarself nie meer as ’n goeie Nasionalis beskou nie, hoewel sy geen “Sap” was nie, as gevolg van haar teensin vir DF Malan. Sy het aan haar kinders geskryf: “Ek kon my nie daartoe bring om te gaan stem nie.”
Teen ongeveer 1945 het Anna, MER se dogter, die plan gekry om ’n kind aan te neem en in Oktober 1948 ’n dogtertjie van vier maande gekry. Die dogtertjie is na MER vernoem en is ook Miemie genoem. Anna en Miemie het op Grahamstad gewoon en was goed bevriend met WEG en Rosa Louw (gebore Nepgen).
Die grootmaak van Miemie was nie altyd sonder probleme nie en het MER genoop om op ’n stadium te sê: “Vir ’n vrou wat nog verdien, sal ek onder hedendaagse omstandighede nie maklik so ’n aanneming aanraai nie; ’n mens moet daarvoor ’n ankerplek hê, soos ’n huisgesin. Maar die ankerplekke gee tog ook sy moeilikhede af!” (Steyn, 431)
Op 13 Mei 1949 is MER se ouer suster, Lettie, in die ouderdom van 83 jaar oorlede.
Volgens Louis Hiemstra het MER verwante geeste soos ’n magneet aangetrek: “’n Skare van skryfsters wat haar geestelike dogters kan heet, onderhou ’n lewendige kontak met haar. Die feit dat hierdie vroue van die allerbeste prosa skryf, is seker in nie geringe mate te danke aan die feit dat hulle almal, bewus of onbewus, deur MER se klassiek-sobere styl beïnvloed word” (Steyn, 419).
MER het hierdie skryfsters haar “Kaapse kinders” genoem. Hendrien Lambrechts, wat ’n doktorsproefskrif oor die ACVV gedoen het, was die eerste van hierdie “kinders”. Die ander was Audrey Blignault, Alba Bouwer, Elise Muller en Rykie van Reenen.
Toekennings
- 1938 – Carnegie-beurs vir ’n maatskaplike studiereis deur Amerika
- 1950 – Eredoktorsgraad van die Universiteit van Kaapstad
- 1950 – Eredoktorsgraad van die Universiteit van Stellenbosch
- 1950 – Spesiaal vereer deur die Nasionale Pers met haar 75ste verjaardag
- 1953 – Hertzogprys vir Prosa
- 1953 – Eretoekenning van die Drie Eeue-stigting
- 1961 – Scheepersprys vir Jeuglektuur vir Die tweeling trek saam
- 1965 – Orde van die Vriende van die Voortrekkers
- 1966 – Erepenning van die FAK
- 1966 – Ereburgerskap van Swellendam
- 1970 – Tienie Holloway-medalje vir Kleuterlektuur vir Karlien en Kandas
- 1973 – Eredoktorsgraad van die Universiteit van Suid-Afrika
- 1974 – Elizabeth Roos-eretoekenning
- 1974 - Erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Maatschappij der Nederlandsche Lettere in Leiden.
In 1949 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir die eerste keer in sy geskiedenis geen Hertzogprys vir verhalende prosa toegeken nie. Daar was heelwat kritiek op die besluit en Boerneef het uit protes uit die Akademie bedank. MER het sy optrede baie waardeer.
Boerneef, Canis Scholtz en DJ Opperman het toe aan Recht Malan en CF Albertyn van die Nasionale Pers voorgestel dat die Pers ’n feestelike byeenkoms reël om saam te val met MER se 75ste verjaardag op 28 Augustus 1950 sodat haar werk die erkenning kon kry wat dit verdien. MER was aanvanklik nie geneë daarmee nie vanweë die onderhoude en publisiteit wat dit tot gevolg sou hê, “maar my boeke verkoop so sleg dat ek toe geen beswaar kon maak nie,” het sy aan Anna Geyer (18 September 1950) geskryf. Die fees sou saamval met die verskyning van Die gewers, waarin haar uitstekende kortverhaal “Die hol krans” opgeneem is.
In Tydskrif vir Geesteswetenskappe van September 1975 skryf Elize Botha: “Die titel Die gewers ontleen sy aan die feit dat sy van al die mense oor wie sy skryf, iets kosbaars en onmisbaars ontvang het – hoe verskillend ook al van aard en omstandighede, almal was gewers. Nie van goed nie, want dit het hulle nie oorvloedig gehad nie; van moed; van hartversterkende geloof; en sommer van goedheid. Moontlik was hulle aangewers, en het hulle wat hulle gegee het, self êrens gekry, want dit is onverganklik.”
MER het al die feestelikhede van die viering baie waardeer en het in ’n bedankingsbrief aan Canis Scholtz geskryf: “Jou toespraak by die partytjie het my voete onder my uitgeslaan; ek kon van my voorbereide dankwoordjie nie ’n flenter onthou toe ek daar opstaan nie. […] Die hele ding is nou oor, maar ek sit en kry nog plesier daaruit.” (Opgeneem in J du P Scholtz se Oor skilders en skrywers, 52)
In dieselfde jaar, 1950, het MER van beide die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad nuus ontvang dat hulle eredoktorsgrade aan haar wil toeken. Stellenbosch s’n sou vir praktiese maatskaplike werk wees en Kaapstad s’n sou ’n DLitt wees en daarvan het sy nie so mooi geweet nie, want eersterangs is haar prosa nie “en daarom meen ek dit moet nie so ’n erkenning van my ou universiteit kry nie”. Scholtz en DJ Opperman is egter Swellendam toe en het haar tot ander insigte gebring.
En uiteindelik, in 1953, het die Hertzogprys gekom. Die keurkomitee het gewys op die “waaragtigheid van die skryfster” en die knap bou van haar verhale. Haar werk dra ’n eie en onmiskenbare stempel. In ’n tyd van vervlakking en effekbejag kan die kuns van MER slegs ’n veredelende uitwerking hê.
In 1962 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Scheepersprys vir Jeuglektuur aan Die tweeling trek saam toegeken. Sy het nie kans gesien om Pretoria toe te gaan om die prys te gaan haal nie. En hoewel sy baie mooi gevra het dat dit nie moet gebeur nie, is die funksie op 14 Oktober 1961 op Swellendam gehou.
MER was byna 95 toe een van haar jeugboeke weer ’n Akademie-toekenning ontvang het, naamlik Karlien en Kandas, wat met die Tienie Holloway-medalje vir Kleuterlektuur bekroon is.
In 1973 het Unisa ’n eredoktorsgraad aan MER toegeken. In sy commendatio op 12 Mei 1973 het Theo van Wijk, die destydse rektor van Unisa, onder andere die volgende oor haar biografie, My beskeie deel, gesê: “Insiggewend is dit dat die mens wat hierin ontmoet word dieselfde is as die skrywerspersoonlikheid wat uit haar kuns afgelei kan word” (Steyn, 516).
Skryfwerk van MER
In 1922 is MER betrek by Die Huisgenoot se afdeling vir kinders. Benewens Kinders van die Voortrek (1920) het twee boekies in 1922 by JL van Schaik verskyn: Hansie en die bessiekinders en Die Sondagskind. Van Augustus tot Desember 1923 het haar Laeveld-novelle Goedgeluk as vervolgreeks in Die Huisgenoot verskyn. Ook onder die naam VvdV (Vriendin van die Vrou) is “Die boodskap uit die doderyk” gepubliseer.
MER en Ida Theron het van 1922 af saam die kinderafdeling van Die Huisgenoot behartig, wat as Die Kleinspan bekendgestaan het. Hulle moes maar ’n groot deel van die inhoud self skryf. Die reeks “Vanmelewe, ’n storie vir meisies” het van 14 Desember 1923 tot 8 Februarie 1924 in Die Huisgenoot verskyn en is in 1926 uitgegee met ’n ander subtitel: Stories van die voorouers in die Self-lees-serie. In hierdie reeks is Die Sokka-boek: stories van ’n skaaphond (1926) en Sokka se plaas (1933) uitgegee. “Sokka” is van “Sokrates” afgelei.
Saam met Dorothy Barclay, ’n kunstenares, het MER gewerk aan Die Kammastories wat hulle vir Die Kleinspangeskep het. Volgens MER was dit ’n geval van simbiose: “Ek skryf ’n ent weg en lê dit aan Dorothy voor. Sy sê niks, behalwe om hier en daar om ’n verduideliking te vra, en gaan huis toe met die stuk storie. Oor ’n afgesproke tyd bring sy die illustrasies; op haar gesig is iets van ’n glimlag. Maar my vreugde is uitgesproke; sy het inspirasie gebring op die papier; ek weet wat daardie afgetekende kammalanders volgende verder gaan doen! So, end uit. Ek weet nie wie van ons die grootste plesier daarvan gehad het nie” (Steyn, 213–4).
Die Kammalanders is in 1928 as boek gepubliseer. Nog ’n kinderboek, Stoute Bengel, is in 1931 gepubliseer.
Haar Jong dae (1933) het aanvanklik as vervolgverhaal onder die titel Die Nommer Tieners: ’n storie vir ouer meisies in dertien aflewerings verskyn, tot 6 November 1925. Die begin van die vervolgverhaal het later, met belangrike wysigings, die tweede hoofstuk van die boek geword. Dit was ’n getroue weergawe van MER se eie jong dae aan Rhenish, maar sy het ook Swellendamse besonderhede daarby ingewerk.
Die oorwinnaar: stories van President Steyn is ook vanaf Oktober 1927 as vervolgreeks gepubliseer en in 1928 deur Nasionale Pers gepubliseer.
Die Kleinspan het op twee latere skrywers, Elise Muller en Alba Bouwer, ’n groot indruk gemaak. Veral MER se Karlien en Kandas-versies wat in 1933 in boekvorm uitgegee is, het hulle bekoor. Van hierdie versies het ontstaan uit haar dophou van bruin kinders wat onderkant haar kantoorvenster in Keeromstraat gesing en gespeel het. Alba Bouwer het in 1970 hierdie verse beskryf as “van die heel eerste Afrikaanse kinderverse wat verskyn het en ná veertig jaar bly hulle vir my nog die heel mooiste Afrikaanse kinderverse wat geskryf is. Hulle het my as kind die eerste besef van die skoonheid van ’n woord en die moontlikhede van klank en kleur wat daar in woorde is, gegee.” (Skrywers en boeke, 28 Mei 1970)
Onweershoogte is in 1927 uitgegee en bevat MER se vroeëre verhale. PC Schoonees (Die Burger, 2 September 1927) het hom in sy resensie weerhou van ’n algemene oordeel en hoewel sy bespreking nie negatief was nie, het hy die werk onderskat.
Volgens MER was dit net Frederik Rompel wat enige aandag aan haar werk gegee (Steyn, 223). Sy het die kritiek op haar styl aanvaar, maar het besluit om eerder die raad van Matthew Arnold te aanvaar toe hy gesê het: “Have something to say, and say it as clearly as you can. That is all I know of ‘style’” (uit haar dagboek, 14 Oktober 1925).
In 1945 het MER aan Louis Hiemstra geskryf: “Nou skryf ek, sommer baie.” En dit som haar bedrywighede in die veertigerjare baie goed op. Sy het uit omtrent alle verenigings getree: “[G]ee my 70ste verjaardag as afdoende rede; daarop kan niemand iets antwoord nie” (Steyn, 390).
Haar eerste poging was die roman Na vaste gange. Sy het erken die boek “ly aan my oordrewe begeerte om iets te bewys, nl dat wat lyk na ’n mislukking tog weer omgeskep kan word in iets bruikbaars. En dit lyk my ’n mens word nooit te oud om die belangrikheid te oorskat van ’n bewys van wat jy graag wil bewys. Later sien jy dat die bewyse nie altyd intense pleidooie nodig het nie.”
Na vaste gange vertel die verhaal van Marianna van Eyck, ’n Nederlandse meisie, wat aan die begin van die 20ste eeu met ’n Indiese heer trou, en met die tema het MER ’n onderwerp aangepak wat nie deur baie Afrikaanse skrywers op daardie stadium gedoen is nie. Sy het hierdie boek met “definitiewe redes” geskryf en dit is waarom dit, volgens haar, nie so ’n sukses was nie. (Steyn, 391–4)
Aan die begin van 1943 het sy gewerk aan die drie verhale wat uitgegee sou word as Drie vertellings. Waar sy met Na vaste gange so gesukkel het, het sy maklik geskryf aan hierdie drie verhale. In Die Burger het LC Bruwer geskryf: “Die aantreklikste aspek van die vertellings is die skryfster se fyn sielkundige begrip van die menslike karakter. En daar is gedeeltes van hierdie vertellings wat deur nugtere raakheid van beelding, deur stille humor, deur stemmingsuggestie tot ons beste verhalende prosa van die afgelope maande gereken moet word.” (Die Burger, 19 April 1945)
Uit en tuis, ’n bundel met essays uit Die Burger, het in 1946 die lig gesien en Elisabeth Eybers het in Huisgenoot van 10 Januarie 1947) geskryf dat MER soos ’n kunstenaar skryf wat ook kan “joernaliseer” as dit daarop aankom. Vir Rykie van Reenen was Uit en tuis ’n bundel wat ’n mens “proe-proe moet lees. Sy ken die kuns om besonderhede te gee sonder om deur besonderhede gekniehalter te word. As sy gesê het wat sy wou sê, hou sy op” (Die Burger, 12 Oktober 1946).
’n Publikasie waaroor MER baie sterk gevoel het, was Frits se oorlogsdagboek van die Anglo-Boereoorlog wat sy vertaal en geredigeer het en waarvoor sy die inleiding geskryf het. Dit het teen die einde van 1947 verskyn. Oor die inleiding en aantekeninge wat MER by hierdie dagboek geskryf het, het Audrey Blignault (bron onbekend) geskryf: “Dit is twee van die belangrikste kultuurhistoriese essays in Afrikaans en is ’n verrassende bewys van MER se skerpsinnige opmerkingsvermoë, haar begrip van ’n geskiedkundige situasie en haar merkwaardige onbevangenheid in haar beoordeling van die geskiedenis.”
Die roman Eindelose waagstuk (waarvan die skryf MER baie plesier verskaf het) het min of meer die huwelik tussen Rensie, ’n predikantsdogter, en Lukas, ’n sakeman, as onderwerp gehad. WAB (Huisgenoot, 11 Augustus 1950) het geskryf dat dit ’n tendensroman is, “maar dat ’n mens hier en daar die essayis aan die woord vind. Die grootste beswaar was dat die skrywer aan ’n niveau bokant haar stof werk, maar dat sy dit nie van naby genoeg benader om byvoorbeeld van Rensie ’n tragiese figuur te maak nie. Dit was egter ’n aangename en welkome afwyking van die gewone soort familie- en liefdesrelaas met sy eksploitasie van soet en trane wat ’n mens vermenigvuldig in die Afrikaanse literatuur aantref.”
Daar was egter baie probleme met die publikasie van Eindelose waagstuk, skryf Steyn (409 ev). MER het geweier dat dit onder die vaandel van Nasionale Pers se Biblioteekskema uitgegee word. Dit is toe egter wel gepubliseer, maar gedruk en gebind sonder dat die proewe gelees is. Hieroor was MER baie omgekrap, aangesien daar baie setfoute was en die teks ook lelik “verknoei” is.
MER het in ’n brief aan Dick Potgieter van Nasionale Pers hom in duidelike taal laat verstaan wat sy van hierdie “foute” dink. Canis Scholtz en Johan Spies het besluit om die hele oplaag “tot niet te maak”.
Hierop was MER se reaksie (op 13 Augustus 1948): “Ek was verslae om dit te verneem – sou self nooit die moed gehad het om te praat van die vernietiging van die oplaag nie. Maar o, ek is dankbaar dat die besluit geval het, want anders het ek in die toekoms, as ek Eindelose waagstuk iewers teenkom, maar gemaak het of ek die gebreklike kind nie sien nie” (Steyn, 411).
Die verhaal “Goedgeluk” uit haar eerste bundel, Onweershoogte, het in 1959 as najaarsuitgawe van die Wereld-Bibliotheek-Vereniging verskyn. Dit het die verhaal onmiddellik in tien duisend Nederlandse en Vlaamse huise ingebring en die moontlikheid het bestaan van selfs ’n wyer verspreiding. Die Nederlandse uitgawe het ’n voorwoord van Jan Greshoff gehad en ’n kort verklarende woordelys vir Nederlandse en Vlaamse lesers agterin.
In die 1960’s het daar ’n hele aantal versamelbundels van MER verskyn: Vroue wat Jesus geken het (1965), wat aanvanklik as ’n reeks in Die Huisgenoot verskyn het; Kom nader (1965), ’n bloemlesing deur Alba Bouwer, Audrey Blignault en Rykie van Reenen; So is onse maniere (1965), wat ’n twintigtal stukke bevat wat in hulle oorsprong joernalistiek was; en Briewe uit Highveld (1965), wat briewe van Anna Geyer uit Londen aan haar dogter geskryf het en wat MER saamgestel het.
Nie lank na haar 75ste verjaardag nie het Canis Scholtz haar gevra om haar lewensherinneringe op skrif te stel, nie vir publikasie nie, maar sommer net. “Elke ou mens behoort dit eintlik te doen.” Sy het in 1951 met die skrywery begin. Die eerste stukke het sy teen die einde van 1951 aan Scholtz gestuur. Hy was baie positief, maar die boek is nie toe gepubliseer nie.
Die eerste hoofstukke van hierdie herinneringe het van 24 Maart 1954 af as ’n reeks, “Van Vanslewe”, in Sarie Marais verskyn. Die reeks het ook stukke bevat wat later nie in die boekvorm opgeneem is nie.
Hierna het sy haar herinneringe twee keer aangevul – in Julie 1966, waarna sy gesê het: “My storie sal seker nie veel langer loop nie.” Nog ’n aanvulling, wat egter nie gepubliseer is nie, was in 1969 na haar seun Koos se dood in ’n motorongeluk.
Sy wou dat die outobiografie eers na haar dood uitgegee moes word, maar Alba Bouwer en Rykie van Reenen het vasgestaan sodat mense wat nog van daardie tyd weet, dit ook kan geniet. Sy het self die titel My beskeie deel daaraan gegee. Scholtz het self die manuskrip op Swellendam gaan haal en Berta Smit het dit persklaar gemaak. JD Pretorius was nie gelukkig met die titel nie, maar MER het vasgestaan daaroor.
My beskeie deel het uiteindelik in 1972 verskyn. In Sarie Marais is dit beskou as die boek van die jaar en PD van der Walt het in Die Huisgenoot geskryf dat dit ’n getuienis is van geloof in aksie, van die soeke na en vind van ’n lewensdoel en –taak, en dit bevestig dat MER op ’n heel bepaalde wyse deur inderwaarheid ’n “gewer” te wees, en veral deur die geskrewe woord, ’n vorm van onsterflikheid gegun is. Onvolmaak soos mensewerk is, is dit nietemin ’n boek wat ’n mens end-uit geboeid lees tot verryking en verkwikking van jou gees.
Hennie Aucamp het dit as ’n testament aan ’n volk, ’n vermaning en ’n troos beskryf (Die Burger, 23 November 1972), en in Prosakroniek skryf Elize Botha: “Die lees van die boek was ’n oorweldigende ervaring en ’n relaas wat ’n ongelooflik sterk geheue toon. Op allerlei maniere herinner die werk die leser daaraan dat ’n mens met die werk van ’n wyse te doen het.”
Ná MER se afsterwe was daar twee aanvullings tot My beskeie deel: Familiegesprek, die briewe aan haar dogter, Anna en ’n Kosbare erfenis, briewe aan ander mense wat tussen 1916 en 1975 geskryf is.
In Die Burger van 28 Augustus 1975 het Hennie Aucamp in sy artikel oor MER (“Simbool van Boere-adel”) aangehaal uit ’n brief wat MER in 1968 oor Afrikaans aan Die Burger geskryf het: “So het dit in een leeftyd met ons Afrikaanse taal gegaan – minagting en teenkanting ons daelikse brood. En toe die vaste groei as geskrewe volkstaal van ’n selfbewuste volk. Vandag die eie boeke, honderde en honderde, die menigte keurige tydskrifte, die eie koerante elke dag, die vertroubare woordeboeke, keurig saamgestel deur toegewyde geleerdes – en bo alles die skooltaal van ons kinders! Wat is dit dan met die besorgde simposiums oor die stryd van die Afrikaanse taal om voortbestaan? Vir my, oud-stryder, lyk dit hy groei normaal en gesond” (Steyn, 526).
Op pad na 100
Op ’n keer in 1973 het Anna teenoor haar ma opgemerk sy sê al van 1970 af dit gaan end se kant toe, maar in werklikheid was sy verbasend goed vir haar jare en doen alles vir haarself, en krap ’n bietjie in die tuin as dit warm is. Maar te veel kuiermense het haar moeg gemaak en sy moes dan te lank konsentreer. Al hou hulle geen verjaardagparty vir haar 98ste verjaardag nie, kom daar mense en “elkeen dink hy is die enigste”. Sy sê verder: “Die kragte neem af, maar die mens is nog in een stuk” (Steyn, 520).
Haar 99ste verjaardag het sy goed deurstaan. Later, in 1974, het die stadsraad van Bloemfontein laat weet dat ’n dorpsgebied ontwikkel word en dat dit Langenhovenpark genoem sou word. Die straatname sou na skrywers vernoem word. Hare sou as MER-singel bekendstaan. Daarteen het sy geen beswaar gehad nie. Anna het aan Miemie geskryf: “Ouma is mos nie vir sulke eerbewyse nie, maar ek dink dit gee haar tog plesier om in Langenhoven se dorp te wees” (Steyn, 522).
Met ontvangs van die Elizabeth Roos-eretoekenning van die ACVV in 1974 het sy aan die hoofbestuur gevra: “Hoe moet ek dankie sê? Ag, ek sê dit maar aan Onse Liewe Heer. Want dit is Hy wat onse ACVV geskep het in die hart van die Afrikaner-vrou – Hy wat haar gedurig leer hoe om dit te bewaar en dit te verryk. Of ek die toekenning werd is, daaroor is baie onseker. Maar dat ek waardeer, en my dank bring aan my dierbare vereniging – ja, dit van ganser harte!” (Steyn, 522).
MER was egter nie geneë daarmee dat sy as deel van die Taalfees van 1975 op ’n MER-gedenkseël vereer word nie.
Haar honderdtal is met ’n paar publikasies gevier: Karlien en Kandas het in ’n nuwe hardebanduitgawe verskyn en Die tweeling trek saam het met sy sewende druk weer beskikbaar geword. Twee huldigingsbundels is ook deur Tafelberg uitgegee: MER van naby gesien: ’n keur uit die kuns van MER deur Elize Botha en MER 100 met twaalf artikels van mense wat sy in haar lewe goed leer ken het.
Die ACVV op Swellendam het op 27 Augustus 1975 ’n huldigingsfees gereël. ’n Spoggerige ete is aangebied en die skole op die dorp het van haar werk aangebied. Op die gedrukte program was haar boodskap in een sin, waarin sy so tipies, weg van haarself kyk: “As Swellendammer in die vyfde geslag, is dit vir my ’n voorreg dat ek my honderdste jaar op my geliefde dorp kon deurbring.”
Op Sondag 7 September 1975 is MER oorlede. In ’n brief van 9 September skryf Anna aan Rykie van Reenen en Alba Bouwer: “Ons (Anna en Miemie) het kort-kort gaan kyk, en toe ek so teen tienuur weer gaan, sien ek ’n verandering, en roep vir Miemie. Sy het vir Ursula gaan haal, en ons drie het doodstil daar gestaan. Miemie het die hart geluister, en die asem het net flouer geword – so ’n effense steun, so ’n effense inkrimp van die bors asof die ou hart sy laaste poging maak en toe is dit verby. Tot my grootste verbasing was my gevoel hoegenaamd nie verdriet of skok nie, maar onbeskryflike verligting dat die gekwelde ou liggaam nie meer hoef te sukkel nie” (Steyn, 534).
Die begrafnis was op Woensdag 10 September op Swellendam. Ds AC Loubser het die diens gelei en die burgemeester Dawie Beyers het hulde gebring aan die eerste ereburger van die dorp. Richard May het namens die bruin mense gepraat.
Huldeblyke
- M Nienaber-Luitingh: “Die werk van MER lewer een van die seldsaamste voorbeelde van ’n literêre kuns, wat geïnspireer is deur norme wat deur ’n moderne skrywersgeslag as verouder verwerp is en wat desondanks deur die bestes van die jonger generasie aanvaar en bewonder word as ’n waardevolle bydrae tot die letterkunde. Hierdie bewondering is nie net toe te skryf aan die boeiende en bekoorlike inhoud van veral haar sketse nie, maar ook haar baie bekoorlike skryfstyl.” (Steyn, 524)
- Elize Botha: “MER se werk leef ook in dié van geesgenote in die Afrikaanse letterkunde, in die soms onverwagte weerklank wat dit vind in eietydse werk, in etlike werke uit die nuwe Afrikaanse beweging, uit die bruin Afrikaanse gemeenskap. Een van haar grootste bydraes is op die gebied van die kultuurgeskiedenis met werke soos My beskeie deel, die inleiding tot haar broer se Oorlogsdagboek, talle essays, haar nagelate briewebundels, artikels in verskeie tydskrifte en in die uitbeelding van die vroeëre Afrikaanse wêreld in haar verhale.
- “Sy het ’n soort insig gehad in Die Lewe met hoofletters. Veral, maar nie uitsluitend nie, uit die perspektief van die vrou. Die bepaalde soort wysheid wat in ’n sekere sin ook teruggegaan het op die eenvóúdige Afrikaanse lewe wat vir my baie bekend was, maar ook wat ’n gewéldige prys gestel het op die vormende dinge. En haar regskapenheid ... die gevoel dat as jy met haar te doen het, het jy te doen met ’n mens wat die wêreld met eerbied bekyk en wat dus jóú eerbied verdien. Sy het geweldige eerbied in ’n mens geïnspireer vir jou ewemens. Sy het nooit van ’n medemens gepraat nie, sy’t van ’n ewemens gepraat. Ek het haar tien jaar geken, en daardie kort kennismaking het so ’n kragbron geword; dit stráál uit oor die res van jou lewe.” (Steyn, 524)
- PA Joubert: “MER se meelewing met en bemoeienis ten behoewe van die Afrikaners, van jongs af tot in haar grysheid; haar vereenselwiging met alles wat sy as behorende tot Afrikaner-wees beskou, en aan die ander kant haar heftige afkeuring van alles wat na haar mening nie daarmee te rym is nie; haar opregte, nederige deurskouing van haar eie gemoed – soms selfs met ’n byna kinderlike naïwiteit; die neerslag van dit alles in haar helder prosa as letterkunde – hierdie eienskappe het haar ’n enige plek in die Afrikaanse skrywerswêreld laat beklee. Dit is goed dat daar so iemand was – iemand so heel besonders – wat vir haar tyd die beeld van die ‘ideale Afrikaner’ so goed kon boetseer én verpersoonlik.” (Steyn, 524)
- Petra Müller: “Ek verbind gravitas met MER se beskeidenheid. Die intern-private lewe het teruggetree na ’n ‘binneste’ wat ’n persoonlike besit gebly het. Sy het soveel van haar ‘binneste’ meegedeel as wat sy wou, en die res was streng privaat. In daardie opsig het sy dorpenaar gebly – dit was haar gravitas.” (Steyn, 525)
- Hennie Aucamp tydens ’n besoek aan MER in 1968: “Op skool het ek u begin lees – alles van u gelees waarop ek my hand kan lê. Dit was die heilsaamste skoling wat ek as aspirant-skrywer kon ondergaan het: ’n teëgif vir die mooiskryfwoorde van die adolessent! As ek te pronkerig skryf, lê dit nie aan u nie, maar aan ’n defek by mý! Onlangs lees ek Späte Prosa van Herman Hesse. Telkens moes ek met verwondering ophou met lees: dié stukke kon mos woord vir woord van onse eie MER gewees het! Om uit so ’n onverwagte hoek herinner te word aan die grootheid in ons midde – dit was ’n wonderlike openbaring.” (Steyn, 475)
- Audrey Blignault: ‘Ek het die vormende waarde van MER se kritiek en leiding in die beginjare van my skryfwerk eers later ten volle besef. Elkeen wat skryf, het ’n eerlike kritikus nodig. Hy wat ’n vriend as kritikus het, het ’n voordeel wat nie oorskat kan word nie. ’n Deel van MER se waardevolle leiding was geleë in haar siening van die skryfkuns: ‘Raak sien en met waarheid beskryf; dit is die essensiële.’ Sy kon egter ook waarsku teen foute.” (Steyn, 422)
- Canis Scholtz, tydens die viering van MER se 75ste verjaardag op 28 Augustus 1950: “Die groot waarde van MER se werk het (in 1950) tot die bewussyn deurgedring en ’n mens moet erken dat die openbare waardering wat haar toekom, van haar weerhou is. Ons het ’n baie groot skuld teenoor haar. Sy het werk van ’n onberekenbare waarde oor ’n lang tyd vir haar volk gelewer. As deel van haar daaglikse taak as opvoeder, en bloot uit liefde vir skryf, het sy ’n hoeveelheid werk gelewer wat vir ons van groot letterkundige betekenis is. Sy is ook iemand wat baie min eie voordeel gesoek het, maar besonder skrander en vindingryk was om die voordeel van ander te soek. Soos haar broer Frits was sy ’n ordeliewende, intelligente en gevoelige mens wat graag die oorsake van dinge soek voordat sy ’n oordeel vel. Sy het ’n besondere gawe gehad om na die aard en wese van haar volk te kyk.” (Steyn, 436)
- Gerrit Dekker: “Die kuns van MER is nie groot of sterk nie, dit bevat geen uiterlike skittering, verras ook nie deur skielike, hewige skoonheid van woord of beeld nie. Dis onpretensieus en openhartig in sy beskeie eenvoud.” (Huisgenoot, 1 September 1950)
- Boerneef: “’n Vername kenmerk van MER se beste werk is die egtheid daarvan, ook die eenvoud.” (Huisgenoot, 1 September 1950)
- Elise Muller aan Elize Botha: “Wat ek by MER geleer het, is deernis met die mens en eerbied vir sy aard.” (Steyn, 457)
- Anna Rothmann: Een van die insiggewendste opmerkings oor haar sober en onversierde skryfstyl kom van haar dogter, wat sê haar ma se werk is soos water wat so helder is dat mense nie die diepte daarvan kan raaksien nie.
- Die Transvaler: “Die skryfster MER wat by geleentheid as ‘die simbool van Boere-adel’ gehuldig is, is nie meer met ons nie. Aan min mense was dit beskore om so ’n vrugbare en verrykende lewe te lei. Op haar eie beskeie manier – so kensketsend van alle ware groot mense – het sy voortgegaan om haar land en haar mense as skryfster en as verslaggewer te dien. Uit al die lesse wat uit die lewe van dié groot vrou is, noem ons twee. Ten eerste – en hier kan ons Sestigers en Sewentigers maar saamluister – was sy een van ons eerste skryfsters wat BETROKKE werke geskryf het. Ten tweede het sy die waarheid onderstreep dat die aanhouer op die ou end tog wen, want ware erkenning vir haar werk het eers in haar 72e jaar begin kom, en die Hertzogprys is eers op 78-jarige ouderdom aan haar toegeken. Graag bring ons saam met die res van die volk hulde aan dié groot mens en kunstenares.” (Die Transvaler, 9 September 1975)
- Die Burger: “Op 28 Augustus het ons haar honderdste verjaardag gedenk eerder as gevier; want sy was reeds baie swak, en vooraf het haar vriende getwyfel of sy op dié dag nog met ons sou wees. Nou is sy heengegaan en alles wat toe gesê is, het verlede tyd geword. Maar nie die seën wat van haar werk, haar lewe en haar persoon uitgegaan het nie. […] Sommige van ons by Die Burger had die voorreg van meer as MER se belangstelling. Sy het ons begunstig met haar liefde en geloof. Diep in haar negentigs het sy nog vir ons briefies van aanmoediging en af en toe van vermaning geskrywe, wat ons opgehelp het tot edeler visie van ons werk en verantwoordelikheid. By al die mooi dinge wat sy vir haar volk en land gelaat het, is hierdie persoonlike toegeneentheid van ’n groot, goeie en helder denkende vrou vir ons iets individueels en baie kosbaars.” (Die Burger, 8 September 1975)
- Bouwer, Alba: “Vir my was vriendskap met MER en van haar ’n hele paar gelukslae ineengerol. Sy was een van die mense wat op my pad gekom het en my gehelp hoor en help sien het: Meer as veertig jaar gelede toe ek ’n opgeskote kind was, het ek my eerste bewuste aanraking, onbewus, gekry deur die Karlien- en Kandas-versies wat indertyd in Die Kleinspan verskyn het. Daardie versies het my skielik leer luister en leer hoor dat woorde klanke het en meer as gebruiksgoedere is, en dit het my ’n hele nuwe wonder laat beleef, ’n wonder wat vir my lewenslank nie sal ophou nie.
“25 jaar gelede het ek MER die eerste keer ontmoet. Dit was vir my ’n allerbelangrikste ontmoeting, maar nog belangriker was ’n tweede ontmoeting, kort daarna […] Ek was toe juis aan die stoei met ’n moeilike saak waarmee ek nie raad gehad nie, en voordat ek wis waar ek was, het ek dit aan TaMiem sit en uitlê. Ek het van haar weinig woorde gekry, maar die gevoel dat alles opeens eenvoudiger was; dat ek die voetpad uit die bos, waarin ek so lank koers gesoek het, meteens duidelik voor my sien. […]
“Ek weet dat die geheim van haar vermoë tot vriendskap en die omgang met ’n ander mens, van die erfenis wat sy vir ons almal nalaat, was dít wat sy eens van ’n heengegane vriendin geskryf het: ‘Bo alles had sy die liefde vir die mensdom wat sy geluk soek in die mensdom se vooruitgang.’ Niks beter kan ek haar beskryf nie.” (Die Burger, 8 September 1979)
- Verslaggeefster van Die Transvaler na ’n besoek aan MER op 14 Julie 1975: “Haar belangstelling was spontaan en opreg. Oor die Afrikaanse letterkunde het sy tot haar dood ’n intense belangstelling en liefde gehad. Self het sy gelees en geluister wat ander vertel het en kon sy menings gee oor sake soos betrokkenheid, die kleurkwessie in die prosa en sensuur. Ek het daar langs haar bed besef dat sy dalk Suid-Afrika se eerste betrokke skryfster was – lank voordat die Sestigers op die toneel verskyn het. […] Ons gesprek het vinnig oor talle terreine beweeg en keer op keer was ek verstom en beïndruk deur die helderheid van siening, die diepe oordeel, die fyn aanvoeling en die intellektuele begrip.” (Die Transvaler, 8 September 1975)
- LW Hiemstra in ’n huldeblyk in Die Huisgenoot in 1959: “Haar rubriek, ‘Vrouesake’, was haar persoonlike rubriek, hoewel tog meer in die besonder toegespits op vrouebelange. Die lesers van haar rubriek het nie slegs praktieser huisvroue en knapper moeders geword nie, maar almal het beter mense geword, mits hulle ter harte geneem het wat sy afgesien van ‘potte en panne’ geskryf het.” (Die Burger, 27 Augustus 1975)
Publikasies
|
Publikasie |
Kinders van die Voortrek |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: De Nationale Pers |
|
Literêre vorm |
Kinderverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die mieliedogter |
|
Publikasiedatum |
1921 |
|
ISBN |
(sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
|
Literêre vorm |
Kinderverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Hansie en die bessiekinders |
|
Publikasiedatum |
1922 |
|
ISBN |
(sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
|
Literêre vorm |
Kinderverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Die Sondagskind: vir die Afrikaanse kinders vertel |
|
Publikasiedatum |
1922 |
|
ISBN |
(sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
|
Literêre vorm |
Kinderverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die Sokka-boek: stories van ’n skaaphond |
|
Publikasiedatum |
1926 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Drie sangspelletjies vir kinders |
|
Publikasiedatum |
1926 |
|
ISBN |
(sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
|
Literêre vorm |
Kinderverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Vanmelewe: stories van die voorouers |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Onweershoogte en ander verhale |
|
Publikasiedatum |
1927 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die Kammalanders (Die Kammakwien; Die Kammaresies en Ouswaer van Kammaland) |
|
Publikasiedatum |
1928 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
|
Literêre vorm |
Kinderverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Hertzogprys 1953 vir al haar prosawerke, meer bepaald haar sketse, kortverhale en vertellings |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Die oorwinnaar: verhale van president Steyn |
|
Publikasiedatum |
1929 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
|
Literêre vorm |
Kinderverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Stoute Bengel: ’n verhaal uit die lewe |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
|
Literêre vorm |
Kinderverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Sokka se plaas |
|
Publikasiedatum |
1933 |
|
ISBN |
(sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
|
Literêre vorm |
Kinderverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Jong dae: ’n meisies-storie |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
|
Literêre vorm |
Tienerfiksie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Karlien en Kandas |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0624006557 (hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Kinderverhale op rymvorm |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
1970 Tienie Holloway-medalje vir Kleuterlektuur |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Na vaste gange |
|
Publikasiedatum |
1944 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
|
Literêre vorm |
Prosa |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Drie vertellings |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
|
Literêre vorm |
Prosa |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Hertzogprys 1953 vir al haar prosawerke, meer bepaald haar sketse, kortverhale en vertellings |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Uit en tuis |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
|
Literêre vorm |
Sketse wat in Die Burger en Huisgenoot verskyn het |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Hertzogprys 1953 vir al haar prosawerke, meer bepaald haar sketse, kortverhale en vertellings |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die eindelose waagstuk |
|
Publikasiedatum |
1948 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
|
Literêre vorm |
Prosa |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Hertzogprys 1953 vir al haar prosawerke, meer bepaald haar sketse, kortverhale en vertellings |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die gewers |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0624008614 (hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Sketse |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Hertzogprys 1953 vir al haar prosawerke, meer bepaald haar sketse, kortverhale en vertellings |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Kwartet. Saam met Ina Rousseau, Elisabeth Eybers en Henriette Grové |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikb |
|
|
Publikasie |
Die tweeling trek saam (’n Verwerkte uitgawe van Kinders van die Voortrek) |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0624018105 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Kinderverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
1962 Scheepersprys vir Jeuglektuur |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Kom nader: ’n keur uit die werke van MER. Saamgestel deur Alba Bouwer, Audrey Blignault en Rykie van Reenen |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
|
Literêre vorm |
Prosa |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Vroue wat Jesus geken het |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0624009297 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Christelike lektuur |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
So is onse maniere |
|
Publikasiedatum |
1965 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Sketse wat van 1926 tot 1941 in Die Burger en Die Huisgenoot verskyn het |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
My beskeie deel: ’n outobiografiese vertelling |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0624003213 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Outobiografie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Van naby gesien: ’n keur uit die kortkuns van MER. Saamgestel deur Elize Botha |
|
Publikasiedatum |
1975 |
|
ISBN |
0624007081 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Kortverhale en essays |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Familiegesprek: briewe aan haar dogter |
|
Publikasiedatum |
1976 |
|
ISBN |
0624009378 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Briewebundel |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
’n Kosbare erfenis: briewe van MER, 1916–1975 saamgestel deur Alba Bouwer, Anna Rothmann en Rykie van Reenen |
|
Publikasiedatum |
1977 |
|
ISBN |
0624010562 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Briewebundel |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
MER versebundel. Musiek deur Awie van Wyk en saamgestel deur Carl Lohann |
|
Publikasiedatum |
1985 |
|
ISBN |
0868160695 (hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Juventus |
|
Poësie |
|
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasies oor MER
- Jordaan, HP. 1949. MER as skryfster. MA-verhandeling, Universiteit van Kaapstad
- Marais, Guillaume: 1992. MER se beskouing van die Afrikaner en Afrikanernasionalisme, vergeleke met die beskouinge van NP Van Wyk Louw, JJ Degenaar en JC Steyn. DLitt et Phil-proefskrif, Universiteit van Pretoria
- Olivier, Dorathea Maria. 1982. Die skool van MER in die prosa van vernuwing. MA-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika
- Steyn, JC: Die 100 jaar van MER. Kaapstad: Tafelberg, 2004. [ISBN 0624042197 (hb)]
- Aucamp, Hennie: MER se sterfwoorde. Die Burger, 7 Junie 2004
- Hugo, Daniel: Die 100 jaar van MER. Volksblad, 21 Junie 2004
- Olivier, Fanie: Steyn se MER-biografie stem tot nadenke oor “onse maniers”. Beeld, 19 Julie 2004
- Viljoen, Louise: Die 100 jaar van MER. Rapport, 13 Junie 2004
- Streicher, Wilhelmina. 1989. Die prosa van MER in sosiokulturele konteks. MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria
MER as vertaler
- Badenhorst, Alie: Tant Alie van die Transvaal: dagboek van Alie Badenhorst. Kaapstad: Nasionale Pers, 1939
- Chubb, Elsie Mary: Ons liggame en hoe hulle werk. Londen: Longmans, 1927
- Mackenzie, Ella:
-
- Kammastories. Kaapstad: NPB, 1927, 1930, 1933, 1937
- Die sprinkaanvoëls en ander verhale. Kaapstad: NPB, 1948
-
MER as redakteur
- Rothmann, Frederik Lindenberg: Oorlogsdagboek van ’n Transvaalse burger te velde 1900-1901. Kaapstad: NPB, Tafelberg, 1947, 1976 (inleiding en aantekeninge deur MER) [ISBN 0624008606 (hb)]
-
- DWK: Oorlogsdagboek van ’n Transvaalse burger te velde 1900–1901. Koers, Augustus 1948
- Scholtz, GD: Oorlogsdagboek van ’n Transvaalse burger te velde 1900–1901. Huisgenoot, 5 November 1948
- TNH: Oorlogsdagboek van ’n Transvaalse burger te velde 1900–1901. Kerkbode, 18 Mei 1949
- Vulpen: Oorlogsdagboek van ’n Transvaalse burger te velde 1900–1901. Taalgenoot, September 1948
-
MER as samesteller
- Geyer, Anna: Briewe uit Highveld: mev Anna Geyer se briewe uit Londen aan haar dogter 28 Mei 1950 tot 3 Junie 1954. Kaapstad: Tafelberg, 1965
-
- Behrens, Louise: Briewe uit Highveld . Die Bondgenoot, Desember 1965
- Du P, PH: Briewe uit Highveld. Kerkbode, 20 April 1966
- Muller, Elise: Briewe uit Highveld. Huisgenoot, 10 Desember 1965
- Van der Walt, PD: Briewe uit Highveld. Taalgenoot, Februarie 1966
-
Artikels oor MER beskikbaar
- Afrikaanse skryfster en die Boere-baasverkenner. Die Burger, 11 Maart 2000
- Antonissen, Rob: Konfrontasie van oud en jonk. Standpunte, Desember 1953
- Bekroon [hoofartikel]. Huisgenoot, 14 Augustus 1953
- Bekroon deur Akademie. Ons Eie Boek, 1953
- Blignault, Audrey: MER – die gewer. Sarie Marais, 19 Augustus 1959
- Boerneef: ’n Huldeblyk aan MER. Huisgenoot, 1 September 1950
- Botha, Elize: Verandering “moet in hart plaasvind”. Die Burger, 17 Julie 1992
- Bouwer, Alba:
-
- Alba Bouwer vertel hoe sy MER ontmoet het. Die Burger, 18 Mei 1994
- Scheepersprys toegeken. Huisgenoot, 30 Junie 1961
-
- Breed, Monica: MER. Landbouweekblad, 6 September 1950
- De Villiers, AE: Mev ME Rothmann. Huisvrou, 12 Februarie 1952
- Dekker, Gerrit:
-
- MER negentig jaar. Standpunte, Augustus 1965
- Sy verdien meer waardering. Huisgenoot, 1 September 1950
-
- Die Burger: Hoofartikel met ME se 75ste verjaardag. Die Burger, 28 Augustus 1950
- Erepenning aan mev ME Rothmann oorhandig. Handhaaf, Februarie 1966
- Fourie, Petronel: MER: Afrikaans se baanbrekersvrou. Maroela Media, 25 Augustus 2025
- ’n Gelukkige oudag. Naweekpos, September 1955
- Goldblatt, Sarah:
-
- ’n Groot vriendskap tussen twee groot mense [MER en CJ Langenhoven]. Sarie Marais, 19 Augustus 1959
- Maria Elizabeth Rothmann. Huisgenoot, 12 November 1965
-
- Hertzogprys toegeken. Fleur, 16 Augustus 1953
- Hiemstra, LW: Kennismaking met MER. Huisgenoot, 28 Augustus 1959
- Jordaan, Helena P: Die “hoofdrang” in die werk van MER. Standpunte, Oktober 1950
- La Cock, Dirk: Die werk van MER: Huisvrou, 1 Maart 1949
- Lategan, FV: Scheepersprys vir jeuglektuur toegeken aan ME Rothmann. Jaarboek van Suid-Afrikaanse Akademie, 1961
- Lategan, Leana: MER: G’n beskeie deel! OuLitNet
- Louw, Anna M: MER. Byvoegsel, 23 Augustus 1958
- Maria Elizabeth Rothmann (Wikipedia)
- MER net so tuis in Engels as in Afrikaans. Die Burger, 9 Augustus 2005
- Nienaber-Luitingh, M: Die vertellings van MER. Standpunte, Mei–Desember 1957
- Ons huldig MER. Brandwag, 19 Augustus 1955
- Ons wens MER geluk. Huisvrou, 29 Augustus 1950
- Opperman AJ: MER eietydse raadgewer en baanbreker. Netwerk24, 29 Desember 2025
- Rive was seël vir MER goedgesind. Die Burger, 11 Februarie 1975
- Ronel (pseud): Die alombeminde MER 85 jaar. Brandwag, Oktober 1960
- Scheepersprys toegeken. Sarie Marais, 24 Mei 1961
- Schoonees, PC:
-
- Hertzogprys aan ME Rothmann. Tydskrif vir Wetenskap en Kuns, Oktober 1953
- ME Rothmann. Ons Eie Boek, September 1948
-
- Skepping vir haar ’n sielevreugde. Transvaler, 8 September 1975
- Smith, Charles:
-
- NALN gedenk dood van “volksmoeder” van letterkunde. Volksblad, 8 Augustus 2000
- Uitstalling gedenk dood van beminde skrywer. Die Burger, 9 September 2000
-
- Soberheid en menseliefde. Naweekpos, Februarie 1956
- Steinmair, Deborah: Jaap Steyn oor MER: “’n kombinasie van die deursneehuisvrou en die intellektueel”. OuLitNet, 1 Junie 2004
- Steyn, JC:
-
- MER “tweelingsuster” van Genootskappers. Die Burger, 27 Augustus 2005
- Vrou van staal. Rapport, 7 Maart 2004
-
- Tredoux, Elizabeth: Boeke van MER. Sarie Marais, 26 Augustus 1953
- Van Bart, Martiens: Komnader herstel, word sentrum, MER vereer. Die Burger, 9 September 2006
- Van Reenen, Rykie: Berge versit en harte verower: MER se lewe van diens aan haar volk. Die Burger se Saterdagse Byvoegsel, 26 Augustus 1950
- Van Reenen, Rykie: MER takseer dr Erika [Op die randakker]. Rapport, 30 Mei 1976
- Verwoerd, Betsie: Oor kuier by MER. Beeld, 7 Augustus 1979
- Vriende van NALN: MER 150. Facebook, 28 Augustus 2025
- Wybenga, Gretel: MER: “Reg op ereplek” as kinderboekskrywer. Literator, 31 Julie 2004
MER se 100ste verjaardag
- 1e kunstenaar in SA vier haar eeufees. Transvaler 29 Augustus 1975
- Aucamp, Hennie:
-
- MER se lewe gerig deur “Een ider nasie het sy [sic] taal”. Volksblad, 28 Augustus 1975
- Simbool van Boere-adel. Die Burger, 28 Augustus 1975
-
- Authoress turns 100. EP Herald, 29 Augustus 1975
- Bouquets stream in as writer turns 100. Daily Dispatch, 29 Augustus 1975
- Bruintjie en sy biograaf. Beeld, 28 Augustus 1975
- Dankbaar as ons aan MER dink. Transvaler, 25 Augustus 1975
- Dié is kostelike herinneringe: hoogtepunte van SAUK. Oosterlig, 3 September 1975
- Doen iets aan dié woestyn [oor hoorbeeld]. Die Burger, 2 September 1975
- Dose vol telegramme vir MER. Volksblad, 28 Augustus 1975
- Dr Rothmann is vandag honderd. Suidwester 28 Augustus 1975
- Du Plessis, ID: Verjaardaggroet aan MER, ’n vrou honderd. Die Burger, 28 Augustus 1975
- Esterhuyse, Frans: Feature on MER highlight. The Argus, 29 Augustus 1975
- Flowers as MER turns 100. Rand Daily Mail, 28 Augustus 1975
- Geluk MER, sê NP. Transvaler, 28 Augustus 1975
- Hele dorp sing vir TaMiem. Oosterlig, 29 Augustus 1975
- Honderd jaar [hoofartikel]. Beeld, 28 Augustus 1975
- Le Roux, Yvonne: MER 100 – haar groot vreugde is om te gee. Vaderland, 28 Augustus 1975
- Man en muis vier MER se eeu. Die Burger, 27 Augustus 1975
- MER: “why fuss – I‘m only 100?” The Cape Times, 29 Augustus 1975
- MER 100 [foto]. Natal Mercury, 29 Augustus 1975
- MER 100 [hoofartikel]. Die Burger, 28 Augustus 1975
- MER en die fris boeremeisies. Beeld, 28 Augustus 1975
- MER is 100. Beeld, 28 Augustus 1975
- MER met sang gehuldig. Die Burger, 8 September 1975
- MER slaap, dorp bring eer. Volksblad, 28 Augustus 1975
- MER swak op 100ste verjaardag. Die Burger, 29 Augustus 1975
- MER – top Afrikaans author – 100 today. The Argus, 28 Augustus 1975
- Miemie Rothmann [hoofartikel]. Die Burger, 28 Augustus 1975
- Noted author 100 today. Pretoria News, 28 Augustus 1975
- Ons eerste redaktrise word honderd jaar oud. Die Burger, 27 Augustus 1975
- Preller, Louis: ’n Hoorspel om weer na te luister. Beeld, 2 September 1975
- SA writer 100 today. The Cape Times, 28 Augustus 1975
- Die skepping wat vir MER vreugde gee. Hoofstad, 28 Augustus 1975
- Swellendam author turns 100. The Cape Times, 21 Augustus 1975
- Ta’ Miem se 100 op Kamera Een. Beeld, 28 Augustus 1975
- Van Heerden, Johan: MER – ons bring hulde. Tempo, 29 Augustus 1975
- Van Reenen, Rykie: Dalk op pad, Miss Anna? [Op die randakker]. Rapport, 31 Augustus 1975
- Wondervrou word landwyd vereer. Transvaler, 25 Augustus 1975
- Writer is honoured. The Argus, 29 Augustus 1975
MER se afsterwe
- Authoress MER dies. Daily Dispatch, 8 September 1975
- Bouwer, Alba: Dankie, TaMiem. Die Burger, 8 September 1975
- Dagboeke van MER aan Staatsargief. Volksblad, 25 November 1975; Die Burger, 21 November 1975
- Funeral in hometown for MER. The Argus, 8 September 1975
- Honderde by MER se graf. Vaderland, 11 September 1975
- Kranse word gelê by MER se graf [foto met onderskrif]. Die Burger, 21 Augustus 1976
- Lambrechts, HC: MER-fonds vir navorsing [brief]. Oosterlig, 31 Oktober 1975; Die Burger, 30 Oktober 1975; Transvaler, 1 November 1975; Rapport, 9 November 1975
- MER [in memoriam]. Transvaler, 9 September 1975
- MER [in memoriam]. Die Burger, 8 September 1975
- MER dies after six-week illness. The Cape Times, 8 September 1975
- MER het baie gegee, maar min nagelaat. Volksblad, 24 September 1975
- MER môre sonder ’n blom ter ruste gelê. Transvaler, 9 September 1975
- MER sterf stil aan haar huis. Oosterlig, 8 September 1975
- MER stil tuis oorlede. Transvaler, 8 September 1975
- MER toe tog op koeverte vereer. Rapport, 12 Oktober 1975
- MER-fonds vir studente. Volksblad, 3 November 1975
- TaMiem het nie veel nagelaat. Oosterlig, 24 September 1975
- Talle treur oor MER. Oggendblad, 9 September 19975
- Tribute is paid to MER. The Argus, 11 September 1975
MER se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2012-05-17 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bronne
- 1973. Gesprekke met skrywers. 3. Kaapstad: Tafelberg
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
- MER. 1972. My beskeie deel: ’n outobiografiese vertelling. Kaapstad: Tafelberg
- Steyn, JC. 2004. Die 100 jaar van MER. Kaapstad: Tafelberg

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


