Hierdie mentorsterugvoer vorm deel van die LitNet | STAND-teaterresensieslypskool. Die tien deelnemers skryf elkeen ’n resensie waarop die mentors dan terugvoer gee. Daarna gaan hulle kans kry om weer aan hul resensies te werk, nog terugvoer van die mentors te ontvang en dan hul resensies finaal af te rond.
Hier is die eerste terugvoer op weergawe 1 van Paul Kammies se resensie.
Terugvoer: Wayne Muller
Resensering het ten doel om kuns te evalueer binne die konteks waarin dit geskep is – dus, hoe is dit relevant tot ons mense en ons era? Jou resensie doen dit en is goed geskryf. Jy begin met ’n uiters prikkelende inleiding wat ’n mense dadelik wil laat verder lees en meer uitvind oor hierdie toneelstuk.
Wat volg, is ook ’n goeie ontleding van die tema en konteks van die stuk en hoe die karakterisering en storielyn iets sê oor ons as mense binne universele sisteme. Daar is selfs meer konteks wat jy kan gee oor sulke teaterstukke wat gevangenskap binne die Suid-Afrikaanse (en selfs spesifiek bruin) samelewing uitbeeld en daaroor besin.
Jy skryf baie oor die tema en die teks self, maar relatief min oor hoe dit hier op die verhoog gestalte kry. Hoewel jy later iets daarvan sê, kan dit meer aandag kry. Dalk kan die tematiese bespreking effens korter wees om plek te maak vir dit waaroor die leser nog sal wonder: Is dit ’n goeie toneelstuk? Speel die akteurs hul rolle goed? Is hierdie opvoering my tyd werd?
Rakende die aanhalings in die teks: Slegs die laaste een is regtig relevant vir die resensie self. Die ander aanhalings voel lukraak en onderbreek eerder jou resensie. Bygesê, meestal het die resensent nie toegang tot ’n teks om dit te lees en te verstaan nie – ons gaan kyk nuwe teater soos enige ander gehoorlid en ons ervaring daarvan is al verwysingsraamwerk wat ons het. En dít is die perspektief van waaruit jy moet skryf, nie die posisie waar jy as resensent die voorreg het om vooraf ’n teks te lees of te kry nie, want dit gaan nie in die praktyk gebeur nie. (Kanoniese tekste is natuurlik ’n ander saak, want dis gepubliseer en ingeburger.)
Dit is goed om Afrikaaps te lees, maar jy sal hierdie teks verder moet redigeer. Soms gebruik jy onnodige Standaardengelse woorde wat nie klink na hoe ons Afrikaans en Engels vervleg nie. Uiteraard is die idee nie om Afrikaaps te standaardiseer nie – dis immers gebore uit ’n terugdruk teen (histories en polities) gestandaardiseerde Afrikaans – maar jy sal moet konsekwent wees in jou teks, anders raak die betekenis weg. In jou eerste paragraaf skryf jy “issi”’ en “issie” (wat dieselfde beteken) teenoor “isse” (wat “is ’n” beteken) – kyk dus daarna, bloot om dit vir jou leser makliker te maak om jou te volg.
Terugvoer: Mercy Kannemeyer
Paul Kammies het duidelik tyd geneem om Tsekmate in te neem en daaroor te gaan besin, en tóé pen op papier gesit om die resensie te skryf. Kammies deel met die leser ’n diepe verstaan van die materiaal.
Struktureel staan die resensie uit. Sterk. Duidelike besluite is geneem oor hoe om die resensie te struktureer, waarop om te fokus, en hoe om die stellings wat in die resensie gemaak word, te kwalifiseer. Ons kry genoeg inligting oor die agtergrond van die stuk, die spelers wat uit die Stellenbosse Dramadepartement kom, sowel as die temas waarmee hierdie jong spelers besluit het om om te gaan.
Die resensent toon ook ’n duidelike verstaan van teater. Dis verfrissend om ’n resensie te lees wat nie net woepswaps aanmekaargeslaan is met netjies afgeronde woorde nie. Hierdie resensie deel met die leser die emosie wat die verhoogstuk met die gehore gedeel het.
En dankie tog dis in Kaaps geskryf. Ek lees graag nog resensies deur Paul Kammies!
Lees ook:
LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool 2023 | Theatre review workshop 2023