Mense wat my liefhet
Mense wat my liefhet
kabbel teen my vas
soos water wat rimpel
op die ou Matlabas
Wanneer ek verse skryf
langs hierdie mooi rivier
is die mense wat my liefhet
almal om my hier
En wanneer ek vermoeid is
hou hulle my arms omhoog
soos die volk vir Aäron
in elke song en dialoog
Hulle bring vir my sandale
waar ek oor Arabiese duine dwaal
Laat my onvoorwaardelik toe
om my nalatenskap te haal
Hulle omgee is wyd en oop
soos vlaktes van die mooi Karoo
Hulle liefde ontkiem so hartlangs
soos katbos en kambro


