mens, garneer jou prioriteite: ou skeepvaartgebruik

  • 0

Foto: Canva.com

mens, garneer jou prioriteite: ou skeepvaartgebruik

dié besorgdheid oor die vrag 
voor jy van die kaai loskom 
kom uit baie eeue se ervaring 
hoe wins weg deur vingers glip – 
Feniciërs Achajers Aleksandryne Nipponese 
Romeine Nore vaarders van die Taag en van Biskaje Britte 
Hollanders en dié soort voorvaders het garnering toegepas – 
(tot by die wêreld-yk van staal se selbehouering) 
hier kom dit egter uit die verlede nou 
(aanstons blyk die rede ook):

plaas stukke hout of matte 
sakke of ander gepaste materiaal 
tussen skeepslading en binnebodem 
of hier tussen die sye en die verbanddele 
ook tussen die verskillende soorte vrag 
daar of daar 
op enige ander nodige plekke 
(dink binneboudbeskerming dink ’n boot se dye)

ontsien niks wat voor die hand lê en voorkom so 

waterskade         roesskade 
sweetskade         vlekskade 
skuurskade         stofskade 
breekskade         bytskade

of ’n nare vermenging van ware 
tussen daardie hawe en hierdie hawe

behalwe nou: die eintlike eksepsie – 
(met eeue se ervaring van geen garnering 
dit weet die meeue) 
– vir ’n skeepsvrag 
bestaande bloot uit ’n klomp slawe

  • (met dank aan die WAT, deel 3)                               
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top