Meneer die President, waar is die gelykheid?

  • 0

Geagte president Cyril Ramaphosa

Waar is die gelykheid?

Ek het nie saam geveg in 1994 nie. Ek het nie in tronke gesit of in die strate geveg vir vryheid nie. Maar ek het geglo in dit waarvoor daar geveg is. 

Ek het geglo dat die stryd wat u, die ANC en Nelson Mandela gevoer het, vir gelykheid was.

Maar vandag voel dit asof daardie idee van gelykheid verlore is.

Gelykheid is nie net velkleur nie.

Gelykheid is nie net stemreg nie.

Gelykheid is hoe mense leef.

Was die stryd teen apartheid bedoel om ’n nuwe elite te skep, ’n groep wat bo die swaarkry van die land leef, terwyl die mense onder hulle al die laste moet dra? Of was dit bedoel om ’n land te bou waar daar gelykheid is?

Waarom sit lede van die parlement in groot huise, met beskerming en voordele, terwyl miljoene mense, van alle rasse, in plakkershutte, oorvol woonstelle en vervalle dorpe oorleef?

Kinders word in gemeenskappe groot waar alles om hulle verbrokkel, waar paaie vol slaggate is, waar water opdroog, waar ligte afgaan, waar skole en hospitale stadig verval. Hoe kan dit geregverdig word in ’n land waar daar geveg is vir gelykheid en menswaardigheid?

Is die stryd vir ’n beter toekoms iewers langs die pad vervang met mag en selfverryking?

Was ons simpel om te dink dat leiers wat self swaarkry geken het, nooit sou vergeet hoe dit voel nie? Dat hulle nooit sou toelaat dat ’n nuwe generasie kinders dieselfde stryd moet dra nie?

Ons betaal belasting. Ons betaal baie.

Ons betaal, selfs wanneer daar min oorbly.

Maar wat kry ons terug?

Paaie wat uitmekaar val.

Dorpe van verbrokkel.

Dienste wat nie werk nie.

En korrupsie wat aanhou, sonder ware gevolge.

Waar is die gelykheid daarin?

Ek vra dit eerlik: Sou die mense wat destyds geveg het vir gelykheid, trots wees op hierdie werklikheid? Sou Nelson Mandela gesê het: "Ja, dit is hoe gelykheid lyk"?

Gelykheid beteken dat almal, ongeag ras, nie honger gaan slaap nie, dat mense wat werk, kan leef, dat leiers nie leef in luuksheid terwyl hulle land verbrokkel nie.

Waar is die gelykheid?

Met rou eerlikheid en ’n laaste stukkie hoop

Ingrit Erwee

Lees die ander briewe hier:

Wat wil jy vir Cyril sê? Wen ’n geldjie met jou antwoord.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top