Jan Engelen is dood; ’n formidabele talent is weg. Daar word nou in die bos neffens my gekap. Dít laat my ver terugdink ...
Ek en Jan het in 1972, as nuwelinge, saam by die destydse TRUK (Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste) begin en in ’n hele paar opvoerings goed én lekker saamgewerk.
Die eerste daarvan was The Fantastics – ’n wonderlike musiekblyspel wat vir 57 jaar (tot 2017) op Off-Broadway te siene was! Die bekendste liedjie daaruit is sekerlik “Try to remember”. Jan se vertolking daarvan was hoendervleismooi, onthou ek. Hy het altyd gespot en gesê: "My kleutersangonderwyseres het hoeka destyds gespot dat Engelen die regte van vir my was, omdat ek ’n stem soos ’n engeltjie gehad het ... natuurlik voor dit gebreek het!"
Onthou, ja ... Jan Engelen, Tobie Cronjé as pianis (!), op één klavier, met ’n uiters ingewikkelde partituur oorspronklik geskryf vir twéé klaviere. Die arme man het bloed gesweet, onthou ek. Eckhard Rabe, Franz Dobrowsky (oorlede), Sue Kiel, Nicholas Ellenbogen, Nigel Vermaas, Will Bernard (oorlede) en ek. Ken Leach was die regisseur en Boris Cohen die musiekregisseur. Dit was TRUK se Jeuggeselskap se eerste opvoering. Interessant genoeg was vyf van ons (ek, Sue, Nicholaas, Will en Ken) produkte van UK se Dramaskool.
Ons het die Transvaalse platteland daarmee deurkruis. Daarna het ons ook, vanaf Walvisbaai in die suide tot Ondangwa in die noorde, vir die destydse weermag heel aan die begin van die Grensoorlog opgetree ... Ja, ons het die "Forces" in “Nam” ge-entertain!
Max Frisch se Andorra het gevolg, met Truida Louw die regisseur. Ek, Jan en Zach du Plessis was drie jong rowwe manne. In ’n gevegstoneel het Jan se kennis van die skermkuns goed te pas gekom, want fyn voetwerk en tydsberekening was van kardinale belang.
Daarna (1973) was dit Babbelkous en bruidegom (Robert Thomas se La Perruche et le Poulet) uit die Frans vertaal deur Jan se ma, die aktrise Tine Balder. Anna Neethling-Pohl het dit “verafrikaans” en Truida Louw was weer die regisseur. Ons het ver oor die honderd opvoerings van dié komedie-riller gehad. Daar was eers ’n uitverkoopte vierweekseisoen in die ou Breytenbach-teater, toe die Alexander-teater in Johannesburg, die ganse Transvaalse platteland, die Playhouse in Durban, en daarna wéér die Breytenbach-teater.
So op toer, en met soveel herhalings van een stuk, leer mens jou medespelers werklik ken. Jan wás ’n individualis, maar ook ’n spanmens soos min.
Heelwat later was ons ook, in die vroeë jare ’90, as oorklankingsregisseurs én stemkunstenaars kollegas by Johan van Jaarsveld se Quantum Ateljees in Kaapstad. Wie onthou nog die animasiereeks Die Moemins? Benewens regie was Jan die karaktertjie Stinkie se stem, myne dié van Moepappa. Lang ure se saamwerk in ’n opname-ateljee kan nogal mens se kollegialiteit beproef. Jan was altyd professioneel, entoesiasties en hoogs kreatief.
My verbintenis met die Engelen-familie loop egter heelwat verder terug. Ek het Jan se pa, die legendariese Fred Engelen, in 1955 as agtjarige ontmoet toe hy die gasregisseur by die UK se Kleinteater was, op uitnodiging van Donald Inskip, die destydse dramaprofessor daar. Fred het die regie van Die koopman van Venesië (DF Malherbe se vertaling) gedoen. My pa (Kobus van der Colff) was Antonio. Ander ou bekendes in daardie produksie was onder andere Hermien Domisse, Pieter Bredenkamp, Pietro Nolte, Paul Malherbe en Louw Verwey. Mavis Taylor (later bekende regisseur en professor in drama te UK en een van my dosente) het die kostuums ontwerp. Fred Engelen se stem (met ’n wonderlike Vlaamse aksent) en dinamiese persoonlikheid het ’n blywende indruk op my jong agtjarige gemoed gemaak.
Daarna, in die vroeë ’60's, het Fred Engelen professor in drama op Stellenbosch geword, tot sy ontydige dood vroeg in 1967. Hy het diep spore daar getrap. Sy vrou, Tine Balder (Clémentine Cobbaut), was aanvanklik sy regterhand in die departement. Sy het die garderobe bestuur, klas gegee in toneelspel én ’n poppekasteater op die been gebring. Daarna het sy vir ’n klompie jare by die destydse KRUIK (Kaaplandse Raad vir Uitvoerende Kunste) aangesluit.
Toe ek en Jan by TRUK aangesluit het, was sy ma, Tine, ’n lid van die hoofgeselskap. Haar vertolking van die rol van Ma in Siener in die suburbs was ’n absolute kragtoer.
Tine is kort daarna (1973) terug België toe en het (weer) lid geword van die Koninklike Nederlandse Skouburg. Sy leef nog en woon in Antwerp.
Met Jan Engelen se dood het ek met ’n skok weer besef dat ons vlietende teaterberoep (soos die lewe meestal) goed opgesom is in Macbeth se bekende woorde:
Life's but a walking shadow, a poor player
That struts and frets his hour upon the stage
And then is heard no more: it is a tale
Told by an idiot, full of sound and fury,
Signifying nothing ...
Die Shakespeares, Beethovens en Einsteins van die wêreld leef voort in hulle monumentale werke. Ons gewone sterflinge leef alleen voort (dalk) in ’n klompie joernale en die (oor)lewendes se kortstondige geheues.
Of rage and remembrance
Johan Myburgh
Simfonie no 1, John Corigliano
Die deur maak oop op ’n party
aan huis van ’n galante paar.
Musiek dra gaste deur ’n portaal,
deur etlike vertrekke waar
mense ritmies dans, bolangs
gesprekke voer, uitgelate lag,
koketterig flankeer; deur skuifdeure
tot buite in die nag,
tot op die terras waar uitgelate
gaste – dié wat om die dood
ongenooid bly – skaduwerig
teen mure beweeg soos groot
akkedisse. Dieper in die tuin
is ’n klavier besig om veraf en flou
die hunkerende melodie
van Albeniz se tango te onthou.
Maar, Jan Engelen kon ’n verskil maak, en het dit ook gedoen. Voluit lééf én sy talente optimaal benut, soos hy gedoen het, was sy antwoord op Macbeth se sinisme.
Rus in Vrede, Jan.
Foto: Facebook
Kommentaar
Marko, Jan was my vriend van die eerste dag wat hy in my standerd sewe klas in Paul Roos-Gimnasium aangemeld het. Die klong met die snaakse uitspraak en iemand wat ons Nederlandse voorgeskrewe boek "Towerlantaarn" so mooi kon voorlees in die klas. Ek het op ’n plaas buite Stellenbosch gewoon en hy het gou-gou by my kom kuier per fiets en dan het ons forelle in die Eersterivier gevang. Jan was 'n natuurmens en saam het ons die berge rondom Stellenbosch uitgeklim en menige kere per fiets Strand toe gery tot soms twee keer per dag! Jan was baie verbaas oor die "kadette wat ons moes doen op Vrydae en kon nie verstaan waaroor die gegaan het nie. Hy was baie lief vir sport, soos jy sê skermsport was na aan sy hart en tot op gevorderde ouderdom het hy deelgeneem. Goeie sokkerspeler ,maar my sport rugby was bo die vinnige Belg se vuurmaakplek. Hy het dit snaaks gevind. Goeie 100-meter-atleet op skool ook. Saam het ons na meisies begin loer, ek te skaam ,maar hy het baie selfvertroue gehad. Toe ek uiteindelik een kry het hy gesê ek sal haar maar moet hou, wat ek ook gedoen het en vandag nog met haar getroud is en ons twee se families was en is steeds vriende tot Jan se dood, onlangs. Wat 'n wonderlike pa vir sy kinders was hy nie, en so lief vir sy vrou. 'n Vriend sonder weerga, 'n man soos jy min kry. Wees gegroet Jan.
Baie dankie vir julle mooi woorde, Marko en Pieta. Ons mis hom intens.
Treffende woorde, blywende indrukke en diep "voetspore" bly van 'n waardige mens. Dankie Marco.
Sopas terug uit die buiteland en nou dié nuus! Ja, Gesin Engelen se spore lê diep en nie die minste dié van Jan nie. Dankie vir jou memoriam, Marko, dit het ook konteks aan Jan se bydrae verleen. ''... ons sluit nou hierdie dag''. J
Daar is een jaar verby. Ons dink baie terug aan jou, my vriend. Verlede week ons 55 jaar reunie van matriekklas gehad en baie oor jou gepraat. En gelag!
Hi, ek was ook versot op die reeks, woon nou in Duitsland en wil dit graag met my dogter deel. Ek stel rêrig belang wie al die stemme agter die karakters was, want nou hier, na 'n lange soektog, het ek ten minste twee stemme gevind. So enige een wat wie al die stemme agter die karakters in Afrikaans was? Ek waardeer dit ten sterkste.