Memor Patris

  • 0

Die borde het gewag op brood

as kind identifiseer sy met die lelike eendjie
maak stories op oor die swaan se gebreekte nek
laat die reus die vermetele jan
aan die hakskeen vang
voor hy afglip by die boontjierank

sy dra pantoffels en koppies tee aan
sy bring saterdae deur met onkruid uittrek
haar blonde susters by die swembad
waar die rugbyspan kom braai

sy memoriseer haar pa se geskiedenisboeke
veg saam met hom in die voorste linies
hulle deel loopgrawe teen die kakies

sy hou boek van haar sakgeld
vir sy syfervratige brein
teken alles in kolomme aan
deodorant lekkergoed
pa se gunstelingtabak
sjokolade

op sy sterfbed omring deur familiefoto’s
van susters en ewe blonde kleinkinders
wys sy vir hom haar plakboek
hoe sy die goue gans najaag
maar met sy laaste handveeg
waai knipsels en briewe aan die pers
gryp hy na die foto’s
van susters op hul troudag
blameer haar dat sy nie
vir hom ’n seun kon wees nie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top