Memento mori

  • 3

Foto: Canva

Memento mori

Die wind wat oor die see by Josef Stander se houthuis inwaai, is skoon en koel en gee lewe aan die sonverligte ruimte daarbinne.

Die spierwit kelk van die vredeslelie wat op die boonste rak van die klein kiaathoutboekrak staan, wieg in die wieke. Die hen-en-kuikens wat van die dakkappe af hang, swaai heen en weer in hul plastiekhouers. Blompotte met verskillende spesies filodendron staan lukraak op die houtvloer uitgestal, en hul breë, donkergroen blare knik op en af soos die wind in die huisie kolk. Op die houtstoel langs Josef se enkelbed staan die Sint George se swaard in ’n swaar keramiekpot, sy skerp puntjies rittel effens. In die venster bo die klein erdewasbak is drie vetplantjies botstil in die son en bak.

Josef staan in die voordeur en kyk uit oor die ongerepte fynbosveld wat vlak voor sy huis uitspan. Anderkant die buiging van die Punt, sien hy die wit perde op die see.

Om die hoek van die huis kry Josef sy fiets. Dit is ’n ou silwer fiets wat die eerste eienaars van sy vorige huis in Claremont in die motorhuis agtergelaat het. Hyself het dit vir die eerste keer uit die garage gestoot toe hy die huis verkoop het.

Josef toets die bande met sy duim. Hy klim op die fiets en begin stadig trap.

Hy neem die smal paadjie deur die veld tot by ’n opening in die hoë draadheining waar hy dan op die teerpad klim.

Vroegoggend is dit stil op Kommetjie. Hier pak ’n kelner die stoele uit by ’n koffiewinkel wat binnekort oopmaak en daar sluit Hannes Beukman die kantoor van sy eiendomsagentskap oop. Sy aktetas hang swaar oor sy een skouer en hy lyk windverwaaid. Voor Hannes die kantoor binnegaan, stop hy in die deur en voel-voel beangs met sy een hand na iets in elke broek- en baadjiesak. Soos hy in die kantoor verdwyn, flikker die oranje liggies van sy blinkswart motor.

By die groentewinkel staan Josef eers op die stoep en wag. Hy is te vroeg by die huis weg en die deure van die winkel is nog gesluit.

Dit is warm teen die gebou wat die koel seewind keer, en Josef rol die moue van sy ou trui tot onder sy elmboë op. Aan die binnekant van sy skraal, beaarde voorarm, waar die vel wit en sag is, is ’n klein tatoeëermerk van ’n aandblom en twee kursiewe woorde in een van die blare. Die merk is oud en die woorde het oor tyd in mekaar ingebloei en onleesbaar geraak.

Annatjie beman die groentewinkel se toonbank. Haar donkerbruin, gekreukelde hande, met lang, knopperige vingers beweeg rats en foutloos oor die knoppies van die kasregister. Sy lui Josef se appels, geelperskes, druiwe en lietsjies; sy tamatie, uie, botterskorsie, murgpampoentjies en ’n pakkie gemengde neute op.

By die uie stop sy skielik.

“Wat gaan vanaand gebeur, Josef?” vra sy bekommerd. “Nuus op die dorp is dat hulle hul messe vir jou uit het en daai Mevrou Steenkamp loop die strate op en af en beswadder jou. Wat gaan jy maak? Het jy verteenwoordiging? Ek wil nie in die middel van die affêre wees nie, Josef. Ek bly vanaand by die huis. Hoekom maak jy nie vooraf ’n plan en gaan gesels met die vrou nie? Ek hoor sy is eintlik ’n redelike mens. Dit sal ook wys dat jy darem bereid is om jou deel in die saak te doen.” Sy wil voortgaan, maar Josef val haar in die rede.

“Moenie van my uie vergeet nie, Annatjie. Anders voeg hulle ‘groentedief’ by my klagstaat.” Josef glimlag skelm. Hy weet sy is nie net lief om haar ore vir skindernuus uit te leen nie, maar dat sy self ook maklik kan uitpraat.

Josef ry weer verby die eiendomsagentskap. Hannes staan buite en rook. Josef lig sy hand om te groet, maar toe Hannes hom sien, kyk hy anderpad, skiet die halfgerookte sigaret in die kliptuintjie en loop terug in die kantoor. Josef kyk hom ongedeerd agterna.

....

Die skoolsaal op Kommetjie is in twee verdeel.

Twee blokke stoele is netjies uitgepak, met ’n smal gangetjie tussenin, en heel voor in die middel, tussen die twee blokke, staan die mikrofoon. 

In die een blok sit omgekrapte inwoners styf teenmekaar ingeryg. Hulle het ontstoke daar aangekom en hul skuimerige mondhoeke wys af na die vuilgetrapte houtvloer van die saal. Die feit dat daar nie genoeg stoele aan hulle kant van die saal uitgepak is nie, en die lugversorger wat boonop stukkend is, dra tot die algehele ongure atmosfeer in die saal by.

Aan die anderkant sit Josef Stander. Die rye en rye stoele agter hom staan leeg. Hy kyk voor hom uit, dan op na die verhoog se dik wynrooi gordyn met sy stowwerige goue tossels. Hy volg die drapeersel weer af tot by ’n klein houtdeurtjie wat onder die verhoog ingaan. Wat is alles daarbinne? Die stoele is reeds uitgepak, die tafel, die tafeldoek; daar is nog twee tafels by die ingang van die saal agter teen die muur uitgepak, en teen die symure staan ook ’n paar tafels, pote ingevou; en in elke hoek van die saal staan ’n luidspreker. So wat anders kan onder die verhoog wees?

Op die verhoog sit die wykskomitee by ’n lang tafel met ’n vuil, roesbruin tafeldoek daaroor gehang. Die voorsitter van die wyk 61-wykskomitee, Karel Jonker, maak sy keel skoon en Josef kyk op.

“Goeienaand. Dankie dat u vanaand by ons aansluit,” begin hy. “Vandag se spesiale vergadering, op Woensdag 11 Februarie 2019, is geroep deur Mevrou Esta Steenkamp, voorsitter van die belastingbetalersvereniging vir subraad 19. Die enigste punt op die agenda sal deur haar hanteer word.” Hy vermy om die “enigste punt” uit te lees.

Terwyl hy afsak om te gaan sit, sê hy, “Mevrou Steenkamp,” en wys na die mikrofoon.

Van heelagter in die saal kom Mevrou Steenkamp by die gang tussen die twee blokke afgestap. Sy gee kort, vinnige treetjies en haar pienk hakskoene klik-klik-klik-klik teen die houtvloer. 

Esta is ’n kort, mollige vroutjie wat deur ’n ring getrek kan word. Haar grys hare maak netjiese, egalige golwe op haar kop en wip liggies soos sy aangestap kom.

Josef gaap haar aan.

“Dankie, Voorsitter,” begin sy selfversekerd. “Ek glo dat ek vanaand namens die hele gemeenskap praat. Die onregmatigheid van die saak is duidelik: Meneer Josef Stander woon wederregtelik in die Kaappunt Natuurreservaat.” 

Esta gee die eerste hou, neem ’n klein pouse en loer oor haar dun leesbrilletjie na die komitee op die verhoog.

Josef is bekommerd dat die brilletjie, wat op die punt van haar neus balanseer, gaan afval.

Haar feillose profiel is innemend: Van haar glansende voorkop, fyn neus en dun lippe tot af teen haar nek. Haar ligbruin oë is wakker en skertsend.

Josef mis ’n gedeelte van haar toespraak.

“... hoeveel mense gaan nie dieselfde idees kry nie?” sê sy vies en neem weer ’n oomblik.

“Laastens, die grond behoort aan die staat. Belastingbetalers, wat op erwe woon waarvoor hul getrou hul erfbelasting betaal, betaal dus vir sy gratis verblyf. 

“Meneer Stander se teenwoordigheid op die Punt is onregverdig teenoor die gemeenskap en kom botweg op oortreding neer.

“Ons eis dus dat die struktuur wat opgerig is, onmiddellik vernietig moet word en dat Meneer Stander uit die reservaat moet padgee. Dankie.”

Sy stoot die brilletjie met haar wysvinger terug op haar neus en knyp die dun pakkie dokumente weer onder haar arm vas. Sy draai om, sonder om in Josef se rigting te kyk, en stap terug in die gang af.

Hy kan nie help om vinnig om te kyk en haar vurige stappie dop te hou nie.

Karel Jonker kom net halfpad van sy stoel af op, maak ’n volgende afkondiging, en wys weer na die mikrofoon.

“Mevrou Vermaak. Jou bydrae, asseblief.” Hy sak weer in sy stoel.

Klara Vermaak is ’n skraal vroutjie, effens slordig. Haar swart hare, wat lank al reeds grys begin word het, hang los oor haar skouers. Sy dra leersandale, ’n ligbruin langbroek wat hoog bo haar middel sit, met ’n vuil, grys T-hemp daarin gesteek.

Haar stem is fyn en haar nek en wange slaan in bloedrooi vlekke uit toe sy begin praat. Sy lees haar insette wat sy op gekreukelde lyntjiespapier neergeskryf het, af.

“Dankie, Voorsitter,” sê sy skaam en kam met haar vingers ’n grysswart sliert uit haar gesig.

“Die Kaappunt Natuurbewaringsvereniging vra dat die stad Kaapstad die reservaat asseblief moet beskerm. Inheemse plantegroei in en om die stad word reeds deur die mens se bedrywighede bedreig.” Klara se stem bewe effens en sy kyk onseker op na die verhoog, bo-oor die koppe van die komitee. Sy verloor haar plek op die papier vir ’n oomblik. Sy draai na die gehoor aan haar een kant en sien hoe Esta haar met ’n beweging van haar hand aanhits om voort te gaan. Sy draai weer om en kyk vlugtig na Josef. Klara se oë is soekend en verwilderd.

Josef kry haar meteens innig jammer. 

Sy sal eerder elders wou wees. Hy sien Klara in haar element, waar sy in haar slordige tuin by die huis werk. Haar vingernaels bruin van die nat grond, besig om onkruid uit te trek. Hy sien haar taaibekkinders wat ’n waatlemoen in die son sit en eet. Hy sien ’n mildelike braafheid in haar oë. As daar meer mense soos Klara op aarde was, sou dit beter versorg gewees het.

“Dit is die stad se plig om die reservaat te beskerm en ons vra dat dit gedoen sal word, asseblief. Dankie,” rammel Klara vinnig af.

Karel se stoel raas teen die verhoog se vloer toe hy opstaan en die stoel met die waai van sy bene agtertoe skuif.

“Baie dankie vir die twee bydraes,” hy knik sy kop in die rigting van Klara, dan na Esta.

Karel tel die enkele vel papier waarop die agenda gedruk is van die tafel af op. “Volgende,” hy volg sy vinger soos dit met die lys af beweeg. Die lys is kort.

“Meneer Stander,” sê hy en gaan sit.

Voordat die voorsitter hom aan die beurt stel, spoel ’n vreemde gevoel deur Josef se verstand. Sy kop voel skielik dronk en hy moet sy oë toemaak om stilweg teen die gevoel te veg.  

“Meneer Stander,” probeer die voorsitter weer. Dit begin onderlangs te brom.

“Josef,” fluister Klara in sy oor. Sy hurk langs hom, haar hand op sy skouer.

Josef kom stadig uit sy beswyming, en toe hy sy oë oopmaak, is sy verstand helder.

Klara neem haar sitplek weer in en Josef staan op en gaan staan voor die mikrofoon.

“Dankie, Voorsitter.” Hy skuifel op sy voete rond en kry sy staanplek. “Ek sal môreoggend die Punt verlaat.” 

’n Gemor begin dadelik uit die gehoor uit opswel en Josef wag totdat dit weer stil word.

Karel slaan onseker met sy hand op die tafel. “Dames en here, dames en here!” Die gemor bedaar geleidelik. “Gee die man tog kans om sy saak te stel.” Dit raak stil in die skoolsaal en Josef neem weer sy plek agter die mikrofoon in.

“Ek het vanoggend reeds die suiwer suidewind, die see, die fynbos op my voorstoep en my huis gegroet. Vanaand sal ek my laaste groentebredie maak en dit op my stoep sit en eet. Ek sal die gesuis van die see in die verte hoor en die koel seebries sal my siel, soos soveel maal tevore, verkwik. Môreoggend sal ek weg wees.” Hy skuifel weer op die vloer.

“Vier jaar gelede was ek nog ’n werkende man in die stad en het ek, na die meeste mense se standaarde, ’n goeie lewe vir myself gemaak. Ek het ’n bedrywige lewe gelei, maar hoe meer ek my daarin verdiep het, hoe stywer het dit soos ’n gordel om my bors vasgetrek. Een aand het ek ’n droom gehad.”

Die gehoor raak weer kriewelrig, maar Karla wil hoor wat Josef sê en sy doen haar bes om die gehoor stil te maak. 

“Sjuut!” Rooi vlekkies vorm weer in haar nek en oor haar wange.

“Ek het gedroom,” gaan Josef voort, “dat ek in my slaapkamer is, in die huis wat ek op daardie tydstip in Claremont besit het. Dit was middernag en iets in ’n donker hoek op die vloer van die kamer het my aandag gebind. Ek het dadelik gevoel-voel vir die skakelaar van die bedlampie, dit probeer aanskakel, maar dit het donker gebly.

“My oë was gevries op daardie pikdonker hoek in my kamer. 

“Stadig uit die skadu het ’n dier nadergekruip. Blinkswart en glad soos metaal. Beangs het ek in sweet uitgeslaan en my hart het geweldig begin klop. Ek kon nie uitmaak of dit ’n soort skerpioen of ’n spinnekop is nie, maar dat dit nie van hierdie wêreld is nie, was ek seker. 

“Die hare in my nek het orent gestaan en ek kon nie beweeg nie. Ek het my mond oopgemaak om te gil, maar ek kon nie ’n geluid uitkry nie. 

“Skielik het die gedierte soos blits teen die gordyn opgeskarrel, op tot teen die plafon. Sy harde, metaalpote het gekrap en skerp kapgeluide teen die plafon gemaak.

“Ek het die monster se geskarrel gevolg totdat dit reg bokant my tot stilstand gekom het. 

“Voor ek kon keer, het dit op my gesig geval en ek het dadelik wakkergeskrik. Ek onthou nog sy gladde, swart pote wat om my kop gevou het en sy koue lyf oor my neus en mond.

“Die volgende oggend het die gordel om my bors stywer gevoel en ek het besluit dat ek moet wegkom om iewers asem te gaan skep. Hoe ek by die reservaat uitgekom het, is ek nie seker nie.

“Langs die voetpad op na die Punt was daar ’n gedenkplaat, dis nou nog daar, en ek stap vandag nog gereeld soontoe om dit wat daarop geskryf staan, te lees. Die plaat verduidelik kortliks dat die lug op Kaappunt die suiwerste lug ter wêreld is.

“Omdat daar na die suide, waar Kaappunt se wind vandaan kom, geen stede met fabrieke, motors, myne of mense is nie, is die lug onbesoedeld. Dit het my onmiddellik aangegryp en ek het die voetpad verder gevolg tot by die verste punt. 

“Ek het die lug diep ingeneem. Nie net die suurstof in my longe ingeneem nie, maar ek het die suiwer lug toegelaat om in my are in te vloei, om my verstand en my herinneringe binne te dring en om deur my weefsel te meander tot diep in my binneste in.” Josef neem weer ’n oomblik.

“Toe ek uitasem, het die gordel sy greep laat gaan.

“Ná oomblikke het ek weggestap en ’n klinkhelder gedagte, soos ’n gewaarwording, het in my opgewel. Asof uit die bloute.” Hy sit sy een hand op sy bors.

“Ek het besef dat ek oor niks, behalwe een, enkele ding seggenskap het nie. Ek het besef dat al wat ek werklik besit, al waaroor ek wesenlike eienaarskap kan kleim, is my lewe. Hierdie energie in my liggaam. Ek het aanvaar dat dit ’n lewe is wat gebonde aan tyd is. Maar dis myne. Mý lewe.”

Met sy vuis slaan Josef liggies teen sy bors.

“En ék sal besluit waar ek my tyd, of dit wat nog daarvan oor is, sal bestee.” 

’n Gewyde stilte daal oor die gehoor. 

Josef sug, effens te naby aan die mikrofoon, en dit weergalm in die saal.

“Ongelukkig het ek die meeste van my tyd aan ’n goedkoop wêreld verkoop, en ek probeer daagliks om nie daaroor spyt te wees nie. Dit sal my tyd net verder vermors.”

Josef Stander raak oorweldig en forseer sy laaste woorde uit.

“Bo alles is ek dankbaar vir die enkele jare, wat eintlik maar ’n onbenullige oomblik in tyd is, wat ek op daardie stukkie aarde kon leef.”

Josef draai weg van die mikrofoon en stap in die nou gangetjie af na buite.

Die stilte bly heers.

In die kleurvolle skemerlig ry Josef met sy silwer fiets terug na sy huis op die Punt. 

Dit is donker toe hy by die huis instap. Hy is onmiddellik bewus van ’n leë, donker ruimte wat voor hom uitstrek. Hy gaan staan vir ’n oomblik stil. Dan gee hy ’n versigtige tree vorentoe. Die vloerplanke kraak soos hy behoedsaam die leemte dieper binnegaan. Die houtdeur kreun boosagtig soos dit agter hom toeswaai.

Iewers in die donker is ’n beweging. Hy volg die krapgeluide van iets wat teen die muur opklouter. Die gekap en krap teen die plafon raak harder en harder en kom al nader.

Dis bokant hom.

Hy kyk op.

’n Weerkaatsing op die eksoskelet van ’n blinkswart ondier vang sy blik skielik vas.

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top