
Foto: Canva
Melodie van lag en trane
Vasgelyn aan ’n drup
– soos vis aan hoek –
pomp die gif in my aar
al druppende sy “nektar van verraad”
vloeiend tot binne die doolhof
van my gebroke hart
Nektar... vriend of vyand?
My tent se penne uitgeruk
wonde rou, emosies vlak
my noodkreet hang tussen iewers en nêrens
in transito...
My gedagtes skulp terug na die bekende
buite hierdie vier mure
na die kartels wat baie jare maak
Ek wens jy was hier
om te deel aan die bittersoet
om my te help om nog ’n tree te gee
Lief, ek knoop jou tussen die kamers van my hart
en die lobbe van my brein
Ons eie melodie van lag en trane...


Kommentaar
Ai dis seer! Dit raak my.
Baie baie mooi en seer en goed geskryf.
Jy is vir my die voorste digter, ek verslind jou gedigte. Dankie,Johan.
Dankie Marietjie, ek het dit geskryf vir 'n vriendin(sedert 1982) wat intussen oorlede is aan bors/ breinkanker na haar jarelange stryd. Haar nuwe Onkoloog het bevestig sy was gediagnoseer en behandel vir die verkeerde kanker.