Mellow mettie mossels: Een aand by ’n storievuur

  • 0

Met die Woordfees op Stellenbosch in volle swang, het 'n mens ‘n menigte banier en plakkate in die dorp rond gesien, hoewel die kampus self heel normaal voorkom. Dis asof meeste studente skaars bewus is van die verrigtinge, terwyl besoekers van meestal ‘n generasie of twee ouers as hulle in Rhyneveldstraat en onmiddellike omgewing rondbeweeg – met ontspanne lyftaal en met ingenome uitdrukkings geniet hulle duidelik die kuns, die milieu en die versnaperinge.

By De Vette Mossel is soos gewoonlik ‘n groot konsentrasie van hierdie ingenome mense te sien, en 7 Maart, was geen uitsondering. Agter die skerms was daar veel meer inspanning en geordendheid. Niel du Bois, die kosgeneraal, het almal verwelkom en Johan Bakkes was die sammajoor in beheer van sy troepe: Nanette van Rooyen (skrywer, kreatiewe guru en oud-uitgewer), Marlene le Roux van “Look at me” en bekend vir haar maatskaplike opheffingswerk), Dana Snyman (reisverhaal-, rubriekskrywer en dramaturg) en PG du Plessis (wel, hy het al alles gedoen) is almal op ’n hopie gejaag en sitgemaak op die verhoog.

Die musiek-afdeling is verteenwoordig deur Gert Vlok Nel (meer nog bekend as digter) en die bekende baskitaarspeler Schalk Joubert. Gert het sommer van meet af gewys hy soek nie foto’s nie, maar ek het hom wel later ‘n paar maal gevang. Hy het my straks verdra weens my duidelike naïwiteit, en omdat ek leliker as hy is.

 

Maar laat ons voor begin. Die skare het gaandeweg aangegroei en so ook het Johan Bakkes se gespannendheid, want daar sou ’n ander vertoning ná ons kom en om ‘n menigte eters, ‘n spulletjie kunstenaars en die spannetjie kosmakers se rolle almal te sinchroniseer het hom laat sweet, sy kastige bravade en uniformbaadjie met talle “pips” op die skouers ten spyt.

Tog, alles het goed uitgewerk - Marlene le Roux het almal laat ontspan met haar uitbundige lewenslus en toe die manne eers begin stories spin, het die toeskouers heerlik gelag (en geëet). Dana was op pad met Vreemde duimgooiers van die Derde Dimensie/stand en PG het vertel van knorrende Afrika-honde, armlengte daggazolle en bye én ‘n skeel magistraat wat álmal gerook geraak het. Nanette het voorgelees uit ‘n aweregse jeugverhaal uit haar pen en eksentrieke Johan het die voorlesery afgerond met gedeeltes uit sy werk oor ‘n selfs meer eksentrieke Griek in dié se vaderland wat hy eers in die Boland en toe doer bo in Hellas raakgeloop het.

Gert en Schalk het hulle kant gebring om die luim verder te versag met volronde fluweelklanke wat goed gepas het by die mossels, brood en ander Weskus-cuisine - waarvan daar genoeg was om mínstens al Afrika se honde te voed. Almal behalwe Dana se drie, wat nog hompe uit die potte ook sal vreet, soos ek hulle in Jacobsbaai leer ken het.

Tussendeur het ek kamma persfotograaf gespeel, met die klem op “speel”, maar darem ‘n paar visuele herinneringe bekom, wat saam met hierdie woordteks saam met die res oor die Woordfees bewaar kan word. al die vooraf geskarrel – ook die toeskouers om kaartjies te kry - was sekerlik vir almal betrokke die moeite werd. Aan Johan kan ek onomwonde en vasoortuig sê: dit was meer as net nice; dit was blêrrie nice (hy sal weet wat ek bedoel).

Eendag as ek groot is, wil ek ook op daai verhoog sit (al maak ek net die getalle vol; sal ook oraait wees), want ek dink daar gaan nog baie kanse wees vir baie kunstenaars om gemoedelik (mellow met die mossels) met hulle aanhangers te verkeer.

Francois Verster

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top