Meisies wat fluit: ’n onderhoud met die regisseur van die film

  • 1

Remona Voges praat met Johan Cronjé oor Meisies wat fluit, wat vanjaar by die kykNET Silwerskermfees gespeel het en nou op DStv BoxOffice vertoon.

Meisies wat fluit sentreer, soos Wonderlus, hoofsaaklik rondom die tema van verhoudings. Wat is dit omtrent dié onderwerp wat jou die meeste fassineer?

Dis ’n tema wat ons elkeen het in die verhaal van ons eie lewens – boonop een wat nie ’n maklike antwoord of oplossing het nie. Om dit eerlik te ondersoek is om mense se foute as normaal uit te wys, en ons almal ’n bietjie meer mens te laat voel.

Vertel asseblief vir ons meer oor die agtergrond van Meisies wat fluit? Waar kom die inspirasie vir dié film vandaan?

Dit was een van daardie skielike laatnagvrae gewees – wat sou gebeur as ’n paartjie mekaar skielik herontdek wanneer die titel (en druk) van “huwelik” nie meer ter sprake is nie, en hoe daardie herontdekking beide goed en sleg kan uitwerk.

Wat is jou proses wanneer jy ’n teaterteks aanpak? Volg jy ’n streng skryfroetine of is jou skryfproses meer organies van aard? Ervaar jy soms skrywersblok? Indien wel, wat doen jy om dit teen te werk?

Dit begin met ’n vraag soos hier bo genoem, en dan vorm karakters wat gebaseer is óf op ervaringe óf op mense wat ek interessant vind. Ek wil graag karakters skerm toe bring met wie mense hulle waarlik kan vereenselwig, ek inkluis, dan kyk ek hoe ver ek dit kan druk op ’n realistiese manier om daardie karakters se motiverings uit te vind. Dis grotendeels ’n ontdekking – ek begin maar voor, ’n sterk oomblik wat dinge aan die gang skop, alhoewel struktuur ’n groot rol in die proses speel. As die begin, middel en einde werk, wat die moeilikste is, dan begin mens net ploeg aan die atmosfeer totdat jy wil aanhou lees/kyk. Skrywersblok ... nie in soveel woorde nie. As ’n toneel sukkel, dan is daar tien teen een nog iets fout met die ding se doel, of jy probeer iets sê wat jy weet nie eintlik waar is nie.

Hoekom is dit belangrik om stories te vertel, veral in Afrikaans? En wie is iemand wat ’n groot invloed op julle elkeen as storievertellers gehad het?

Om mense meer mens te laat voel. Dis ontsnapping, wat ook kan dien as heenkome. Afrikaans is lieflik in die sin dat dis so ’n liriese, poëtiese taal kan wees, daarom hou ek daarvan om dialoog in Afrikaans te skryf – en om die karakters so naby as moontlik aan ons werklike milieu te skep. Ek word grootliks beïnvloed deur die sogenaamde Mumblecore-beweging van die vroeë 2000’s in die VSA – films deur byvoorbeeld die Duplass-broers en Joe Swanberg, wat op sigself weer deur die vroeë en middel-1990’s se Linklater en ander beïnvloed is. Films waar die klem lê op natuurlike spel en dialoog, en as sulks karaktergefokuste narratiewe.

Wat maak jou opgewonde oor die toekoms? Waarna streef jy?

Om plaaslike films al hoe meer internasionaal te sien travel maak my baie opgewonde.

Kan jy die storie in ’n sin opsom, of sal dit te veel verklap? So nie, kan jy dalk op jou karakters uitbrei, of op ’n aspek van die verhaal wat jou na aan die hart lê?

Hier’s sommer die karakterbeskrywings wat dalk van waarde kan wees:

Henk raak kwaad vir homself as hy kwaad raak. So hy sug baie. Hy’s lief vir sy lewe, maar wens hy kon ’n bietjie meer, hy weet nie … Lewe? Hy’s net duskant 30, al gedra hy hom al jare lank veel ouer. Het iemand dalk ’n rewind-knoppie? Hy’t sy beter helfte lankal ontmoet, maar dalk is hy nou moeg vir beter wees.

Sofia hou van wyn, want dit maak haar rustig. Anders sou sy lankal weggehardloop het. Of haar weer gedra soos toe sy tot na 12 kon slaap. Sy mis daai dae. En haar ou self. Alhoewel sy trots is op die veilige roetine wat sy vir haarself kon uitkerf – as sy net kon uitfigure of dit toe die moeite werd was.

Wat was vir jou ’n hoogtepunt tydens die produksie van hierdie film?

Die ongelooflike spel van die akteurs sal my altyd bybly, die eerlikheid waarmee hulle die karakters aangepak het. Ook hoe moeilik dit was om ’n kamera in ’n stort te posisioneer.

Waarmee is jy op die oomblik besig? Is daar nog ’n filmvooruitsig in die nabye toekoms?

Besig om te ontwikkel en skryf aan nog ’n film of twee, sowel as voorproduksie vir ’n aantal projekte in ons maatskappy se pyplyn.

Mens kan nie oor die film praat sonder om na die pragtige filmwerk te verwys nie. Stem jy saam?

Hoop so! Ons wou die verfilmingstegniek so aanpak om altyd ’n nabye toeskouer te wees, sodat ons deel kan uitmaak van die karakters se eerlikste oomblikke sonder om weg te skroom of skaam te voel daaroor.

Die film maak deel uit van vanjaar se kykNET Silwerskermfees wat in ’n heeltemal ander formaat plaasgevind het. Hoe verskil dit vanjaar?

Die panele was uitstekend, die insigte was van waarde, en ons almal kon so ’n bietjie verlang na daardie uitsig oor Kampsbaai sodat ons uitsien na volgende jaar se sameswering om stories uit te dink en op skerms te plak.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Henning Janse van Vuuren

    Wonderlus was 'n fees en daarom het ek hierna uitgesien, maar na tien minute het ek die eindfluitjie geblaas. Gekruide taal waar nodig pla my nie, realistiese vermenging van Afr en Eng pla my nie, maar byna al die aanvangskarakters het 'n eendimensionele brabbeltaal gebesig. Nie wêreldgehalte nie. Nie tyd om te mors nie. Fluit-fluit geld in die water gesmyt.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top