
Foto: @witboymaas
Dis amper ’n soort persoonlikheidstoets om iemand te vra hoe hulle Deon Maas onthou, en die antwoorde sal verskil afhangende van wie jy vra (en hoe hulle voel oor taal, kultuur en politiek). Dalk sal iemand antwoord “die skrywer” of “daai joernalis”, maar daar was ook Idols, Jam Sandwich, HipHopKop; dan was daar Punk in Africa ook nog.

Foto: @witboymaas
Die wêreld lyk anders sedert ons laaste onderhoud (Isaac Mutant Moor Europa; 2016, met Luna Coyne). Dinge het verander: Daar was Covid, ’n egskeiding (myne), en ons al twee het verhuis – Maas na Berlyn, en ek na KwaZulu-Natal waar die weer nie kan besluit tussen storms en drange nie.
Kuns
“Ek is besig om my eerste fiksieboek te skryf, maar die proses word effens gekaap deur ’n nuwe loopbaan in die kunste wat besig is om stadig maar seker te gebeur,” vertel Maas.

@deonmaaskuns
“Ek het ’n ruk terug begin om weer collages te maak. Ek kombineer oorspronklike ou koerantfoto’s met linodrukke en akwarelle en wat ek ook al in die hande kan kry om politieke statements te maak.”
Sy eerste uitstalling was in Julie; volgende bekyk hy kontrakte met ’n agent en galery.
Hy wou al op hoërskool ’n kunstenaar geword het, sê hy, maar die tyd en plek waar hy grootgeword het, het dit nie eintlik toegelaat nie.

@deonmaaskuns
“Die moontlikhede van wat mens kan bereik as elke dag nie ’n gesloeg is om geld te verdien om die huur te betaal aan die einde van die maand nie, is eindeloos.”
Eindeloos is ook hoe Maas die visuele moontlikhede van Berlyn beskryf.
“Ek het van al my wêreldse besittings ontslae geraak en na ’n nuwe kontinent, nuwe land, en nuwe stad getrek. Ek word konstant gestimuleer deur nuwe invloede. Daar is geen ritme in my lewe nie, en alles is nuut.”
Fotografie: IG
Dan is daar sy Berlyn-walkabouts op Instagram (@witboymaas). Ek vra is dit anders om rond te loop en te fotografeer in Berlyn? Ek neem nou en dan berge af, maar my foon is ook al so gesteel.

#berlinwalkabout @witboymaas
Maas sê sy fotografie het baie min mense op, want hulle is nie so visueel interessant nie. “Wat wel interessant is, is die grafika van verskillende plekke – graffiti, padtekens, billboards, winkels se logo’s, vullisdromme. Hierdie is alles dinge wat my fassineer en wat ek afneem.”
Veiligheid is geen probleem in Berlyn nie. “Jy kan in donker stegies 02h00 in die oggend loop en niks sal gebeur nie. Daar is twee of drie plekke waar mens wegbly na middernag, maar dis in elk geval nie eintlik plekke waar jy sou uithang nie. So daar is geen probleem met ’n kamera of foon uithaal nie.”

#berlinwalkabout @witboymaas
Duitsers het wel blykbaar ’n probleem met “konstante strewe na anonimiteit en privaatheid”. Hy verduidelik hulle wetgewing oor straatfotografie is anders – en openbare plekke beteken nie noodwendig vir openbare fotografie nie. “Om hulle foto op enige platform te publiseer beteken dat jy eers hulle toestemming moet kry. Mense raak baie kwaad as jy hulle afneem sonder hulle toestemming.“
Kos in Berlyn
Volgende vra ek uit oor die kos in Berlyn: Wat is die eerste plek of maaltyd wat hy sou aanbeveel, en die absoluut laaste?

#berlinwalkabout @witboymaas
Kos is funksioneel, sê Maas.
“Vir my is kos nog altyd net iets wat jy eet om seker te maak dat jy nie omslaan nie. Dis ’n blote funksionele ding om bloedsuiker aan die gang te hou en seker te maak dat jy nie te veel bewe of omkap nie.
“Die laaste ding wat ek geëet het, is self nie op my radar nie, ook nie regtig die volgende nie. Kos bly ’n funksionele ding, en ek is waarskynlik die wêreld se swakste sjef. Eet is iets wat ’n mens doen tussen deadlines en koffie. My raad aan ’n medeskrywer was ‘Eet meer karamel.’
“Having said that,” gaan Maas voort, “daar is min dinge wat beter is op ’n hangover as ’n Risa-hoenderburger of ’n groot bord vol soesji as jy wil voel asof jy mooi na jou gesondheid kyk.
“Die koskeuses in Berlyn is baie breed. Behalwe die logiese invloede soos Thai, Italiaans en Chinees (en natuurlik schnitzels met aartappels) is daar plekke wat spesialiseer in Siriese kos, Ethiopiese kos; daar is die breë-spektrum Balkan-spyskaarte, en selfs bakkerye wat brode en rolletjies van verskillende lande aanbied.”
Hy sê hy kan wel nog oortuig word om nuwe goed te probeer, maar is nie oor die algemeen ’n baie avontuurlustige eter nie.
Wiki
Ons begin praat oor Wikipedia, nadat Maas teenoor ’n joernalis skerts dat hulle dieselfde navorser as vir sy Wiki-profiel moes gebruik het.
“Ek het niks daarmee te doen gehad nie, en die persoon wat dit gedoen het, het duidelik nie die kennis gehad om dit te doen nie.” Hy is al aangemoedig deur vriende om dit reg te maak, maar sê hy is ook heeltemal oukei daarmee om dit so te los.
Dis amusant, die foute op Wiki.

#berlinwalkabout @witboymaas
“As mense goed daaruit aanhaal, dan weet ek presies waar hulle die inligting gekry het, en as iemand Wikipedia gebruik as navorsingsbron, weet jy sommer uit die staanspoor met watse tipe skrywer jy te doen het.”
As hy sou doodgaan, sê hy, word hierdie goed die feite – al is dit leuens. “Ek hou van daardie konsep van disruption. As dieselfde leuen genoeg herhaal word, raak dit later ’n feit. Ek hou daarvan ook.”
Volgens Wikipedia, was David Beckham ’n Chinese doelwagter, en een van Steve Hofmeyr se grootste treffers is “Boeta se velfluit”. Soms is Wikipedia moertoe verkeerd.
“In die era van fake nuus, Elon Musk, en verregse politiek wat ditself vermom as patriotisme is hierdie my weerwraaksmetode,” sê hy.
Musiek
Dan is daar Duitse musiek, meer as Rammstein en Luftbalonne.
“Jy’t da-da-da en Kraftwerk vergeet, en Schlager ook. Nes jy dink jy’s ontslae van die Huisgenoot Skouspel, klop dit weer aan jou voordeur. Ten minste hoor ek die treffers voordat dit in Afrikaans vertaal word.”
Duitse popkultuur is baie gevorderd, uniek, en staan vir geen ander popkultuur terug nie. “En hier sluit ek sogenaamde mekkas soos New York en Londen in. Die verskil is natuurlik dat Engels ’n wêreldwye voertaal vir popkultuur is, en Duits is nie.”
Dis maklik om te weet wat in Londen en New York aangaan sonder om die vaagste idee te hê wat in Duitsland gebeur. “Net omdat jy nie weet wat hier aangaan nie, beteken dit nie dat hier niks aangaan nie.”
Duitsland hoef nie hulle popkultuur te vertaal en die wêreld in te stuur nie, juis omdat die mark groot genoeg is in Duitsland self. “Teen die tyd dat iets groot genoeg is om deur die grense van die beperkinge van Duits te bars, het die produk al so ver gevorder dat dit so te sê perfek is, en dit help die hele wanpersepsie dat Duitsers dinge perfek doen, aan.”
Daar is geen nodigheid om die stad te verlaat nie, want almal behalwe Nick Cave en Björk sal waarskynlik daar toer. (As lesers wonder: Nick Cave het ook Berlyn toe verhuis.)
Na lockdown het Maas “baie aande in die geselskap van plaaslike groepe deurgebring voordat die internasionale toere weer nes geskop het in Berlyn”.
Das Fluff, Eat Lipstick en Budzilla het uitgestaan, sê hy. “Die venue Loophole het elke aand van die week drie bands vir sewe euro.”
Baie van die groepe sien jy vir die enigste keer, want dis ongetwyfeld hulle enigste optrede, maar elke nou en dan loop jy iets opwindend raak, soos Plattenbau of Data Animal – ’n “fuzz cyborg death trip” volgens hulle eerste single.
“Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Lucy Kruger and The Lost Boys is ook besig om hulle merk te laat. Daar is ’n pletora van rockbands hier wat duisende mense na hulle gigs toe trek: Die Ärtze, Toten Hosen. Ook hip-hop is groot met groepe soos Die Fantastischen Vier.”
- Beeldmateriaal met toestemming gebruik


Kommentaar
Wikipedia word weliswaar nie in ernstige navorsing gebruik nie, want dit word beskou as 'n tersiêre bron, teenoor primêre (argivale) en sekondêre (boeke, artikels) bronne van inligting, maar daar word nogtans baie waarde aan Wikipedia geheg. Dis duidelik uit die feit dat 'n organisasie soos die Akademie vir Wetenskap en Kuns die 21ste jaar sedert die ontstaan van die Afrikaanse weergawe van Wikipedia in 2022 herdenk het. Dit is so dat Wikipedia foutiewe inligting bevat, maar daar is ook foute in bronne soos proefskrifte, akademiese artikels, die media ens. ens.
Interessante artikel, dankie.