Meetsnoer laat jou asem ophou

  • 0

Meetsnoer
Chanette Paul
Uitgewer:LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799347234
Prys: R197.95

Klik hier en koop Meetsnoer nou van Kalahari.net!

Dis jammer dat net Deon Meyer se naam keer op keer opduik wanneer ’n mens van speurverhale praat. Want Chanette Paul is ’n ewe bedrewe skrywer. Haar verhale is goed nagevors, onderhoudend en boeiend.

Maar voordat ’n mens te gefokus raak op die speurverhaal- of misdaadgenre, ’n regstelling. Want al lyk Paul se boeke in die Gys Niemand-reeks na speurverhale, en al loop die spanning soms so hoog dat die leser asem ophou, is Paul gesteld daarop dat haar boeke suspense verhale is. Nee, daar is nie ’n goeie Afrikaanse woord vir suspense nie.

Volgens Paul is die speurder in die suspense-verhaal ’n sekondêre karakter. Die hoofkarakter is nie ’n opgeleide speurder nie, maar is ten nouste by die saak betrokke. Die leser van die suspense-verhaal het gewoonlik ook meer insae in die moord en die moordenaar as die hoofkarakters. En natuurlik is daar ’n sterk romanse aan ‘t ontwikkel.

Meetsnoer is die vierde boek in die Gys Niemand-reeks. Sy voorgangers was (in volgorde waarin hulle verskyn het) Springgety, Fortuin en Boheem. In al die boeke probeer die speurder Gys Niemand en sy kollega Fortuintjie om ’n moord op te los. En soos in al die vorige boeke is die milieu waarin die verhaal afspeel, prentjiemooi.

Raine Quinn trek in die sprokiesmooi huis op die pragtige landgoed Fluisterbos in. Sy het die huis gekoop nadat die eksentrieke, interessante Joanie vermoor is. En langs Fluisterbos is die stuk grond waar ’n sekte, onder die leierskap van Profeet Sias, wortelgeskiet het. En Sias wil Fluisterbos in die hande kry. Intussen moet Raine ook nog sin maak van haar gevoelens oor Flint, die aantreklike susterskind van die vermoorde Joanie.

Paul skroom nie om te skryf oor omstrede dinge nie. In Fortuin word byvoorbeeld ’n vorm van Wicca bedryf en die skrywer gaan simpatiek met die alternatiewe godsdiens om; in Meetsnoer word ’n sekte van naderby bekykgewis minder simpatiek.

Paul se navorsing beïndruk. In Meetsnoer draai ’n groot deel van die gebeure om ’n oerplant, Annie-se-lot, ’n soort varing. Sy het deeglik navorsing gedoen oor die voortplantingstelsel van varings, en hoe die plante oorleef, maar vir die doel van die verhaal, het sy, soos sy in die outeursnota skryf, nie die feite in die pad van haar verbeelding laat staan nie. ’n Mens is half teleurgesteld dat daar nie werklik so ’n besonderse plant bestaan nie.

Sy het voorheen in ’n toespraak gesê die sekte wat in Meetsnoer voorkom, bestaan nie. Maar sy het Amerikaanse sektes nagevors en Profeet Sias is geskoei op mense soos David Koresh en Jim Jones.

Paul slaag daarin om die spanning enduit vol te hou. Sodra jy dink jy het nou agter die kap van die byl gekom oor wie “goed” en wie “sleg” is, wag ’n verrassing en laai die spanning weer op.

Die landskap is ook ’n karakter in die verhaal. In die plantryke omgewing kan enigiets gebeur. Die bose én die goeie kan hier skuilplek vind. En as ’n mens die godsdienstema verder wil neem, kan jy selfs ’n vergelyking tref met die Tuin van Eden. En ons almal weet wat daar gebeur het. Aan die een kant is die goeie, vergestalt deur Raine en Niemand en sy span, en aan die ander kant die bose in die gedaante van gelowiges. Hoewel die held en heldin in elkeen van die boeke in die reeks nuut geskep word, is Niemand en Fortuintjie konstante karakters wat die knope moet probeer ontrafel. Nog ’n bekende in die reeks is Gertjie, ’n familielid van Gys, maar ook die groot liefde in sy lewe.

Dis dié karakters wat elke nuwe boek in die reeks soos ’n tuiskoms na bekendes laat voel. Dis jammer Paul neem met haar finale boek in die reeks, Dryfhout, wat in Junie verskyn, afskeid van Gys, Fortuintjie en Gertjie.

En mag Paul se naam ook in die toekoms onthou word wanneer daar oor die misdaad- of spanningsverhaal geskryf word. Want al beskryf sy haar werk as suspense, speel sy op dieselfde veld as ander skrywers wat bekend is in die misdaad- of spanningsgenre. En al kan haar boeke dalk baat by ’n paar duisend woorde wat hier en daar gesny word, is sy dalk die sterkste speler op die veld.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top