Meertalige universiteite werk nie

  • 0

Net 32 persent Afrikaans!

Die Universiteit van Pretoria was eens die trotse grootste Afrikaanse universiteit in Suid-Afrika.

Trots op sy uitsette: op die meeste ingenieurs en medici in die land wat hierdie universiteit alma mater kan noem, asook duisende suksesvolle regspraktisyns, joernaliste, teoloë, ens. Noem maar op. Ook Afrikaanse skrywers en digters, en leiers op die gebiede van mynbou en ekonomie, en navorsers van naam. Elkeen van die fakulteite het presteerders gelewer op wie die land met reg trots kan wees. Die studentebasis was Afrikaans, en die onderrig in elke vak was in Afrikaans (behalwe, vanselfsprekend, die onderrig in ander tale). Die Universiteit van Pretoria was ’n goeie universiteit wat baie goed gewerk het.

Nou kom daar gegewens na vore wat aantoon dat hierdie Afrikaanse onderbou al sodanig geërodeer is dat daar maar net 32 persent van die Afrikaanse studente se kursusse in Afrikaans gevolg kan word. Hoe is dit moontlik dat hierdie taalsluipmoord op Afrikaans aan hierdie Afrikaanse instelling met sulke stilswye uitgevoer kan word? Voorbereidings vir goeie planne kan mos vroegtydig bekendgemaak word. Of is die bestuur ook in die nag oorval?

Wat sê al die tienduisende oudstudente daarvan wanneer hierdie vernietigende aksies rugbaar word? Sal hulle die owerhede, die bestuur en die besluitnemingsvergaderings van die universiteit waaraan alle oudstudente op een of ander manier ook deel het, in hierdie besluite steun? Het iemand al ooit gevra wat húlle van hierdie taalramp dink?

Die mite van meertalige universiteite

Daar lê ’n geheimsinnige bestuursmodel agter die omdraai van ’n Afrikaanstalige universiteit via ’n meertalige universiteit na ’n Engelse universiteit toe. ’n Bestuursmodel wat nie rugbaar gemaak kan word en bespreek kan word nie. En wat meedoënloos presies uitgevoer word volgens die wense van die magtige ANC en die magtige Afro-Saksers (’n benaming van Giliomee vir die koalisie van die swart elite en progressiewe wit Engelssprekendes) van Suid-Afrika, wat bitter min begrip en waardering vir Afrikaanse uitnemendheid en Afrikaanse geestesgoedere het. Kwotas en subsidies het ’n doeltreffende afpersmeganisme geword.

Modelle waar meertalige universiteite suksesvol bestuur kan word, is nie bekend nie. Aan sulke universiteite word lede van ’n meerkantige samelewing vir hulle laaste vormingskoling bymekaargegooi. Sulke pogings het al gefaal omdat die meerkantigheid van die dosente en studente onder sulke omstandighede gou sy skerpkantigheid gewys het (byvoorbeeld die Universiteit van Leuven in België, waar die eksperiment van die saamgooi van Franssprekende en Nederlandssprekende studente na net ’n rukkie gestaak moes word). Die politieke magte wat hierdie land beheer, is blykbaar daarvan oortuig dat hulle dié waarhede kan ignoreer. Dit is blykbaar hulle uitgangspunt dat die Afrikaanssprekende faksie op soveel maniere maar gelate aan die agterste speen sal bly suig terwyl die instrument van sy uitnemendheid, sy taal, al hoe meer in onbruik gedwing word. (Om die afknou op universiteitsvlak te illustreer: minder as 2 persent Afrikaanse studente kry byvoorbeeld beurse van die staat. En hoe word die toelatingsvereistes van wit Afrikaanse studente nie skeefgetrek nie!) Maak die Afrikaanssprekende faksie hoegenaamd nie meer saak nie? Verandering, wat noodsaaklik is, hoef mos nie op hierdie manier te gebeur nie. Beplanning vir konstruktiewe verandering is nodig. Destruktiewe verandering vernietig hierdie land.

Moedertaalonderrig

Moedertaalonderrig aan universiteite is net so belangrik soos moedertaalonderrig op skool. Aan universiteite word studente gevorm om hulle kennis in ’n bedryfswêreld te kan uitstal. Die manier waarop nuutverworwe kennis oor die wêreld heen ten toon gestel word, is om dit helder en samehangend skriftelik te kan ten toon stel. Hoeveel van die bruikbaarheid daarvan gaan nie verlore as die neerskryf moet gebeur in die onmagtigheid van ’n ander taalwêreld waar hierdie nuutontwikkelde spesiale snykant nooit skerpgemaak kan word nie?

Kan Suid-Afrika hierdie verliese aan voorpuntprestasies bekostig? Natuurlik nie. Dit is maar nog ’n voorbeeld van stompsinnige beplanning waarvan die prys net later betaal moet word. Later, wanneer die verlore afstand só moeilik, indien ooit, ingehaal sal kan word.

Afrikaanse geleerdheidskultuur

Die stilswyende tersydestelling van die Afrikaanse geleerdheidskultuur is onverskoonbaar. Afrikaanssprekende intelligentsia het oor die jare ’n kultuur van kennis, en die ontwikkeling daarvan in Afrikaans, gegrond op beginsels wat vir Afrikaanssprekendes belangrik is, aan die Universiteit van Pretoria gevestig. En dit is oor die jare voorgehou en selfs geïllustreer in ’n spesiale afgeronde Afrikaanse akademiese geleerdheiskultuur. Dit maak deel uit van hierdie universiteit se trotse Afrikaanse tradisie. Nou gaan hierdie tradisie onherroeplik verlore met die verengelsing van hierdie universiteit. Mag ons dit sienderoë toelaat?

Alternatiewe

Wat het gebeur met beplanning vir en kommunikasie oor Afrikaanse universiteite? Hoe is dit moontlik dat daar vandag net 32 persent van die Afrikaanse studente aan UP se kursusse in Afrikaans beskikbaar is, sonder dat daar ooit van alternatiewe sprake was?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top