Die woede het oorgekook toe die dagblad Beeld op 5 Oktober op sy Facebook-blad ’n plakkaat met die volgende woorde vrygestel het: “Meer toelaes nodig in SA”.
’n Vloedgolf reaksies met rassistiese ondertone het op dié koerant se Facebook-blad neergereën. Van die kommentare was: “Dit is nou tyd dat verpligte sterilisasie gewettig word in hierdie land.” Ander kommentaar sluit in: “Die sleg goed moet gaan werk.”
Die meeste mense wat woedend, na alle waarskynlikheid, uit hul bevoorregte posisies reageer het, was natuurlik onder die wanindruk dat die regering meer toelaes aangekondig het. Hulle het hul misgis, want dié mense wat vir meer toelaes voorspraak maak, is nie regeringsamptenare of politici nie, maar uitgelese akademici, navorsingsgenote aan top-universiteite in Suid-Afrika en die buiteland en NRO-werkers.
Dié plakkaat het na die artikel “Méér toelae is nodig” verwys wat op 6 Oktober in Beeld verskyn het. Dit is geskryf deur Stephen Devereux, navorsingsgenoot aan die Instituut van Ontwikkelingstudies aan die Universiteit van Sussex, Alex van den Heever, voorsitter van die bestaansekerheidsadministrasie en bestuurstudies van die skool vir regeerkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand, Isobel Frye, direkteur van die Instituut vir Studies in Armoede en Ongelykheid, en Lynette Maart, nasionale direkteur van Black Sash.
Die artikel, “How social security could make life better in South Africa after COVID-19”, het eerste in Engels op The Conversation verskyn.
Devereux, Van den Heever, Frye en Maart argumenteer dat maatreëls om die bestaansekerheid in Suid-Afrika te herverdeel, meer as ooit nou dringend nodig is. Hulle artikel sluit aan by ’n vorige artikel, “COVID-19: ’n Basiese inkomstetoelaag vir armes is juis nou nodig”, van my wat op 14 Augustus hier op LitNet gepubliseer is.
In dié artikel skryf ek:
Dit is een van die grootste ironieë dat die regering tydens ’n vernietigende pandemie soos COVID-19 juis nou besluit het dat ’n basiese inkomstetoelaag (BIG) vir miljoene honger arm mense nie bekostigbaar is nie.
Met die vernietigendende uitwerking van COVID-19 op werkloosheid en die sluiting van veral klein-, middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s), sou dit heel veilig wees om te argumenteer dat ’n BIG presies is wat Suid-Afrika nou nodig het.
Ek het verder geskryf:
’n BIG gaan die land glo R200 miljard per jaar kos, maar tans het ons nie ’n enkele sent daarvoor begroot nie. Die Rapport-joernalis, Jan de Lange, sê tereg, “selfs al moet ons dit gaan leen, gaan dit ’n goeie idee wees. Dis geld wat uiters sorgvuldig en produktief bestee (moet) word. Dit sal ’n kragtige stimulus vir ons wankelende ekonomie wees.”
Volgens Devereux ea het die nasionale ramptoestand wat die regering op 15 Maart afgekondig het, die drie ander bestaande rampe verger: armoede, werkloosheid en ongelykheid.
“Meer Suid-Afrikaners is nou arm en werkloos as voor die inperking. Maar weens tenderkorrupsie en buitensporige pryse deur ondernemings wat die krisis uitgebuit het, is sommige mense in die regering en die private sektor ryker as voorheen.”
Hulle skryf dat mense ses maande later na die afkondiging van die ramptoestand steeds die steun van die regering nodig het.
Dit is dus ironies dat mense wie se enigste bron van inkomste die regering se spesiale COVID-19-toelae van R350 per maand is, dalk na Oktober ander maniere moet vind om te oorleef.
Die moontlikheid het bestaan dat die spesiale toelae, asook die verhoging in die bedrag van ander maatskaplike toelaes, soos beplan in Oktober sal verstryk, tensy die kabinet anders besluit.
Die kabinet het wel intussen anders besluit, want dié spesiale toelae word verleng – maar net tot einde Januarie 2021.
Devereux ea skryf dat regeringsteun op minstens drie vlakke nodig is: “As humanitêre respons, as strukturele beleid om armoede te verlig en as stimuli vir ekonomiese herstel”.
Volgens Devereux ea het die inperking die vraag en aanbod in die ekonomie terselfdertyd tot stilstand gedwing.
Minstens drie miljoen mense was in die eerste maand van die inperking hul werk of hul manier om ’n bestaan te maak kwyt en met die negatiewe ekonomiese gevolge wat minstens nog vir die volgende drie jaar voorspel word, sal die syfer styg eerder as daal.
Dit maak geen sin om hierdie spesiale programme ter verligting nou te onttrek nie. Die verhoogde toelaag moet steeds uitbetaal word, asook versorgers se toelaag, en dié vir die verligting van maatskaplike nood moet permanent wees.
Hierdie outeurs skryf ook dat Suid-Afrikaners wat nog jonk genoeg is om te werk ’n grondwetlike reg op maatskaplike hulp het.
Die COVID-19-pandemie het ’n groot leemte blootgelê wat die kern uitmaak van Suid-Afrika se bestaansekerheidstelsel – die gebrek aan enige vorm van inkomstesteun aan mense tussen die ouderdomme van 18 en 59 met ’n lae inkomste of wat werkloos is.
Miljoene mense het aansoek gedoen om die spesiale toelaag vir die verligting van maatskaplike nood, maar R350 per maand is nie genoeg om van te leef nie.
Hulle vra die vraag: “Op watter bestaansekerheid is arm en weerlose Suid-Afrikaners geregtig?” Dan antwoord hulle:
Die Grondwet (Wet 108 van 1996) bepaal dat almal toegang tot genoeg water en kos, gesondheidsorg, behuising en bestaansekerheid moet hê. Maar terwyl in die Handves van Regte na die reg op bestaansekerheid verwys word, word dit nie formeel in enige wette gedefinieer nie.
Volgens die outeurs het Suid-Afrikaners konseptuele en wetlike helderheid nodig oor wat presies bedoel word met “bestaansekerheid”:
Dit is meer as net die reg op toelae.
Suid-Afrika het nie ’n beleid of strategie vir bestaansekerheid nie. Die Witskrif oor Maatskaplike Welsyn dateer uit 1997. Die Nasionale Ontwikkelingsplan van 2011 noem dat hier ’n gaping is. Slegs sowat 7% van werklose mense word deur die werkloosheidsversekering gedek.
Hulle skryf dat die grondwetlike reg op bestaansekerheid en maatskaplike beskerming twee komponente het, naamlik dekking en toereikenheid:
Dekking moet universeel wees, maar die steun moet genoeg wees om te verseker dat mense met waardigheid kan oorleef. Voordele moet met die koste van ’n genoegsame lewenstandaard verband hou.
Hulle sê beleidmakers is diep konserwatief om inkomstesteun te gee aan mense wat jonk genoeg is om te kan werk, maar die pandemie het dit verander:
As ons erken dat werkloosheid in Suid-Afrika ’n strukturele probleem is, is dit onvermydelik om aan mense van ’n werkende ouderdom inkomstesteun te gee, nie net ten tye van die inperking nie, maar op lang termyn. Ons moet hierdie geleentheid aangryp om die sosiale kontrak rakende bestaansekerheid te herbedink.
Die outeurs skryf dat die tesourie en die minister van finansies, Tito Mboweni, sal kla dat die uitbreiding van die noodlenigingsmaatreëls en die instel van nuwe toelae onbekostigbaar is. “’n Fiskale krisis het Suid-Afrika reeds voor die pandemie in die gesig gestaar, met ’n lae groeikoers, stygende regeringskuld en al hoe minder belastinginkomste. Om toelae te verhoog sal die tekort verhoog.”
Maar volgens hulle is daar aan die ander kant ’n ekonomiese argument ten gunste van die positiewe groei-uitkomste van maatskaplike toelae wat deur internasionale getuies ondersteun word: “Deur huishoudings in staat te stel om dinge te koop, sal aanvraag toeneem en ekonomiese herstel aangehelp word.”
Hulle voer aan dat om bestaansekerheid in Suid-Afrika te herverbeel, nie net dringend op ’n humanitêre vlak is om maatskaplike geregtigheid te verseker nie; dit maak ook ekonomies sin. “Dit is nie iets wat die land kan bekostig om nie te doen nie.”
Die woedende mense, wat waarskynlik uit ’n posisie van bevoorregting so negatief op die Beeld-plakkaat reageer het, moet asseblief Devereux ea se volledige artikel lees. Miskien sal hulle dan empatie ontwikkel vir diegene wat nie so bevoorreg soos hulle is nie. Oppas, dit kan miskien jy wees wat môre ’n regeringstoelae nodig het om te oorleef.


Kommentaar
Die begrip "bestaansekerheid" behoort elke Suid-Afrikaner se gewete aan te spreek: Hoe moet bestaansekerheid figureer in 'n omgee-vir-mekaar-nasie, gebaseer op die Goue Reël van Naasteliefde: Doen aan andere wat jy verlang hulle ook aan jou moet doen?
1 Joh. 3: 17: "Iemand wat ryk is aan aardse lewensmiddele en sy broers en susters sien gebrek ly, maar weier om 'n helpende hand uit te steek - hoe is dit moontlik dat die liefde van God in daardie persoon woon?"
Spreuke 30: 8, 9: "Gee asseblief vir my net dit wat reg is. As ek te veel het, sal ek U verloën en vra: 'Nou wie is die Here?' As ek te arm is, sal ek steel en God se Naam beswadder."
Ons moet bid dat ons nie slawe word van Gierigheid: Magsug, Hebsug en Plesiersug nie.
Die werkloses (wat wil werk), armes (wat wil werk), die vreemdelinge (wat wil werk), die vrygelate gevangenis (wat wil werk), die weduwees (wat wil werk), en die wees sal altyd met ons wees. So, wat doen ons daar omtrent? Gee vir hulle 'n klip en sê: "Gaan en word versadig?"
Ek hoop en vertrou dat hierdie onderwerp BESTAANSEKERHEID die nodige prioriteit in die denke van elke Suid-Afrikaner in 'n hoogs kompeterende wêreldorde sal hê.
BESTAANSEKERHEID is die bewys al dan nie of die Suid-Afrikaanse nasie inderdaad 'n omgee-vir-mekaar-nasie is.
Uitstekende artikel. Dankie.
Ek slaan my oë op na die belastingbetaler. Waarvandaan sal daar vir hom/haar hulp kom?
Ek love dit.