Meer prysgeld vir radiodrama-skrywers

  • 0


Die prysgeld vir RSG en Sanlam se Radiodrama-skryfkompetisie is vanjaar R50 000. Die wenner van die 2013-kompetisie sal R22 000 en die naaswenner R12 000 ontvang. Dit is heelwat meer as vorige jare en ’n hupstoot vir skrywers wat graag dié medium wil omarm.

Tussen 100 en 130 splinternuwe tekste word jaarliks vir hierdie opwindende kompetisie ontvang. Die wenner van die derde prys ontvang boonop R8 000 en daar is ook ’n prys vir ’n skrywer jonger as 30 jaar, wat ook R8 000 is.

Daar is geen voorgeskrewe tema nie, solank dit net ’n nuwe en oorspronklike radiodrama is. Geen verwerkings of stukke wat al voorheen gepubliseer is, sal aanvaar word nie.

Die volle spektrum van Afrikaans kan gebruik word, maar die inskrywings word beperk tot slegs een drama per persoon.

Die duur van die dramas moet tussen 40 en 50 minute wees – sowat 45 A4-bladsye wat volgens die wedstrydreëls getik is.

’n Volledige handleiding wat ook die reëls en inskryfvorm bevat, is gratis op RSG se webblad beskikbaar. Daar is ook ’n spesiale blad vir die kompetisie waar weekliks skryfwenke vir nuweling-skrywers sal wees, asook diegene wat graag hul skryftalent wil skaaf.

Die sluitingsdatum is Maandag 29 Julie 2013.

Daar sal ook gratis slypskole in samewerking met Sanlam in Kaapstad én Johannesburg aangebied word en meer besonderhede sal mettertyd op RSG aangekondig word.

RSG beplan ook om die wendramas tydens die eerste Radioteater-seisoen van 2014 uit te saai.

Verlede jaar se wen-dramas word vanaf April op Donderdagaande om 20:00 in Radioteater op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai.

Besoek RSG se webblad by www.rsg.co.za om op hoogte te bly of om die kompetisie se handleiding af te laai.  Kyk onder die hofie “Wat gebeur”.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top