Mediaverklaring: Wenners van die 2020 UJ-pryse

  • 3

Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë en oor die grense van  genres heen, toegeken. Waar die UJ-prys vir Afrikaans ’n oop kategorie is vir boeke van enige genre wat in Afrikaans geskryf is deur nie-debutante en wat verskyn het tussen 1 Januarie en 31 Desember van die voorafgaande jaar (2019, dus, in hierdie geval) oormerk die UJ-debuutprys spesifiek daardie boeke geskryf deur skrywers wat vir die eerste keer (in enige genre) debuteer. Die prysgeld vir die UJ-debuutprys beloop R45 000.

Titels wat ingeskryf word vir die UJ-pryse moet oorspronklik in Afrikaans geskryf wees en moet in die voorafgaande kalenderjaar verskyn het.

Hierdie jaar is dit die twintigste keer wat die pryse toegeken word. In 2000 is dit vir die eerste maal toegeken – en wel aan Antjie Krog vir Kleur kom nooit alleen nie. (Geen toekenning vir ’n debuutwerk is in daardie jaar gemaak nie.) Alhoewel die naam van die prys vir die eerste vyf jaar die RAU-prys was. In 2005 is die eerste prys toegeken onder die huidige naam, naamlik die UJ-pryse. Die wenner was Marlene van Niekerk vir Agaat. (Ook in daardie jaar is geen toekenning vir ’n debuutwerk gemaak nie. Dit is die enigste twee jare, 2000 tot 2020, waarin geen toekenning gemaak is nie, en dit was telkens die geval met die debuutprys.)

Vir die 2020 UJ-pryse is altesaam 83 titels is ingeskryf, waaronder 17 debute.

Vanjaar se inskrywings het weer eens ’n wye verskeidenheid tekste verteenwoordig, waaronder dié van gevestigde, bekroonde en nuwe digters, kortverhaalskrywers, romansiers en dramaturge. Ook nie-fiksie, outobiografiese tekste en tekste wat nie maklik deur tipiese genres getipeer word nie, was goed verteenwoordig.

Dit is met groot genoeë dat die vakgroep Afrikaans in die Departement Tale, Kultuurstudie en Toegepaste Linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg, hiermee die wenners van die 2020 UJ-pryse bekend maak.

Die wenner van die 2020 UJ-debuutprys is Ruan Kemp, skrywer van Gedeeltelik bewolk

Die wenner van die 2020 UJ-prys is Etienne van Heerden, skrywer van die “ambisieuse” roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld.

Die keurpaneel vir 2020 was:

Frederick J Botha
Bibi Burger (UP)
Karen de Wet (UJ) - Voorsitter
Amanda Lourens (US)
Jolyn Phillips (UJ)
Marné Pienaar (UJ)
Heindrich Wyngaard      

 

UIT DIE KEURVERSLAE:

Die biblioteek aan die einde van die wêreld

“... dit is ongetwyfeld so dat Die biblioteek aan die einde van die wêreld die jaar se ambisieusste boek is. Etienne van Heerden slaan hiermee ’n nuwe rigting in, met ’n skryfstyl wat meer gestroop is as sy voriges (ten spyte van die 600+ bladsy!) en ’n poging om die kompleksiteite van die onlangse verlede in narratief te omskep. Die biblioteek aan die einde van die wêreld sluit wel by onder andere In stede van die liefde se verkenning van globalisering aan, ’n tema wat opnuut, en op onverwagse maniere, spreek tot die toestand van die wêreld in die tyd van die coronavirus.”

“... dit is ’n roman wat die leser uitdaag:  ’n teks wat nie alleen gemoeid is om die problematiek van ons tyd (plaaslik en internasionaal) te verken en uiteindelik te begryp nie, maar ’n teks wat so deel is van veral die Suid-Afrikaanse werklikheid, dat dit as spieël vir die leser optree. Op meesterlike wyse bring Van Heerden ’n magdom uiteenlopende karakters bymekaar en verbind hul stories om ’n beeld van hedendaagse Suid-Afrika te vorm waarin sosio-maatskaplike en -politieke kwessies op deeglike wyse ondersoek word. Die roman is aktueel en betrokke, maar terselfdertyd ’n boeiende en uiters vermaaklike leeservaring wat genoeg kinkels en onthullings bied wat die leser boei. Met hierdie roman bewys Van Heerden hom opnuut as waagmoedige prosaïs: ’n skrywer wat nie skroom om ongerymdhede in die samelewing aan te spreek nie. Hy skryf eerder hierdie taboes oop. Hierdie taboes of kwessies ondersoek hy oor ’n breë spektrum deur middel van uiteenlopende karakters se konfrontasie daarmee, wat uiteindelik fassinerende en opponerende sienings aan die leser bied. Met hierdie roman poog Van Heerden om insigte in ons gekwelde land te bied, en is die roman gemoeid met die wyse waarop ons rassisme, geweld en sosiale onreg behoort te vertaal. Hierdie roman skep alles behalwe ’n safe space: dit konfronteer, en dit ontstel.”

“Van Heerden ondersoek in sy indrukwekkende jongste roman ’n aantal aktuele kwessies – die onlangse studenteproteste in Suid-Afrika (#FeesMustFall en #RhodesMustFall en die daaraan verbonde landskap van onderstrominge en selfs konkelary in die eietydse politiek), maar terselfdertyd die groter globale bedreiging van die deurentydse monitering van landsburgers deur middel van tegnologie. Dié aktuele gegewe word verder geskakeer deur ook die tematiek van Afrikanerwees en die posisie van Afrikaans in te voer.

Die karakteropstelling en -inkleding is kompleks, en sorg vir ’n haas panoramiese blik op die diversiteit in die huidige Suid-Afrikaanse samelewing, en hulle soms problematiese interaksies. Van Heerden plaas die soeklig op hierdie soort diversiteit en onderlinge spanninge deur die karakters wat hy in die Vertaalseminaar byeenbring – van die liberale Engelse dosent, deur die jong swart aktivis Thuli en tot by Ian as ouer Afrikaner wat hom in die grysland van Afrikaneridentiteit bevind.”

 

Gedeeltelik bewolk

“... een van die verrassings én hoogtepunte van 2019. Hy werk voort in die tradisie van die grensroman (wat al sedert die tagtigerjare deur heelwat outeurs verken is), maar eerder as ’n  blote vertelling oor die hooffiguur se wedervaringe in die ou SAW en die Grensoorlog, is hierdie ’n vernuftige inkyk in die psige van ’n jongman wat onherroeplik deur die ervaring geskaad is.

Die roman wat aan die hand van sielkundige begrippe gestruktureer is, beeld die hooffiguur se reis deur die wêreld van sielkundige terapie en institusionalisering aan.  Sy reis deur ’n toestand van toenemende patologie word sonder handskoene, met skrynende humor, eerlikheid en onmiddellikheid aangebied, en boonop is die teks deurvleg met ’n aantal intertekstuele verwysings – waaronder die ikoniese Griet skryf ’n sprokie. Uiteindelik is dit nie net die verhaal van ’n individu nie, maar van kollektiewe skade wat deur ’n hele generasie Suid-Afrikaanse mans gely is.”

“Kemp beïndruk met sy unieke skryfstem wat deur middel van onkonvensionele stelwyses, beelde en beskrywings gestalte aan die malligheid van die hoofkarakter gee – dis humoristies op ’n aweregse wyse, tog hartseer en tragies op ’n ontstellende wyse. Op vernuftige wyse slaag Kemp daarin om verhaaltyd wat oor 49 jaar strek op verkapte wyse aan te bied, wat nie net bydra tot die beeld van verbrokkeling of agteruitgaan van “verstandigheid” tot ’n toestand van waansin nie, maar hierdie proses verder skilder teen die agtergrond van groter internasionale en nasionale gebeure wat op sigself bydra tot geestelike versteuring. Hierdie is ’n slim roman: die knap en uiters funksionele sirkelstruktuur speel in op die voorblad deurdat die leser gelei word om die stukkies van hierdie “mal” man se lewe bymekaar te sit. Die voorblad verwys ook na die indrukwekkende intertekstuele spel wat die leser in die roman vind, met ’n netwerk van verskeie literêre en filosofiese tekste wat geslaagd en op natuurlike wyse by die verhaalgebeure ingeweef word.”

“... (wat in) die 289 bladsye aangebied word, ... is niks minder nie as ’n vuishou in die maag; gril, gru; en ’n mengsel van humor en skerpsinnigheid”

  • 3

Kommentaar

  • Annette Havinga

    Ek stel belang in die inskrywing van ‘n debuutwerk vir die volgende kompetisie. Op 73-jarige ouderdom is my boek pas gepubliseer en ek het my gratis boek aan die Nasionale Biblioteek gestuur. Ek het reeds my ISBN-nommer ontvang. Dit is in die kategorie niefiksie. Baie dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top