Elders gesien: Meat Loaf in Swapo-wêreld

  • 3

(Hercules deur AnnyksPhotography | Pixabay)

...
Ek hou steeds daarby dat niemand méér hartstogtelik oor die later-liefde kan sing, as Meatloaf in “For crying out loud, you know I love you” nie.
...

Ben du Toit skryf op Facebook:

In 1980 doen ek “grensdiens” op Okatopi langs die B1-roete in Ovamboland. Dis vrek warm. Ek lê maar laag, niks opgewonde oor hierdie oorlog nie. Dis Swapo-wêreld. Die “plaaslike bevolking” (Ovambo’s) is nie vriendelik nie. Die Flossies (C130 Hercules vragdraers) vlieg boomhoogte verby ons bokant die B1 tussen Ondangwa en Oshakati uit vrees vir vyandelike lugafweer.

Uit die ontspanningsaal hoor ek die onbekende klanke van ’n sanger oor die groot klanksisteem wat die Suiderkruis-tannies uit die “States” vir die troepe gestuur het. Dis harde rock, afgewissel met hartstogtelike ballades. Ongewoon. Ek gaan luister eenkant in ’n hoek. Die lirieke is vars, uitdagend, rou. Met “Paradise by dashboard light” kyk die troepe betekenisvol in my rigting. Soek reaksie. Ek ignoreer dit. Hulle speel die plaat Bat out of hell (1977) oor en oor en ek verwonder my al meer oor die slim en poëtiese woorde en musiek van Jim Steinman (wat verantwoordelik was vir die meeste van Meatloaf se treffers).

Kan verwondering oor liefde mooier gesing word as “you took the words right out of my mouth – it must have been when you were kissing me”? Of méér wanhopig as in “two out of three ain't bad”? Die struktuur van die woorde en sinne slim gekomplimenteer deur die musiek. Hard rock afgewissel met meesleurend, amper gewyde klanke. Totaal nuwe en unieke musiekervaring.

Op Jan Smuts koop ek die kasset-bandjie en kon nie wag om dit vir Elna te speel nie. Daarna word die vriendekring geleidelik ingewy oor die 100 watt-, 10 dm-luidsprekers by die huis. Dit kry ’n ereplek in ons musiekversameling.

Wentzel en ek ry na die Dogmatologiese Werkgemeenskap iewers in die noorde en Meatloaf is ons metgesel deur die Bo-Karoo, Vrystaat tot in die ou Transvaal. Kort daarna vertrek hy VSA toe en met sy terugkom vertel hy opgewonde oor die Rocky Horror Picture Show (van 1975) wat hy gesien het (verban in SA) waarin Meatloaf dramaties en skouspelagtig op sy brandende Harley Davidson die toneel injaag (of uitjaag) met half-oop skedel, golwende breinselle sigbaar, op die musiek van “Bat out of Hell”.

Ek hou steeds daarby dat niemand méér hartstogtelik oor die later-liefde kan sing, as Meatloaf in “For crying out loud, you know I love you” nie. Hierdie lied het hy (volgens sy eie vertelling) net tweemaal gesing. Op hierdie eerste album en baie jare later, saam met die Melbourne Simfonie-orkes in Australië (2004), toe as duidelik ’n ou man.

Tussen ons vriende oor dekades beklee hy ’n ereplek naas Freddie Mercury, die Beatles, die Bee Gees, Chris de Burgh, Roger Waters, Leonard Cohen, Jessye Norman, Jonas Kauffman, Dimitri Hvorostovsky, Anna Netrebko en vele ander onvergeetlike kunstenaars. Ons is verryk!

  • 3

Kommentaar

  • Dis 'n pragtige verwoording vir die diep gevoel wat Meatloaf se musiek gebring het.
    Ek onthou van musiek insmokkel om na die lirieke te luister wat 'n jong hart so diep geraak het. Nou is ons ouer en “objects look closer in the rearview mirror”.
    Meatloaf sal altyd 'n plek in my gunsteling-musiekrak hê.

  • Hans Richardt

    Ag dankie tog vir eerlikheid. Die bande het net gommerig geraak agv hitte, maar ons het nooit in Wamboland na "tannie Esmè" geluister wat versoekie uitsaai vir "korporaal vir hele sak toffies" nie.
    Meatloaf, ens, was ons musiek daar, solank batterye in bandspeler gehou het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top