MC Botha (1954– )

  • 0
SêGoed van MC Botha

“Sensuur werk in elk geval nie. Net ’n paar mense het [Skertse] gelees. Buitendien het dit so lank gelede verskyn, dat niemand meer daarin belang stel nie. Maar nou dat daar ’n bietjie agterdog is, trek dit skielik aandag. Mense wat nooit die boek sou gelees het nie, sal dit nou wil lees, omdat ’n valse waarde daaraan gekoppel word en dit ’n vals vorm van publisiteit skep.”

“Die publiek verkeer onder die wanindruk as hulle glo dat kunstenaars inspirasie nodig het om te skep – in elk geval het hulle nie méér nodig as ’n gewone man om die oggend uit die bed op te staan en kantoor toe te ry nie. Om prosa te skryf, het mens dae en jare agter ’n lessenaar nodig, verkieslik met koffie of brandewyn – dit is eintlik al.” (Hoofstad, 19 Julie 1982)

“Ritme is die instink van ’n skrywe, en prosa het ritme, nes poësie. ’n Prosaïs wat nie ’n aanvoeling vir ritme het nie, gaan maar taamlik sukkel om ’n idee oor te dra. Die woorde van elke sin, elke paragraaf, moet kan dans soos dansers wat verslaaf is aan die musiek van Prokofiev. Maar as die woorde styf-styf bokspring, gaan die leser letsels hê sonder dat hy eers wonde gehad het en wat se soort gesondword is dit? Die grootste bedreiging vir ritme in prosa is die oorbeklemtoning van woorde.” (Hoofstad, 19 Julie 1982)

“Mense op sigself is mooier as onluste of apartheid en interessanter as politiek of Soweto.” (Hoofstad, 19 Julie 1982)

"Wat ’n mens klaar geskryf het en wat gedruk is, is vir die skepper daarvan dood. Wat saak maak, is waarmee jy nóú besig is.” (Beeld, 20 Julie 1982)

“Enige skrywer wat daarin belangstel om menslike verhoudings te ontleed, kan ’n drama skryf. Ek het nie méér probleme ondervind by die skryf van ’n drama as by dié van ’n kortverhaal nie.”

“Wat my fassineer van fotografie is dat jy dinge kan afneem wat die oog nie kan sien nie.” (Beeld, 3 Augustus 1988)

“Die werklikheid het ’n duisend gedaantes. Een daarvan is absurd.”

“Deur die eeue heen was daar altyd skrywers wat gelukkig genoeg was om getroud te wees met meesterlike kritici van hulle werk. Ek is een van die gelukkiges.”

“Ironie was nog altyd een van my wapens – dit is maar net daar, sonder dat ek miskien bewustelik daarvoor gesoek het, soos ’n Zoeloe se kulturele wapen altyd binne sy bereik is.”

Waarom het iemand wat skepties oor die beskawing is, die behoefte om sy natuurervarings met pen en kamera vas te lê? “Dis snaaks nè, dié paradoks is altyd daar. Dis die bevrediging om te skep. Kuns is amper ’n geestelike ervaring. Die proses is eintlik al genoeg; om uit te stal of te publiseer is ondergeskik.” (Die Burger, 19 Desember 2007)

Het die skrywer hoegenaamd ’n taak? “Ja, dis miskien nie nou die regte woord nie, maar ek voel ons moet Afrika, en daarmee gepaardgaande politieke dinge ... jy weet, die strooi wat nou (1987) hier aan die gang is in hierdie land, ons moet skryf om daar deur te breek, die konserwatiewes se rug knak. Ek voel sterk daaroor.” (Die Burger, 19 Desember 2007) (Die Burger, 1 Augustus 1987)

“Skrywers kan ook nie geweld oplos nie. Maar ons kan protesteer.”

Glo hy in die muse? “O ja. Sy is ’n dubbel-vodka.”

“Daar’s baie mense wat perfekte kortverhale én romans geskryf het. Malamud. Ek kan nie sien hoekom daar ’n skeidslyn moet wees nie. Dis hierdie beheptheid van Afrikaanse ‘literazi’ wat sê jy moet óf ’n kortverhaalskrywer wees óf ’n romanskrywer. Hoekom nie albei nie?” (Die Burger, 1 Augustus 1987)

“Ons moet Afrika ontdek. Die Sestigers het Europa in ons letterkunde ingebring. Dit help nie om te sê meer Afrika, minder Europa nie. ’n Mens moet dit inderdaad lééf – in dié sin begin Afrika noord van die Hexrivierberge.” (Die Burger, 1 Augustus 1987)

Gebore en getoë

Marthinus Christoffel Botha, of MC soos hy bekend staan, is op 3 Augustus 1954 in Pretoria gebore waar sy pa, André Stephan, ’n appèlregter was. Hy het een suster, Lynette, wat in die buiteland woon. MC se oupa, na wie hy vernoem is, was rektor van die Universiteit van Pretoria en sy oom, ook ’n naamgenoot, was as immunoloog deel van die Chris Barnard-hartspan.

Groot name in die Afrikaanse letterkunde speel ’n belangrike rol in MC se familiegeskiedenis. Boerneef was ’n intieme vriend van sy oupa en ouma aan vaderskant, prof MC en sy vrou, Friena. Boerneef was ook die peetpa van MC se pa. Leipoldt was ook ’n geliefde familievriend en MC se ouma was een van ’n handjie vol intieme vriende wat Leipoldt gehad het. Prof MC Botha het ook vir ID du Plessis geïnspireer en aangemoedig om in Afrikaans te skryf.

MC word groot in Pretoria en matrikuleer in 1972 aan die Hoërskool Menlopark. Hy noem homself “’n universiteit-drop-out” wat net wou skryf. Hy vertel aan Riette Rust (Rapport, 7 Julie 2008) dat al was sy pa in die apartheidsjare ’n regter, hulle nie politiek konserwatief grootgeword het nie.

Van sy pa het hy geleer om nie net dinge te aanvaar soos wat dit op die oog af lyk nie, maar alles te bevraagteken. Hy het dan ook reeds as jong mens die insig gehad om te besef dat apartheid verkeerd was. “Maar wat kon ’n skrywende bleeksiel doen? Dit was nie my aard om die wapen op te neem nie.”

MC was met Corrie getroud en hy het twee seuns.

Verdere studie en werk

MC voltooi sy militêre diensplig na matriek en skryf hom daarna in aan die Universiteit van Pretoria. Hy het dit egter nie voltooi nie. Hy was ’n rukkie regtersklerk vir regters Denys Williamson en Irving Steyn aan die Johannesburgse Hooggeregshof, asook ’n deeltydse fotograaf.  Hy gaan woon ’n paar jaar in Hermanus aan die Kaapse Suidweskus, waar sy pa ’n strandhuis het voordat hy vir tien maande in Europa gaan toer. Met sy terugkeer vestig hy hom in Kaapstad en gaan woon in 1975 weer in Hermanus, waar hy verantwoordelik was vir die redaksionele inhoud van die Hermanus Times. Hy is ook later die redakteur van Die Overberger voordat hy redakteur van The Times of Hermanus geword het.

MC was Walter Battiss se motorbestuurder tydens die skilder se afskeidsreis deur Suid-Afrika. Die reis het in Mei 1982 geëindig toe Battiss in die Mount Nelson Hotel ingetrek het. In Augustus van dieselfde jaar is Battiss oorlede. Battiss het sy merk op MC gelaat. MC praat van die groot skip van ’n motor wat deur die Karoo gegly het met musiek wat deur die luidsprekers raas en die vreemde asvaal man wat doodstil agter in die motor sit en uitstaar oor die hitte buite.

MC is versot op reis en hy het gereeld gewerk totdat hy genoeg geld het om te reis, waarna hy weer met sy terugkeer ’n pos opgeneem het. Sy eerste reis is vir tien maande deur Europa. Van die los werkies wat hy in sy lewe gedoen het, sluit in mielies oes op ’n plaas net buite Pretoria, en druiwe oes op ’n wynplaas tussen Bonnievale en Robertson. Hy het ook blokraaisels aan klein koerante verkoop. Hy vertel aan Gerrit Brand (Die Burger): “Ek het so vyf dorpe voorsien, in Afrikaans en Engels. Ek was so jonk, hulle het soms getwyfel of ek die skepper daarvan was – gedink ek het dit iewers gesteel.” En dan was daar die Hermanus Times. “Elke keer as ek ná ’n reis terugkom, het die koerant ’n nuwe eienaar. Dan gaan gesels ek met hom en kry ’n werkie. Na ’n jaar of twee, as ek genoeg geld het, gaan ek reis. Deesdae is dit ingewikkelder. Ek het ’n gesin bygekry; hulle knip my vlerkies.”

As verslaggewer by gemeenskapskoerante word MC verskeie kere bekroon. In 1990 ontvang hy ’n merieteprys in die kategorie algemene nuus, asook vir seker rubrieke in die KWV se Plaaslike Pers-kompetisie vir uitnemende joernalistiek; in 1994 word hy as wenner aangewys in die kategorieë vir redaksionele kommentaar en rubrieke in Sanlam se kompetisie vir plaaslike koerante; joernalis van die jaar in 1995; in 1999 naaswenner as joernalis van die jaar; wenner van die stemmingsfoto in 2000; naaswenner vir redaksionele kommentaar in 2001 en wenner vir omgewing en gesondheid in 2003.

in 2000 tydens Sanlam se nasionale toekennings vir die gemeenskapspers verower hy pryse vir sy foto’s.

In 2006 word hy in ses kategorieë onder die top tien geplaas, naamlik joernalis van die jaar, redaksionele kommentaar, koppe, geleentheid, sport en portrette en in 2007 is hy onder die top tien vir redaksionele kommentaar, koppe en geleentheid (waar hy eerste geplaas word vir sy artikel oor "Run baby run") en as beste fotograaf in die stemmingsfotokategorie. Hy haal weer die top tien in 2008 vir redaksionele kommentaar, kolomme en is hy die wenner in die portretkategorie. Hy behartig die rubriek "Sondagrus" in Sondag en neem ook deel aan die Overbergse Boekefees op Kleinmond in 2007.

MC is ook ’n baie entoesiastiese fotograaf en sy "Voëls van die Overberg"-uitstalling was tydens die Kalfiefees in 2009 op Hermanus te sien en in 2009 was sy uitstalling van naakstudies getiteld "Kaal" tydens die Woordfees op Stellenbosch te sien. In sy vrye tyd skilder hy ook graag.

MC is ook baie betrokke by die gemeenskap. Hy vertel van die inisiatief deur hom en ’n hotel en ’n wynlandgoed om die plaaslike owerheid tot ’n eie kunsversameling oor te haal – met plaaslike kunstenaars se werk. Oor sy werk by die dorpskoerant sê MC dat daar wel frustrasies is, maar dat dit die moeite werd is om die natuur so rondom jou te hê. “Ek het 15 vroue wat onder my werk, my eie harem!”

Nadat hy aanvanklik gedigte geskryf en gepubliseer het, lê MC hom van sy twintigerjare af pal toe op prosa. Sy eerste stories word in 1974 in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer en sedertdien verskyn daar gereeld van sy werk in die meeste letterkundige tydskrifte.

In 1980 verskyn sy eerste bundel kortverhale onder die titel Die hartklop van gevoel. Die meeste verhale handel hoofsaaklik oor die kontak tussen man en vrou. Hoewel sommige kritici die bundel nie baie goed ontvang het nie, is daar ander, soos Dorothea van Zyl (Beeld. 27 April 1981), wat voel dat die verhale redelik interessante leesstof bied en dat die beste prosastukke baie goeds voorspel vir die toekoms van die jong skrywer. George Weideman (Die Republikein, 19 Junie 1981) meen dat die bundel dalk effens oorhaastig uitgegee is, maar dat daar wel van die kortverhale is wat verdienstelik is. Weideman verwelkom MC Botha in die geledere van die al groter wordende korps van Afrikaanse kortverhaalskrywers.

MC se tweede bundel, Skertse 1976–1979, word in 1981 deur Minotaurus gepubliseer, ’n reeks wat by Taurus Uitgewery verskyn het. Skertse was die eerste in hierdie reeks. Die buiteblad is ’n tekening van Walter Battiss wat teenoor die skrywer opgemerk het: “One of these days we’ll both be on the banned wagon.” Batiss se woorde was byna profeties, want Skertse is in 1982 deur die Direktoraat van Publikasies na die Appèlraad oor Publikasies verwys nadat dit vroeër wel deur die Komitee van Publikasies goedgekeur is. Die besware teen die boek was glo moreel van aard en Jan Rabie  se kommentaar hierop was (The Cape Times, 3 Februarie 1982): “Wat die boekie betref – die lewe is nie net ’n Calvinistiese hokkie met oogklappe aan nie. MC Botha vat taamlik ver in ons ingewikkelde samelewing. Jong mense se wêreld is nie die ou mense s’n nie. As ’n boekie soosSkertse verbied word, kan ’n mens hulle nie meer ernstig opneem nie.”

André le Roux (Die Burger, 7 Januarie 1982) skryf oor hierdie bundel dat Botha met ’n sekerheid wat die korter prosavorm vereis, skryf, ondanks sy gebrek aan dissipline. “Sy prosa bly verrassend eenvoudig, oortuigend. En hoewel daar besware ingebring kan word teen swak taalgebruik, en so meer, is Botha reeds skrywer uit eie reg – wetend of onwetend skryf hy verhale wat vir Afrikaans net tot voordeel kan wees."

MC se volgende bundel kortverhale, Die prys wat jy moet betaal, is deur Perskor uitgegee. In hierdie bundel gee die skrywer aan homself meer ruimte op meer as een terrein: nie net is sy verhale langer nie, maar hy het ook meer uitgebrei op die register van sy temas en "gevoelens". Ook is sy vertelinstansies meer genuanseer. Jan Rabie skryf in Die Vaderland van 26 Augustus 1982: “Na ’n derde hopie behoort ’n mens al min of meer te kan sien watter kant toe tonnel ’n mol. Maar Botha bly maar argeloos glip uit die kritikus se net van woorde. Van die begin af is hy bedeel met ’n verstommende natuurlikheid asof hy alles sommer so moeiteloos voorpratend uitspin, en nie ’n literêre verhaal pynlik sit en uitkraam nie. [...] Hy skryf gewone, sedelike Afrikaans. Beheersd, beskaafd sonder om outyds te wees, en hy raak net heftig wanneer mens beestelik is. [...] Hoe ook al, waarheen MC Botha gaan ontwikkel, hy is van die staanspoor af ’n welkome nuwe krag en, nogal guitige, stem in Afrikaans.”

André P Brink (Rapport, 3 Oktober 1982) was van mening dat wanneer ’n mens in die geheel na MC Botha se werk kyk, dat dit iemand is wat kán skryf en dat dit "duidelik is dat die nuwe deur wat hy vir die Afrikaanse kortkuns oopgemaak het, nie net ’n agtertuintjie nie, maar ’n hele landskap tot die leser se beskikking stel."

Gedurende hierdie jare was MC een van die mees produktiewe kortverhaalskrywers in Afrikaans. In 1982 word Die einde van ’n kluisenaar se lewe deur Human & Rousseau uitgegee – sy vierde bundel in twee jaar.

JP Smuts (Die Burger, 11 November 1982) was die volgende mening toegedaan: "Kluisenaarskap en buitestanderskap is die durende probleem van die mens om tot ’n vergelyk te kom met sy 'plek', een van die sterkste sirkulerende motiewe in hierdie bundel. Botha bevestig met die beste verhale in hierdie bundel die verwagting wat sy knapste vroeër werk geskep het. Hy het die moontlikheid om in die toekoms tot een van die belangrikste jonger kortverhaalskrywers in Afrikaans te ontwikkel.”

Jan Rabie (Die Vaderland, 28 Oktober 1982) skryf dat daar wel iets anders in hierdie bundel is: “’n steeds dieper besinning oor die aard van die mede-menslike saambestaan. ’n Herfsagtige mineurtoon sonder sinisme wat seker in alle grotes se werk gevind word, sy dit drama of roman. Tsjekof of Proust. En MC Botha is nog so jonk.”

Human & Rousseau publiseer in 1983 MC se eerste drama, Skaak. Dit is ’n verwerking van die titelverhaal uit Die einde van ’n kluisenaar se lewe, maar die verhaal het heelwat verander vanaf die oorspronklike kortverhaal. In die verhaal word die kluisenaarskilder Mark betrek by die huwelikslewe van sy nuwe bure, Zelimir en Carmel. Mark en Carmel raak in ’n verhouding betrokke totdat Carmel haar man vermoor en met Mark verder saamleef. In die drama verander nie net die name van die karakters nie, maar ook die aard van die onderlinge verhoudinge.

MC, self ’n goeie skaakspeler, sê die titel het ’n letterlike en figuurlike betekenis in die drama. Hy vertel aan Schalk le Roux (Beeld, 3 Augustus 1988) dat alles wat hy skryf, outobiografies is, maar dit is beter verbloem as byvoorbeeld by die Amerikaanse skrywer Henry Miller. “Elke gebeurtenis in die drama het nie noodwendig gebeur nie. In Skaak probeer een karakter ’n ander vermoor. Dit het tog nie werklik gebeur nie. Vir ’n skrywer is dit ideaal as hy nie kan formuleer of dit waaroor hy skryf, werklik gebeur het of nie.”

MC het die drama geskryf omdat dit vir hom maklik is om dialoog te skryf. Hy besef teater is nie net dialoog nie. “Baie van die aksie in Skaak is in die dialoog. Mense in Suid-Afrika is behep met teater. Hulle wil net dramatiese aksie sien en nie aksie in woorde nie. Ek het met opset soveel moontlik oeroue simbole soos blindheid en doofheid, voëls, slange, geboorte, liefde, jaloesie en die spel skaak in die drama gebruik om te kyk waarby dit uitkom."

“En waarby het dit toe uitgekom?” vra Schalk le Roux. “Soos in die drama staan: die dooie waarheid.”

André P Brink (Rapport, 11 Desember 1983) het geskryf: "Die driehoeksverhouding bly nog steeds onhoudbaar, maar in die drama loop dit nie op moord uit nie, maar wel op die selfmoord van die kluisenaar. Botha bewys in meer as een opsig dat hy nie net ’n eersterangse verteller is nie, maar ook ’n geslypte sintuig vir die drama het en ek hoop dat ’n Streeksraad met ondernemingsgees dit sal waag om die stuk op die planke te bring." In Beeld van 30 April 1983 is Rika Cilliers-Preller se grootste beswaar dat die stuk sy epiese oorsprong so duidelik behou en nooit werklik drama word nie. “Pleks daarvan dat die karakters handelend verken word en in dialogiese opponering, verval die dialoog in lang, informatiewe monoloë, met ’n kwasi-poëtiese aanslag.”

In 1985 word MC se volgende bundel kortverhale, Bome van kennis en ander kortverhale, deur Human & Rousseau gepubliseer. André Brink skryf in Rapport van 9 Maart 1986 dat hy in hierdie bundel minder rede vind om gaande te raak as in die vorige twee bundels. “Waar Botha op sy beste iets van die kwaliteit van die magiese realisme verkry soos mens dit by die grootmeester Jorge Luis Borges geleer bewonder het, is daar in die meeste van die jongste tekste ’n geforseerdheid wat aan die effek verminder. [...] Die mundane, of die pretensieuse, oorheers te veel in van die verhale. Maar soms demonstreer hy opnuut dat hy beskik oor ’n talent wat dophou die moeite werd bly maak.”

Vir Cecile Cilliers (Beeld, 10 Februarie 1986) was die bundel nie heeltemal geslaag nie, maar die skrywer het tog bewys gelewer dat hy die taal gemaklik kan hanteer, "en as deernis ook onderdeel van sy skryfresep is, kom daar uitsonderlike verhale tot stand.

Barend Toerien skryf (Die Burger, 27 Februarie 1986): “Botha se skryfwerk is indrukwekkend danksy sy direkte, eenvoudige styl, sy onderbeklemtoning en sy voorliefde vir ongewone karakters en grimmige situasies wat ’n mens laat regop sit. Die geweld wat dikwels voorkom is ook, nou wel, sy plesiertjie, en is aanvaarbaar, solank die slotte nie te veel in O Henry-agtigheid ontaard nie.”

MC se eerste roman, Sluvoet, verskyn in 1987, ook by Human & Rousseau. André P Brink (Rapport, 13 September 1987) het die roman as volg beskryf: "’n breedopgesette satire wat met politieke en sosiale werklikhede hekel. Die sentrale karakter, ’n vryskut fotograaf en ’n Afrikaner wat op soek is na ’n rekonstruksie van sy private biografie en die geskiedenis van sy nasie; tegelyk hiermee loop ’n Freudiaanse soektog na ’n verlore moeder en ’n volgehoue stryd teen die vaderfiguur in sy talle gedaantes, veral dié van die voortdurende metamorferende en gereïnkarneerde Sluvoet self, heerser van Ië – die land waar die hoofkarakter hom bevind. Sluvoet bied tog, ten spyte van verveling en irritasie, ’n ongewone soort leesavontuur in Afrikaans."

Die resensente het uiteenlopende menings oor Sluvoet: Joan Hambidge (Beeld, 14 September 1987) noem dit ’n prul; Jan Rabie beskryf dit as "one of the most absorbing and thought-provoking books about ourselves in recent years. There certainly is nothing to compare with it in Afrikaans”; Gunther Pakendorf (Die Burger, 1 Augustus 1987) sien dit as ’n satiriese roman wat ’n groot aantal slim idees en baie kostelike tonele bevat, maar dat dit as ’n geheel nie slaag nie; en Ia van Zyl (Suidwester, 29 Januarie 1988-4 Februarie 1988) skryf dat daar uit hierdie konglomerasie moeilik sin te maak is. MC self sê dat Sluvoet ’n analise van Afrikanervrese is.

Zambezi (1988), MC se verslag van sy wedervaringe van ’n reis van vier maande vanaf Kaapstad deur Botswana en Zimbabwe, is die eerste reisverhaal wat in jare in Afrikaans verskyn. Dit is egter nie net ’n reisverhaal nie, maar ook ’n politieke reis van ’n jong Suid-Afrikaner “wat weer sy polsslag met Afrika wil sinchroniseer”, skryf Willem Pretorius (Beeld, 8 Augustus 1988). "Die boek is in hierdie opsig tekenend van die soeke van die Afrikaner na nuwe aanknopingspunte met die Afrika waarvan hy so lank vervreem was en wat die meeste opval, die eerlikheid van hierdie reisiger is wat antwoorde weg van die gebaande weë gaan soek."

André Brink (De Kat, November 1988) het met genot aan hierdie boek gelees; "daar is egter ’n gebrek aan deurdagtheid, besinning en insig, maar dit is verblydend dat ’n poging aangewend is om iets meer van (Suider-) Afrika te sien en dalk te verstaan."

 Zambezi is weer in 2004 deur Protea Boekhuis gepubliseer en Willem Anker (Die Burger, 19 Februarie 2005) meen dat dit ’n tydsdokument is wat nie so goed verouder het nie, "as gevolg van die verteller se beskrywings en houdings teenoor dié en dit wat hy teëkom. Die oorvloed politieke sentiment in die teks het miskien in 1988 goed geval op wit liberale ore, maar vir hierdie leser kom dit nou naïef en oorvereenvoudig voor.”

Die agtergrond van MC se volgende roman, Die arend (1991), is die gebeure in Namibië wat afgespeel het rondom die oorgangstyd en die moord op Anton Lubowski. Die hoofkarakter, James Baker, is werksaam by ’n reisburo in Pretoria. Op pad na Namibië waar hy ’n prys vir beste reisagent gaan ontvang, breek sy motor. Hy word gedwing om sy motor in Keetmanshoop te los en op ’n manier in Windhoek te probeer kom. Dit voorspel niks goed vir die res van sy reis nie.

Vir Gunther Pakendorf (Die Burger, 3 Desember 1991) sou die roman tien teen een meer oortuig het indien die hoofkarakter met "meer ironiese afstand " uitgebeeld was. "Maar Botha laat die indruk dat hy self – of die verteller van Die arend – nie tot veel meer insig in staat is as die kortsigtige en onbeholpe James nie."

MC Botha het vir Joan Hambidge (Beeld, 11 November 1991) beïndruk met sy sin vir detail, "en meer spesifiek onbenullige informasie wat later belangrike inligting blyk te wees, én die eietydse. Maar net tot so halfpad toe."

MC se eerste bundel kortverhale in twaalf jaar, Belydenis van ’n bedrieër (1990–95), verskyn in 1997. Johann de Lange (Die Burger, 16 Julie 1997) skryf as volg: "Die dertiental verhale ondersoek bekende teenstellings soos feit/verdigsel, skuld/onskuld, bieg/lieg, en al die vorme van bedrog wat die hedendaagse mens al vir lief neem. Botha lewer met die bundel ’n ryp, volwasse werk lewer met stories wat die hele register van sy verteltalent ontgin: diepsinnig, poëties, komies, absurd."

Marion Hattingh (Insig, Julie 1997) meen dat MC Botha in hierdie bundel daarin geslaag het om die tydsgees raak te verwoord. Sy kritiek op die samelewing is skerp, maar nie venynig nie en met hierdie bundel lewer hy ’n filosofiese en tegniese verryking tot sy oeuvre.

Op RSG vertel Petra Müller (12 Oktober 1997) dat Botha, soos enige goeie fantas, die bowewêreldse en die onderwêreldse verken. “Iewers, sê sy tekste, moet daar ’n paradys gewees het waarvan ons nog die saadprikkels in ons dra, en wel in ons uitreiking na ’n begrypbare bestaan. [...] Dis veral die toon van die boek wat my tref – die oorwoë, selfversekerde, rustige en spelende stemtoon van die boek. Ek meen dat dit die rykste en geskakeerdste werk van hom is wat ek nog gelees het en ek het my graag daardeur laat verlei.”

MC se jongste roman, Ons en die maan: natuurroman verskyn in 2007 by Protea Boekhuis en soos Zambezi vertel dit van ’n reis deur Afrika.

Die roman handel oor die verhouding tussen ’n pa en seun op reis deur Afrika, op plekke soos Nqoga, Maun en Chobe. Cornelius werk in die staatspresident se kantoor, terwyl Blackie vir die poskantoor kabels op Beaufort-Wes lê. Dit is Blackie wat weetgierig is en tot verskeie insigte kom, soos onder andere dat jou hele lewe binne ’n paar dae ’n ommekeer kan hê.

MC het in Sarie aan Riëtte Rust vertel: “Cornelius is eintlik my pa, André Stephan. Blackie toon weer ooreenkomste met myself. Die gebeure speel in Suid-Afrika se politieke oorgangstyd teen die skilderdoek van Afrika af, maar die tyd is nog nie ryp vir ’n politieke roman nie."

Vir François Bloemhof (Die Burger, 17 Desember 2007) is die fokus van die verhaal op ’n kombinasie van feitelike korrektheid en maklik verteerbare aanbieding en dat die boek die skrywer se liefde vir die natuur weerspieël. “Die intrige is hier nie die belangrikste element nie en die klem is nie soseer op wát gebeur nie, maar hóé, en hoe dinge lyk, voel en klink. Die leser word op dié manier betrek, maar dalk sou meer dialoog en minder rapportering vir ’n groter gevoel van onmiddellikheid gesorg het. ’n Mens mis soms die direkte rede, maar dit is ’n mindere beswaar in ’n boek wat tot die meeste natuurliefhebbers sal spreek.”

Saam met Alet Sherriff skryf MC in 2005 ’n boekie oor die bekende avonturier Sparks Esterhuizen se reis na Mosambiek. ’n Omvattende beeld van wat die reisiger aan dié vriendelike buurland te wagte kan wees, word met interessante foto’s geskep.

In 1994 word MC se toneelstuk Die geheim van die lewe of Soos ’n hond, wat by die ATKV Kampustoneelkompetisie deur die Universiteit van Pretoria opgevoer is, beskryf as “teater vir die nuwe Suid-Afrika”.

Klein Saterdag in die Burgersentrum van Hermanus word in September 2005 opgevoer. Die hoofrol is vertolk deur Gavin van den Berg en Charles Fourie was die regisseur. Die opbrengs van die opvoering is geskenk aan die burgemeestersvrou se welsynsprojekte in die Overberg.

By die Woordfees van 2009 is ’n foto-uitstalling van MC getiteld Kaal aangebied wat slegs vir volwassenes bedoel was.

Nadat Breyten Breytenbach in 2000 op LitNet alles en almal in sy openingsrede van die Afrikaanse Skrywersberaad met vlymskerp woorde bygekom het, skryf MC ’n brief aan Breyten waarin Breyten se idees sowel as sy persoonlike lewe deurgeloop word. Sy woede teenoor Breyten het te make met wat MC blykbaar beskou as Breyten se vrypas om instellings, mense en groepe mense oor ’n wye front by te kom. Dit het weer eens mode geword om almal behalwe jouself te blameer: “99% van ons wat al lank met die muse heul en jou openingsrede op die Groot Afrikaanse Skrywersberaad raak gekliek het ... het gedink: ‘Ag f*k nie al weer nie.’” Hy noem Breyten ’n vryskutrewolusionêr wat ryk gemaak is deur apartheid. “Jy is die touleier van die bandwagon-karavaan. Tog bly jy in die eerste instansie maar ’n preker.” Hierdie brief het ’n hele polemiek op LitNet en in die pers aan die gang gesit wat ’n hele tydjie geduur het.

MC vertel aan Riette Rust (Rapport, 6 Julie 2008) dat die grootste kompliment vir sy eie skryfwerk van Jan Rabie gekom het. Hy het gesê dat MC se kortverhaal "Die stadsklerk", wat hy as 22-jarige geskryf het, baie goed is. “Jare lank het ek op die golf van dié sinnetjie gery.”

Publikasies:

Publikasie

Die hartklop van gevoel

Publikasiedatum

1980

ISBN

062801872X (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skertse 1976–1979

Publikasiedatum

1981

ISBN

0620055170 (hb)

Uitgewer

Emmarentia: Minotaurus

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die einde van ’n kluisenaar se lewe

Publikasiedatum

1982

ISBN

0798113421 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die prys wat jy moet betaal

Publikasiedatum

1982

ISBN

062802276 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Kaapstad

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skaak

Publikasiedatum

1983

ISBN

079811620X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bome van kennis en ander verhale

Publikasiedatum

1985

ISBN

0798119268 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sluvoet

Publikasiedatum

1987

ISBN

0798120622 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Zambezi

Publikasiedatum

  • 1988
  • 2004

ISBN

  • 079812633 (sb)
  • 1869190971 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Reisverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

So kom ons

Publikasiedatum

1989

ISBN

0620145706 (sb)

Uitgewer

Hermanus: Agulhas

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die arend

Publikasiedatum

1991

ISBN

0798128860 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Belydenis van ’n bedrieër (1990–95)

Publikasiedatum

1997

ISBN

0798136669 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Land van kokosmelk en heuning (saam met Alet Sherriff)

Publikasiedatum

2005

ISBN

(sb)

Uitgewer

Hermanus: A Sherriff

Literêre vorm

Reisverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ons en die maan: natuurroman

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781869191498 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels deur MC Botha beskikbaar op die internet

Artikels oor MC Botha beskikbaar op die internet

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top