Maya en die Perdeby-dilemma

  • 0

Beste Maya

Ek verstaan nou nie eintlik wat aangaan nie, want ek het lankal Hans se briewe opgehou lees. Hy is te seksisties, chauvinisties, anti-Afrikanervrou en vasgehaak op dieselfde ou 4x4, karavaan-vrouens (wat hy ook al hiermee bedoel). Hy skryf buitendien in kodetaal en ek dink hy sukkel self om soms sy eie griffels te ontsyfer. Ek sou dus voorstel dat jy nie meer aandag skenk aan die ou gaip nie!

Ek wil nie graag my naam verander nie, want ek skryf al drie jaar lank onder dié een. ’n Mens bou naderhand ’n persoonlikheid op onder jou skuilnaam en as ek nou verander, sal niemand mos weet wie ek is nie. Ek sal self sukkel om aan te pas, want dis asof ’n mens in jou alias se vel inklim en ’n nuwe persona ontwikkel. Op my ouderdom kan dit baie skadelik raak en mag ek miskien eindig met ’n gesplete persoonlikheid en ek weet nie of ek dit sal kan hanteer as ek nóú al in ’n gestig beland nie!

Maar om jou tegemoet te kom, sal ek vir ou Hansie my erewoord gee, dat ek nié jý is nie. Ek gee nou nie om of hy dink ek is vet nie, want ek weet my alias het ’n slanke dun middeltjie, ’n pragtige lyfie en sy is baie jonk van gees! Sy kan ook nie sonder haar beroemde angel funksioneer nie!

Angelgroete,

Perdebytjie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top