dit is die aand
waarin sprokies lewe kry
waar feeprinsesse en paddaprinse
in glinstergoud en ingevoerde sy
weer promoveer van trike tot turbo
van die naloop
van die groot amerikaanse droom
van prom en prom nite
die eenbeenridders
die afvlerkswane
die tinfoelie-tiaras
die breëbek-idiote
van ingestopte franse kos
op borde uit die kookkunsklas
van lyntjies snuif in kelnerpakke
dit is die uur van kammatrotse grootmenswense
die toesange
die uur van die broeksnor-prys
die bekkens ryp vir voortteel
met die skoolhoof en die debutante
soos onpaar skoene
op die dansbaan
prys die rewolusie
dis die uur van die gefabriseerde gelykheid
van die l.o. jocks met little lottas
ingedeeg in pienk
wat uitloop
op die marsellaise om middernag

