Maskew Miller Longman Letterkundeprys:
10 vinnige vrae aan François Bloemhof

  • 0

Die wenners van die eerste Maskew Miller Longman Letterkundeprys vir jeugromans is onlangs bekend gemaak. François Bloemhof is as naaswenner in die Afrikaans-kategorie aangewys vir sy jeugroman, Stad aan die einde van die wêreld. Naomi Bruwer het 10 vinnige vrae aan hom gevra.

Watter bydrae voel jy lewer kompetisies soos die Maskew Miller Longman Letterkundeprys tot kreatiewe skryfwerk in Suid-Afrika? Het dit jou gemotiveer om Stad aan die einde van die wêreld te skryf?

Kompetisies waarin manuskripte anoniem beoordeel word, is onontbeerlik, want beoordelaars kan so maklik beïnvloed word as hulle weet wie ’n boek geskryf het. Ek het my skryfloopbaan só as wenner in De Kat se eerste romanwedstryd begin; as dit nie vir daardie kompetisie was nie, het ek nooit in Afrikaans geskryf nie, aangesien ek altyd gemeen het daar is nie ’n aanvraag na “my soort boek” in Afrikaans nie. Ek het die raamwerk reg gehad en wou dit in Engels skryf, toe word die kompetisie aangekondig. Ek het wel nie dié boek vir MML se kompetisie geskryf nie – juis nie! Te veel lesers het ’n weerstand teen toekomsfiksie of sci-fi – nie die jong lesers vir wie dit geskryf is nie, maar beslis heelwat oueres – en dit sou hulle wees wat beoordeel. Maar dit was klaar geskryf, so hoekom dit nie stuur nie? Dat ek met só ’n manuskrip onder die finaliste kon wees, was al genoeg beloning. Dat ’n vertaling daarvan ook gaan verskyn, is amper te goed om waar te wees!

Waaroor gaan Stad aan die einde van die wêreld?

As ek dit vinnig kan opsom, dan het ek gefaal. Ek herhaal dus wat agterop staan: “In 2084 behoort die wêreld aan tieners – en die gelukkiges onder hulle gaan stad toe. Stad, plek van groter plesier as wat jy jou kon voorstel. En groter gevaar as wat jy kon raai. George Logan se bestemming.”

Wat is die uitdagings om vir die jeug te skryf in vergelyking met volwasse literatuur?

Dit is nie regtig ’n ander soort uitdaging nie – jy stel jou maar altyd in om soos jou teikenmark te dink. En of jy nou vir die jeug of vir volwassenes skryf, jy maak bloot ’n verstelling in hoe jy jou uitdruk. Maar daar is wel ’n irritasie in dié verband. Sodra daar ’n tienerboek verskyn, verwag baie mense dat dit verteenwoordigend van daardie mark moet wees. Is tieners dan so maklik opsombaar, en is daar iewers ’n boek wat die volwasse mark vasvat?

Voel jy jeugliteratuur moet ook ’n opvoedingstaak verrig?

Nee, die jeug kry mos hul opvoeding by die huis en op skool. Die arme wesens is darem daarop geregtig om soms net vermaak te word. Lees kan jou nogtans so half per ongeluk opvoed terwyl dit vermaak – mense wat lees, dink wyer. Party “besinnend-opbouende” boeke vir die jeug het wel bestaansreg, nes daar ook sulkes op die volwasse rak mag wees – balans is nodig. Maar kom jý nie in opstand as jy nog so lekker sit en fliek of lees en daar word skielik ’n morele sousie bygeroer nie?

Hoe kan ons die jeug motiveer om meer te lees?

Vermáák hulle net. Ons skrywers se grootste kompetisie is TV en flieks. Ons stories moet sterker wees. Ons moet iets skryf wat hulle nog nie gesien het nie.

Hoe voel jy oor die standaard van jeugliteratuur in Suid-Afrika?

Daar is te min tienerboeke om uit te kies. Die verskeidenheid boeke vir jonger lesers is groter, dus is die standaard hoër. Vir my sal die standaard hoog genoeg wees wanneer lesers met verskillende smake almal jaarliks ’n páár boeke kry wat tot hulle spreek. Die probleem is dat dit meestal ouers is wat boeke koop, en hulle sal dikwels mik vir veiliger opsies wat ooreenstem met wat hulle in hul eie jong dae gehad het. In ’n mate bepaal hulle dus watter boeke ’n kans op sukses het en wat tieners sal lees – of nié sal lees nie, want hoeveel jong mense is entoesiasties oor iets wat hul ouers eers goedgekeur het? Jy kry tog al hoe meer oopkop ouers wat grootgeword het in tye toe jy al toegelaat is om dinge te bevraagteken, en nou ruimer denke by hul kinders aanmoedig.

Was jy as kind ’n boekwurm? Het jy as kind geweet jy gaan eendag ’n skrywer word?

My Engels-onderwyseres het my in graad nege 97% vir ’n kortverhaal gegee, toe het ek geweet. Maar ek het gedink ek gaan kortverhale skryf. Ja, ek het boeke verslind! Ek het egter net Engels gelees, want ek kon nie die soort boeke wat ek gesoek het, in Afrikaans kry nie. Ek probeer hulle nou skryf.

Noem drie boeke wat in jou jeug ’n besonderse invloed op jou gehad het.

Bram Stoker se Dracula, Roald Dahl se kortverhale en die hele lot Agatha Christies. Ek is, nes sy, op 15 September gebore en ek glo nie dis toevallig nie.

Watter hedendaagse jeugboeke bied aan jou inspirasie?

Philip Pullman is ’n uitstekende skrywer.

Hoe, waar en wanneer skryf jy?

Ek wag beslis nie vir die muse om te kom besoek aflê nie – jy maak haar sit en begin net. Jy kan later blinkvryf. Ek beplan goed genoeg vooruit dat ek weet presies wat ek wil skryf; dit moet dan net gebeur. Ek hou daarvan om in die oggend my skryfwerk vir die dag af te handel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top