Mars se tweejaarlikse besoek

  • 2

Die pragtige skouspel van die planete Venus en Jupiter saans in die weste het die afgelope tyd die kalklig gesteel maar so stilweg het Mars intussen ook op die verhoog verskyn. Dié was op 3 Maart 2012 in opposisie met die aarde toe die son, aarde en Mars omtrent in ’n reguit lyn geleë was terwyl die aarde tussen Mars en die son deur beweeg het. Mars is tans (212/03/12) ’n skamele 0.6786 AE (± 123 000 km) en Venus 0.8228 AE (± 123 000 km) vanaf die aarde. Mars is op hierdie stadium dus amptelik die naaste planeet aan die aarde.

’n Baie interessante verskynsel, bekend as retrogressie, is ook tans by Mars waarneembaar. Dit kom voor asof Mars omgedraai het en terugbeweeg op sy baan soos op die skets hierby aangedui. Soos ek al voorheen uitgewys het, is retrogressie ’n optiese illusie wat slegs waargeneem word wanneer die aarde tussen die son en ’n planeet aan sy buitekant deur beweeg. Omdat selfs die naaste ster meer as 250 miljoen keer verder is as Neptunus, staan enige bewegings van planete duidelik uit teen die vêrafgeleë sterre. Wanneer die aarde ’n planeet aan sy buitekant verbysteek, veroorsaak die parallaks verskynsel die illusie dat die planeet tydelik terugwaarts beweeg. Dit is pressies dieselfde verskynsel as wat waargeneem word indien ’n pad en ’n treinspoor direk langs mekaar geleë is met ’n toring op ’n hoë berg vêr op die agtergrond anderkant die treinspoor en ’n motor ’n trein wat in dieselfde rigting beweeg, verbysteek. Dit sal dan ook op ’n stadium vir die passasiers in die motor lyk of die trein al stadiger teen die agtergrond van die toring beweeg en later staties raak en selfs vir ’n ruk terugbeweeg. En natuurlik hoe vêrder die toring — hoe duideliker die retrogressie van die trein.

Indien u die verskynsel direk wil waarneem, sal geduld en volharding goed te pas kom en moet u so elke vyfde aand kyk in watter rigting Mars verskuif het. ’n Verkyker of teleskoop is onnodig maar sal help. Indien u nie soveel geduld het nie kan u na die simulasie kyk, waar ek die verskynsel versnel het in die verhouding van 1:864 000. (1 Sekonde dus gelyk is aan 10 dae.)

Ek wonder of iemand nog kan onthou wie die volgende snert hier op SêNet kwytgeraak het?

“Verder is daar géén bewys dat retrogasie (retrogressie) een maal per jaar by al die buite-planete van Jupiter tot Uranus plaasvind en elke ± twee jaar by Mars nie. Dit is wilde spekulatiewe teorie op grond van karige beelde en afleidings daarvan, . . . .”

Hierdie is nou ’n geleentheid om uself van die werklikheid te oortuig. Ek verseker u dat dit nie net ’n teorie is nie en dat die beelde nie karig is nie en dat dit nie wilde spekulasie is soos beweer is nie. Die verskynsel is al sedert die mens in die hemelruim begin belangstel het bekend en word jaarliks deur duisende sterrekykers wêreldwyd dopgehou en die wetenskaplike verklaring is so logies en eenvoudig dat enige Graad 8 leerling dit met gemak behoort te begryp.

(lw. die korrekte term vir dié verskynsel is retrogressie en nie retrograsie nie soos ek voorheen foutief daarna verwys het.)

Groetnis
Panda

 

Ai, jammer, Panda! Om een of ander rede wou die foto's nie nou hierby aanheg nie. Stuur gerus vir ons nog bydraes oor die Astronomie. Groete, Naomi Meyer  

 

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Regstelling:

    Daar het ongelukkig 'n fout ingesluip by die afstande van Mars en Venus. Mars is tans ongeveer 102 milj. km en Venus 123 milj. km van die aarde af.

    Jammer vir die skets van Mars se posisie  wat in die slag gebly het. Kyk maar net 'n ruk na sononder oos. Mars staan uit en niemand  kan dit miskyk nie.

    Panda

  • Regstelling:

    Ongelukkig het daar 'n fout ingesluip by die afstande van Mars en Venus soos hierbo aangehaal. Mars is tans ongeveer 102 milj. km en Venus 123 milj. km van die aarde af.

    Die skets wat ek aangeheg het om die posisie van Mars aan te dui het ongelukkig in die slag gebly. Kyk maar net 'n ruk na sononder oos en Mars, wat uitstaan, sal dadelik die oog vang.

    Panda,

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top