Nicolaus Copernicus (1473 — 1543) het bevind dat planete om die son wentel en dat die aarde ook ’n planeet is en dus ook om die son wentel. Die bevinding was ook die eenvoudige oplossing en verklaring vir die eeu-oue raaisel van planete wat vir tydperke oënskynlik op hulle bane terugbeweeg voor hulle weer hulle normale koers begin volg. In werklikheid is dit blote oëverblindery deur die natuur en slegs ’n optiese illusie wat aan die parallaks verskynsel toegeskryf word en bekend staan as retrogressie/retrogradasie. Terloops, dit is nie my bevinding nie, dit is die amptelike wetenskaplike verklaring daarvoor.
Om die verskynsel waar te neem moet die planeet oor ’n redelike periode, (etlike dae selfs weke en verkieslik nog langer) periodiek waargeneem word. Die verskynsel is nie seisoens gebonde nie maar hou verband met die sinodiese periodes van die onderskeie planete. Die sinodiese periode van Mars is 780 dae en daarom sal die verskynsel slegs elke ± twee jaar jaar voorkom. Ongeveer ses weke voor opposisie op 16 April 2016 sal dit voorkom asof Mars omdraai en terugwaarts beweeg. Wanneer Mars op 31 Mei 2016 in opposisie met die aarde en die son is, sal sal dit in die aand in die Ooste opkom wanneer die son in die Weste ondergaan. Op daardie stadium sal Mars op sy helderste met magnitude -1,92 en sy afstand vanaf die aarde 1,5237 AE (2 285 550 km) wees. Op 27 Junie hervat Mars weer sy normale koers.
Ek sluit ’n animasie in om aan te toon hoe Mars se wentelbaan teen die agtergrond van die sterre oor die volgende klompie weke van die aarde af sal vertoon. Ek dui die spoor van Mars se beweging teen die agtergrond van die sterre aan en op die animasie ook die posisie en datums van opposisie en draaipunte.
Die verskynsel kan duidelik met die blote oog gevolg word. Alhoewel Mars tydens opposisie op sy naaste steeds relatief ver van die aarde af sal wees behoort daar met behulp van teleskope sommige landmerke waarneembaar te wees.
Aan die einde van de animasie het ek ’n voorstelling ingesluit van die veronderstelde baan van Mars waar dit volgens die geosentriese model nie om die son nie, maar om die aarde, wentel. Dit is op SêNet op 2011/05/26 deur Kobus de Klerk geplaas, nogal met die valse aanspraak dat dit op die heliosentriese model geskoei is.
Panda


Kommentaar
Ter versagting van Kobus se aanspraak: Kobus ken net die woord parallaksfout. Die woord parallaks is vir hom 'n duistere begrip.
Beste Panda,
Watter deel van hierdie jakkalsdraaie van Mars sal vir ons waarneembaar/sigbaar wees?
en dan 'n vraag uit onkunde. Ek sukkel met die woord opposisie. Lê Mars en die aarde nie in opposisie as hulle weerskante van die son is nie?
Terwyl ek nou so weerskante van die son praat, waarom ruil dag en nag nie elke ses maande om nie? (Oraait, dom vraag, maar ek wil nogtans weet.)
Groete,
Angus