Marlene le Roux (1934–)

  • 1

Gebore en getoë

Marlene le Roux is op 17 September 1934 in Bloemfontein gebore as ’n nooi De Villiers. Haar pa was biologie-onderwyser by die Hoërskool Sentraal (die bekende JF – Liefie – de Villiers). Hy het verskeie biologiehandboeke vir skole geskryf. Haar ouma aan vaderskant was Sannie de Villiers, wat toe sy al redelik bejaard was, ’n roman oor die Anglo-Boereoorlog onder die skuilnaam Sanpat geskryf het. Marlene het haar hele skoolloopbaan aan die Hoërskool Sentraal deurgeloop.

“My ma het soggens nadat my pa weg is werk toe, vir my die pragtigste impromptu-vervolgverhale vertel,” vertel Marlene aan Wessel de Bruyn (Volksblad, 19 Maart 1981), “en dit is miskien hier waar my ryk verbeelding ontwikkel het.”

Sy het in ’n biografiese skets aan NALN vertel dat haar ma die een was wat die lekker stories uitgedink en vertel het: “Dit het sekerlik ’n aandeel gehad in die ontwikkeling van my verbeelding. En omdat ek vroeg met die kinderboekies wat toe beskikbaar was, kennis gemaak het, het ek redelik gou taalvaardig geraak.”

Dus het sy nooit ’n probleem gehad wanneer dit by die skryf van opstelle gekom het nie. Maar haar pa, wat sterk op die wetenskappe ingestel was, het gemeen dat ’n mens nie ’n bestaan sou kon maak uit skryf nie en hy het besluit dat sy dogter haar in die aptekerswese moes bekwaam.

 Verdere studie en werk

Dus is Marlene ná matriek na die Universiteit van die Vrystaat omdat ’n student in die aptekerswese net eerstejaar-BSc-vakke nodig gehad het. Aan Kovsies het sy vir die eerste keer kennis gemaak met skeikunde en fisika en dit is ook waar sy haar aanstaande man, Japie le Roux van Graaff-Reinet, ontmoet het.

Sy het haar eksamen goed geslaag en het vanaf die volgende jaar by die Voortrekker-apteek in Bloemfontein gaan werk vir die praktiese deel van die kursus. Sy het vir drie jaar in die toebereiding-afdeling van die apteek gewerk – “in daardie dae moes mens nie net voorskrifte kon ontsyfer nie, maar ook emulsies en salwe maak en selfs pille rol. Daarna sou ek die res van die kursus in Durban of Grahamstad moes voltooi.”

Intussen het die “gawe student” – dit is in haar eie woorde – wat sy op universiteit ontmoet het, sy honneursgraad in geologie voltooi en het hy vir twee jaar as ’n myngeoloog by die Stilfonteinmyn in Wes-Transvaal (vandag Noordwes-provinsie) begin werk. Die twee wou nie langer wag nie en hulle is in 1957 getroud. En so het Marlene se loopbaan as apteker aan sy einde gekom. Drie kinders – ’n dogter, ’n seun en weer ’n dogter (Delia, Werner en Venita) – is uit die huwelik gebore.

Sy vertel verder: “Op Stilfontein het ons twee jaar lank gespook om studieskuld te delg en toe het my man ’n pos as staatsgeoloog in Bloemfontein aanvaar. Omdat ons toe al met ’n gesin begin het en ek hom nie altyd kon vergesel as hy vir lang tye veldwerk moes doen nie, het hy ’n onderwyspos (in 1960) by Hoërskool Sentraal aanvaar en UOD-aandklasse bygewoon om ’n permanente pos te bekom. Daarna het hy ingeskryf vir ’n honneursgraad in geografie.”

Moeilike jare vir die gesin het voorgelê met baie min vrye tyd en ook net geld vir die nodigste dinge. Dit was ’n koperlamp wat Marlene baie graag wou gehad het, wat die impetus vir haar was om te begin skryf. Die resultaat was die kortverhaal, “Die koperlamp”, wat in Huisgenoot van 4 Maart 1960 gepubliseer is. Sy het nog ’n hele paar verhale geskryf, maar moes toe noodgedwonge ophou skryf toe sy besluit om by Unisa in te skryf vir ’n BA-kursus van vier jaar wat sy in 1967 agter haar naam kon skryf. Haar man is intussen as dosent by die universiteit aangestel en in 1969 verwerf Marlene ook haar UOD-diploma.

In Desember 1971 publiseer die tydskrif Sarie Marlene se eerste poging om iets langers as ’n kortverhaal te skryf, naamlik Die geel kapsules. Dit was ’n spanningsverhaal in vier aflewerings. Petra Müller was toe verhaleredakteur by Sarie en haar kommentaar op hierdie verhaal was baie gunstig en Marlene het aan haar genoem dat sy ’n vollengte spanningsverhaal in haar kop het en dit graag sou wou aanpak.

Marlene vertel verder aan NALN: “Voor ek die storie van Die vlindervanger volledig uitgedink het, het Petra uit die Kaap gebel om die eerste twee hoofstukke aan te vra. Daar is besluit om te begin publiseer voordat hulle die res gesien het. ‘Moet asseblief net nie met jou mooi buurman wegloop nie, want dan is Saartjie in haar peetjie,’ het Petra gesê. Terwyl die verhaal nog in die tydskrif vervolg het, het Tafelberg Uitgewers my genader om die verhaal in boekvorm uit te gee. Later is dit ook verfilm en as radio-vervolgverhaal uitgesaai.”

Franz Marx het die verhaal tot ’n draaiboek verwerk en in November 1976 het die rolprent in teaters begin draai. In Mei 2004 is dit op die Afrikaanse televisiekanaal kykNET uitgesaai.

Vir Die vlindervanger wat draai om ’n seksmoordenaar, moes Marlene heelwat navorsing doen – “ek wou onder meer weet wat hulle motiveer en het gevind dat hulle byvoorbeeld ’n definitiewe patroon volg en elke twee of drie weke toeslaan,” het sy aan Volksblad (30 Oktober 1976) vertel. “Baie molesteer vroue eers net, maar later bevredig dit hulle seksueel nie en kan net moord die drang bevredig. Ná die moord is hulle dan weer heel ‘normaal’. Die ‘Boston Strangler’ is een van die moordenaars wat ek eers bestudeer het.”

In Oggendblad (11 Junie 1973) skryf Aletta Greyling só oor Die vlindervanger: “Spanning snaar stokstyf in dié ligte verhaal oor ’n groepie vakansiegangers wie se milde sonskyn- en seedae deur ’n donker wolk van moord en agterdog besoedel word.

“Heldin Ester en haar dogter, Marina, is twee van die weerlose vroue op ’n eenkant-strandoordjie, wie se dae en nagte vreesbelaai word wanneer een van hulle medevakansiegangers psigopaties word. Hy is ’n seksmisdadiger en niemand weet wie hy is of wanneer hy weer gaan toeslaan nie. (...)

“Die karakters en veral hulle angsgevoelens word hier goed geskets en met ’n sekure hand word die spanning goed opgebou tot ’n crescendo van meelewing tussen leser en karakters. Skryfster Le Roux beheer haar taal modern en met gemak en haar wisselwerking word suiwer en lewens-eg hanteer.”

BSO is die resensent van Die vlindervanger in Gereformeerde Vroueblad (November 1973): “Die Vlindervanger is ’n spanningsverhaal anders as die gewone. Spanning, prikkelende feitekennis en suiwer liefdesoomblikke is interessant, nuut en mooi. Die taal is fris en nuut; geen blomwoordjies nie, maar net alleen alledaagse woorde wat anders gebruik word. Realistiese beskrywings is treffend. Die name van die verskillende vakansiehuise is welluidend en trek die leser se aandag dadelik en jy leef saam met die rustigheid van die dorpie. Die spanning word opgebou en geen oomblik kan die leser agterkom wie die vlindervanger is nie.”

Haar tweede roman, Piroop is rooi, het sy ontstaan gehad toe haar man deur ’n groot maatskappy gevra is om in die Boesmanreservaat naby die Caprivi toetse vir diamante te doen. Piroop is ’n mineraal wat in Kimberliet aangetref word en is ’n aanduiding dat diamante in die erts aanwesig is. Sy kon nie saam met haar man na die Caprivi gaan nie, maar hy het die omgewing haarfyn in sy briewe beskryf en het ook kleurskyfies geneem dat dit nie vir haar moeilik was om haar na daardie gebied te verplaas nie. (Volksblad, 19 Maart 1981)

Vir die volgende klompie jare skryf Marlene le Roux vervolgverhale vir tydskrifte wat dan later in boekformaat uitgegee is. En toe skryf Sarie en Tafelberg Uitgewers saam ’n wedstryd uit vir ’n jeugverhaal wat in Sarie gepubliseer sou word. Sy het besluit, hoewel huiwerig, om te probeer. Haar dogter wat toe nog op skool was, het van die resultaat gehou en die verhaal is weggestuur. Alles op die spel, die titel van die verhaal, het die eerste prys in die kategorie vir jong volwassenes ingepalm. Die boek is in 1979 uitgegee en het herhaalde herdrukke beleef.

10 jaar het egter verloop voordat Marlene le Roux weer ’n jeugboek sou skryf. Dit was Die koms van die fluitspeler wat in 1989 by JP van der Walt verskyn het. Daarna het Marlene haar hand net aan jeugboeke gewaag.

Oor haar skryfmetode vertel sy aan Volksblad (30 Oktober 1976): “Ek is ’n baie metodiese persoon. Ek organiseer nie net my tyd so dat daar spesifieke skryftye is nie – ek werk die hele verhaal haarfyn voor die tyd uit. Dit neem omtrent ’n week. Die name van die karakters word uitgedink en die raamwerk van elke hoofstuk neergeskryf.

“Dan begin die groot werk. Ek kan mos nie voor ’n tikmasjien dink nie; daarom skryf ek eers die hele storie langhand uit (dit was voor die dae van rekenaars – opsteller). Dan eers begin ek tik en hierdie keer werk ek dialoog en beskrywings by en gee ek die verhaal hier en daar meer vleis.”

In 1992 word Marlene le Roux se kortverhaal “Lente” as die wenner van die ATKV en Sarie se landwye kortverhaalwedstryd aangewys en R3 000 daarmee verdien. In 1989 is haar jeugverhaal Die koms van die fluitspeler die naaswenner van die Volkskas-prys vir Jeuglektuur en in 1991 palm sy hierdie prys in met ’n Uil op die voëlhok. Sy is ook die wenner in 1993 met Groen is die kleur van genade. In 1996 is sy aan die wenkant van die ATKV-kinderboekprys, kategorie 13-15 jaar met Sterling.

Die vlindervanger, Fokus op Stella, Sterling en Die pasaangeër was almal voorgeskrewe boeke vir sommige provinsies se skole.

Uittreksels uit resensies van sommige van Marlene le Roux se boeke vir volwassenes:

  • Die Turkse pyl (1975): Maureen Joubert in Sarie (3 Desember 1975): “Die Turkse pyl, Marlene le Roux se gewilde vervolgverhaal wat vroeër vanjaar met welslae in Sarie verskyn het, is nou deur Tafelberg in boekvorm uitgegee. Ek het die verhaal weer deurgelees, dié keer in een sitting, en die boeiende, geloofwaardige gebeure wat hulle in die romantiese Istanbul afspeel, kon steeds my aandag hou. Dis ’n puik verhaal wat gebeure en omgewing netjies saamvat om vir die leser iets ánders te bied.”
  • Valke oor Delphi (1978): LvA in Hoofstad (21 Junie 1978): “Tien mense is bymekaar in die spoggerige huis van Herman en Sylvia. Nege van hulle het saam in Griekeland getoer en hulle gaan na die skyfies kyk wat hulle daar geneem het. Toe daar gevra word waar hulle sal begin, is almal se reaksie: ‘Net nie by Delphi nie.’ Iets dringends hang onmiddellik in die lug, maar dit sal nie help om Delphi te probeer verswyg nie. Die kwaad wat daar gepleeg is, het sy wortels in verre verlede, maar het in die gedagtes van mense bly voortleef. Valke oor Delphi is ’n heerlike intrige vol spanning en onverwagte wendinge wat aangename leesstof sal verskaf.”
  • Die vonds (1980): Anna van Zyl in Volksblad (26 November 1980): “Die verhaal begin met die ontdekking van ’n gefossileerde dinosourus op ’n vakansieplaas, maar daar is ook die suggestie dat daar iets anders aan die kook is. Die vonds word dan die rede dat ’n verskeidenheid mense op die plaas toesak. En moord op moord volg. Die verhaal neem egter te lank om aan die gang te kom. Dit laat ’n mens jou belangstelling verloor. Die hele eerste helfte van die boek is te wydlopig. Voor enige karakter self, weet jy al dat diamante hier ’n rol gaan speel. Daarby is die verhaal vreeslik oorbevolk. Wanneer die verhaal egter sy loop begin kry met die (ooglopend beplande) rotsstorting, kom daar ’n bietjie meer vaart. Die hele intrige doen egter gefabriseerd aan en die motiverings is te voor die hand liggend.”
  • Blomme in die ryp (1982): Anna van Zyl in Volksblad (14 Desember 1982): “Blomme in die ryp speel hom af op ’n universiteitskampus, en wel tussen die hoës op die hiërargiese leer, die ‘onbesprokenes’. Hier vind ’n geheimsinnige diefstal plaas. Drie kosbaarhede het tussen neus en ore verdwyn, en die verdagtes is almal op die oog af te hoog aangeskrewe om so ’n daad te pleeg. Die rektor vra professor Justus Myburgh, ’n juris, om die saak te ondersoek. (...) Die motiverings van mense se gedragwyse word knap en oortuigend gehanteer en kry gestalte deur die metode van terugflitse wat beskrywing onnodig maak en dus die verhaal verdig. (...) Die verhaal word pakkend en oortuigend verbeeld en dit is ’n ontspanningsverhaal wat enduit boei omdat hy knap geskryf en stewig gestruktureer is. Die hele verhaal is styf geknoop en hy sluit op bevredigende wyse af – dit kon net nie ander wees nie.”
  • Wagkamer: kortverhale (1982): Anna van Zyl in Volksblad (23 Maart 1985): “Wagkamer is ’n bundel propvol egte en verfrissende verhale. Die skryfster herken die mens se dieper emosies en daarom is daar by haar begrypende meelewing. Karakters leef en idees kry vlees (...). Wagkamer is ’n hoogs genietbare bundel wat jou prikkel om weer nuut en helder na die lewe te kyk.”

Uittreksels uit resensies van Marlene le Roux se jeugboeke:

  • Alles op die spel (1979): Anna van Zyl in Volksblad (12 September 1979): “In Alles op die spel is Maud Maritz die fokuspunt van die verhaal. Tussen die angs en kommer oor haar vader, ’n beroemde wetenskaplike se ontvoering, groei Maud ook deur haar verhouding met haar vriende, veral haar seunsmaats sodat sy ontdek hoe en waar om die lyne te trek en haar waardebegrippe in orde te kry. Maud word oortuigend geteken in die ontvoerings- en grootwordsituasie wat die verhaal intak hou. Met die skryfster se fyn waarneming en beeldingsvermoë kom die verhaal só goed oor dat tieners dit werklik geniet – dit het ek proefondervindelik vasgestel. Marlene se humorsin dra verder daartoe by dat die verhaal nie skrikwekkend of swaartillend word nie.” (Hierdie verhaal het in 1979 die eerste prys gewen in Sarie en Tafelberg Uitgewers se meisie-verhaalwedstryd in die jong volwassenes-groep.)
  • Die koms van die fluitspeler (1989): Elsabe Steenberg in Beeld (15 Januarie 1990): “Op oorspronklike wyse word ’n dogter se belewenis van die verwydering tussen haar ouers verbind met die versorging van diere deur haar veearts-tante Cora. Rosalie se reaksies as haar pa ná heelwat huwelikskonflik padgee buiteland toe, word nie soseer oortuigend ervaar nie as omskryf, soos in ’n handboek oor die invloed van egskeiding op ’n tiener. (...) Vir tieners wat lief is vir diere sal die episodes waar siek diere ’n rol speel, interessant wees. Cora is ’n lewende karakter wat vir Rosalie die fluitspeler word, soos die storieman van Hamelin, wat haar weer perspektief gee en selfs laat besef dat sy later graag ’n veearts sal wil word. (...) Dit is té maklik dat elke probleem uiteindelik bevredigend opgelos word: van die pa wat weer sal huis toe kom tot Rosalie wat met Blits én Roberto sal maats wees en wat oplaas ’n eie hond mag besit.”
  • Die koms van die fluitspeler (1989): MM le Roux in Transvaler (7 Mei 1990): “Die slot het net genoeg gelukkige ontknopings om nie oordrewe sentimenteel en onrealisties te wees nie. ’n Mens kry nogtans teen die einde se kant ’n knop in die keel. ’n Gemaklike skryfstyl en oortuigende beskrywings van die wêreld van veeartse maak dit gawe tienervermaak.” (1989-naaswenner van die Volkskas Bank-prys Jeuglektuur)
  • Die prys van ’n witkruis (1991): Marina le Roux in Die Burger (17 Desember 1991): “Die landelike agtergrond van Wintersdal, waarheen die stadskind Mariet saam met haar ouers trek, word oortuigend, realisties en liefdevol beskryf. Ewe so word die kennis van die plant- en voëllewe oorgedra, en meer spesifiek inligting omtrent die witkruisarende wat funksioneel geïntegreer word met die verhaal as ’n unifiserende tema. Le Roux oortuig met ’n gesaghebbende weergawe van feite sonder om beterwetend didakties te klink. Ook met karakterisering slaag sy in ’n groot mate om weg te beweeg van stereotipes, veral waar dit by die interaksie tussen wit en bruin karakters kom. Die fokus is alternerend op Mariet en Oliver, wat Saterdae in haar ma se winkel uithelp. Twee parallelle storielyne ontplooi rondom die twee tieners. (...) Die klimaks is wel opwindend, maar die spanning verslap jammerlik in ’n slot wat net té perfek is om geloofwaardig te wees. (...) Le Roux wend ’n prysenswaardige, dog nie so geslaagde nie, poging aan om die oordaad van los newetemas ten slotte te integreer en af te rond.”
  • Die prys van ’n witkruis (1991): Elsabe Steenberg in Beeld (23 Desember 1991): “In die kern van hierdie jeugverhaal staan die bewaring van witkruisarende. Die skrywer integreer kennis omtrent die arende en die berg waarop ’n paar nes maak en broei met die verhaal as geheel. (...) Alles word duidelik gesê in die verhaal: daar is nie ’n stilistiese sametrekking en boeiende kompleksiteit in die gang van gebeure nie.”
  • ’n Uil op die voëlhok (1991): Marina le Roux in Die Burger (4 Februarie 1992): “Erna Rademeyer se pa bou vir haar ’n pragtige voëlhok voordat hy sy vrou en dogter verlaat. Aan haar stiefpa kan Erna nie gewoond raak nie – sy weier trouens, soms koppig teen haar beterwete in, om hom ’n kans te gee om deel van die nuwe, saamgestelde gesin te word. Dis eintlik ’n verligting vir Erna as sy uitvind dat haar nuwe vriendin, June, ook ’n stiefpa het. Hul vriendskap raak egter gekompliseerd as Erna besef dat stiefvaders nie op hul uiterlike getakseer kan word nie, en as sy uitvind dat June óók verlief is op Henk Pienaar. Die drie jong hoofkarakters word sterk en oortuigend geteken en die liefdesdriehoek vervlak nie tot ’n stereotipiese sepie nie. Die oplossing daarvan is heg geïntegreer met die intrige en loop gemotiveerd ten einde. Die newekarakters, hoewel soms effens eensydig en voorspelbaar, bly tog aanvaarbaar binne konteks. (...) Le Roux se sterk punt is egter ’n volgehoue spanningslyn en die geleidelike, maar totale ommekeer in sommige persoonlike verhoudings. Die ontstellende newetema van molestering word eerlik dog sensitief hanteer. Die styl kort egter ’n streng redaksionele hand. (...) Die terugkerende simbool van die uil word egter effektief gebruik, enersyds om spanning op te wek, en andersyds en ten slotte om rustige geborgenheid en aanvaarding tuis te bring. (...) Met net 18 kort hoofstukke is ’n Uil op die voëlhok ’n ideale boek vir trae lesers in die tweede taal.” (1991-wenner van die Volkskas-prys vir Jeuglektuur)
  • Groen is die kleur van genade (1993): Lucas Malan in Rapport (22 Mei 1994): “Marlene le Roux se Groen is die kleur van genade het Volkskas Bank se prys vir Jeuglektuur gewen. Daarin word die groen kleurstof waarmee diere die genadedood toegedien word, as metafoor ontgin vir die prosesse waardeur tieners gaan om hul probleme op te los.”
  • Groen is die kleur van genade: Groblersdal se Boekklub: “Mark is amper sestien, maar die lewe het vir hom min genade – nie eens tuis nie, waar hy ’n vreemdeling is tussen sy ma en pa. Sy ma wat alewig die etenstafel dek met goue gerei vir vername gaste; sy pa wat te besig is om werklik van sy seun te wil weet, selfs nie dat hy rook nie. By Gordon en Gert en Bakkies en Daan is hy darem deel van ’n groep, al het Gordon ’n kriminele rekord en al was Bert voorheen met die polisie deurmekaar...”
  • Sterling (1994): Elsabe Steenberg in Beeld (26 September 1994): “Die titel van hierdie jeugverhaal is die ongewone naam van die hoofkarakter. Sy is in st 9 en toe Jacques Richaud by hul skool aankom, wil sy hom beter leer ken – soveel so dat sy selfs Frans begin leer, al het sy Duits as skoolvak gekies. (...) Onlosmaaklik word die twee intrigelyne vervleg: Sterling se verliefdheid op Jacques en haar pa se voorliefde vir vrouens. Dis wat hom aantrek na Arlette Morin wat vir Sterling Franse klasse gee. Dis die herinnering aan haar pa in Arlette se slaapkamer wat ’n intieme oomblik met Jacques versteur en verhinder dat sy met hom seks het. Juis dit het verreikende gevolge, want kort ná die voorval word die seun siek en bloedtoetse wys hy het vigs. (...) Al geld die verhaal net as ligte ontspanningsleesstof, kan dit vir tieners vrae oor los verbintenisse en vigs beantwoord.”
  • Sterling (1994): Marina le Roux in Die Burger (7 September 1994): “Le Roux se keuse van temas is byderwets en relevant: Seks, buite-egtelike verhoudings van ouers, en vigs. Die verhaal word soms uitermate versomber deur hierdie en ander deprimerende sake – miskien selfs ’n oorwig daarvan. Die leser twyfel soms of al die swaartillende temas werklik funksioneel tot die intrige is. Gelukkig dat Sterling so ’n sterk hoofkarakter is. Haar positiewe, nugtere ingesteldheid balanseer die melodramatiese en sentimentele insinking van die roman. Trouens, Le Roux se karakterbeelding is oor die algemeen bevredigend en geslaagd. ’n Verdere pluspunt van hierdie besonder verdienstelike en lesenswaardige jeugboek is die innoverende gebruik van Franse intertekste (...). Tot Le Roux se krediet moet genoem word dat die intertekstuele werkwyse geensins kunsmatig of hinderlik is nie, maar onopvallend geïntegreer is in die verhaalgegewe. (...) En minder geslaagde momente ten spyt, doen Sterling sy naam gestand.” (1996-wenner van die ATKV-kinderboekprys, kategorie 13-15 jaar)
  • Fokus op Stella (1996): Ingrid Wagener in Beeld (3 Februarie 1997): “Hoe gemaak as jy die getuie word van ’n diefstal? Doen jy iets met jou bewyse of dink jy aan die skade wat jy aan familiebande kan aanrig? Met dié moeilike situasie word Stella gekonfronteer wanneer sy ’n foto van ’n misdaad het, maar daarmee die lewe van ’n ander kan verwoes. Wat is die belangrikste: roem of regverdigheid? Marlene le Roux slaag daarin om die leser oor baie kwessies te laat nadink, dinge wat werklik saakmaak. Haar karakters het deernis en veral die hoofkarakter, Stella, is ’n toonbeeld van onbaatsugtigheid. As amateurfotograaf volg sy in die voetspore van haar oorlede pa, wat ’n persfotograaf was. Ondanks die gevare (die leser word werklik benoud!) probeer sy haar boesemvriendin (en wat ’n sieklike weduwee is) leed en gevaar spaar. Mens identifiseer maklik met die karakters omdat jy voel iemand word beskryf wat jy al ontmoet het. Die outeur konfronteer die leser met teenoorgesteldes: arm en ryk, regverdig en onregverdig, goed en sleg. Sy laat die los drade van die verhaal aan die einde ’n goeie eenheid vorm en die storie neem ’n onverwagte wending. Fokus op Stella is geskik vir twaalf- tot veertienjariges en bied alles wat nodig is om ’n tiener aan die lees te sit.”
  • Fokus op Stella (1996): Carien Crafford in Rapport (1 Desember 1996): “Fokus op Stella is ’n welkome toevoeging tot Marlene le Roux se vorige suksesvolle jeugverhale. Die verhaal oortuig, al kom die byna moorddadige manewales waarmee die motorfietsbende sommer helder oordag vir Stella terroriseer, effens oordrewe voor.”
  • Die pasaangeër (1999): Marina le Roux in Sarie (26 Januarie 2000): “Nico Jordaan, belowende langafstandatleet, is aanvanklik geskok omdat sy nuwe pasaangeër swart is. Maar spoedig ontwikkel ’n hegte vriendskap tussen Nico en Patrick Masibo. En van meet af aan is Patrick (en die leser) bewus van een of ander traumatiese gebeurtenis in Nico se onlangse verlede. Dis ’n byderwetse millennium-roman met nougesette aandag aan rondrits op die Net. Hoewel toeval ’n groot rol speel, behoort hierdie jeugroman groot byval te vind by talle tienerlesers.”
  • Die pasaangeër (1999): Huisgenoot, 27 Januarie 2000: “Toe Nico Jordaan se atletiekafrigter hom voorstel aan sy nuwe pasaangeër, Patrick Masibo, glimlag hy vriendelik. Maar toe die skraal, swart vingers om sy eie vou, tref die waarheid van die oomblik hom soos ’n bom, en woede en weersin wel soos ’n vernietigende golf in hom op. Sy reaksie is die gevolg van ’n motorkaping kort tevore, toe hy magteloos moes toekyk hoe ’n swart hand met ’n rewolwer daarin na hom uitgesteek word. Dit het die jong man ’n sielkundige knou gegee waarvan hy nog nie herstel het nie. Weke later rig ’n hand weer ’n wapen op Nico en sy vriende in ’n poging tot roof – maar dié keer is die vinger op die sneller wit. Nuwe begrip ontwikkel nou tussen Nico en Patrick, en laasgenoemde word ook ’n pasaangeër op Nico se pad na geestelike herstel. Dan is daar die oulike Marnie Ross wat Nico oor die internet ontmoet ... Die skrywer van die boekie is ’n bekroonde jeugverhaalskrywer, en haar nuutste het al die bestanddele van ’n treffer.”
  • Die pasaangeër (1999): Klasgids, Februarie 2001: “Marlene le Roux is ’n gesoute, bekroonde jeugverhaalskrywer, en soos altyd het haar nuutste tienerroman al die bestanddele om dit ’n treffer by jongmense in hul tienerjare te maak: dit is uiters aktueel, het ’n baie moderne aanslag, boei die leser deurgaans, verbreed/verfris so met die lees saam die algemene kennis, en die einde verras op die koop toe. Afgesien van die lekkerleeskwaliteite, beloof die aantreklike, moderne omslag om jong lesers se aandag te trek.”

Die pasaangeër was Marlene le Roux se laaste boek. Sy en haar man het ná sy aftrede in Bloemfontein gebly en hulle het hulle in een van die aftree-oorde daar gevestig.*

Publikasies:

Publikasie

Die vlindervanger

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1984
  • 1987 (grootdruk)
  • 1994

ISBN

  • 0624003736 (hb)
  • 0624021009 (sb)
  • 0868121479 (hb)
  • 0624033538 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Ametis
  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • BSO: Boekbespreking. Gereformeerde Vroueblad, November 1973
  • Die vlindervanger. Oosterlig, 1 Augustus 1973
  • EB: Dié boek sit jy nie neer. Vaderland, 25 Mei 1973
  • Greyling, Aletta: Snaarstywe spanning word lewens-eg uitgebeeld. Oggendblad, 11 Junie 1973
  • Van Coller, Hennie: Sommige boeke móét jy lees, al brand die huis af. Volksblad, 30 Desember 1996

 

Publikasie

Piroop is rooi

Publikasiedatum

  • 1974
  • 1987 (grootdruk)

ISBN

  • 0624005488 (hb)
  • 0868121533 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Die Turkse pyl

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1987 (grootdruk)

ISBN

  • 0624007162 (hb)
  • 0868121568 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Die Turkse pyl. Vaderland, 10 Desember 1975
  • Joubert, Maureen: Om te lees ... Sarie Marais, 3 Desember 1975
  • Spanning of romanse – albei is hier. Transvaler, 12 Desember 1975

 

Publikasie

Valke oor Delphi

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1988 (grootdruk)

ISBN

  • 062401097X (hb)
  • 0868121851 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • GA: Alles nie pluis nie. Oosterlig, 8 Maart 1979 (ook in Beeld, 19 Februarie 1979)
  • LvA: Nuwe boeke ... nuwe boeke. Hoofstad, 21 Junie 1976

 

Publikasie

Alles op die spel

Publikasiedatum

1979

ISBN

0624012646 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

1ste prys Sarie en Tafelberg Uitgewers se meisie-verhaalwedstryd in jong volwassenes groep

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Alles op die spel. Oosterlig, 14 Augustus 1979
  • Van Zyl, Anna: Prysboeke vir meisies. Volksblad, 12 September 1979

 

Publikasie

Die vonds

Publikasiedatum

  • 1980
  • 1987 (grootdruk)

ISBN

  • 0624014681 (hb)
  • 0868121495 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Spanningsromans

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Van der Spuy, C:
    • Fossiele en intrige. Die Burger, 16 Julie 1981
    • Intrige om fossiele. Oosterlig, 30 September 1981
    • Spanning tot einde. Beeld, 24 Augustus 1981
  • Van Zyl, Anna: Iets om mee te ontspan. Volksblad, 26 November 1980

 

Publikasie

Blomme in die ryp

Publikasiedatum

  • 1982
  • 1988 (grootdruk)

ISBN

  • 0624018458 (hb)
  • 0868121800 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • De Bruin, W: Drie nuwe romans. Beeld, 14 Maart 1983
  • Le Roux. Die Burger, 2 Desember 1982
  • Van Zyl, Anna: Spanningsverhaal is ’n treffer. Volksblad, 14 Desember 1982

 

Publikasie

Wagkamer

Publikasiedatum

1984

ISBN

079811830X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Le Roux, André: Nes dertig jaar gelede. Die Burger, 27 Junie 1985
  • Van Zyl, Anna: Deernis vir mens die grondslag. Volksblad, 23 Maart 1985
  • Wagkamer deur Marlene le Roux. Beeld, 28 Maart 1985

 

Publikasie

Die koms van die fluitspeler

Publikasiedatum

1989

ISBN

0799315168 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

1989 naaswenner van Volkskas Bank-prys Jeuglektuur

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Le Roux, MM: Dié tieners leer verlies verwerk. Transvaler, 7 Mei 1990
  • Steenberg, Elsabe: Niks vir leser om oor na te dink ... Beeld, 15 Januarie 1990

 

Publikasie

Wagkamer

Publikasiedatum

1984

ISBN

079811830X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Le Roux, André: Nes dertig jaar gelede. Die Burger, 27 Junie 1985
  • Van Zyl, Anna: Deernis vir mens die grondslag. Volksblad, 23 Maart 1985
  • Wagkamer deur Marlene le Roux. Beeld, 28 Maart 1985

 

Publikasie

Die prys van ’n witkruis

Publikasiedatum

1991

ISBN

0624030881 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Le Roux, Marina: Bogemiddelde jeugverhaal met ’n bewaringstema. Die Burger, 17 Desember 1991
  • Steenberg, Elsabe: Arende lei tot begrip vir mekaar, wit en bruin. Beeld, 23 Desember 1991

 

Publikasie

’n Uil op die voëlhok

Publikasiedatum

1991

ISBN

0799317454 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

1991 wenner Volkskas Bank-prys vir Jeuglektuur

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • AS: ’n Uil op die voëlhok. Vrystaatse Biblioteke, Oktober–Desember 1992
  • Le Roux, Marina: ’n Mens voel jy ken dié mense. Die Burger, 4 Februarie 1992
  • Steenberg, Elsabe: “Stief”-verhouding word nie gevoelig uitgebeeld. Beeld, 13 Januarie 1992

 

Publikasie

Groen is die kleur van genade

Publikasiedatum

  • 1993
  • 2002

ISBN

  • 079931983X (sb)
  • 0799329568 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: LAPA
  • Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

1993 wenner Volkskas Bank-prys vir Jeuglektuur

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Malan, Lucas: Jeugverhaal is uit die doofpot. Rapport, 22 Mei 1994

 

Publikasie

Sterling

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624032531 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

1996 wenner ATKV-kinderboekprys, kategorie 13–15 jaar

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Boeke. Klasgids, Mei 1997
  • Boeke. Klasgids, Augustus 1998
  • De Roubaix, E: Sterling. Kaapse Bibliotekaris, Augustus 1994
  • Le Roux, Marina: Omstrede tema goed geïntegreer. Die Burger, 7 September 1994
  • Steenberg, Elsabe: Dié storie kan tienervrae oor los verbintenisse, vigs beantwoord. Beeld, 26 September 1994
  • Sterling deur Marlene le Roux. Afrikaans Stereo: Skrywers & Boeke, 7 Julie 1994 (resensent word nie vermeld)
  • Van Niekerk, Evonne: Tienerverhaal praat pront oor vertwyfeling. Algemene Kerkbode, 19 Augustus 1994

 

Publikasie

Fokus op Stella

Publikasiedatum

1996

ISBN

0624034720 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Afrika-stories, riller, prentjieboeke vir kinders. Volksblad, 21 Oktober 1996
  • Boekrak. Landbouweekblad, 26 September 1997
  • Crafford, Carien: Tiener vasgevang in dilemma. Rapport, 1 Desember 1996
  • Fokus op Stella. Radiosondergrense: Skrywers & Boeke, 3 November 1996
  • Le Roux, Marina: Jeugboek stel skrywer voor uitdaging vir verdere werk. Die Burger, 11 September 1996
  • Wagener, Ingrid: “Fokus op Stella” sal tieners aan die lees sit. Beeld, 3 Februarie 1997

 

Publikasie

Die pasaangeër

Publikasiedatum

  • 1999
  • 2005

ISBN

  • 0799326747 (sb)
  • 0799329819 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Boekaankondigings. Klasgids, Februarie 2001
  • Le Roux, Marina: Die pasaangeër. Sarie, 26 Januarie 2000
  • Lees dit. Vrouekeur, 26 November 1999
  • Sterboek. Huisgenoot, 27 Januarie 2000

 

Artikels oor en deur Marlene le Roux:

Die opsteller van hierdie album kon nie vasstel of Marlene le Roux nog lewe nie. Indien daar iemand is wat dalk kan help met hierdie inligting, sal dit baie waardeer word. Daar is plek aan die einde van die skrywersalbum vir kommentaar.

Marlene le Roux se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2024-10-30 gepubliseer.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Luan Staphorst

    Aldus 'n inskrywing op NALN se Facebookblad van 17 September 2020 leef sy nog, en is woonagtig in Serenitas aftree-oord. Moontlike 'n beginpunt waarvanaf vasgestel kan word of sy nog met ons is?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top