In die skadu van soveel bome
Hennie Nortjé
Quellerie
ISBN 9780795800382
Koop In die skadu van soveel bome van Kalahari.com
Hennie Nortjé se debuutbundel sentreer, soos die titel reeds aandui, om bome. Ook uit die inhoudsopgawe kan die leser aflei dat sowat 39 van die 52 gedigte se titels betrekking het op bome en boomname. Die digter het dus ‘n sentrale idee gekies en sy verse daaromheen gebou – sommige verrassend, sommige besonder vernuftig en sommige nog onklaar of onaf. Van die langer verse in die bundel, soos op bl 29, is minder geslaag, want daar is ‘n geforseerdheid en te veel abstrakte, byna outydse woordkeuses.
Wat egter onmiddellik opval in hierdie bundel, is die sterk vormvastheid en die ingesteldheid op rym en ritme.
In die openingsgedig, “Die dendroloog besoek die woud”, word die strategie van die digter uiteengesit. Ook word gewys op die praktyk wat in die dendrologie voorkom, naamlik dat daar vir elke boom ‘n “swaar Latyns[e] en boerenaam” bestaan. Dit is ook in hierdie gedig dat die beeld van die linte geaktiveer word, wat weer later voorkom (36; 54). Uit hierdie programgedig lei die leser ook die intieme en noue verhouding tussen spreker en boom af en berei dit ons onder meer voor op die personifiëring van die bome in die res van die bundel.
In die gedig “Verdere variasie” (32) word in gesprek getree met Barend J Toerien se gedig oor die spikkels op die berkeboom. Waar die berk vir Toerien lyk soos “die besproete been/ van ‘n meisiekind”, word dit vir Nortjé “anemies/ met Karposi se sarkoom/ (onder andere)/ deurtrek.”
Die slotgedig, “In potlood” (62), verskaf ‘n kunsteoretiese samevatting van die bundel en dié twee gedigte vorm as’t ware ‘n raam. Hier word die taak wat die digter pas verrig het, naamlik om die bome teen die lug te beskryf in die voorafgaande bundel, saamgevat. Ook verklap die digter sy strategie:
Ou simbole
gerangskik
volgens kodes,
maar wie kyk
sien wat hul wil.
Maar die gedigte is nie net swaar simbolistiese verse oor bome nie; inteendeel, daar is sterk humoristiese en speelse elemente in van die verse aanwesig; vgl byvoorbeeld “Gebed van die bome langs die snelweg” (60). Slim word ook die kwessie van aardverwarming in die slot aangeraak:
Onse allemagtige aanplanters,
volgens u wil word ons besnoei,
met u allerkosbaarste waters
tydens droogtetyd besproei.
Maar ons prys u bowenal, here,
vir u ewige geheen-en-weer,
dat, geseënd met soveel uitlaatgas,
ons tot eer van u groen planeet
onverpoos mag fotosinteer.
Bome is meer as hulle blare; hulle is ook skuilplekke, slaapplekke vir voëls, en bied ook ‘n onderdak vir besinning. Vergelyk die slotreëls van “Without” (42):
maar ek wil net onder die without sit.
Maak toe al jou boeke, kom sit hier by my.
Die kinderjare en herinneringe aan die ouers word aan bepaalde bome gekoppel. So word in “Soetdoring” (52) die bekende gegewe van die buurman se gesanik oor die boom in jou erf verwerk. Die pa-figuur het ‘n soetdoringboom en die buurman kla “oor blommetjies en blaartjies in sy jaart”. Verrassend is die slot, wat dui op die verganklikheid en tydelikheid van dinge en die gelate aanvaarding van ontworteling.
In “Kroniek’ (50) word die verhaal van die ma en die “drie jong spruite” vertel en aan ‘n wattelboom gekoppel. Ook die titel van “Stamboom” (51) sluit hierby aan.
In “Wonderboom” (59) word die kitsch selfoonmasbome in die voorstad beskryf en word gepas kommentaar gelewer op die materialistiese inslag van dié simbool:
Diep gewortel in ons aarde
voed gewapende beton
heeljaar deur sy blare,
groen soos tienrandnote,
hard soos ‘n kredietkaart.
Boom van ons lewe:
nooit snoei ons aan jou,
elkeen reeds gekontrakteer
of pay-as-you-go.
Ons dendroloog-digter “skep” ook sy twee bome, naamlik in twee beeldgedigte, “Hardekool-silhoeët” (15) en “wintermymering” (61).
Sommige lesers mag dalk die lees van ‘n vyftigtal gedigte oor dieselfde voorwerp as eentonig bestempel, of as ‘n maklike manier van dig. Tog is die verdienstelikheid van Nortjé se bundel juis daarin geleë dat hy vir my, wat bitter min van bome en boomname (wil) weet, telkemale kan verras met sy fyn waarneming en sy beskrywing, sonder om in die bekende te verval.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.