Vir Cor
"sic gorgiamus allos subjectatos nunc" - we gladly feast on those who would subdue us
ek skryf verse van suiker en papier,
ontgogelde gevoelens
aldogend uit potte
paljasse van woorde
uit derms geryg
my hersings deursypel
my skedel bedans
en skattig
midde in my hart kom plons
ek stamel klakkeloos
met stugge onbeholpenheid
ek word verkwik
soos son deur loodglasventers
ek vergryp my aan kraampies kwinkslae
ek herontdek plekkies en tekstuurtjies
beleg in vlees en bloed
(lank reeds in pag)
ek biggel trane in verse
tongloos en vry
my lam, my lam
jy dreunsang in my
In Rosendal
in rosendal
word die voorsomer son se laaste tuur
onwillig uitgemelk,
as nag die skemer troef
dos aspoester haar aandrok uit oor die dorp,
strakkies haal sy haar volgende aalmoes uit ʼn kardoes
in afrika sing die nagte
dis onse carillons
die uitspansel sketter
die sterre kletter
die maan by ons is ʼn godin
dit was loom
Om ses nm
westelangs dans bloedgeel vlasse, bloei vlamme van granaat
metrum vry
salm aalmoese met sterte en donse
vlei hulle oor ’n kobalt obligaat
Pärt beheks oor die fm
(tintinnabuli fletsings opgevang met die oor, laat loop deur die kop, gaan lê in die hart)
die maan vanaand is geen godin
die son iets gans anders


Kommentaar
Woordpaljas,
Geluk!
Bravo Marius! Pragtig!