Maritha Snyman (1952–2024)

  • 0

Gebore en getoë

Maritha Elizabeth Snyman (gebore Geldenhuys) is op 8 Junie 1952 in Standerton, Mpumalanga, gebore. Sy het heelwat rondgetrek voordat sy haarself in Pretoria gevestig het. Sy het aan die Hoërskool Menlopark matriek geskryf.

Sy was getroud met Braam, en hulle het vier kinders, Henk, Ronel, Louwtjie en Danielle, en nege kleinkinders.

Verdere studie en werk

Na skool is Maritha na die Universiteit van Pretoria, waar sy haar BA-graad verwerf het, asook haar BA Honneurs, MA en DLitt. Sy het ook ’n Hoër Onderwysdiploma (HOD) aan Unisa behaal.

Maritha was oorspronklik ’n onderwyseres in tale – Afrikaans, Engels en Frans – met letterkunde as haar spesialisveld. Met haar doktorale proefskrif het sy die veld van mediakommunikasie begin ondersoek. In 1993 het die Universiteit van Pretoria haar permanent in die Departement Afrikaanse aangestel. Hier het sy haar hoofsaaklik op mediageletterdheid toegespits.

Gedurende haar tyd aan die UP het sy betrokke geraak by etlike geletterdheidsprogramme en ook programme geïnisieer. Sy het aan Storiewerf meer vertel: “Ek het veral belanggestel in die wyse waarop inligting aan ontwikkelende gemeenskappe oorgedra kan word. Ten einde die doel te bereik, het ek bepaalde kundigheid in die veld van die resepsie-ondersoek ontwikkel en navorsing gedoen oor die ontwikkeling van modelle waardeur inligting optimaal aan ’n verskeidenheid gehore oorgedra kan word.”

Maritha het egter bekendheid verwerf op die gebied van jeugliteratuur en haar leserstudies op dié gebied.

In 1999 sluit sy by die Departement Inligtingkunde aan om die vak Inligting vir ontwikkeling aan te bied en haar navorsing in resepsiestudie verder uit te brei. Sy is later as medeprofessor aangestel.

In 2008 word sy aangestel as besturende direkteur van LAPA Uitgewers in die plek van Wim de Wet. Sy het met Taalgenoot (Maart 2008) gesels oor haar nuwe werk: “Ek hoop om by LAPA my passie vir boeke en my belangstelling in lees te versoen sodat LAPA nog wonderliker Afrikaanse boeke kan maak vir al die mense wat Afrikaans in ons land praat.”

In 2014 het sy na haar eerste liefde – die akademie – teruggekeer toe sy by Unisa aangestel is, waar sy tot September 2017 gewerk het.

In 2006 het Maritha ’n studie gedoen oor Afrikaanse kinders se leesgewoontes. Deur hierdie studie het sy tot die besef gekom dat bemarking – selfs sensasionele en negatiewe bemarking – bekendheid bring: “Bekendheid van boeke en outeurs is die towerwoord. Dit is juis een van die vernaamste voordele van die reeksboek.

“Hierdie faktor speel ook ’n rol wanneer ouers boeke vir hul kinders moet aanbeveel. Hulle onthou waarskynlik die reekse beter, bloot omdat hulle meer daarvan gelees het” (Rapport, 30 April 2006).

En ook, het Maritha gesê, “as ouers meer bewus gemaak word van die waarde van lees en saam met die skool by hulle kinders se leesgedrag betrokke is, uitgewers die behoeftes van dié lesers in ag neem en die koste van nuwe kinder- en jeugboeke ondersoek word, kan kinders se weerstand teen lees afgebreek word” (Rapport, 23 April 2006).

Iets wat Maritha Snyman baie gepla het, skryf Samantha Miller (Netwerk24, 11 Mei 2024), is die gebrekkige leeskultuur van veral die jongmense in Suid-Afrika: “Die invloed van elektronika en ander vorme van ontspanning is uiteraard ’n groot uitdaging en sy wou graag oplossings bedink. ’n Aanlyn storiewerf genaamd KliekClick is onder meer geskep in 2016 waarby kortverhale vir kinders (8–12 jaar oud) in digitale formaat beskikbaar gemaak is. Hierdie projek is ongelukkig gestaak as gevolg van ’n tekort aan menslike en finansiële hulpbronne, maar dien steeds as ’n goeie voorbeeld van Snyman se passie en innoverende gees.”

’n Groot gedeelte van haar navorsing was gemik op jeugliteratuur, en sy het onder andere aandag gegee aan humor onder trae lesers (12–14 jaar oud). Dit het gelei tot die publikasie van haar grapboeke by LAPA Uitgewers. Sy het ook twee prenteboeke met pragtige illustrasies oor Banie die gebande muishond onder haar eie druknaam saam met Bargain Books gepubliseer en het dus op hierdie manier die uitdagings wat tradisionele uitgewersmodelle in die gesig staar, die hoof gebied.

En dan was daar laastens die opheffingswerk van haar en die skrywer Anzil Kulsen in die Noord-Kaap. Hulle het mense aan die lees gekry deur liefdesverhale aan vroue in afgeleë dele van die Noord-Kaap (Soverby, Karos en Prieska), sowel as vroue in tronke beskikbaar te stel. Borge soos Orange River Producer Alliance, KLK Landbou Beperk en later die ATKV het ook tot die stryd toegetree, en hulle het die projek ondersteun en moontlik gemaak. ’n Leeskultuur het gegroei en so het leesklubs onder ongeveer 600 vroue ontwikkel. (Netwerk24, 11 Mei 2024)

In ’n artikel in die rubriek “Intrapslag” in By van 7 Julie 2007 het Maritha geskryf oor die feit dat Afrikaanse liefdesverhale so ’n swak naam het en haar “betoog” ten gunste van liefdesverhale as volg afgesluit: “Romanses is hedendaagse oorblyfsels van ’n tradisie van tekste oor die romantiese liefde: die Middeleeuse liedere van die troebadoers wat van die ridderlike liefde vertel het. Van ridderlike geliefdes wat skoon, volmaak en inspirerend was. Vandag vind ons iets van hierdie ekstatiese verering van een mens vir die ander in hedendaagse romanses.

“Sprokies? Sekerlik. Maar dalk het ons juis vandag sprokies nodig. Dalk moet ons weer vir ons dogters (en seuns) romanses gee om te gaan lees. Maar wat ons beslis moet doen, is om die minagtende oordele en snedige opmerkings van intellektuele en literatore mis te lees. (…) En onthou: dit is lesers wat aan boeke hul bestaansreg gee; en die grootste persentasie lesers van fiksie in Suid-Afrika is liefdesverhaallesers; én hulle hou in ’n groot mate die literêre ratte aan die draai – en verdien miskien ’n bietjie respek (?).”

Maritha Snyman het in die laat 1990’s as outeur van kinderboeke na vore getree met die publikasie van haar Reënboogrant Maats-reeks wat vanaf 1995 deur Perskor uitgegee is en later herdrukke onder LAPA se druknaam beleef het.

Hierdie reeks het die Brink-gesin en hulle wedervaringe as hoofkarakters en gebeure. Shani is net ’n jaar jonger as haar suster Sunette en hulle is in dieselfde graad op skool. Hulle ouer broer, Dolf, is in die hoërskool en die jongste kind in die gesin is die vyfjarige Marietjie.

Sanet Steyn skryf in Volksblad (30 Januarie 2006) oor hierdie reeks: “Hierdie boeke is baie lekker leesstof vir meisies van so twaalf jaar oud. Die laaste stuk van die boeke maak jou nuuskierig en lus om die volgende boek te lees. Die boeke is net mooi lank genoeg vir ’n reënerige naweek. Die probleme wat dié kinders het, is dalk nou nie die soort probleme wat ouer meisies het nie, maar dit is nogtans lekker om van te lees. Vir die hoërskoolmeisies sou ek die Reënboogrant-tienerreeks aanbeveel. Lekker lees!”

Oor twee ander titels in hierdie reeks – Die ontvoering (hier het Maritha saam met Loraine Hattingh gewerk) en Huismoles deur Ansonette Kruger – skryf Sanet Steyn (Volksblad, 7 Mei 2007): “Veral as jy die reeks ken, is hierdie twee lekker boeke om te lees. Die situasies waarin die Brink-kinders hulle bevind, kan dalk nie op jou van toepassing wees nie. Maar dis nogal heel opwindend. Die boeke gaan oor laerskoolleerlinge en sal dus lekkerder vir kinders van dié ouderdom wees. Dit is steeds goeie leesstof.”

Na aanleiding van Die hanswors (Reënboogrant Maats 5) is Ingrid Wagener beïndruk met die heerlike geselsstyl waarin Snyman skryf, “in die taal van die hedendaagse kind. Haar taalgebruik is beeldryk (…), maar die gebruik van Engelse uitdrukkings is soms steurend. (…) Ten spyte hiervan (dalk sal jong lesers dit nie eens oplet nie!) is dit ’n uiters genotvolle boek wat nie net met die alledaagse, maar ook met die ernstige dinge van die lewe, soos die dood, handel. ’n Mens beveel dit graag aan vir lesers van elf tot dertien” (Beeld, 6 April 1998).

Maja Meyer, ’n graad 7-leerder aan die Hoërskool Stellenbosch, het die eerste omnibus van Reënboogrant Maats vir LitNet bespreek. Sy som die eerste drie boeke van die reeks wat in hierdie omnibus opgeneem is, as volg op: “Die boek gaan oor twee susters wat tien maande verskil. Sunette, die oudste, en Shani, die jongste, beleef allerlei opwindende avonture. Hulle albei is in graad 6 in Laerskool Reënboogrant. Die twee het vriende op wie ’n mens kan staat maak. Shani hou nie veel van Sunette se een vriendin, Tina, nie. Sy dink dat Tina vir Sunette misbruik omdat Tina disleksieprobleme het.

“Verder is daar chaos in die huis, met ma Maryna en pa Herman Brink wat min by die huis is. Marietjie, die vierjarige snip, pla gereeld vir Shani-hulle. Dolf, hulle oudste en enigste broer, in graad 8, hou hom soms te groot. En daar is ouma Mart, wat altyd sê wat eerste in haar kop kom en Engelse woorde háát! Wat van Ou Boela, Dolf se hond, wat ’n boerboel is en nie veel doen in die storie nie?

“En dan die moeilikheidmakers: Rachelle, graad 7, is die enigste leerder wat met ’n chauffeur by die skool opdaag; Japie, wat hardekop is en hom grootmeneer hou, alhoewel hy in graad 6 is; en Jacques, wie se pa hom gedurig mishandel – hy kom met blou kolle by die skool aan.

“Dan is daar twee seuns op wie Shani en Sunette albei verlief is: Johan en Pierre. Shani voel kwaad dat Pierre meer met Sunette tyd spandeer. Hy help Sunette met haar hekkies. Pierre is Dolf se beste vriend. En dalk … net dalk … hou Shani van Marius, die rekenaarboffin en die hakkelendste mens op aarde.

“Verder is hulle vriendinne met: Ans, ’n bietjie oorgewig; Patience of Pat, wie se pa saam met Shani-hulle se pa in Amerika studeer het; en Liz, ’n moeilikheidmaker, maar Shani se beste vriendin… Sunette presteer in haar akademie vreeslik goed en skitter in haar sport. Shani is baie goed met drama en ballet, maar almal sien net vir Sunette raak.

“Vreksel Fourie is die creepiest ou wat Sunette ken. Hy probeer haar altyd betrap om haar dalk seer te maak.

“Ook is daar Rosie, wat die Brinks se huishouding hanteer.”

Maja Meyer hou van die omnibus: “Dit klink dalk vreemd, maar ek haat skool. Tog, as ek dié boek lees, is dit baie lekker om te sien wanneer hulle in die skool is. Dis ’n snaakse, opwindende reeks wat bangmaak en ’n mens se tone sal laat krul.

“Die boek is gepas vir kinders van 10 tot 13, dalk selfs ouer. Jonger kinders mag dit lees, maar gaan nie die romantiese dele interessant vind nie. Die romantiese dele is net wanneer die kinders oor ouens dink, dans by ’n sokkie met hulle en … dalk selfs soen!”

Maja Meyer se gunstelingkarakter is Sunette, vir seker! “Sy dink glad nie aan haarself nie. Sy is vriendelik. Dit is geen haat teenoor blondekoppe nie, maar gewoonlik in stories is dit die blonde meisies wat die mooiste is. Sunette het donker hare en sy is supermooi. Sy is netjies, leer hard en kry vir enige iemand met wie dit sleg gaan, jammer. As sy regtig was, sou ek haar vriendin wou wees. Ek beveel hierdie reeks sterk aan.”

Dan was Maritha ook bekend vir haar grapboeke. Sy het etlikes die lig laat sien en Leon Rousseau het in Rapport (3 Julie 2011) geskryf dat Grappe van A–Z kinders wat dol is op grappe, sal aanmoedig om self te lees: “Ouers sal net geduldig moet wees, want die ywerige jong leser sal telkens nog ’n grappie wat in die boek is vir Ma of Pa wil vertel.” En in Volksblad (2 Julie 2011) is die illustrasies en die funky uitleg as rede genoem wat tot die plesierigheid bydra.

Oor Lekker lawwe lagboek 5 skryf Donnay Torr (Beeld, 31 Mei 2004): “Voor in Lekker lawwe lagboek 5 word drie redes genoem hoekom mense vir grappe lag: omdat jy dink dit is snaaks, omdat jou maats dit vir jou vertel en jy hulle nie wil laat sleg voel nie, en omdat jy dit nie verstaan nie. In dié boek gaan jy grappe kry wat in elkeen van bogenoemde kategorieë val. (…) Die skrywer en haar kinders het saam die grappe versamel, en Alistair Ackermann het die illustrasies gedoen.

“Die boek is perfek vir ligte leesstof as jy tyd op hande het, tussen klasse of pad huis toe in die kar.”

In 2008 verskyn die eerste van Snyman se Projek-reeks, Projek Paddaprins. Oor Projek Paddaprins skryf Mariana Loots in Die Burger dat dit ’n “speelse, romantiese, semisprokie is wat in ’n moderne konteks afspeel. ’n Groepie ‘winkel kinders’ wie se familie ’n besigheid in ’n winkelsentrum het, besluit om ’n raaisel in die sentrum op te los. Monique, die assistent in die parfuumwinkel, raak gereeld flou – wanneer daar ’n padda in die winkel opdaag.

“Aangesien daar geen vlei naby die sentrum is nie, brand die kinders om te weet wie die paddas by die winkel insmokkel en waarom. Met ’n bietjie speurwerk, ’n goeie skoot fantasie en baie geluk slaag die kinders om agter die kap van die byl te kom – en die oplossing is iets wat hulle nie eens in hul wildste drome kon dink nie.”

Loots wys op enkele foute, soos die lukrake gebruik van Engelse woorde, maar Projek Paddaprins is ’n genotvolle avontuur wat veral deur jong meisies geniet sal word.

Die ander twee titels, Projek Boontjierank en Projek Doringrosie, is in 2020 saam met Projek Paddaprinses in ’n omnibus deur LAPA Uitgewers gepubliseer.

Maritha se laaste twee publikasies is die reeks oor Antieke Griekeland: Perseus (2021) en Theseus (2022), wat deur LAPA uitgegee is. Samantha Miller (Netwerk24, 11 Mei 2024) skryf dat Maritha verkies het om kinders toevallig te leer soos met die reeks oor Antieke Griekeland en Loop lag-lag deur die wetenskapklas (2021).

Maritha Snyman is op 6 Mei 2024 in die ouderdom van 71 in ’n motorongeluk oorlede. Haar man, Braam, het aan Linette van der Merwe vertel dat ’n vragmotor klaarblyklik Maritha se motor skrams getref en die wiel afgery het. Haar motor het gerol en sy is op die toneel dood verklaar. (Netwerk24, 6 Mei 2024)

Maritha word oorleef deur Braam, haar man, hulle vier kinders, Henk, Ronel, Louwtjie en Danielle, en nege kleinkinders.

Huldeblyke

  • Samantha Miller: “’n Meesterstorieverteller skep vir jare moeiteloos leesfantasieë vir kinders. Tussen feekse, muishonde, skooldramas en humoristiese staaltjies betower sy verbeeldings met snaakse en spanningsvolle wendings in haar verhale. Om kinders te laat lees vir genot was haar grootste passie as kinderboekskrywer en uitgewer.

“Dit was vir haar die ergste om prekerig oor te kom, neer te kyk op kinders of hul intelligensie te onderskat. Sy het ’n fyn begrip gehad vir kinders en het geweet hoe om nuuskierigheid te prikkel met komiese karakters en kleurvolle situasies waarmee hulle kan identifiseer. Hoewel humor ’n belangrike motief in haar skryfwerk was, is haar boeke allermins ligsinnig. Sy het eerder humor nou verweef in storielyne om genot sowel as denkprosesse te verweef. (…)

“Vir my was sy ’n mentor, mededromer, raadgewer en vriendin. Ek gaan laatmiddagstoepkuiers, boekgeselsies, glase wyn en veral haar enorme boekrak mis. Sy het my leer krities dink, my blootgestel aan verskeie skrywers en genres en by haar het ek geleer dat alles moontlik is met ’n bietjie durf, kreatiwiteit en sjarme.

“Hiermee deel ek graag ’n greep uit Elisabeth Eybers se gedig ‘Verhaal’ (1946):

En deur die jare
het sy self die slot
van die verhaal geword:
haar stilte en krag
was skoner as die ding
waarop sy wag.” (Netwerk24, 11 Mei 2024)

  • Anzil Kulsen: “Maritha was gemaklik om saam te gaan [na die Noord-Kaap waar Kulsen en Snyman liefdesverhale aan vroue in afgeleë gebiede verskaf het] en het haarself altyd as ‘Maritha’ voorgestel, sy het nooit van die verhewendheid van haar aanspreekvorm gehou nie. Dit was een van my beste herinneringe.” (Netwerk24, 11 Mei 2024)
  • Marieta Nel, vriendin: “Maritha was ’n dierbare vriendin, studieleier, mentor en oudbaas by Lapa Uitgewers.” (Netwerk24, 6 Mei 2024)
  • Linette van der Merwe, vriendin: “Dit is ’n reuseskok. Sy was die toonbeeld van elegante grasie sonder om ooit aanstellerig te wees. Sy was die beliggaming van ruimhartigheid in elke sin van die woord. (Netwerk24, 6 Mei 2024)
  • Fanie Viljoen: “Maritha Snyman se afsterwe laat ’n groot leemte in die kinderboek-genre. Sy was ook in ’n stadium uitvoerende hoof van Lapa Uitgewers en vir my nog altyd ’n groot inspirasie. Sy het my onder meer aangemoedig om my boek Uit te skryf vir ’n Mark Shuttleworth-projek. Maritha was nie net ’n uitstekende skrywer nie, maar sy het ook ’n uitsonderlike kennis van kinder- en jeugliteratuur gehad. Een van die vernaamste studies oor Afrikaanse kinders se leesgewoontes is deur haar gedoen. Ek sal ons praatjies by boekgeleenthede baie mis.” (Netwerk24, 6 Mei 2024)
  • Nandi Lessing-Venter, uitgewer en hoof van die kinder-en-jeugboek-afdeling van Penguin Random House SA: “Maritha sal met deernis onthou word ná haar skielike dood. Sy was ’n inspirerende mentor vir my gedurende my doktorale navorsing en het my aangemoedig om my passie in die veld van kinderliteratuur uit te leef. Sy het met haar positiewe ingesteldheid en wysheid ’n enorme impak op my studies en loopbaan gehad. Haar dood is ’n groot verlies vir die Suid-Afrikaanse literêre gemeenskap, maar haar nalatenskap leef voort deur haar stories vir jong lesers.” (Netwerk24, 6 Mei 2024)
  • Henk Snyman, Maritha se seun: “Die ding wat vir my uitgestaan het van my ma, was dat sy altyd probeer het om ander mense te help om hul ideale te verwesenlik. Ek dink dit is hoekom sy die akademie en die klas gee en skool gee so geniet het. Haar motto – ’n skryfsel van NP Van Wyk Louw – was op hul kombuisdeur geskryf: Ons s’n is dit: bestáán (hoe klein ook al), bly bestaan met juistheid, bietjie trots, en heelwat liefde, en eindeloos vergiffenis vir áls: niemand tref dit móói met die heelal nie; eintlik moet ons leer ironies lewe: én binne ironie nog liefde hou.” (Netwerk24, 12 Mei 2024)
  • Carla van der Spuy, skrywer, joernalis en vriendin: “Wat ’n skok is Maritha se ontydige heengaan nie. Sy het soveel vir gevestigde en aspirantskrywers, vir my inkluis, beteken en was meer vriendin as uitgewer. Maritha het destyds vir my die geleentheid gegee om ’n misdaadboek, Mens of monster: Die psige van ’n misdadiger, te skryf. Dit was iets waaraan ek self nie gedink het om te doen nie, maar ek is vandag innig dankbaar vir Maritha se bydrae. Ek en sy het mettertyd nie net as skrywer en uitgewer saamgewerk nie, maar ook vriende geword. Dit was die lekkerste wat ek nog saam met iemand gewerk het. Maritha [was] ’n uiters talentvolle mens, en sy het voortdurend planne vir allerlei projekte gehad. Ons het ook gereeld saam gekuier, en wat ek altyd van haar sal onthou, is dat sy kunstig en kleurvol aangetrek het en ’n trotse ouma was.” (Maroela Media, 7 Mei 2024)
  • Nicol Stassen, bestuurshoof van Protea Boekhuis: “Maritha was iemand wat groot suksesse in die akademiese, intellektuele en uitgewerswêreld behaal het en ’n leidende rol in elkeen gespeel het. Dit was as professor in inligtingkunde aan die Universiteit van Pretoria en later as hoof- uitvoerende beampte van LAPA waar ons paaie gekruis het. Sy was toe reeds ’n bekroonde skrywer wat met haar Reënboogrant- en Lekker Lawwe Lagboek-reekse kinders weer aan die lees gekry het in ’n tyd waarin die Afrikaanse kinder-en-jeugboek-bestek skraal was en niemand in 30 jaar gevra het of die boeke wat gepubliseer word, werk is wat kinders wil lees nie. Die kinder-en-jeugboek-genre was redelik stief behandel en as ondergeskikte ‘lektuur’ beskou. Maritha het deur daardie skans gebreek – as skrywer en as akademikus met haar navorsing, en uiteindelik ook met ’n gesaghebbende gids tot kinder- en jeugboeke, Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom (saam met Gretel Wybenga).” (LitNet, 9 Mei 2024)
  • Jaco Jacobs, kinderboekskrywer: “Maritha was ontsettend passievol oor die Afrikaanse en groter Suid-Afrikaanse kinderboekbedryf, en haar bydrae op dié gebied het baie gehelp om Afrikaanse kinderboeke toegankliker en meer inklusief te maak. Sy was iemand wat altyd ’n kop vol planne en idees gehad het, en sy was immer vrygewig met raad en insigte – sy het menige skrywer en uitgewer se loopbaan verryk en help gestalte gee. Ek dink wat ek die heel meeste van haar waardeer het, was die manier waarop sy as akademikus kinder- en jongmensliteratuur ernstig opgeneem het in ’n tyd toe daar redelik openlik daarop neergesien is.” (LitNet, 9 Mei 2024)
  • Miemie de Plessis, uitgewer: “My loopbaan is gebou op Maritha se navorsing oor en kennis van die Afrikaanse kinderboekbedryf, maar spesifiek haar standpunte oor die kind as leser. Maritha het geglo dat die kind sentraal moet staan tot die boekmaakproses; dat kinders se insette verkry moes word en boeke uitgegee moes word wat vir kinders plesier verskaf. Boeke moes doodgewoon vir kinders lekker wees om te lees en sodoende sou die kanse verbeter om lewenslange lesers te kweek. Dit is ook om hierdie rede dat sy spesifiek ’n aanhanger en skrywer van reeksboeke was. Toe ek as groentjie die bedryf in 2000 betree het, was dit die uitgangspunt wat ek van meet af aan gebruik het.

“Maritha was moeiteloos elegant, ’n mentor vir vele, ’n gespreksgenoot soos min, en kon talle balle gelyk in die lug hou. Maar boweal was sy die wonderlikste ma vir Henk, Ronel, Louwtjie en Danielle en ouma vir haar kleinkinders. Maritha het die hart van ’n kind verstaan – al die baie kinders in haar eie lewe, maar ook dié wat hulself tussen die bladsye van ’n boek wou verloor.” (LitNet, 9 Mei 2024)

  • Nanette van Rooyen, skrywer: “Maritha kon vooruit stap sonder om jou ooit agtergelaat te laat voel, en ’n mens wat so diep beïndruk, soveel impak en effek het, behoort onsterflik te wees.” (LitNet, 9 Mei 2024)
  • Shawna-Leze Meiring, kinder-en-jeugboek-redakteur by LAPA: “Ek het vir Maritha leer ken as leser van haar Reënboogrant-boeke. Later as student – toe ons saam gewerk het aan ’n projek om vir kinders stories op hul selfone toeganklik te maak. Dit som haar vir my op. Stories, kinders, en natuurlik die humor. Sonder Maritha se visie sou die kinderboekwêreld vandag bleek gelyk het. Haar resepsiestudies het die weg gebaan vir soveel pret en waagmoed in kinder- en jeugboeke. Ons staan vandag op haar skouers en daar skyn ’n reënboog oor ons kinderboeke.” (LitNet, 9 Mei 2024)
  • Carina Diedericks-Hugo, skrywer en uitgewer: “Maritha Snyman was merkwaardig. Vrou, ma, ouma, bekroonde skrywer, gerekende akademikus, uitgewershoof, vriendin. (…) Maritha was een van die lieflikste mense wat ek al die voorreg gehad het om te ken. In 20 jaar groei mens in verskillende rigtings, maar vir diés in haar binnekring was sy altyd ’n tuiste. (…) Rus in vrede, geliefde Maritha. Jou erfenis leef voort. Jý leef voort.” (LitNet, 9 Mei 2024)

Publikasies

Publikasie

Skelmstreke en kattekwaad (Reënboogrant Maats 1)

Publikasiedatum

  • 1995
  • 2005
  • 2012

ISBN

  • 0628035586 (sb)
  • 0799335339 (sb)
  • 9780799356045 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Du Plessis, Miemie: Skelmstreke en kattekwaad. LAPA se inligtingstuk, Oktober 2005
  • Steyn, Sanet: Koel goed. Volksblad, 30 Januarie 2006

 

Publikasie

Alleen tuis (Reënboogrant Maats 2)

Publikasiedatum

  • 1996
  • 2005
  • 2012

ISBN

  • 0628036043 (sb)
  • 0799335649 (sb)
  • 9780799356052 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Die balletkonsert (Reënboogrant Maats 3) (saam met Louise van Niekerk)

Publikasiedatum

  • 1996
  • 2006
  • 2012

ISBN

  • 0628036108 (sb)
  • 0799335819 (sb)
  • 9780799356069 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

’n Nag van angs (Reënboogrant Maats 4)

Publikasiedatum

  • 1996
  • 2005
  • 2012

ISBN

  • 062836221 (sb)
  • 9780799356151 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Du Plessis, Miemie: ’n Nag van angs. LAPA se inligtingstuk, Februarie 2006

 

Publikasie

Die hanswors (Reënboogrant Maats 5)

Publikasiedatum

  • 1997
  • 2006
  • 2012

ISBN

  • 0628036310 (sb)
  • 0799336904 (sb)
  • 9780799356144 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Boeke. Beeld, 28 Oktober 1997
  • Jacobs, Jaco: Die hanswors. LAPA se inligtingstuk, Julie 2006

 

Publikasie

Teddie se geheim (Reënboogrant Maats 6). Saam met Loraine Hattingh

Publikasiedatum

  • 1997
  • 2006
  • 2012

ISBN

  • 0628036760 (sb)
  • 0799336904 (sb)
  • 9780799356076 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

1999 ATKV-prys vir kinderboeke

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Jacobs, Jaco: Teddie se geheim. LAPA se inligtingstuk, Julie 2006

 

Publikasie

Die ontvoering (Reënboogrant Maats 7). Saam met Loraine Hattingh

Publikasiedatum

  • 1998
  • 2007
  • 2012

ISBN

  • 0628036892 (sb)
  • 9780799338249 (sb)
  • 9780799338249 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Du Plessis, Miemie: Die ontvoering. LAPA se inligtingstuk, Januarie 2007
  • Steyn, Sanet: Reënboogrant-maats. Volksblad, 7 Mei 2007

 

Publikasie

Lekker lawwe lagboek: nie vir grootmense!

Publikasiedatum

1998

ISBN

0919765026 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Fundi Uitgewers

Literêre vorm

Grapboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Lekker lawwe lagboek 2000: uitgesoekte grappe vir kinders van alle ouderdomme

Publikasiedatum

1999

ISBN

9781919765051 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Fundi Uitgewers

Literêre vorm

Grapboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Gruwelike grieselrige gruwelboek: lees net in daglig

Publikasiedatum

2001

ISBN

9781919765099 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Fundi Uitgewers

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

’n Annerste ABC-boek vir aspatatte

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2003

ISBN

  • 079933054X (sb)
  • 9780799330570 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Alfabetboek

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Lekker lawwe lagboek. Omnibus 1

Publikasiedatum

  • 2000
  • 2002

ISBN

9781919765167 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Fundi Uitgewers

Literêre vorm

Grapboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Lekker lawwe lagboek. Omnibus 2

Publikasiedatum

2003

ISBN

9781919765181 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Fundi Uitgewers

Literêre vorm

Grapboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Lekker lawwe lagboek 3. Saam met al haar kinders

Publikasiedatum

  • 2001
  • 2003

ISBN

  • 1919765077 (sb)
  • 9781919765075 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Fundi Uitgewers

Literêre vorm

Grapboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Vir die kleinspan. Beeld, 18 Desember 2000

 

Publikasie

Lekker lawwe lagboek 4

Publikasiedatum

2001

ISBN

  • 1919765115 (sb)
  • 9781919765112 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Fundi Uitgewers

Literêre vorm

Grapboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Lekker lawwe lagboek 5: grappe van kort tot lank

Publikasiedatum

  • 2004
  • 2010

ISBN

  • 9780799332828 (sb)
  • 9780799342390 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Grapboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Boeke. Huisgenoot, 2004 (Presiese datum is nie bekend nie)
  • Torr, Donnay: Ietsie oud, ietsie nuut. Beeld, 21 Mei 2004
  • Vir die jonges. Beeld, 13 Desember 2004

 

Publikasie

Lekker lawwe SMS-lagboek: die lagboek met ’n nuwe baadjie

Publikasiedatum

2006

ISBN

9780620358602 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Outeur

Literêre vorm

Grapboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Projek Paddaprins

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780799342567 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Boeke vir klein mensies. Beeld, 9 September 2008
  • Grobler, Clarissa: Hoe kom paddas in ’n parfumerie? Beeld, 29 September 2008
  • Loots, Mariana: Fiksie. Die Burger, 27 Oktober 2008

 

Publikasie

Grappe van A-Z

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780799349610 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Grapboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Dempers, Adèle: Boeke vir junior. Volksblad, 2 Julie 2011
  • Rousseau, Leon: Vir kleuters, én ouers. Rapport, 3 Julie 2011

 

Publikasie

Projek boontjierank

Publikasiedatum

  • 2010
  • 2011
  • 2013

ISBN

  • 9780799347500 (sb)
  • 97807993360974 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Helouise die swart tobie

Publikasiedatum

  • 2009
  • 2013

ISBN

  • 9780799342246 (sb)
  • 9780799361216 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Stink (of nie?): nog ’n storie oor Banie die gebande muishond

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780992219635 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Herolada Wordworx

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Op of af?: ’n storie oor Banie die gebande muishond

Publikasiedatum

2014

ISBN

97809922196(sb)

Uitgewer

Pretoria: Herolada Wordworx

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Reënboogrant Maats. Omnibus 1

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780799380811 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Reënboogrant Maats. Omnibus 2

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780799389494 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Vertel my ’n grappie

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780639600451 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Grapboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Projek-reeks (Bevat Paddaprins, Boontjierank en Doringrosie)

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780639601229 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Loop lag-lag deur die wetenskapklas

Publikasiedatum

2021

ISBN

9780639608082 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinder nie-fiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Perseus

Publikasiedatum

2021

ISBN

9780639602646 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Theseus

Publikasiedatum

2022

ISBN

9781776354436 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Maritha Snyman as redakteur:

  • Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: ’n Gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek. Saam met Gretel Wÿbenga. Pretoria: LAPA, 2005 [ISBN 9780799332490 (sb)]

Artikels oor en deur Maritha Snyman:

Artikels deur Maritha Snyman:

Maritha Snyman se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2024-10-09 gepubliseer.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top