Marita van der Vyver die Woordfees se spesiale gas

  • 0


’n Heerlike verrassing wag op boekliefhebbers by vanjaar se US Woordfees. Die supergewilde skrywer Marita van der Vyver, op besoek uit Frankryk, is ’n spesiale feesgas op die skrywersprogram.

Dié gewilde skrywer is op besoek uit Frankryk en tree op as beoordelaar vir die fees se WOORDtroFEE-toekennings wat in April oorhandig  word. Van der Vyver se bewonderaars kry ook tydens die Woordfees ’n spesiale geleentheid om die skrywer te ontmoet. Op 7 Maart voer haar uitgewer, Riana Barnard, oor middagete ’n gesprek met die skrywer op Knorhoek-wynplaas.

Van der Vyver sal gesels oor haar nuwe roman wat later vanjaar gepubliseer word. Die slothoofstuk van die manuskrip is die afgelope naweek voltooi. Die verhaal strek oor drie geslagte van ’n Afrikaanse familie – van Kaapstad in die jare dertig tot Lissabon in die jaar 2000.

Die Knorhoek-optrede van Van der Vyver verskyn nie in die Woordfees se gedrukte program nie, maar lesers en feesgangers kan by Computicket bespreek vir dié optrede op 7 Maart om 12:00 vir 12:30 in Knorhoek-wynplaas se Towerbosch Aardkombuis.

Nog ’n verrassing vir besoekers aan die Woordfees, is die teenwoordigheid van die Nederlandse teatergeselskap, Theater van de Verloren Tijd. Die gewilde teater-egpaar, Sjon Brands en Dorith van der Lee, ken meer as 600 gedigte in Nederlands, Vlaams en Afrikaans uit hul koppe. Op versoek lewer hulle opwindende teatrale vertolkings van die gedigte. 

Hulle bied gratis vermaak aan Woordfeesgangers in die Boektent en Plataan-kafee tydens die feesweek, en tree ook op Saterdag 10 Maart op by die Neerlandistiekdag en Soete Groete.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top