Marionet

  • 7

Fotobron: Unsplash

Marionet
vir die selbioloog, Lewis Wolpert

Al sien ek agter die Wanderersrugbyveld
hoe die Oktobersonstrale
deur die oggendskemer breek,
ruik ek vanmiddag reeds die eerste lentedruppels
toe ek met Corlette opdraai
om sauvignon blanc
van Robertson se Rietvallei
by Willem te gaan proe
wat nuwe internettoepassings
op my iPhone laai

Ná oogselle die son
op die rugbyveld sien val,
voel die vel die druppels reën,
en ruik die neus die geur
van die witwyn wat maagselle
gretig absorbeer
Trap en stap ek by Willem rond
om, vir internetverbindings,
planne te beraam,
dan trek spierselle saam
terwyl seine deur senuselle
in ledemate woed
en suurstof vervoer word
deur die selle in die bloed

Deur my lyf as oord
plant selle lewe voort,
laat chemiese reaksies
behoeftes vir my wink
om energie vir selle aan te vul
met asemhaal, met eet, met drink

In die grootte van ’n korrel sand
binne menslike breine
vorm ’n miljoen sinapse
tussen sel en sel:
die brûe vir die senuseine
wat elke oomblik dag en nag
deur ’n geniale web
van triljoene senuselle spoed
om denke en gevoel te skep

Soos die hele mensheid
uit ’n enkelsel, triljoene jare terug,
sien ná bevrugting ook mý lyf
uit slegs één sel die lig:
totdat ’n gemeenskap van honderde miljoene
mettertyd wegslyt
soos elke tipe sel
onafwendbaar ouer word,
al stadiger herstel

As die aandskemer inkruip
gee die knieë las
trap die bene onvas
word woorde lomp
die geheue stomp
Die 30 000 genes
wat selle programmeer
om te ontstaan en te verdwyn
om saam één liggaam te beheer,
weet lankal hulle sal moet kwyn
om elders weer te sirkuleer

  • 7

Kommentaar

  • Margaret Cordier

    Stof tot nadenke – baie goed verwoord: “the law of decay” ... en moontlik onverganklike verheerlikdheid.

  • Louis du Plessis

    Eers het ek regtig gewonder of mens ’n reeks funksies van selle in een of ander soort vers aan mekaar kan ryg, tot ek onthou het dat diegene wat uitdagende paaie aangedurf het, soos Elizabeth Eybers, ons verseker het: jy mag maar ook ’n ysberg betree!
    Daniel Hugo, wat so betower met sy bundels, soos “Takelwerk”, ontbloot ons volslae afhanklikheid van die werking van ons selstruktuur in sy puik vertaling, uit Nederlands, van Dick Swaab se: “Ek is my brein – Van baarmoeder tot Alzheimer.”
    Opregte dank Margaret!

  • Jo-Ansie van Wyk

    Liewe Louis, baie geluk hiermee!

    Knap verwoord.
    Elke sel onverstoord
    gaan ons uiteindelik iedereen oorboord.

    Ek sien uit na nog van jou werk!

    Groete

  • Louis du Plessis

    So dankbaar Jo-Ansie, dat jy hier tyd verwyl waar almal kans kry om saam te skuil en voor hulle “oorboord gaan” style uitruil.

  • Louis du Plessis

    Skerp waarneming. Ek voel gevlei dat jy my met so 'n meester vereenselwig. Opregte dank Nicolaas!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top