Marico se Mambas: Lees Piet Swanepoel se vertellings ter wille van die nostalgie

  • 0

Marico se Mambas: Jagstories, liegstories, spookstories
Piet Swanepoel
Uitgewer:
Human & Rousseau
ISBN: 9780798150699
Prys: R160
 

Klik hier en koop Marico se Mambas nou van Kalahari.net!

 

In Piet Swanepoel se Marico se Mambas. Jagstories, liegstories, spookstories betree die Rympiesman die genre van die vertelling. Vantevore was hy veral bekend vir sy bundels rympies vir kleuters en ander jonger lesers, maar in hierdie versameling hou hy hom besig met presies daardie dinge waarna die titel verwys: ’n reeks jagstories, liegstories, legendes, spookstories en familievertellings sonder enige ander band as min of meer die tydperk van vervloë dae. Soos die agterflap aandui: van net ná die Groot Trek tot in die 1940’s.

Die ruimte is veral die Bosveld en Marico se wêreld, die wêreld van oom Schalk Lourens, maar sonder die ironiese humor waarvoor oom Schalk bekend geword het. Die vertellings – en baie daarvan is duidelik oorvertellings, dek ’n wye terrein onderwerpe: van die Marico se mambas tot Pagel se sirkus, die legendariese waterbobbejaan tot die Driejarige Oorlog en die delwerye in Lichtenburg se wêreld.

Ongelukkig het ander skrywers, soos Eugène Marais, Bun Booyens en die slangkenner Fitzsimmons, alreeds meer uitgebreid en met meer vernuf oor hierdie en van die ander onderwerpe geskryf. Swanepoel het wel ’n onderhoudende verteltrant wat aan die mondelinge vertelkuns herinner en hy maak beslis die nostalgie wakker na ’n vroeër tyd, ’n verbygegane era van trekosse, transportryers, smidswinkels en bokseile. Die kleindorpse en plaasbestaan word oortuigend geskilder en die verskillende vertellings is ’n ryk wêreld vir die kultuurhistorikus en die ouer garde wat graag wil onthou van die dae van die swart Welcome Dover-stoof, die Martini-Henri, die Driejarige Oorlog, die hantering van trekosse, die gebruik van ’n dissel (skaaf), ’n delfliksens, ’n blêksmid, kleiosse, spantou spring, water vir ’n pennie per viergellingblik en ’n els en naairiempies om sakke mee toe te werk.

Die leser ontmoet interessante figure uit die verlede, soos die geslepe Daantjie Nel, sterk manne wat kompeteer en ander Maricojaners. Die aardse humor, soos die tante wat haar verematras kom oplaai omdat die oorledene dit nie meer sal nodig hê nie, en die verwysing na ’n ouer persoon as iemand wat “loop met die handjie vol grond – van stof is jy en tot stof sal jy terugkeer”, kontrasteer goed met willeboere wat alles wil regdonner en die ellende van die delwerye en die konsentrasiekampe.

Verhale soos “Die ruiltransaksie” word bedrewe kortverhale, maar daar is tog te veel wat net in amper terloopse saamgevoegde oorvertellings bly steek. Die implikasies van ’n ander waarheid agter die dood van genl Beyers en selfs die oorsprong van die waterbobbejane kan egter vir sommige lesers interessante spore nalaat om op te volg. Merendeels is die historiese agtergrond tot verhale, soos tipies van vertellings van hierdie aard, egter bloot ter wille van die verhaal en nie verdere ondersoek waardig nie.

Waar party lesers dalk gesteur sal word deur die aantal “raspejoratiewe”, bly die gebruik daarvan tog kontekstueel geregverdig as deel van die beeld van die samelewing van daardie tyd.

Ten spyte van die ongelyke vlak van hierdie vertellings is dit tog lesenswaardig ter wille van die onthou en rekonstruksie van ’n vroeër leefwêreld waarin veral ouer lesers en nuuskierige historiese-taal-entoesiaste vreugde kan vind. As jy dus behoefte het aan “’n stomende koppie koffie en gróót wit boerbeskuit”, of verlang na jou ouma met die potlepel wat uit ’n halwe ploegskaar gesny is, lees gerus. Jy sal net daarna iemand met ’n tiekie gaan bel.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top