Marié Heese (1942–)

  • 0

Gebore en getoë

Marié Heese is op 27 September 1942 in Kaapstad gebore as die enigste kind van Audrey en AP de Villiers. Haar ma was die bekende skrywer Audrey Blignault.

Marié word in ’n skrywershuis groot. Ná haar ma se begrafnis op 6 Oktober 2008 (Die Burger 7 Oktober 2008) sê sy dat haar ma ’n “ongewone ma” was, wat bitter onprakties was en nie kon naaldwerk doen of kos kook nie, maar “my ma was ’n lekker ma. Sy het altyd opreg gedink ek is wonderlik. Sy was ’n gawe ma.”

Haar ma het vir haar gedigte aan die ontbyttafel voorgelees en sy kon nie anders as om goedgekose woorde te leer waardeer nie. “Ek onthou daardie verskríklike mooi gedig van Charlotte Mew. Hy eindig só: Like the streets of the holy city, old blind beautiful Jerusalem over which Christ wept  . . .”

Reeds toe sy ’n tienjarige dogtertjie was, het haar eerste werk, ’n Engelse gediggie, in Die Huisvrou verskyn. Sy word in Kaapstad groot en matrikuleer aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in 1959.

Verdere studie en werk

Ná skool is Marié na die Universiteit Stellenbosch, waar sy in 1962 haar BA-graad behaal met staatsfilosofie en Engels as haar hoofvakke, laasgenoemde met onderskeiding. In 1963 verwerf sy haar BA Honneurs in Engels met lof. Sy behaal ook ’n tweetalige diploma in drama aan die Akademie vir Dramakuns op Stellenbosch, asook ’n onderwyslisensiaat in voordrag en drama deur Unisa.

Sy verwerf ook haar doktorsgraad in Engels en die titel van haar doktorale tesis is Facilitating English reading competence through text analysis, wat handel oor hoe om studente te help om beter te lees en te begrýp wat hulle lees. “En in die proses het ek ook navorsing gedoen oor die belangrikheid van taal vir studente; en die belangrikheid van móédertaal. En dit is hoekom ek so vás staan op die noodsaaklikheid van moedertaal, en nié nét vir Afrikaanse kinders nie. Ook in die swart skole – as jy vir hulle kan onderrig in ’n taal wat hulle behoorlik verstaan, dan sal dit baie beter gaan met hulle ook. Dis een van ons groot disasters dat daai ding nie besig is om te gebeur nie.” (Die Burger, 19 Maart 2010)

In 1964 tree Marié in die huwelik met Chris Heese, ’n Natalse onderwyser, en hulle vestig hulle in Durban, waar sy vir drie jaar aangestel word as lektrise in die Departement Engels van die destydse Universiteitskollege, Durban, later die Universiteit van Durban-Westville.

In 1967 word Chris en Marié se eerste seun, Frederik Daniel (Fritz) gebore; in 1969 volg Adré Elizabeth en in 1972 Andries (wat in 1999 op 27-jarige ouderdom oorlede is).

In 1974 verhuis die Heese-gesin na Empangeni, waar Marié tydelike betrekkings aanvaar, eers aan die Universiteit van Zoeloeland en later as onderwyseres in Engels en ook in Afrikaans aan die Hoërskool Empangeni en die Laerskool Richardsbaai. Hulle is later na Richardsbaai, waar Chris skoolhoof was en Marié self ook weer onderwys gegee het.

Sy was ook ’n akademiese onderwysraadgewer aan Unisa, waar sy aangestel is as direkteur van akademiese-personeel-ontwikkeling. Dit het behels dat sy met verskeie fakulteite saamgewerk het aan die ontwikkeling van afstandleermateriaal. In 1999 het Marié met vervroegde pensioen afgetree.

Vanaf Januarie 1979 tot November 1983 dien sy as kommandante van die Richardbaaise Voortrekkers en die Orde van die Wawiel word aan haar toegeken. Sy is ’n assessorlid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en was ook ’n lid van die destydse Skrywersgilde.

Ná haar aftrede is sy in 2003 deur die Noord-Kaapse Departement van Opvoedkunde aangestel om ’n reeks werkswinkels aan te bied aan onderwysers getiteld “The magic of poetry: teaching for understanding and appreciation”.

Terwyl hulle kinders klein was, behartig Marié sewe jaar lank ’n boekerubriek vir Die Huisvrou en skryf sy ook bydraes vir die destydse Sarie Marais (nou Sarie). In 1969 word The owl critic, ’n inleiding tot die letterkundige kritiek, in samewerking met Robin Lawton gepubliseer.

Marié se kennis en kritiese beskouings van die Afrikaanse letterkunde kom na vore in die blokboek wat sy oor die werk van Elise Muller geskryf het. Benewens haar letterkundige publikasies het sy ook navorsingsartikels in spesialistydskrifte en konferensiebundels gepubliseer. ’n Bradlow-beurs is vir haar doktorale studie aan haar toegeken en sy het ’n maand deur Amerika gereis.

In 1981 vertel Marié aan Amanda Botha in Die Transvaler dat sy eintlik as plaasvervanger begin skryf het. “In my ma se plek toe sy na ’n motorongeluk in die hospitaal was en nie haar gereelde tydskrifrubriek kon volhou nie. Ek het, soos sy, persoonlike essays geskryf, gerig op die avontuur van die alledaagse – van kinders grootmaak en jong huisvrou wees.”

Dit was maklik vir haar, maar sy het besef dat dit nie haar genre is nie. Uit haar eerste reeks essays het Tafelberg Uitgewers ’n keuring gedoen en gevra of dit in boekvorm kan verskyn en só het Tokkelspel in 1972 die lig gesien.

Tokkelspel het na sy verskyning baie gunstige resensies ontvang, met resensente wat gepraat het van “’n vrolike en fleurige boek” met essays wat lekker vlot lees (Hoofstad, 24 Desember 1972); “Ernstige essays is die nie: sjarmante, sonnige, spontane geselsies wel,” (Volksblad, 27 November 1972); “Net soos haar moeder het sy die gawe om met sensitiewe insig die humor in alledaagse gebeurtenisse te beskryf” (Rapport, 29 Oktober 1972).

Sy wou egter nie met die essays voortgaan nie. “Ek wou nie ‘the poor man’s’ Audrey Blignault word nie. My ma het aan daardie soort essay statuur gegee en dit op meesterlike wyse beoefen. Ek wou nie op daardie vlak kompeteer nie. Ek wou iets van my eie onderneem.”

Sy het toe al lank in die roman belanggestel. Sy het vir haarself ’n uitdaging in die roman-genre gesien om dieper en wyer te delf as wat die beperking van die essay vra. “Ek wou altyd romanskryfster word. Ek het dit as skoolkind geniet om opstelle te skryf en op Stellenbosch het ek al my hand aan ’n roman gewaag. Dit het egter nie geslaag nie, want ek was nie reg daarvoor nie.”

Haar kinderboek Die Pikkewouters van Amper-Stamperland (1974) was die eerste waaraan sy haar hand gewaag het. Dit was ’n groot sukses en sy het dit vir televisie verwerk. Dit is ook as ’n kinderreeks op SABC se Afrikaanse kanaal gebeeldsend, asook vir die verhoog verwerk en by die Maskerteater in Pretoria opgevoer. Die vervolg, Avonture in Amper-Stamperland, is ook vir televisie verwerk en deur die SABC gebeeldsend.

Die storie oor die twee Pikkewouters, Pikketoos en Pokkelwyn, wat in Amper-Stamperland woon waar daar wilderoosbome, pedonkies, brakkevarkies, tamartjies en slakkelange is, is pragtig geïllustreer deur Cora Coetzee. Die illustrasies vul die pragtige verhaal perfek aan. Goeie hoofstukindeling met duidelike opskrifte dui die verloop en hoogtepunte van die verhaal mooi aan en die woordgebruik van die skryfster is uiters oorspronklik. Die tydloosheid van die koddige verhaaltjie met die pragtige woordspelings maak dit vir vandag se kinders nog net so prettig, skryf Elsabe Steenberg (bron onbekend).

Die skryf van die kinderboek was vir Marié ’n diep bevredigende ervaring en die feit dat Pikkewouters so goed ontvang is en lekker geloop het, het vir haar baie plesier gebring, maar die begeerte om ’n eie roman te skryf was nog altyd daar.

Sy wou skryf oor aspekte van die vrou in veranderde tye en die reaksie van die vrou daarop soos dit in verhoudinge neerslag vind. Die ervaringe van haar twee oumas, wat sy goed geken het, was vir haar boeiende materiaal. “My twee oumas was albei merkwaardige vroue. Ek het dikwels oor hul lewe en die tydperk waarin hulle geleef het, gedink. Hulle het in ’n tyd van woelinge geleef wat vele veranderinge gesien het. Ek wou in my roman die toespeling daarvan op die vrou uitbeeld.”

En so het die Die uurwerk kantel, wat in 1976 gepubliseer is, sy ontstaan gehad. Dit was ’n kritiese sowel as literêre sukses en is as ’n radiodrama verwerk en deur die biblioteekgebruikers van die Wes-Kaap aangewys as een van die beste 100 boeke in die 20ste eeu. Dit is ook deur Juanita Swanepoel vir die verhoog verwerk en aangebied by die KKNK van 2003, asook by die Woordfees. Dit is oor ’n tydperk van 26 jaar vir skole voorgeskryf.

Ná die publikasie van Die uurwerk kantel skryf Audrey Blignault (Rapport, 2 Augustus 2009): “Marié is anders as ek. Sy verwoord nie alles in daaglikse gesprek nie. Sy het nie daardie behoefte (...) nie. Ek het soms gedink sy weet nie hoe iets regtig is nie. Dit wat vir my tot soveel bittere hartseer stem – ek het regtig by tye gemeen dat dit Marié verbygaan. En hier is dit nou in dié boek. Haar oom se dood. Haar pa se dood. Dit is alles in dié boek. Soos Marié vir my die dag met die boek se verskyning gesê het: ‘Ma, ek het my hele lewe lank aan die boek geskryf.’”

Die uurwerk kantel was volgens Marié deels biografies, deels outobiografies en ook suiwer fiksie. “Dit is juis waarom ek die roman verkies, want daar kan altyd agter fiksie geskuil word,” verduidelik sy aan Amanda Botha in Die Transvaler. “Hierdie roman was vir my ’n baie bevredigende ervaring. Die feit dat ek sekere ervaringe kon verwerk – onder meer die dood van my pa – was vir my baie belangrik.”

Die verhaal van Die uurwerk kantel weerspieël wesenlik enkele herinneringsgrepe uit die lewe van Maria du Preez, gebore Celliers, vanaf 1897 tot 1972, waar die ou vrou Maria op haar uiterste siekbed lê. Maar, skryf PD van der Walt  (Die Transvaler, 27 November 1976), reeds vroeg in die verhaal is dit duidelik dat dit ’n teruggryp in die lewe van die dramatiese verteller is. Hierdie rede word in kursief gedruk en dan neem die derdepersoonsverteller oor wie se beelding toegelig word deur Maria se gedagtestroom op daardie tydstip. Die leser is dus bewus daarvan dat dit ’n verhaal in terugskouing is, maar deur die tegniek van afwisseling van gesigspunt word daardie verlede ’n lewende en geskakeerde werklikheid.

Die eerste deel beeld Maria se kinderjare op die Bolandse wynplaas, haar skoolgaan en haar universiteitsjare tot en met haar huwelik met Willem die meesterbouer van Kaapstad uit. Die tweede deel vertel van haar lewe in Kaapstad en die geboorte van haar kinders. In die derde deel is Maria en Willem reeds middeljarig en die kinders uit die huis. Omstandighede buite die huis, soos die Tweede Wêreldoorlog, raak hulle. Dit is dus ’n gesinsverhaal wat oor vier geslagte strek, met Maria se lieflingskleinkind Mariechen reeds volwasse.

Die dinge waarvan vertel word, is die klein avontuur van menswees (Van der Walt): kind, jong meisie, vrou, oumens, met al die intieme huislike en familiale lief en leed wat daarmee gepaard gaan. En tog maak die skryfster hiervan ’n boeiende en sinvolle avontuur. Daar is negatiewe dinge in die roman, maar dit doen nie afbreuk aan die verdienstelikheid, die knapheid en rypheid van hierdie debuutwerk nie. Dit is ’n talentvolle stuk skepping en kan die voorspel tot groot dinge wees.

In 2006 is ’n tweede uitgawe deur Protea Boekhuis uitgegee en is enkele veranderinge aangebring. Nicol Stassen van Protea Boekhuis het gesê dat sekere terme binne die patriargale sisteem en baas-kneg-verhouding verouder was en met hulle rassistiese ondertone aanstoot kon gee. “Maar jy moenie die geskiedenis so verander dat dit onherkenbaar is nie.”

Betsie van der Elst (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Junie 2007) meen dat Die uurwerk kantel nie deur die sif van die tyd irrelevant gemaak is nie en dat veral die algemeen-menslike van die roman die hedendaagse leser steeds behoort te boei.

Anna M Louw het in Beeld van 18 Oktober 1976 geskryf dat Uurwerk ’n baie verdienstelike roman is en een wat aandag verdien. Dit voldoen aan die vernaamste vereistes van die romankuns en dit boei die leser. Dit is verfrissend om jou te verdiep in die rustiger, waardiger, minder selfsugtige lewenspatroon van daardie dae.

Oor die 2006-uitgawe skryf Louise Viljoen (Beeld, 24 Julie 2006) dat as dit geplaas word teenoor soortgelyke romans wat sedert 1976 deel geword het van ons leeservaring in Afrikaans, dit wel ’n behendig geskrewe teks is wat mooi momente bevat, maar nie werklik grense kon versit nie.

Marié se roman Tyd van beslissing is vir skole in Suid-Afrika voorgeskryf, en Unisa het The box kite summer, ’n jeugverhaal, voorgeskryf. Our secret, wat ook as Ons geheim uitgegee is, is in Xhosa vertaal en vir video aangepas.

Tyd van beslissing is ’n gyselaarsdrama waarby vooraanstaande Suid-Afrikaanse politieke figure en hul families betrokke raak. In hierdie roman maak Marié Heese gebruik van ’n buitelandse terroristegroep wat ’n ultimatum aan die regering van Suid-Afrika stuur, om die tema van die geveg tussen vryheid en “gevangenskap” uit te beeld. Só word die eerste minister verplig om ’n keuse te maak tussen sy persoonlike belange of dié van die staat. In Volksblad (8 Desember 1983) het Anna van Zyl geskryf dat dit ’n spannende aktualiteitsroman is wat ’n idee gee van hoe só ’n situasie mense kan inspireer. Daar is knap persoonlikheidsbeelding en die roman lees lekker, hoewel die storie nie altyd intakt is nie. Dit is ook nie van die kaliber van Die uurwerk kantel nie.

In 2010 word Marié se The double crown: secret writings of the female Pharaoh aangewys as die wenner van die Statebond-skrywersprys se Afrika-streeksprys. Sy het aan Willem de Vries (Beeld, 13 Maart 2010) gesê sy was werklik verstom oor die prys. “Die manuskrip was by meer as 40 uitgewers, in Suid-Afrika en oorsee, gewees voordat een dit aanvaar het. Dit het met ’n ompad by Human & Rousseau aangeland. My redakteur Alida Potgieter was van meet af aan geesdriftig daaroor, en met haar voorstelle het ek veranderinge aangebring wat die teks verbeter het.”

The double crown is ’n politieke riller, wat lig werp op Hatsjepsoet, een van die interessantste vroue wat Afrika opgelewer het. Sy het teen ongeveer 1 500 vC die dubbele troon van Bo- en Onder-Egipte haar eie gemaak en haarself tot farao en god verklaar en die troon voor haar stiefseun, Thutmose III, bestyg. Terwyl sy regeer het, was daar vrede, voorspoed en ekonomiese welvaart in Egipte. Sy het ook ’n uitgebreide bouprojek van stapel gestuur wat tempels en beelde van ou gode herstel het.

Hatsjepsoet se naam is egter na haar dood van koningslyste en uit tempels verwyder en baie van die standbeelde wat sy laat oprig het, is in puin gelê. Gelukkig het haar eie tempel bly staan, en die unieke ontwerp is steeds ’n monument van die besonderse vrou. Argeologiese navorsing deur die Metropolitan Museum in New York het heelwat lig op die era van Hatsjepsoet gewerp, maar daar is steeds, skryf Saartjie Botha in Rapport (2 Augustus 2009), onbeantwoorde vrae oor haar lewe en veral rondom haar dood. En dit is juis hierdie vrae wat vir Marié Heese uitstekende romanmateriaal geword het.

Marié was nog altyd geïnteresseerd in antieke Egipte en het van Hatsjepsoet gelees in Evelyn Wells se biografie Nefertiti waarin daar na haar verwys word. En die geheimsinnigheid rondom haar, het Marié geprikkel en haar laat dink hoe sy dit reggekry het om die rolle van vrou en kombineer bymekaar te bring. Marié het ook Pauline Gedge se roman Child of the morning gelees en toe opnuut oor Hatsjepsoet gefassineer, vertel sy aan Amanda Botha in Die Burger van 13 Junie 2009.

“Daar is soveel gissinge, soveel onduidelikhede en net soveel weergawes, soveel onduidelikhede en net soveel weergawes,” vertel Marié aan Amanda Botha (Die Burger, 13 Junie 2009). “Toe ek nadink oor Hatsjepsoet, as stiefma, se verhouding met haar stiefseun en wonder oor die rol van Senenmut, het ek vir myself gesê: ‘Bliksem, dit kan ’n interessante roman wees’ en toe het my speurtog met mening begin.”

Marié en haar man Chris is op Hatsjepsoet se voetspore na Egipte en in die Kaïro se argeologiese museum het hulle op ’n ongelooflike versameling artefakte afgekom. Sy het daardeur gegaan totdat sy uiteindelik op die grondverdieping op ’n enorme beeld van Hatsjepsoet afgekom het. “Dit is ’n reusagtige kop van gepoleerde rooskleurige graniet. Die taamlik ronde gesig, ferm lippe, amandelvormige oë en die vals baard van die farao’s netjies onder haar vasberade ken, waarskynlik in posisie gehou met lusse oor die ore, het my opnuut bekoor. Oor die jare is daar baie verskillende portrette van haar opgestel. Terwyl ek na die reusagtige beeld van haar gekyk het, het baie vrae by my opgekom oor wie sy werklik was,” aan Amanda Botha.

Daarna is hulle met die Nylrivier op ’n boot na die Vallei van Konings totdat hulle Hatsjepsoet se tempel opgespoor het by Deir el-Bahri (in vervloë tyd Djeser-Djeseru, heiligste onder heiliges). Die tempel staan aan die westelike wal op ’n oop vlakte, met enorme kranse agter en vir Marié is dit een van die mees verbysterende strukture van die antieke wêreld.

“Daar is geen ander strukture in Egipte wat eens naastenby so lyk nie ... Die ontwerp is ’n oorspronklike verbeeldingsprong en opgerig met doelgerigte toewyding. Ek dink dit is niemand anders as Senenmut nie, en hy het dit pragtig gemaak. Dit was nie bloot ’n opdrag van ’n Farao nie. Dit was ’n grootse ode aan ’n geliefde vrou.”
Senenmut het as ’n nederige skrifgeleerde begin en is aangestel as die leermeester van die prinses Neferure, dogter van Hatsjepsoet. Hy het opgang gemaak tot die regterhand van die farao.

Marié het die roman in Engels geskryf omdat sy wou sien “if I could crack it” en ook omdat die taal van die tydperk ’n antieke retoriek moes hê – “Ivanhoe meets Old Testament”. Afrikaans as taal is te jonk hiervoor.

Ná die publikasie van The double crown vertel Marié aan Saartjie Botha (Rapport, 2 Augustus 2009) hoe sy toe oor Hatsjepsoet voel: “Asof sy ’n mens is wat haar aan my openbaar het. Asof ons kon kommunikeer. Nie in ’n bonatuurlike sin nie. Eerder asof sy ’n halfbekende familielid was wat ek sou geken het, maar toe moes gaan soek in haar nalatenskap.”

Sy het ook gekyk na profiele van veral Elizabeth I, Margaret Thatcher en Golda Meir terwyl sy aan Hatsjepsoet gewerk het. Sy “vrek oor mans”, maar bewonder sterk vrouefigure, wat deel is van haar voorgeslagte.

Oor hoekom sy juis op daardie tydstip aan Double crown begin skryf het, vertel sy aan Corné Coetzee in Volksblad (9 September 2009): “Ná Uurwerk het ek ’n ‘belated’ akademiese loopbaan gehad ... Daar was nie tyd vir ’n vollengte historiese roman nie. Toe het ek vroeg afgetree en besluit ek gaan weer skryf, ’n historiese roman, want dis eintlik my genre en ek geniet die navorsing. Maar ’n lang tyd kon ek geen manuskrip van enige aard aanvaar kry nie.

“Ek het amper moed opgegee, was een derde van die pad deur The double crown toe my seun my ’n boek oor antieke Egipte gee en ek besluit: Nou skryf ek klaar. Hatsjepsoet wil gehoor word.”

Oor die totale respek vir die Egiptenare, en spesifiek Hatsjepsoet se geloof, waarmee sy skryf, vertel Marié aan Coetzee: “Die geloof van die Egiptenare was veral vir die farao van wesenlike belang, nie ’n toeristefoefie nie. Ek wou wys met watter diepe erns Hatsjepsoet daarvolgens probeer leef het, met ’n gevoel van geroepenheid en verantwoordelikheid. En skuld. Ek respekteer verskillende benaderings tot die onsienlike.”

Oor The double crown skryf Leatitia Pople in Die Burger(13 Julie 2009): “Om ’n leser meer as 3 500 jaar terug te neem in die geskiedenis, na ’n antieke ryk, na mense met ’n gans ander Godsbegrip as die Westerse wêreld en ’n hoogs verwikkelde politieke bestel, wil gedoen wees. Marié Heese laat jou met gemak ’n reusetydsprong maak.

“Hier is nie ’n sweempie muf van die stowwerige geskiedkundige re­laas nie. Soos ’n goëlaar roep sy ’n imposante antieke Egipte voor die geestesoog en gee sy vir Hatsjepsoet, die enigste vroulike farao, wat twee dekades regeer het, die lewenskus. (...) As daar ’n rolprent van dié boek gemaak word, sal die kinematograaf die visuele voorstellings en inkleding reeds in die hand hê. Teen dié grootse doek word Hatsjepsoet bekendgestel as die gesalfde van die gode en volgens haar bloedlyn die aangewese heerser. Tog was daar vele, selfs in haar intiemste binnekring, wat hiërogliewe van haar wou maak. Die verhaal word as haar ‘eie’ rekord van haar bewind aangebied – sy is ‘self’ aan die woord. Elke hoofstuk word afgesluit met ’n tipe voetnoot van haar sekretaris, Mahoe. Sy skrywe verskaf die groter prentjie en skets die verreikende gevolge van haar dade. (...)

“Bowenal staan haar toenemende eensaamheid as farao uit, wat ná haar man se dood nie ’n minnaar mag neem nie, hoewel die manlike farao ’n harem gehad het. Dit sou as verknegting aan ’n sterflike man beskou word en sy sou so summier van haar mag ontneem word. Daar was wel tyd vir liefde en teleurstelling. Wat die leser veral in ’n boeiende greep het, is die onophoudelike verraad en dat Hatsjepsoet niemand kon vertrou nie, selfs nie haar getrouste raadgewers nie. Haar toenemende vereensaming gryp aan.

The Double Crown is ’n roman waarin jy jou nou behoorlik kan inleef; dit kan op soveel vlakke geniet word. Hoewel dit fiksie is, maak dit die antieke geskiedenis lewend. Heese se uitgebreide navorsing is so treffend vertolk dat jy ’n verlies voel as jy die boek oplaas toemaak.”

In Rapport Boeke (7 Augustus 2011) skryf Moira Richards dat in The double crown Marié daarin slaag om haar in lewe in die kop en alledaagse lewe van Hatsjepsoet te plaas. Terselfdertyd fokus sy sy op vraagstukke wat vandag nog steeds van belang is soos “glasplafon-magskwessies” in ’n patriargale samelewing, topposte, die openbare lewe en die prys wat kinders, vriende en die gesin moet betaal.

Dit is straks Marié se kennis van staatsfilosofie en drama, asook haar ervaring as letterkunde-onderwyser, meen Richards, wat daartoe bydra dat al speel The double crown in ’n onbekende wêreld in ’n vervloë tyd af, dit steeds baie leesbaar is.

In 2010 publiseer Tafelberg ’n Honger reisiger: reisverhale met resepte, en vir Joan Hambidge (Volksblad, 20 Julie 2010) is dit ’n briljante konsep. Die plekke waar in die boek gekuier word, is heel verskillend en die skets van die reis daarna is net ’n verskoning vir die resep. Met die geregte kuier Marié opnuut weer in daardie lande of streke wat sy en haar man besoek het. “Daar is veel te smul aan die boek: van haggis tot Robert Burns, van hoender met pruimedante tot ’n vaart oor die Bosporus.”

Moira Richards (Rapport, 7 Augustus 2011) meen dat die bekoring van Marié se reisbeskrywings in haar vermoë lê om die versteekte juweeltjies uit te grawe oor die plekke wat sy besoek. En waar daar nie ’n storie is nie, kry sy dit maklik reg om ’n geloofwaardige interpretasie van die feite vir haar en die lesers voor te stel.

Op ’n dag is Marié in Stilbaai se biblioteek toe sy toevallig ’n kopie van National Geographic van ’n paar dekades vroeër raakloop waarin daar oor die Bisantynse Keiserryk geskryf is. Twee jaar na The double crown bring Marié toe vir haar lesers The colour of power: a story of Theodora, Empress of Byzantium, nog ’n deeglik-nagevorsde geskiedkundige avontuur wat ’n mens nie kan neersit nie, skryf Moira Richards in Rapport Boeke van 7 Augustus 2011. Dit spring 2 000 jaar die verlede in en speel af in die 6de eeu nC. Dit vertel die verhaal van die gebore Siriër en ontkleedanseres wat uiteindelik die keiserin, vrou van die groot Justinianus I, keiser van Bisantium, word.

Nie net beskou Heese die historiese bronne tot haar beskikking versigtig nie, maar sy herbeoordeel ook die afleidings en verklarings van baie geskiedkundiges van die 20ste eeu. Ook is haar houding baie minder seksisties. Een van die bronne wat baie inligting oor daardie tydperk opgelewer het, is die bewaarde en vertaalde werk van Prokopius, 6de-eeuse skrywer en historikus.

Sy sê aan Moira Richards: “I find it strange that historians who, on the one hand, do not take seriously Procopius’s statements that Justinian was a daemon who could disappear through walls, on the other hand do swallow accusations that Theodora routinely slept with thirty men per night.”

Verder bevraagteken sy Prokopius se bronne, iets wat net so relevant is vir lesers in 2011: “Doesn’t anyone notice that Procopius passes on totally uncorroborated hearsay? He actually uses the words ‘we are told’ on p 44 and ‘it is said’ on p 84. Hearsay in the passive voice. How can such a reporter be trusted?”

Die middelpunt van The colour of power is Theodora se lewe, haar begrip van die politiek van die dag en haar invloed as keiserin. Vir Moira Richards (Rapport, 7 Augustus 2011) is die eenvoudige, dog toeganklike taal met eietydse dialoog een van die pluspunte van die boek. Die leser is vasgenael en bly aan die raai oor die uiteinde van die storie.

Die storie begin waar keiser Justinianus toegesluit is in een van sy luukse paleise. Duisende inwoners is besig om te “betoog” teen die keiser se tirannie en hulle wil ’n verandering van heerser hê. Tot die gesamentlike mag van die weermag en die huursoldate kan nie die skare beheer nie. Vir Richards kon dit net sowel die storie oor die Arabiese Lente van 2011 in een van die lande langs die noordelike kuslyn van Afrika gewees het.

Dit is dan ook in daardie deel van die wêreld waar The colour of power afspeel. Dit is net 1 500 jaar vroeër.

The colour of power speel inderdaad in daardie deel van die wêreld af, al is dit dan 1 500 jaar gelede, in 505–532 nC aan die kus van die Middellandse See. Toe was Istanboel nog Konstantinopel en die Bisantynse Ryk het gestrek van Griekeland en Turkye deur Sirië, Palestina, Egipte en langs die noordkus van Afrika, insluitende Sirenaïka (nou Libië), verby Kartago (nou Tunis). En al het daar so baie dinge intussen verander, is alles tog ook dieselfde.

Shirley de Kock Grueller (Cape Times, 5 Augustus 2011) beskryf The colour of power as historiese fiksie op sy beste. Marié slaag daarin om the tydsgees, die siel van ’n vrou en die etos van ’n wêreld vas te vang. “She takes us along for the ride, from the smells of thousands in the Hippodrome, to the banquets Theodora’s sister gave for the high-born in the mansion supplied by her own lover.

“Heese lets us toss on the seas as Theodora sails from Constantinople to Africa to further het ambitions. (...) We feel the pain of her abortion and the anguish of a miscarriage and, although we know that Heese has taken liberties, we don’t mind. She tells us who is real and who not, and where she has taken licence to embellish.

“We live through Theodora’s conversion and her counsel to her husband; we see the devotion she arouses in eunuchs, soldiers and servants; we feel the hatred of a spurned would-be lover. We see the cruelty.

“The result is a marvelous tale of the grandeur of the past, a story of one woman’s passion for life, a woman who lived beyond the requirements of her times; and it is told in Technicolor.

“With a prologue and several interludes, Heese moves smoothly from past to the then present, and in her notes at the end, she offers perspective, fleshing out the details of the local politics and making us interested in Byzantium and its place in our world.”

The colour of power gaan oor Theodora se reis van ’n klein dogtertjie tot haar huwelik met Justinianus. Op hierdie reis het sy ’n aktrise geword en ’n gesellin vir magtige mans wat voor haar legendariese skoonheid geswig het. Sy het geen ander keuse gehad nie, aangesien haar pa oorlede is toe sy vyf jaar oud was en haar ma die drie dogters alleen moes grootmaak (Business Day, 8 Augustus 2012).

Maar Marié was nog nie klaar met Theodora nie. In 2012 volg A triple-headed serpent, wat ’n vervolg op The colour of power is. In ’n onderhoud met Sue Grant-Marshall (Business Day, 8 Augustus 2012) sê Marié dat dit haar getref het hoe sleg die geskiedenis beide vroue oor wie sy geskryf het, Hatsjepsoet en Theodora, behandel het.

Sy het ’n “really nasty little book” ontdek wat deur die Romeinse geskiedkundige Prokopius geskryf is waarin hy Theodora as ’n “vicious slut” beskryf. Hy het haar beskryf as dat sy gereeld poedelnaak op die verhoog gestaan het voordat sy afgegly het na die vloer met haar bene oop. Slawe sou dan gort tussen haar bene strooi voordat ganse dit geëet het. Marié het hierdie storie as te aaklig en heeltemal onwaar beskryf. Volgens ernstige geskiedkundige verslae was Theodora hoog aangeskryf en haar man, keiser Justinianus, het na haar verwys as sy “pious consort, given to us by God”. Daar is dus, volgens Marié, ’n dichotomie tussen die “vicious slut” aan die een kant en die Godgegewe geskenk aan die anderkant.

A triple-headed serpent neem Theodora se storie verder en begin waar 30 000 mense in die hippodroom afgemaai word. Na die opstand het hierdie koningspaar die gedeeltes van die stad wat vernietig is, heropgebou en verseker dat families wat broodwinners verloor het, versorg is. “Justinianus het die kinders van verraaiers wat doodgemaak is, vrygespreek en hulle eiendom aan hulle terugbesorg,” vertel Marié aan Grant-Marshall.

Die grootste gedeelte van Serpent konsentreer op die magtige, maar verontrustende, heerskappy van Justinianus en Theodora. Hulle moes aanhoudende aanvalle van die Gote en die Barbare afweer en Rome is ook gereeld bedreig, met die gevolg dat Bisantium hulle moes gaan red.

Een van Theodora se beste vriendinne, Antonina, was getroud met Belisarius, die keiser se getrouste generaal, en nogal teen die tradisies van daardie jare het sy saam na die oorlogsgebiede gevaar. Dit is op rekord dat Antonina op hierdie avonture aan Theodora geskryf het. Marié het besluit om meer van hierdie briewe deel van haar boek te maak, want dit was ’n literêre foefie om die oorloë interessanter te maak. “They’re dead boring for me – one battle after another.”

Theodora en Justinianus se liefdesverhaal, wat afspeel in die yslike paleis waar hulle gewoon het met kamers om in aan te trek en ander om in uit te trek, is waar. Dit is ook ’n geskiedkundige feit dat Justinianus dodelik siek was aan die pes en dat dit net Theodora se toegewyde verpleging was wat hom gehelp het om te oorleef.

Toe Theodora dood is, vermoedelik aan kanker, het haar man vir sy oorblywende 17 jaar, oor haar gerou. Die hospitale, kloosters en kerke wat Theodora laat bou het, en haar invloed op die wette, veral dié wat betrekking gehad het op vroueregte, is ook histories korrek.

The triple-headed serpent was in 2013 op die langlys van die Sunday Times se fiksieprys.

The colour of power is in Turks vertaal en dit het Marié baie bly gemaak, aan Grant-Marshall. “Hulle moes my navorsing aanvaarbaar gevind het. Hulle moet ook glo dat ek hulle geskiedkundige figure, wat baie belangrik vir hulle is, met die nodige respek behandel het.”

Marié het aan Grant-Marshall gesê dat in die huidige tyd Theodora vergelyk kan word met Margaret Thatcher, “But Justinian would not have been Denis”.

Marié lyk baie na haar bekende ma, Audrey Blignault, en klink selfs ’n bietjie soos sy wanneer sy lag. Ná Audrey se dood in 2008 wou Tafelberg Uitgewers haar met ’n vierde bloemlesing huldig. Marié is gevra om dit saam te stel en dit het in Julie 2008 verskyn onder die titel Audrey Blignault: Uit die dagboek van ’n vrou. Hieroor vertel Marié in Die Burger van 4 Junie 2009: “Ek het na ’n deurlopende ­narratief ­gesoek wat al die tyd­perke en die vernaamste gebeurtenisse van haar lewe uitbeeld. Vyf afdelings het byna vanself tot stand gekom: haar ­Bredasdorpse kinder­jare; studente­jare en haar kort onderwys­loopbaan; haar ­eerste ­huwelik en reise; die dood van haar eerste man in ’n motor­onge­luk, waarin sy ook ernstig beseer is en die swaar tussentyd; en haar tweede ­huwelik.”

Marié vertel in Die Burger hoe sy in haar ma se tekste ­gevind het hoe haar ­familie, sommige ­aan­vanklik onder skuil­name, hul een ná die­ ­ander aangemeld het, maar die ­ver­haal is ook nie ­volledig nie. “’n Verskeidenheid vriende loer in, maar kon nie almal ’n volledige spreekbeurt kry nie, anders was die boek twee keer ­so lank.

“Wat vir my as samesteller wel belangrik was, was dat die beeld van die skrywer so volledig moontlik moes wees. Ek dink, ­son­der dat my ma dit beplan het of enigsins kennis gedra het van so ’n verskynsel, het sy haarself as ’n bekende, vertroude en ­geliefde handelsmerk gevestig. Sy het ­bepaalde kenmerke gehad ­waar­aan sy dadelik herken is: ’n rooi rok, sy’s boekverskrik, praat graag, skryf baie en is onverpoos vol vreugde.”

Chris en Marié is geesdriftige reisigers wat die meeste lande in Wes-Europa, Brittanje, Amerika, China, Israel, Turkye en Egipte al besoek het. Hulle het die eerste ses maande van 2001 in Eritrea deurgebring, waar hulle die ministerie van gesondheid gehelp het om ’n afstandleersentrum op die been te bring. Wanneer hulle by die huis is, verdeel hulle hul tyd tussen die Bosveld en Stilbaai, ’n kusdorp aan die Tuinroete. Marié bestee tans baie tyd in Stilbaai en beywer haar daarvoor dat Melkhoutfontein Primêre Skool se eie biblioteek tot stand kom. Melkhoutfontein is die werkersbuurt ’n hele entjie buite Stilbaai.

Marié is nie so ’n ywerige tuinier soos haar ouma nie, maar sy deel haar ouma en ma se liefde vir rose. Haar ouma se huis se naam was Rosedene, en sy het Marié met elke besoek aan die rose voorgestel. “My man, Chris, het ’n stukkie grond by Vanwyksvlei gekoop met die mooiste uitsigte op die Langeberge en die Rooiberge,” vertel sy aan Saartjie Botha (Rapport 2 Augustus 2009): “Ons het die twee ou plaashuise gerestoureer en ek was verbaas om te sien dat die roosbome ná jare se verwaarlosing en droogte oorleef en sowaar blom. Dit het my geïnspireer om nog te plant. Net dié wat soos rose ruik.”

Haar geliefde tydverdrywe is lees, fynkookkuns en die afrigting van openbare redevoering. Sy is ’n kompulsiewe leser, ’n entoesiastiese, maar middelmatige brugspeler en glad nie goed in enige sport nie. Sy is baie lief om te onthaal met Italiaanse en Griekse kos met baie knoffel, sjokolade, ernstige koffie, enkelmout-whiskie, goeie geselskap, jazz, klassiekekitaarmusiek, kamermusiek, ballroom dancing, lewende teater en katte. Sy hou nie van rooi uie, beet, kruietee, oefening, honde behalwe haar eie, en realiteitstelevisie nie.

In 2013 verskyn Marié se eerste jeugroman, Karoo-kantate. Dit was glad nie op haar program om ’n jeugverhaal te skryf nie, maar ná die sukses van haar drie Engelse romans het sy weer die manuskrip van dit wat “soort van ’n jeugboek” is uit haar laai gaan haal en afgestof nadat sy dit amper weggegooi het.

Sy vertel aan Leatitia Pople in Beeld van 26 September 2013: “Dis ’n ou manuskrip wat ­verskeie uitgewers van die hand gewys het. Met die sukses van die historiese romans het ek hierdie een gelos. Maar uiteindelik kyk ek weer daarna, toe sien ek dis nie goed nie. Dit was oorspronklik twee keer so lank en dit was soort van ’n jeugboek, want die een hoof­karakter is hierdie kind, maar ook nie heeltemal nie. Ek het darem al baie tyd en moeite ­daaraan bestee, toe dog ek, miskien kan ek iets red.”

Toe haal sy wat sy noem die boomsaag uit. “Dit is die helfte korter, newe-intrige is uitgesny, heelparty karakters is ook uit en mislukte pogings tot magiese realisme is uit. En toe lyk dit beter. Maar ek moes nog heelwat hulp kry om daaraan te skaaf.”

Karoo-kantate handel oor die weeskind Jannie Lappies wat met haar nagtegaalstem ’n ommekeer in haar eie lewe en die lewe op die Karoodorpie Van Stadensdorp en sy mense bring.

Die vroegste inspirasie vir Karoo-kantate was die romans van die Britse kinderboekskrywer Elfrida Vipont wat sy reeds as kind so geniet het. “Vipont se The Lark in the Morn en The Lark on the Wing handel oor so ’n jong meisie wat goed kon sing. En toe sien ek ’n program met Charlotte Church, die jong meisietjie wat so pragtig sing, wat my aan die Vipont-boeke herinner het. Maar ek het die boeke nie weer gaan lees nie en ek glo die verloop van die verhaal is heeltemal ­anders. Ek wou dit ’n eietydse, Afrikaanse konteks gee,” vertel sy aan Pople.

Skryf ’n mens anders vir die “jeug”?, wou Pople weet. “Miskien skryf ander mense ­anders vir die jeug. Ek probeer net om ’n goeie storie goed te ­vertel. Tog moet jy wel ’n idee hê van jou waarskynlike leser. Ek dink die eerste weergawe van ­Karoo-kantate het mank gegaan aan my gebrek aan duidelikheid hieroor. Daarby gesê, as dit as ’n jeugroman bemark gaan word, haal die proeflesers al jou vloekwoorde uit. Byvoorbeeld, toe Nols Jannie die eerste keer hoor klavier speel, het ek hom laat sê: ‘Godverdomme’ en nie ‘hond se kierie’ nie, maar dis uitgehaal.”

Op watter dorpie is Van Stadensdorp gegrond? “Dis ’n amalgamasie van aller­hande dorpies wat ek as kind ­geken het. Onder meer ook Vanwyksvlei, waar ek en my man nou se dae ’n stukkie grond het en waar ek en ene Martiens ’n lief­like roostuin gemaak het. Maar daar’s nie ’n gastehuis of ’n paksaal nie. Dis ’n Platoniese ideaal van ’n dorpie.” (Beeld, 26 September 2013)

Amanda Botha (Rapport, 4 Oktober 2013) beskryf Karoo-kantate as “die verhaal van Jeanne Labuschagne (beter bekend as Jannie Lappies) en Arnold (Nols) Terblanche se deursettingsvermoë en medemenslikheid wat tot selfverwesenliking lei. Daar is ’n mate van simmetrie in hulle lewe, hoewel ’n bruin weeskind van Woodstock en ’n wit, afgetrede, internasionaal bekende komponis en dirigent op die oog of niks gemeen het nie.

“Jannie Lappies is uiters musikaal en het al onderrig van ’n goeie stemafrigter ontvang. Nols se susterskind, Stien, neem Jannie vir ’n kort vakansie na Van Stadensdorp. Wanneer Nols haar hoor sing, prikkel haar uitsonderlike stem hom om ’n kantate te voltooi waarmee hy gesukkel het. Die kind en die ouerige man speel deurslaggewend op mekaar se lewe in. Dit bring ook vir die dorp as geheel voordeel mee.”

Marié het ambivalente gevoelens oor die afbakening van genres en glo goeie stories spreek tot alle ouderdomme. “Wat my egter irriteer,” sê sy vir Amanda Botha in Rapport van 6 Oktober 2013, “is as uitgewers se buitelesers of resensente voorskriftelik begin raak. Byvoorbeeld, die storie moet net oor jongmense se lotgevalle handel, grootmense moenie eintlik figureer nie. Twak, man. Karoo-kantate­, hoop ek, bewys dat dit nie noodwendig geldig is nie.”

In 2013 verskyn ’n nuwe ­geskiedkundige roman van Marié in Afrikaans. “Die titel is Vuurklip. Dit speel af in die oertyd en ek kon dit skryf in annerlike Afrikaans. In Engels is dit baie moeilik om so iets te doen. Russell Hoban het dit reggekry met Riddley Walker, maar dit lees vrek moeilik. Ek dink nie my oers is te moeilik nie,” sê sy aan Pople.

Vir Vuurklip was die kwessie van taal vir haar van kardinale belang: “Ek wou nie dat ’n derdepersoon-verteller tussen die karakter en die leser staan nie,” verduidelik sy aan Amanda Botha in Beeld van 30 November 2013. Maar as daar eerstepersoon-vertellers sou wees, dan moes daar noodwendig taal wees, het sy gedink. Sy kon egter nooit dink hoe moeilik dit sou wees nie. Met haar navorsing oor die oorsprong van taal, het sy eers uitgevind hoe polemies die onderwerp is en dat daar tot vandag toe nog geen wetenskaplike verklaring is nie.

Sy moes vir Vuurklip ’n soort taal daar stel wat die beeld van ’n vervloë tyd (100 000 jaar gelede aan die suidkus van Afrika) vasvang. Daarom het sy ’n nuwe woordeskat daar te stel vir die land- en seestamme. Vir hierdie “annerlike Afrikaans” het sy baie gebruik gemaak van Anton Prinsloo se Woordeboek van Afrikaanse kontreitaal. Daar is geen enkele streektaal wat dominant is nie. Amanda Botha verduidelik (By, 29 November 2013): “Só gebruik sy woorde soos annerlike (Noordwes-Kaap), kwaadsoeklik en ramkind (kwaadsoekerig en manlike kind; Griekwaland-Wes), knopbek (kwaad of nukkerig; onder andere Namakwaland); en kopvreet (bekommer; Kaapstad). Party woorde kom uit haar langtermyn-geheue, soos amegtig, ammelee en aspres. Sommige woorde het sy self geskep, soos weterig en bloruil, waarvan die betekenis hopelik uit die konteks duidelik blyk.”

“Deurgaans het ek probeer om metaforiese taal of idiome wat opvallend later ontstaan het te vermy,” sê sy aan Botha. “Vir sommige diere het ek omskrywings of ander benamings probeer gebruik, hoofsaaklik die groot diere soos die volstruis, leeu, olifant en luiperd, maar toe ek by die klein diertjies kom, voel dit vir my ’n haas is ’n haas en ’n mol is ’n mol. Miskien nie logies nie, maar g’n taal is logies nie.”

Amanda Botha noem dat sy het enkele abstrakte woorde behou wat moeilik omskryfbaar of vervangbaar was, waaronder bid, heilig, onteer, wyding, geeste, die onsienlike en die Bose. Romanmatig was hierdie woorde vir haar van uiterste belang. “En ek vertrou niemand sal my kan aanvat oor ’n joke-taal nie,” sê sy vir Botha. “Hierdie taal dra religie, ritueel, hartseer, drama en liefde, nes enige ander.”

Sy het ook die volgende aannames gemaak wat wel deur die jongste argeologiese navorsing gesteun word:

  • Dat die mens teen 100 000 jaar gelede, die tyd waarin Vuurklip afspeel, reeds die fisieke kenmerke besit het waarsonder taal soos ons dit ken moeilik sou wees, waaronder ’n larinks in die posisie waar dit die vorming van klinkers moontlik maak.
  • Dat daar in daardie tydperk reeds sosiale strukture bestaan het wat met spesialisasie van take saamgaan en dus die nodigheid skep vir lede van ’n groep om te kan kommunikeer oor dinge wat nie konkreet teenwoordig is nie (soos: “Ons het ’n groot bok neergetrek, maar julle moet kom help slag en dan moet dit billik verdeel word”).
  • Dat die aanwesigheid van ’n verskeidenheid gedifferensieerde werktuie noodwendig op gedifferensieerde taalgebruik dui. Sulke werktuie, wat so lank as bykans 200 000 jaar gelede bestaan het, is gevind.

In Die Burger van 12 Januarie 2014 skryf Joan Hambidge dat Marié Heese se vertolking van die oerbron boeiend is.

Sy vervolg: “Vuurklip handel oor die lotgevalle van land- en seestamme aan die suidkus van Afrika ongeveer honderdduisend jaar gelede. En dit is dan die eerste belangrike aspek van die roman: die argeologiese navorsing waar bekende en populistiese navorsing gebruik word soos Robert Ardrey s’n, maar ook dié van wetenskaplike kenners soos John Parkington. (…)

“Die roman word van ’n nuttige lys van karakters (en geeste!) voorsien en die teks is in vier dele opgedeel: Die steelkwaad, Die diepste grot, Die woedende boom en Agterna.

“Dit is ’n roman van primordialiteit en die verwysing na walvisse en die boek Job (as motto) rig ’n lesing wat ónder die oppervlak beweeg. AS Byatt en Ignês Sodré se bekende studie oor psigoanalise en narratief het nuttig te pas gekom om die meervlakkige struktuur van vertelling te benader.

“Elke hoofstuk word deur ’n naam vergesel en die roman is dus ouktoriaal, met ander woorde, saamgestel deur ’n redigerende, interpreterende outeur. Hier tree die werklike outeur, Heese, dan ook ten slotte in en verduidelik op ’n sinryke wyse waarom sy die spesifieke taalgebruik ontgin het. Anton Prinsloo se Annerlike Afrikaans was dan die teks waaruit sy ryklik geput het. (…)

“Dis ’n roman wat soveel vraagstukke hanteer, maar dit veral as storie aanbied. Dit is ’n vuurklip, ’n verhaal van transformasie en besinning oor die geskiedenis, identiteit, ras en taal. Die roman bevat ’n uitgebreide bronnelys wat vir die navorser van onskatbare waarde is.

“Dit is ’n besondere roman deur ’n uitstekende navorser én storieverteller. Dis ’n boek van Job tot Jung; Ardrey tot Marean; van sjamanisme tot wetenskap. Die titel aktiveer dalk ook reïnkarnasie (‘Agterna’). Hierdie skrywer gee dikwels ’n stem aan die stemlose vrou op verskillende maniere.

“En of die ‘suspension of disbelief’ werk in hierdie roman? Die mening is ’n dawerende ja! Hierdie skrywer imponeer omdat sy soos ’n dirigent wat ’n groot orkes begelei die bladmusiek ken en haar eie interpretasie gee van ’n bekende simfonie.” 

Marié Heese het nog nooit geskroom om op te staan en haar sê te sê vir ’n saak waaroor sy sterk voel nie. In 2008 is Marié tot die raad van die Universiteit Stellenbosch verkies. In 2009 het sy bedank omdat sy gevoel het dat sy, veral wat die taalmedium betref, nie meer ’n bydrae daar kon lewer nie. “Dit gaan vir my primêr oor die kwessie van die taalmedium. Ek glo daar moet aan die US primêr in Afrikaans in voorgraadse klasse gedoseer word,” verduidelik sy haar besluit aan Jan Gerber in Beeld (12 September 2009). Sy het gemeen taalbesluite aan die US word strydig met raadsbesluite geneem en Engels word op ’n neerbuigende wyse opgedwing aan Afrikaanse studente, aan wie verkeerdelik voorgehou word dat dit tot hul voordeel is.

In November 2011 het Marié in geen onduidelike taal nie haar argwaan teenoor Pierre de Vos getoon. Hy het op sy blog dwarsklappe na Maties se “stompsinnige taalbulle” gegooi en nadat sy dit gelees het, het sy so kwaad geword dat sy in Rapport van 13 November 2011 kommentaar gelewer het onder die titel “Taal op Maties: Ouma Heese ‘strip’ haar moer”.

Sy vertel aan Hanlie Retief (Rapport, 21 November 2011) dat sy eenvoudig haar humeur verloor het. “Ek bedoel, Peertjie het net beledigings, nie argumente nie. Sy blog is ’n stuk Afrikaner-bashing en dis nie eens goed geskryf nie.

“Mense soos De Vos maak ’n karikatuur van ons, etiketteer ons as hierdie oumense wat bly vasklou aan apartheid. Hulle sê ons maak of ons begaan is oor taal en onderrig, maar eintlik wil ons Maties wit hou. Dis waarop dit neerkom: dat ons wit rassiste is.”

Vir Marié gaan dit alleenlik om die beste belang van ons studente. “Jy kan sê, ja, maar die studente wil Engels hê, en hul ouers wil Engels hê, maar ek weet dat as hulle huistaal Afrikaans is, dan is ‘wil Engels hê’ as eerstejaar op universiteit nie ’n goeie opsie nie. Daar’s wêreldwye navorsing wat dit bewys, daar’s nie meer daaroor te strye nie.”

In 2011 was Marié Heese een van 15 Suid-Afrikaanse vroue wat deur Solidariteit Helpende Hand vereer is vir hul uitmuntende bydrae tot die ontwikkeling op kulturele, geestelike en maatskaplike gebied van die Afrikaner-erfenis. Die toekennings is op Helpende Hand se tweedae-kongres by die Vrouemonument in Bloemfontein oorhandig.

Oor watter werke haar skryflus aan die brand geskop het, vertel Marié in Beeld van 17 Maart 2012: “In my geval was dit nie ’n kwessie van ’n boek wat my laat voel het ek wil skryf nie. Ek het in ’n huis grootgeword waar daar gereeld geskryf is – my ma aan haar bydraes vir Sarie en my pa later van tyd vir die SA Mediese tydskrif.

“Ek het dus ’n sterk skryfgeen geërf en het geweet ek moet ook skryf. Maar boeke wat my laat voel het ek wil self skryf, was Charles Dickens s’n. Ek het omtrent al sy romans gelees toe ek op hoërskool was, veral A tale of two cities. Ek het ook oor sy lewe gelees, en van die mense wat op die kaai gestaan het in New York toe The old Curiosity Shop ’n vervolgverhaal was, om te verneem van Little Nell se lot. Hulle roep na die passasiers: ‘Is she dead? Is Little Nell dead?’ En toe die antwoord ‘Yes!’ kom, toe ween die hele Amerika. Ek wou ook skryf sodat mense innig aangegryp word.

“By terugskoue is daardie roman erg sentimenteel. Maar Dickens bly ’n meester van die romankuns. Onlangs weer A tale of two cities gelees, en ja, ek wil nog steeds sulke historiese romans skryf.”

Na die Woordfees van 2014 is Marié genomineer vir ’n Woordtrofee vir beste gevestigde skrywer vir haar gesprek oor Karoo-kantate en Vuurklip.

Publikasies

Publikasie

The owl critic: an introduction to literary criticism. Saam met Robin Lawton

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1986

ISBN

0625022599 (sb)

Uitgewer

Goodwood: Nasou

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Tokkelspel

Publikasiedatum

1972

ISBN

0624000869 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die wilde loot en Die vrou op die skuit deur Elise Muller

Publikasiedatum

  • 1976
  • 1978

ISBN

0949964735 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die uurwerk kantel

Publikasiedatum

  • 1976
  • 1983
  • 2006

ISBN

  • 0624009106 (hb)
  • 0624023036 (sb)
  • 0624023016 (sb)
  • 186919120X (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die vrou op die skuit deur Elise Muller

Publikasiedatum

1979

ISBN

0868740659 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die Pikkewouters van Amper-Stamperland

Publikasiedatum

  • 1983
  • 2008

ISBN

  • 0798116781 (hb)
  • 9780798150125 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Tyd van beslissing: ’n roman

Publikasiedatum

  • 1983
  • 1985
  • 1987
  • 1988
  • 1989

ISBN

  • 0628024983 (hb)
  • 0628024983 (hb)
  • 0628032218 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

The box kite summer

Publikasiedatum

1984

ISBN

0627013759 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Avonture in Amper-Stamperland

Publikasiedatum

1985

ISBN

0798119152 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ons geheim

Publikasiedatum

1993

ISBN

1874885478 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Anansi

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels Our secret, Anansi 1993

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Haiku for Africa

Publikasiedatum

1997

ISBN

0868919925 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Unisa Press

Literêre vorm

Haikoes

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The double crown: secret writings of the female Pharaoh

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798150361 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Historiese roman

Pryse toegeken

Wenner van die Statebond-prys vir die beste boek in die Afrika-streek

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die honger reisiger: reisverhale met resepte

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780624048824 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

  • Reisverhale
  • Kookboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The colour of power: a story of Theodora, empress of Byzantium

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798152808 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

A triple-headed serpent

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798156331 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Karoo-kantate

Publikasiedatum

2013

ISBN

 9780624062707 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vuurklip

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798163767 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Marié Heese as samesteller

  • Poort 1976: 'n keur uit die werk van hoërskoolleerlinge. Kaapstad: Nasou, 1976[ISBN 0625005945 (sb)]
  • Blignault, Audrey: Audrey Blignault: uit die dagboek van 'n vrou. Kaapstad: Tafelberg, 2009[ISBN 9780624047636 (sb)]

Marié Heese as vertaler

  • Brink, Carol Ryrie: Rabbedoe: 'n verhaal uit die Amerikaanse baanbrekerslewe. Kaapstad: Tafelberg, 1965
  • Dr Seuss: Herrie broei die eier uit. Kaapstad: Anansi, 1990 [ISBN 0947454489 (hb)]
  • Dr Seuss: Willie die Skillie. Oranjezicht: Anansi, 1989 [ISBN 0947454128 (hb)]
  • Kalnay, Francis: Die rykste seun in die wêreld. Kaapstad: Tafelberg, 1966
  • Mahy, Margaret: 17 konings en 42 olifante. Oranjezicht, Anansi, 1989 [ISBN 0947454179 (hb)]

Artikels oor Marié Heese beskikbaar op die internet

Artikels deur Marié Heese beskikbaar op die internet

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-05-10
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top