Ek weet nie wanneer ek die bus verpas het of die pot misgesit het nie, maar dit voel vir my of Suid-Afrikaners ’n hongersnood ervaar as ek so luister na al die programme oor RSG en TV-kanale wat oor kos gaan. As man wat in ’n huis grootgeword het waar pa buite met die boerdery besig was terwyl ma agter die kospotte is, vind ek dit vreemd en irriterend waar meer en meer mans in die kombuis doenig is en die vrou maak die swembad skoon. Om die vleisbraaivuur praat mans nie meer oor sport, politiek of manssake nie, hulle ruil so waaragtig nou reseppies uit. Kan jy nou meer!
As ek by ’n sekere gewese vriend gaan kuier het, sit ons in sy kombuis en gesels want hy is besig om te kook en hy is bang die kos brand. Soos gesê, hy is ’n gewese vriend.
In my huishouding is ek met manssake besig en help my vrou met huistakies wanneer nodig. Ek het nooit geleer om bv eiers te bak nie en gaan dit ook nie leer nie. Netnou is ek ook een van die mans wat met hulle resepteboek onder die arm gaan kuier en ander mans verveel met hulle koskennis.
Enjee


Kommentaar
Amen Enjee ... en vat dit van 'n man wat nog nooit eens 'n potjie gestook het nie (behalwe waar ek 'n ketting agterna kan trek) ... ja, ek gaan maak liefs die goed vrek wat my vrou dan met soveel sorg vir ons op tafel bring ... en waar daar 'n trop mans saam is vat ek altyd genoeg drinkgoed saam om die resultaat van hul ou reseppies te vermy (veral sedert die ou grote Kobus de K selfs ook sy staal in die kas destyds met broodresepte op die werf begin tooi het) ...
Enjee, ja moet met jou saamstem. In my vriendekring ook heelwat mans wat totaal en al regstaan sou hulle ons nooi vir 'n ete of braai. Die vreeslikste resepte wat gemaak en beproef word. Maak geen indruk op my nie. Of hulle sit met die resepte getrek van die internet. Die Boerekos- resepte.
Ek stem saam Enjee, veral om die vuur moet manne dinge bespreek wat hul manlikheid bevestig.
Terloops, het iemand vir my 'n lekker Beesstert-resep?
Duitswester
Duitwester, het jy die een wat brandewyn bevat. My vrou het so lekker resep.
Mans wat net klets oor kos is net so erg soos mans wat net klets oor rugby of krieket of jag of godsdiens of motors of bakkies of motorfietse ens. ens. Dit raak boring na 'n tyd as jy oor een ding aangaan. Die geheim is om 'n verskeidenheid dinge te kan praat. Dit kan kosmaak insluit.
Tydens 'n jaguitstappie kan ek 'n ete aanmekaar slaan wat die manne van hulle klippies en coke laat vergeet vir 'n rukkie. Tydens 'n braai by my huis kan ek 'n slaai maak as vroutjie besig is met iets anders of dalk net bietjie wil gesels met vriendinne. Kan ook lekker kuier om die vuur as die vrou in die kombuis is. Ek is gemaklik met my manlikheid. Ek hoef nie te bewys hoe macho ek is deur net "manne" goed te doen nie.
Niks fout met 'n man wat kan kook of hou daarvan om te kook nie. Die heeltyd praat daaroor is boring soos ek reeds gesê het.
Huh-uh, stuur hom aan