Manlikheid en die gesin

  • 4

Ek skryf hierdie na aanleiding van vorige kommentare asook aanmerkings:

Of jy nou gelowige is of ongelowige – almal van ons werk ewe HARD aan ’n huwelik. Daar is geen uitsondering.

Ek het lekker gelag vir Maya se oulike skrywe waarin sy prontuit verklaar sý is die Baas en manlief is die Klaas. As dit vir hulle huwelik werk is dit goed so. Verseker gaan sy nie hel toe nie. Ek glo egter nie dat alle manlike karakters daarvan gaan hou en mag 1 van 2 dinge gebeur: Hy gaan so bly wees dat vroulief alle take en besluite oorneem dat hy homself heerlik gaan neerplak agter die TV en die hele aand ‘channel-hopping’ doen (passief en onttrek vanuit huwelik) OF hy gaan haar blou pot (weer die broek probeer terugkry). Tipiese tendens van ons tyd?

Vrouens kan nie gedwing word om onderdanig te wees nie; net so kan mans nie gedwing word om hul vrouens lief te hê nie. Niks wat op iemand geforseer of afgedwing word, sal enige resultate oplewer. Hetsy Godsdiens, Politiek, Wetenskap, die Bybel of enige huweliksvoorskrifte daar gestel deur enige party.

Daar word verkeerdelik geglo (soos Hans) dat Christenskap die tot slaafmaking en onderdrukking van vroue voorstaan. Inteendeel, die teenoorgestelde is eintlik waar. En om iewers ’n kruisie te trek agter ’n vraag of jy Christen is of nie, dui op geen akkurate weerspieëling of gesonde waardes wel aangehang word in die huwelik of nie.

Die Afrikaner-man is vandag onder geweldige druk om in hierdie land van ons vir hulle gesinne te sorg, te beveilig of ’n toekoms vir hul eie seuns en dogters te bewerkstellig. Verseker het hul nie nodig om deur die samelewing verder geskud te word of om manlikheid-onderdrukking, hetsy in die huwelik of in enige ander opset te ervaar. Dit genereer ’n sissies-mentaliteit asook verkragting van menswaardigheid, terwyl hierdie land van ons kan doen met sterk boereseuns wat weer hul families kan beskerm en beheer.

Ek hang geensins manlike dominansie of chauvinisme aan nie. Ek glo wel dat die Bybelse voorbeeld daar gestel is om ’n huwelik te bevoordeel asook te seën. Watter ander gesonde stem het ons in elk geval wat die orde in die huwelik op kan verbeter? Sielkunde bied nie oplossings, kerke vermag niks asook geen spesiale geloof. (Selfs nie Henn se vele geloofsoortuiginge wat hy omarm, gaan ons help). Inteendeel, dit bring verwarring.

Suiwer Bybelse voorskrifte en riglyne, asook innerlike oortuiging vanaf die Heilige Gees in jou hart saam  gesonde lewenswaardes, sal  bevestiging bring wat vir jou huwelik sal werk! ’n Sondige of verharde hart daarteenoor bewerkstellig altyd dat die ander party seergemaak of verneder word.

Ek bevestig weer: dat vrou of man in waarde voor God gelyk staan, maar dat uniekheid, rolle, talente en gawes verskil. Elkeen op sy aangestelde plek soos deur God daar gestel. Dit is waar die handskoen jou perfek gaan pas, en jou lewe gemaklik uitgeleef sal word hier op aarde.

’n Man wat gegrond is in Christus, sal nie toelaat dat vroue hul onderdruk of oorheers nie. Daarteenoor sal die vrou wat gekoester is in die Here, haar rol met vreugde en vrede uitleef teenoor haar man.

Kan dit so moeilik wees? Eintlik so eenvoudig!

Egskeiding bly ’n ernstige saak. Maak nie saak of jy deur egskeiding gegaan het, sorg net dat jy nie onder ’n donker wolk van skuldgevoelens lewe of die ander party so haat dat dit slaaplose nagte bring nie. Almal van ons is menslik en het eksélf al baie foute gemaak. Die Here veroordeel ons nie daarvoor nie, maar sal jou wel van sonde oortuig. Skei is nie altyd die beste nie. Besluit om eerder deur probleme te werk, jou leeu te ‘face’ (of die buffel soos Chris homself noem), oog-tot-oog kontak met jou lewensmaat te maak, en saam te besin oor Bybelse waarhede soos orde, gesindheid en plek in die huwelik.

Ek is nie ’n Paulus nie, kan ook nie op water loop nie, benodig dieselfde wysheid en krag as enige ander om my huwelik te laat werk of kinders op te voed. Maar weet ek dat Bybelse voorskrifte en riglyne vir die huwelik ons enigste hoop is tot verandering of herstel in ons samelewing.

Hetsy gelowige, ongelowige of agnostikus.

Trienie

  • 4

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Beste Trienie,  

    Dis baie maklik om ooreenstemming met jou hierin te hê; anders as 'n sogenaamde ware Christengelowige, waag jy immers om gelowige, ongelowige - en selfs  "agnostikus", sonder enige afsonderlike kwalifikasie daarvan elkeen in die gesig van Satan se agent op die werf, die ou grote Kobus de Klerk soos hy graag na homself verwys, in een asem te noem!

    Gegewe jou medemenslikheid, barmhartigheid en wysheid ook hierdie keer, ek die vrymoedigheid neem om jou na die empirie van 'n gelowige, welke die faset daarvan in ons bestaan, te wys.  

    Wat werklik duidelik uitstaan omtrent ware Christengelowiges (veral by hul hoëpriester op die werf Kobus de Klerk), is die mate waarmee hulle, hul medemens en selfs God, as iets bepaald beskryfbaar en buite hulself tot objekte probeer verklaar.- die rede daarvoor natuurlik voor die hand liggend!   

    Dis maklik om my vertroue IN God te bely; daar is egter geen woorde genoeg om my ervaring daarin te getuig nie.

    Dit sou in elkgeval onbillik wees om die presiese omvang van my geloofservaring in woorde te weergee, aangesien my ondervinding dan tot iets voorspelbaar gereduseer word (die begrip so deeglik beskryf in die slot van Life of Pi deur Yann Martel).

    Dus Trienie, elke faset van my lewe in Jesus Christus onse HERE, maak dat ek nie eens my liefde vir my vrou as iets buite myself beskou, of ervaar nie.  

    Dis ook met dieselfde hart wat ek jou voorstelling van geloof en ongeloof in een asem en sonder grense, koester.  

    Wyl elkeen, gelowige en ongelowige, se empirie onbeskryflik diep en in elkeen se besonderse wese berus, is ons almal gelyk in God se liefde en genade in hierdie lewe.  

    Dis amper soos wanneer jy saam met jou medemens oor die grenslose Serengeti, die oneindige sterrehemel in, of ver van 'n oewer in die diep blou see om jou kyk... woorde is daar nie... tog sal die anderhaters en oorlogshonde soos Kobus de Klerk, jou as 'n hutspot-stoker hoon sou jy weier om die wonder rondom jou met skeidslyne te beperk - ons harte ingesluit!  

    Trienie die naaste, alhoewel 'n verlangse beskrywing vir my geloofservaring in onse Heilige Gees, staan alles diskrepant tot die objektering van Satan se grensbewakers; die spiritueel intelligentes, redetwisters,... farisese en ware Christengelowiges...  

    Met alles bedoel ek ook elke aspek omtrent my verhouding met my vrou in die liefde en genade van Jesus Christus onse HERE.

    Soos elke ander wenslikheid ook in ons bestaan, is die huwelik in vertroue in God, beslis nie 'n projek of uitdaging wat gelowiges in enige opsig daarvan as iets buite hulself hoef aan te durf nie... dis die heeltyd soos die verrassing in elke sonsopkoms, of die opgewondenheid wanneer jy iets spesiaal by jou geliefde kry en dit oopmaak, 'n huweliksgedig en blomme... dis elke keer onbeskryflik lekker en iets wonderbaarlik mooi!  

    Trienie, alhoewel ek weg staan van enige vorm van fundamentalisme (selfs daarvan deur Angus Buchan), ek dankbaar voel vir jou bydraes.

    Namaste!  

    Cornelius

     

  • Svetlana Smit

    Skei is nie altyd die beste nie. Besluit om eerder deur probleme te werk, jou leeu te ‘face’ (of die buffel soos Chris homself noem), oog-tot-oog kontak met jou lewensmaat te maak, en saam te besin oor Bybelse waarhede soos orde, gesindheid en plek in die huwelik ... ek wens mense wil ophou om te sê julle werk nie hard genoeg nie, julle kies die maklike uitweg van skei ... as die ander party nie wìl werk nie, as hulle net wil uit en jou net so los? .... Hoe werk jy harder, hoe probeer jy weer, hoe werk jy dit uit?

    As mense in glashuise dink hulle is slim ..... tsk

  • Chris Dippenaar

    Hello Svetlana

    Ek kan nie vir jou 'n goeie antwoord gee vir jou situasie nie, ek weet, jy het nie gevra vir een nie, en as ongelowige kan ek ook nie vir jou bid nie. Tyd genees die meeste van die seer wat ons opdoen in die lewe, en dit maak ons gewoonlik sterker, wyser en dalk ook 'n bietjie meer sinies en bedonnerd. Ons kan 'n oppervlakkige emosionele pilletjie drink wat mense soos Trienie aanbied, waarvoor sy 'n veertjie in haar eie pluim gaan druk, en dan die geredde slagoffer wees vir die res van ons lewens, of ons kan eenvoudig probeer voort gaan met ons lewens, elke dag opstaan en asem haal, en ons selfrespek behou.

    Chris

    Ns. Ek is 'n vriendelike buffel, vra maar my vrou.

  • Svetlana

    Daar is altyd hoop. Dit klink tog vir my of jy hard probeer het in jou huwelik en dat jou man nogtans wil uitstap.

    As jy jou eie pad moet stap is dit belangrik dat jy nou agter jouself sal kyk. Jouself sal versterk en opbou. Hoe groter die rol wat God in jou lewe speel, hoe kleiner word jou reuse. Pak een dag op ‘n slag aan en sorg dat jy by ‘n ondersteuningsgroep uitkom wat jou kan bystaan.

    Moet ook nie enige afbrekende en ongetoetste etiket om jou nek hang of onttrek om in ‘n hoekie te gaan sit. Jy kan en jy sal hier deurkom. God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en selfbeheersing. Jy is self in beheer van jou gevoelens dade en besluite van nou af. Chris is eintlik reg as hy verklaar dat ‘n oppervlakkige tydelike emosionele pilletjie nie gaan help. Jy het ‘n permanente versterking nodig. Met God aan jou kant kan jy ‘n bende storm loop.

    En natuurlik mag jy vir jouself en omstandighede bid. Gebed verander sake. Sterk staan!

    Trienie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top