Die nuus dat die gerespekteerde Mamphela Ramphele dalk binnekort ’n nuwe politieke party gaan stig, moet verwelkom word.
Nie net omdat dit die politiek kan herskik nie, maar omdat dit ons ontluikende demokrasie kan help uitbou en verskans.
Asseblief tog, moenie hierin lees dat ek my vir of teen enige bestaande politieke party posisioneer nie.
Die uitbouing, vestiging en bewaring van ons demokrasie is per slot van rekening nie net politieke partye se verantwoordelikheid nie.
Nieregeringsorganisasies, die privaatsektor en die burgerlike samelewing moet hul gedeelde verantwoordelikheid opneem om te verseker dat ons demokrasie bly voortbestaan en groei.
Ramphele het glo verlede maand in Amerika te kenne gegee sy gaan binnekort by die Suid-Afrikaanse politiek betrokke raak. Reeds teen dié agtergrond is Ramphele se beweerde insameling van geld vir ’n “politieke party” van kardinale belang vir ons politieke argitektuur.
Vir die eerste keer sedert 1994 kan dit gesonde kompetisie vir die ANC en al die “sukkelende” opposisiepartye bied. Hoekom dan opposisie vir opposisiepartye? Die kuns om werklik in opposisie te wees, ontbreek by baie politieke partye.
Gepraat van sukkelende opposisiepartye: Hoekom dan nóg ’n politieke party? Wat gaan dit ons bied?
In die geheel gesien, sukkel opposisiepartye sedert 1994 om verskeie redes. Die UDM, wat in 1997 deur Bantu Holomisa en Roelf Meyer gestig is, het hom bloedneus geloop omdat hy hom destyds op ’n gebied begewe het wat nog vandag rou en moeilik haalbaar is. Dit was om wit en swart byeen te bring. Dit was ’n goeie poging wat aangesluit het by ons grondwetlike beroep, naamlik eenheid in verskeidenheid, maar ongelukkig het die UDM se poging klaaglik misluk.
Cope stagneer geleidelik, omdat hul ontstaan nie ideologies van aard was nie, maar ’n woedende reaksie op die ANC se Polokwane-populisme. Dit is nog net Cope se begrafnis wat moet plaasvind. En die IVP is ’n etniese streekparty wat ook kwyn.
Die DA het nou wel baie geld en word goed bestuur, maar dit is hoofsaaklik ’n “bymekaarkomplek” van gefrustreerde minderhede wat voel hulle is slegter af onder ’n swart regering.
Tans is die DA ook by ’n ideologiese kruispad, omdat die party moet kies tussen sy tradisionele liberale waardes en ubuntu en “Afrikaheid”.
Ramphele se besluit kom op ’n tyd van hongerte na leiers van goeie gehalte met ’n bewese rekord van onselfsugtige leierskap en diens aan alle mense. As openbare intellektueel het sy haar gevestig as ’n konsekwente stem van rede.
Sy was destyds ’n kampioen van die swartbewussynsbeweging van Steve Biko. Sy het genoeg geld gemaak as rektor van Ikeys, as besturende direkteur van die Wêreldbank en tans as direkteur van maatskappye.
So, sy kan nie van geldgierigheid beskuldig word nie.
Ramphele sal dus ’n geloofwaardige politieke leier wees wat oor etniese, politieke en ekonomiese grense respek en aanvaarding sal afdwing.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


Kommentaar
Die ANC se reaksie op Mamphela Ramphele se toetrede tot die politiek wys dat hulle haar duidelik ook as 'n moontlike bedreiging vir hul eenpartystaat sien. Die vraag is egter, soos wat Zuma dit regkry om meeste faksies binne die ANC te verenig, het Mamphela Ramphele die nodige gravitas om dieselfde vir die opposisie te doen?