Neil Young & Crazy Horse – Americana
Crazy Horse is ’n vreemde spul. Die musici wat deur die jare hul ding daarin gedoen het, het gewissel van ’n uiters begaafde klavierspeler (Jack Nitzsche) tot ’n middelmatige baskitaarspeler (Billy Talbot) en ’n tromslaner wat probleme had met tydhou (Ralph Molina). In die begin was daar darem ook ’n begaafde kitaarspeler (Danny Whitten). Maar Nitzsche is dood (ouderdom) en Whitten ook (drugs). Whitten se plek is gevul deur Frank Sampedro, wat ’n bogemiddelde kitaarspeler is.
In nie een van die resensies wat ek van hierdie album gelees het, word verwys na die lede van Crazy Horse nie.
Dis omdat die plaat klink asof hulle nog nie behoorlik gereed is om dit op te neem nie. Dis ’n losse storie dié, die moderne eweknie van Rust Never Sleeps se tweede kant.
Wat hy gedoen het, is om bekende liedjies soos “Clementine”, “This land is your land”, “Oh Susannah”, “Tom Dule”, “Jesus’ Chariot” (“She’ll be coming round the mountain”) ensovoorts die Neil Young & Crazy Horse-behandeling te gee. Die album klink beter hoe harder mens dit luister.
“Oh Susannah” herken ’n mens skaars. Young was in ’n mineurbui en het die hele liedjie afgeskakel na ’n effe morbiede, doemgeestige affêre. “Clementine” is ’n folk-liedjie wat deur ’n rock-band gespeel word. En dit klink asof die manne nie juis gebodder het om iets met die kontroleknoppies te doen nie. ’n Nuwe vorm van eentonigheid?
Nou, ek noem al hierdie dinge nie omdat ek snaaks wil wees nie. Daar is snitte hier wat mens lus laat word om die byl te neem en ’n bietjie hout vir die kaggel te gaan kap. Ek’s veral mal oor “Jesus’ Chariot”, asook die meer akoestiese “behandeling”, te wete “Wayfarin’ Stranger”.
En die idee om die album af te sluit met ’n rumoerige weergawe van “God save the Queen” was eenvoudig briljant.
Nie Neil Young se grootste oomblik nie, maar ook nie sy swakste nie. En die Crazy Horse het nie met die jare verbeter nie.
Neil Young and the International Harvesters – A Treasure
Hierdie album is ’n jaar voor Americana hier bo uitgereik – maar amper 28 jaar gelede al opgeneem. Dit is verstommend in baie opsigte – maar veral oor die manier waarop Young hier wys hoe verbete hy aan melodie en struktuur kon vaskleef as hy die dag wou.
A Treasure is ’n album wat Young se groot liefde vir country-musiek uitdra. Dit is in 1984-85 opgeneem tydens ’n konsertreis wat veronderstel was om die uitreiking van die album Old Ways te ondersteun. Geffin Records het geweier om dit te doen – hulle wou rock-musiek by Young kry, en het hom hof toe gesleep omdat hy kwansuis strydig met sy kontrak country-musiek opgeneem het.
Die musici wat hieraan deelneem, is almal in heeltemal ’n ander klas as die lede van Crazy Horse. Young plaas sy musiek duidelik in kompartemente – hy sou nooit hierdie musiek aan Crazy Horse toevertrou nie. Eweneens sou hy nie Americana met die International Harvesters aanpak nie – dit sou klink soos kinderliedjies wat deur begrafnisondernemers gespeel word.
Die International Harvesters sluit onder andere in Ben Keith (pedal steel), Spooner Oldham (klavier), Tim Drummond (baskitaar) en Karl T Himmel (tromme). Die superliga van country-musici.
Die eienaardige ding is dat dit Young se stem is wat hier soms nie die paal haal nie. Maar nou ja, alles kan nie perfek wees nie.
Iets wat mens nogal laat glimlag, is die snit “Motor City”. As mens dink aan alles wat sedert 2007 gebeur het, wonder mens wat Young sou gesê het as hy destyds geweet het hy probeer puur verniet die Amerikaanse motorbedryf tot nuwe hoogtes aanspoor.
Ewe interessant is “Soul of a Woman”, waarin Young ’n voorsmaak gee van die soort styl wat hy met “This Note’s for You” sou aanpak. Maar met country-viole.
Ana Popovic – Unconditional
Nog een van die albums wat deur Amazon aangewys is as een van die tien beste blues-albums van 2011. Popovic is ’n Serbiese blues-sangeres – maar sy is ook ’n kitaarspeler wat die note kan buig. Wat my hinder, is haar sang, wat al die regte brulle en skroue en smekinge op die regte plekke het – maar dit klink of sy die klanke namaak, nie voel nie. Maar as mens by dié oppervlakkige probleempie verbykyk, sit jy steeds met ’n versameling blues ’n boogy soos min mense in die VS van A haar vandag kan nadoen. Ek veronderstel as jy haar in lewende lywe sien, kom daar ’n ander element by wat niks met musiek te doen het nie, maar met lewensmusiek alles.

