In al my jare van Kallid wies was ek nog nooit die K-woord genoemie. Ek was nog nooit deu iemand die H-woord of B-woord genoemie. Ek het al ’n paa P-woorde gehoo vlieg my kant toe. Maa daai is ’n koppie koffie vi ’n anner dag.
Die anner dag, toe hoo ek pe ongeluk hoe mense praat vannie lekke makataankonfyt. Die ding is dié, though: die woord “makataan” wassie gebruikie, maa die K-woord. Nou die oomblik toe ek dit gehoorit, wassit soes iets annie binnekant van my borskas geslat wôd. Ek sê toe, maa ’n mens gebruikie mee daai woortie. Ek moes toe hoo maa dis die jam se naam en dis hoe hulle dit nog altyd geken het. Ek sê toe net wee, maa ’n mens gebruik nie mee daai woortie. Die ding het mos ’n anner naam. Hulle konnie vestaan hoekô ek soe gepla was mettie feit dat hulle die K-woord gebruikie, wan dit was mos “net” om na makataan te verwys. Ek het toe gedink, miskien het hulle oek net rêrigie gewiet dat die ding se naam makataan issie.
Maa dit het my gepla, maa ek konnie vestaanie, wan ek was nog nooit soe genoemie. Soe hoekô is ek soe gepla met dit? Wat maakit dan nou saak dat ’n jam soe ’n naam het? Dis mossie my baklei nie.
In Stellenbosch was ek ampe tussen petrolpompe by ’n garage omgestamp, en daai Boerseun se kyk het my baie mooi vetel wat hy dink van mense soes ek wat rondloep in Stellenbosch. Hy’t my nie ’n K, H, of B genoemie, maa ...
Op meeran een geleentheid was ek weggewys om ’n plek te huur van wit mense af. Dissie die woorde wat hulle gesê hettie, en hulle het oekie die K-, H-, of B-woord gebruik om my van hulle erf af weg te djaagie, maa...
My ma-hulle, wiet ek, was somme lekke ge-H-woord in hulle dae. Daai minderwaardigheid is altyd dik geplak op my pa se gesig as hy veby ’n wit man innie pad stap. Dis ampe soes hy met sy keps in sy hanne, kop gesak, veby Oubaas moet loep. Of die manier hoe hy ’n gesprek sal voer met ’n wit man. Djy kan daai veliede sien biewe in sy woorde. Apartheid was rêrig varkerig.
Ek het nog nooit die gekrap van daai K-, H-, of B-woord gevoel tienie binnekant van my vellie. Maa die gestamp tienie binnekant van my borskas oo die K-woord pla my. Wan al loep daa Nama in my bloed, het ek mos nog nooit die oppressie ervaar soes wat my oupa of my nief en sy ma-hulle dit ervaar hettie. Wan hulle, volgensie gawement, is swart en ek nie. Ek kan mossie relate met daai strugglie nie, wan my kleurlinggeid, en my kallidgeid, het my nog altyd ’n vookee gegie boekant hulle. Ek het mossie potloodtoets net-net geslaag. En dié’s mossie my baklei nie.
Ek wiet wat dit is om innie middel vannie pad te loep en te sien wanne wit mense die pad oostiek, en soes hulle veby my stap, en ek nog iewe “Good mornings!” sê om te sien hoe hulle my ankyk soes ekkie grootste sonde geplieg het om hulle te groet, en dan sonne ’n woord weg te kyk, of soms somme regdeu my te kyk, soes ekkie bestaanie.
Ek mag nog nooit die geslyp van die K-, H-, of B-woord gevoel tien my hart se steenmure nie, maa aksie is mos ’n raasbek.
“Ek issie ’n Hotnottie,” sê my ma altyd. Ek vestaan nou hoekô sy soe tienan daai woord is. Dis oo sy wiet sy’s bieter dan daai woord. Haa menswies bedoel meeran die veil wat hang op daai woord. Sulke woorde loep met ’n geskiedenis waa’in baie mense hulle liewens veloorit oo daai H-, K-, en B-woord. ’n Geskiedenis wat mense lat gloe het dat hulle minner wêrd is dannie grond wat hulle op staan. ’n Geskiedenis wat baie mense nog steeds lat gloe dat hulle moet nog steeds met hulle kepse in hulle hanne staan en wag, koppe gesak, vi hulle dag se loon, agte by oubaas en miesies Coetzee se kombuisdeu.
Dit was nog altyd moeilik om saam mettie grootmense te praat oo hoe hulle getreat was in hulle dae. En met dié wat hulle ouer wôd, raakie gesprekke vannie veliede nog minner. Maa daa is klein goedjies wat gebee wat hulle eie storie vetel oo wat my ouers en hulle ouers moes deumaak as Oubaas of Miesies gepraat of gepoep het. Ek vestaan nou hoekô hulle nooit wou praat oo dittie. Ek vestaan nou daai stamp annie binnekant van my borskas toe ek daai K-woord gehoorit. Dit gat oo ek elke kee my menslikheid moet bevraagtieken wanne ’n wit mens se houding of aksie tienoo my my vetel net hoeveel van ’n K, H en B ek rêrig is.
Woorde mag see maak, maa dis die stilte in die aksies wat ’n grotere geraas maak binne-in ’n mens. Dis die stilte wat van mense af kom wat kan iets sê of doen, wat kan saam trugbaklei. Soms mag dit lyk soesie baklei nie joune issie, maa as djy rêrig kyk op jou liewe, dan sal djy sien hoe eeners dit lyk. En as djy nie die pyn vestaanie, dit maakie saak hoe djy grootgemaak wassie, djy wiet in jou hart wat reg en vekeerd is, wat menslik of onmenslik is. Dié’s jou baklei oek.
Bly te kenne en dankie virrie onnersteuning.


Kommentaar
Olivia, jy het 'n besonderse talent met woorde. Ek is "wit" maar wragtig, ek sien geen andersheid in kleur nie - jy klink na die tipe mens waarmee ek lekker sal kan gesels!
Bly om vir jou te ontmoet.
Olivia, ek het hier beland omdat ek die woord "karkoer'' opgesoek het. Ek het soveel meer gekry. Ek het 'n les van iemand gekry wat in stilte waarneem, en uit die hart uit kon sê wat eintlik pla. Jy's reg, so reg!
Martie, ek stem 100%; ek het vriende in verskeie kultuurgroepe en sien hulle net as my vriende en tjommas.
Olivia, ek het net soos Leonie na die woord "karkoer" gesoek. My ma het dit soms gaargemaak en dit was lekkerrrr. Jy skryf pragtig. Hou so aan. Dalk kan jy al jou gedagtes boekstaaf eendag!! So mooi! Voorspoed vir jou!!