Maggie: My lewe in die kamp deur Maggie Jooste: ’n resensie

  • 4

Titel: Maggie: My lewe in die kamp
Skrywer: Maggie Jooste
Uitgewer: Tafelberg, 2020
ISBN: 9780624090250
Epub ISBN: 9780624090267

Margaretha (Maggie) Jooste was net 13 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitbreek en haar lewe ingrypend verander. Ná maande in huisarres word sy, haar ma en vyf sibbe na ’n konsentrasiekamp in Natal gestuur. Hier ervaar hulle honger, onsekerheid en verlies, maar ook soms die goedhartigheid van Britse soldate.

Hierdie baie persoonlike vertelling, in haar eie woorde, is ’n verhaal van swaarkry en erge ontbering, maar ook van medemenslikheid en vriendskap oor vyandsgrense heen. Daar is die merkwaardige band tussen die Joostes en die Engelssprekende Russell-gesin wat lank voor die oorlog bure en vriende was. Terwyl die Britse soldate en Boerekommando’s oorlog voer, voorsien die Russells in die geheim kos aan die Joostes om hulle te help oorleef, en ondersteun hulle die gesin ook ná die oorlog.

Wanneer jy hierdie kort beskrywing van die uitgewers lees, kom beelde van vorige boeke oor die oorlog na jou terug, selfs iets uit my hoërskoolgeskiedenislesse. Maar daar is iets in die woorde van ’n jong meisie wat jou tot onverdeelde aandag noop. Wat die storie in jou skoot kom lê en vra dat dit deel word van jou. Dis nie meer net geskiedenis nie, dis iemand wat dit ervaar het, wat met jou praat. Smeek, as’t ware, dat die storie nie mag vervaag nie.

Maggie en haar lyding is egter nie net tot die konsentrasiekamp buite Howick beperk nie. Haar pa was ’n bannelinge op Bermuda; haar broer op St Helena. Daar is vir maande geen taal of tyding van hulle nie en geen sekerheid of hulle wel lewe nie.

Maggie skryf in haar 76ste – en ook laaste – lewensjaar (1962) ’n boek oor haar ervarings, maar dit lê vir 57 jaar vergete op ’n boekrak voor haar familie dit herontdek en laat publiseer. Sy kon dus nooit geweet het dat haar boek in 2020 die lig sou sien nie. Veral nie in die penarie waarin ons ons nou weer bevind nie.

In die voorwoord skryf Fransjohan Pretorius: “Daar is geen pretensie of aanstellerigheid in dié teks nie. ’n Mens leer om die narratief te vertrou en raak gou verdiep in hierdie persoonlike verslag van ’n jong meisie se ondervindinge tydens die Anglo-Boereoorlog. Dit is so reguit en eerlik.”

Maggie skryf in die eerste hoofstuk dat hierdie vertelling nie ’n geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog is nie. “Daar is al so baie daaroor geskryf en ek was destyds te jonk om die erns van alles te besef.”

En dis belangrik. Hierdie boek is nie ’n geskiedenisboek nie; dis iemand se aangrypende verhaal van swaarkry, van ontnugtering, van oorlewing. Sy skryf nie omdat sy bitter is nie, maar omdat sy nie wil hê mense moet vergeet wat in daardie kampe gebeur het nie. Sy skryf: “Vandag het min mense genoeg simpatie om daarvan te wil hoor of daaraan te dink. Ek wil nie iemand veroordeel of bitter wees nie, maar ek kan nie ons erge lyding en ontberings vergeet nie.”

In Mei 1902 eindig die oorlog, maar die wreedheid en onmenslikheid gaan elders in die wêreld voort. Bykans 98 jaar later staan ek onder die hoofingang van die Auschwitz/Birkenau-konsentrasiekamp in Pole. Ons gids, iemand wat dié toere deur die konsentrasiekampe al vir meer as 30 jaar doen, sê die rede vir die museumtoere is dat ons nooit mag vergeet watter gruweldade hier gepleeg is nie. Agter haar staan George Santayana se woorde: “Those who do not remember the past are condemned to repeat it.”

Enkele weke gelede het die wêreld die 75ste herdenking van die einde van die Tweede Wêreldoorlog gevier.

Toe ek lees hoe vroue en kinders in veetrokke gelaai is en vir drie dae sonder ablusie of kos na die konsentrasiekampe moes reis, het ek onwillekeurig aan die treintrok by Birkenau gedink. Dit staan vandag nog daar om die donker, die hopeloosheid en die wreedheid van die Nazi’s tuis te bring. 45 jaar vantevore het daardie selfde tonele hulle afgespeel op die vlaktes van Suid-Afrika. Daar was wel nie gaskamers nie, maar die ontbering, honger, siekte en ondraaglike lyding in die tentdorpe regoor die land, waarin daar bykans 50 000 mense dood is, volg dieselfde patroon.

Net soos jy miskien kan begin dink dat die boek dalk fiksie kan wees, blaai jy om en kry weer ’n foto uit die kampe: gesinne voor hul tente; die rye en rye tente wat in die ongenaakbare son bak en in die winter nat, koue, muwwe tronke word. Want as dit fiksie kon wees, sou jy jouself kon troos dat geen mens dit aan ’n ander kan doen nie.

Maar ons weet hulle het, weer en weer, en sal ook weer.

Maggie se ontberinge is egter nie verby ná die oorlog nie. Die ekonomiese nadraai het verreikende gevolge op haar ouers en haar drome van verder studeer word in die wiele gery. Net toe dinge vir haar begin uitwerk, breek die Spaanse Griep in 1918 uit en in 1921 saai dit chaos in haar lewe.

Sommige meen die wêreldekonomie is dalk nou weer in dieselfde skokkende verknorsing as ’n eeu gelede. Hongersnood, siekte en een miljoen dood weens Korona, saam met hemelhoë werkloosheid, is 100 jaar ná die verwoestende griep weer met ons.

Ons het vir enkele weke met inperking vroeër vanjaar ’n kykie gekry – hoewel glad nie op die skaal van Maggie en haar medeburgers 98 jaar gelede nie – in hoe dit voel om dopgehou te word, om nie uit jou erf te mag gaan nie, nie te kon gaan kos koop nie. Die hulpeloosheid van iets só buite jou beheer dat jy nie eers kan teëstribbel nie. In ons geval was dit vir ons eie veiligheid, in hul geval was dit doodsake as jy op straat gevang is. En selfs net dit het my soms verlam gelaat van vrees. Ek kan my dus nie indink waardeur Maggie se ma (soos duisende ander Boervroue) moes gaan met die wete dat sy nie vir haar klein kindertjies sal kan kos gee nie; dalk nooit weer haar man of ouer seuns sal sien nie. En dis nog voor die haglike twee jaar in die konsentrasiekampe, waar sy ’n kind verloor en byna haar been verloor het.

Dis nie maklike leesstof hierdie nie, maar dis noodsaaklike leesstof. Ons mag nie vergeet nie; ons mag nie toelaat dat dit weer gebeur nie.

En hoe dankbaar kan ons wees vir Maggie Jooste wat hierdie intieme kykie op haar swaarkry met ons deel. En nog dankbaarder dat dit bykans 60 jaar later in boekvorm uitgegee word.

  • Die boek is ook beskikbaar in Engels, maar ek dink die trefkrag lê juis in die Afrikaans, want dit dryf die boodskap van Afrikaanssprekendes wat daar ontbeer het, baie sterk in.
  • 4

Kommentaar

  • Salomé Malherbe

    Joernale geskryf in die privaatheid van eie stilte sonder agendas gestroop van ambisie ... woorde van bloed en die waarheid. Sulke vertellings skyn in die donker soos n helder lig wat nie uitgedoof kan word nie. Skyn soos 'n baken wat vir ons wys wie ons is waar ons vandaan kom en help ons om te kies ... hoe nou vorentoe. Baie dankie. Ons waardeer.

  • Gerrie van der Walt

    Die verhale gee mens hoendervleis. Ek het in 2012 my Ouma se dagboek wat sy gehou het gedurende die ABO opgespoor en in boekvorm laat druk. Al die ontberinge wat sy moes deurmaak met 'n baba van 'n paar dae oud rondvlug voor die Engelse. Sy is nooit gevang nie. Sy self was maar 19 jaar oud. Haar man was 'n Rebel wat saam met die Boere geveg het. Die ware verhaal is ook in Engels vertaal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top