Magdalene Lewies is Dysselsdorp Sekondêre Skool se trots

  • 0

Magdalene Lewies is ’n graad 11-leerder verbonde aan Dysselsdorp Sekondêre Skool. Dysselsdorp is ’n klein bruin nedersetting buite Oudtshoorn. Hierdie 17-jarige meisie is die gemeenskap se trots. Sy trek almal se aandag, omdat sy op haar ouderdom reeds ’n kranige onderwyseres is wat klasse na skool aanbied vir leerders so jonk as 7–13 jaar.

Sy het reeds in 2008 op laerskool begin “skool speel” toe sy met net vyf leerders begin het. Haar leerdertal het sedertdien tot 32 gegroei. Tydens die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) se besoek aan haar by die skool het sy vertel dat sy graag eendag ’n onderwyseres wil word, want sy hou van kinders en wil hulle graag help. Magdalene se lewensoriëntering-onderwyser, mnr Olivier, en haar Afrikaans-onderwyser, mnr Marnewick, het die wêreldse bewondering vir haar. Olivier het vertel dat Magdalene baie vir die gemeenskap beteken. Baie van die kinders se ouers werk in Oudtshoorn, of selfs George, en kom laat tuis. Daar is nie tyd vir hulle om die kinders met hul skoolwerk te help nie.

Deur haar klasse hou Magdalene ook die kinders van die strate af en gee aan hulle weer fokus, ’n doel. Mnr Marnewick vertel dat hy heel verbysterd was toe hy besef het dat Magdalene ’n talent het om kinders te onderrig. Hy het eendag by die klas ingestap en Magdalene voor die bord gesien, besig om ’n les aan te bied. Die kinders het met volle aandag geluister en was doodstil.

’n Ruimte is agter haar ouerhuis ingerig waar kinders in die middae onderrig word. Sy pas haar lesse by die kinders se ouderdomme aan en gee speltoetsies, maaltafels en leeslesse. Die SBA het van haar te hore gekom en het ’n reeks hulpmiddels aan haar geskenk wat sy in haar lesse kan aanwend. Haar klasse eindig nie net by hulle huis nie, want sy hou elke leerder se vordering op hulle rapporte fyn dop.

Sy is voorwaar ’n rolmodel en ’n voorbeeld. ’n Insetsel oor haar is onlangs op e.tv uitgesaai.

Kaylene Kortjé (13), wat vanaf graad 4 deur Magdalene onderrig word, is een van diegene wat reeds daarby baat gevind het. Sy het dit die beste opgesom: “Sy het my veral gehelp toe ek vir die eerste keer moes hoërskool toe gaan. Toe ek in graad 8 kom, het ek besef dat ek die werk kan doen wantMagdalene het my gehelp.”

Die SBA het verneem dat sy reeds ’n aanbod van studie aan die Universiteit van die Vrystaat ontvang het om daar onderwys te gaan studeer na matriek.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top