Terwyl die hele wêreld angstig op nuus oor hom wag, doen die regering, soos gewoonlik, sy werk op tipiese ANC-manier en stel SA in 'n swak lig. Dis nie 'n skielike krisis wat onverwags op hulle afgestorm het nie – hulle weet al jare van die moontlikheid.
Wat moes gebeur het? Eerstens, senior personeel in bv die departement van internasionale betrekkinge maak 'n studie van hoe lande elders opgetree het waar 'n internasionale figuur ernstig siek lê. Dit sal hulle dan nie lank neem nie om te weet dat die belangrikste is om die publiek op die hoogte van sake te hou en hulle vertroue te wen en te behou (die storie van 'privaatheid' is nie goed genoeg nie).
Dit beteken daaglikse rapporte oor Mandela se toestand en indien daar skielike veranderings ontstaan spesiale verslae. Elke oggend vroeg vergader die nagspan en bespreek die saak, waarskynlik saam met personeel van internasionale betrekkinge en die president se kantoor. Op 'n sekere uur word dan 'n verklaring uitgereik. Dis werklik só eenvoudig.
Ons regering struggle met selfs die mees basiese probleme – gevolglik skram hulle weg van die woord en praat liewer van “uitdagings”. Grotere sake beteken noodwendig ernstige krisisse. 'n Mens dink aan die mynbedryf, arbeidskrisisse, grondkwessies, die ekonomie, werkloosheid, misdaad en talle ander dinge. Die gevolg is 'n rand wat skynbaar met 'n vryval besig is. Ons het alle rede om onrustig te wees oor dinge soos kospryse, onluste, ens. Die klein wolkie van hoop op die horison is Cyril Ramaphosa as toekomstige ANC-leier, die nuwe politieke party en die DP se harde werk. As die ANC nie weet hoe om op kritiek te reageer nie word beskuldigings van rassisme gemaak.
Ek is nie sommer net in 'n pessimistiese bui nie. Sake is só ernstig dat ek met 'n grappie moet afsluit. As ek by 'n goeie vriend se huis aankom is daar altyd 'n WIT boxer wat my by die hek inwag. Ons stap dan saam na die voordeur waar sy baas my ontvang. Ek sê nie vir hom: “Dit gaan goed met my, hoe gaan dit met jou nie”. Nee, ek sê vir hom: “Johan, jy is 'n blerrie rassis. Al die ander mense in ons dorp het bruin boxers. Dis net jy wat 'n witte het!”
George


Kommentaar
George, ek dink nie die ANC-regering het 'n nagspan nie. Almal slaap rustig sodat hulle die krag het om die werk van die volgende dag uitdagings te noem.
Johannes Comestor
Johannes, ek is dit roerend eens met jou. Die ANC en sy ondersteuners in die staatsdiens en ander organisasies stop op die laaste om 4.00nm en het nog nooit van 'n nagspan gehoor nie. Die nagspan waarna ek verwys is die verpleegpersoneel en dokters. George
Hello George,
Hello,
Die storie is besig om in 'n Madiba-sirkus te ontaard. Die media is besig om dit groter en belangriker voor te stel as wat dit is. 'n Mens [seker een van duisende, net in ons land] is besig om te sterf. Massa-histerie is hier aan die orde.
Hello,
George,
Eers in gesprek met my dogter na 'n tydelike besoek uit Baghrain, moes ek agterkom watter geweldige ankerrol hierdie oud Staatsman in die lewens van ons post-94-kinders - se lewens sou speel. Die geweldige verlange soms - was in 'n mate gevoed deur die wete dat hul hul koppe in enige geselskap hoog kon hou. Madiba immers 'n vergestalting van 'n vertroostende "surrogaat " vader ... staan onbetwisbaar eenmaal vas. ( Haar woorde en my heimlike jaloesie!)
Die pessimisme op die gesig van haar (en tydgenote) met die wete dat hierdie "assosiasie" aanstons 'n einde mag - en gaan bereik ... is onbeskryflik.
Tereg sou sy opmerk dat 'n vakuum van Zummiteit haar geensins aanstaan nie. (Vir 'n pa wat na sy kind in diepe ontroering verlang ... inderdaad geen goeie nuus nie. 'n Onderliggende vrees dat dit op permanensie dui, eweneens hart-ineenkrimpend so.)
Met hierdie oopoog bewondering val dit dus hierdie skrywer op hoe van Nuus24 se forumgebruikers so 'n radikale ander siening oor hierdie man koester. Inteendeel, kommentare van "hang hom / stenig hom / kastreer hom " is meer die norm as die reël. Lsg stem my meer tot droefheid as die wete dat ek oor minder as 'n week - weer " ouerloos "die son moet help optel" ... in hierdie huidige en droewige blerrie land van ons.
Groetnis
Danie