Tussen die soet en suur van bruin wees in Suid-Afrika, het Gugile Nkwinti, die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, die afgelope tyd hoop en inspirasie gebring vir dié nasate van die Khoi en San.
Ek wil dit duidelik stel dat ek geensins beweer dat bruines ’n homogene groep is nie. Daar is bruines wat hulself nie as Khoi of San beskou nie. Andere voel egter sterk oor dié identifisering.
Aan die begin van die 21ste eeu, toe ons wat gedurig dink, skryf en praat oor die kompleksiteit van ras, klas en etnisiteit (veral oor die bruin problematiek), debat gevoer het oor waar die oorskot van Sarah Baartman begrawe behoort te word, het ’n waarheid na vore gebeur.
Hein Willemse het gesê: “Dis 'n feit dat bruin mense nie net Khoisan is nie. Hul leefwêreld is ook Kreools, Westers, Oosters, Afrikaan. Die kultuursmouse, deur een aspek te verhef, doen hulleself en hul navolgers 'n onguns aan. Hulle gee 'n eensydige perspektief aan die hele kwessie.”
In dieselfde tydperk het wyle Jakes Gerwel in ’n onderhoud genoem sy ma is van “Xhosa-afkoms”.
Teen die agtergrond van die alewige debat oor die afskeep van bruines moet die heropeningsproses van grondeise verwelkom word.
Om die proses moontlik te maak is die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte onlangs in die Staatskoerant gepubliseer. Die inhoud van dié wet het egter ’n demper geplaas op die goeie gees (aan Khoi-kant) wat geskep is na die gesprekke tussen Khoigroepe en Nkwinti, omdat dié wet dit nie moontlik maak vir die Khoi en San om te eis vir grond wat voor die Wet op Naturellegrond van 1913 onteien is nie.
Sedert die aanvaarding van die tussentydse grondwet in 1993 en die finale grondwet in 1996, is veral kommer uitgespreek onder bruines. Dit is omdat die onderhandelingspan van die destydse Arbeidersparty en bruin NP-verteenwoordigers by Kodesa en die onderhandelingsproses min of niks gedoen het om die ongelukkigheid oor die 1913-afsnypunt te opper nie.
In my onderhoude met wyle Allan Hendrickse, Chris April en andere oor dié kwessie(s) kon niemand antwoorde op hoekoms en waaroms verskaf nie. ’n Deeglike wetenskaplike studie behoort gedoen te word oor hoekom bruin kwessies – wat dit ook al mag beteken – nooit nie, of in ’n minder mate, neerslag gevind het by bogenoemde prosesse nie.
Nkwinti het gemoedere gekalmeer en gesê die grondwet gaan gewysig word om die grondeise van die Khoi en die San te akkommodeer.
Ook het hy aangekondig dat die Kasteel in die Moederstad, wat dateer uit die dae van Jan van Riebeeck, moontlik eersdaags van ’n simbool van kolonialisme na ’n helingsplek vir die Khoi verander kan word.
Nkwinti het gesê die versoek het van die Khoi gekom “wat ’n belangrike deel van ons bevolking is wat oorgesien is toe die terugwerkende datum vir grondeise vasgestel is op 1913”.
Dit is ongetwyfeld ’n “Madiba-inslag” wat meehelp aan regstelling, versoening en nasiebou. Dit gee hoop en behoort bruines te motiveer om gereeld met die regering in gesprek te tree oor kwessies wat hul ten nouste raak.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

