Madame Zingara terug op tuisfront met hope vermaak

  • 0

Die impresario Richard Griffin se maaltyd met ’n droomskouspel is terug in Kaapstad na ’n lang afwesigheid waartydens die kreatiewe span ’n draai in die buiteland gaan maak het. In Londen het hulle ’n uitverkoop-seisoen gehad, wat veral gewild onder Suid-Afrikaanse expats was. Dramaturg en regisseur Charles J Fourie het Madame Zingara se jongste skouspel, The Love Magic Tour, by Century City besoek.

Ons eietydse maaltyd-en-vermaak-vertonings wat deesdae so gewild geraak het, het volgens oorlewing sy oorsprong in die Middeleeuse Madrigale-ete. Dié ete-vieringe, wat oor die Kerstyd aangebied is, was ook die bymekaarkom plek vir koninklikes en rykes.

Gedurende vertonings is kos in sarsies tussen die verskillende aanbiedinge bedien, en is die gehoor vermaak met ’n toneelstuk wat op komiese wyse ’n liefdesverhaal vertel oor die een of ander prins en prinses. Mens kan die oorsprong van Shakespeare se komedies hier herken. Tussendeur is die gehoor ook betrek as gaste by die verbeelde troue van die geliefdes, en verder vermaak deur goëlaars, komediante, sangers en akrobate.

Vandag se maaltyd-en-vermaak-vertonings steun ook sterk op die burleske, die sirkus soos opgedis deur die bekende Cirque Soleil, en natuurlik ook die Amerikaanse Vaudeville van die vorige eeu.

Stap jy in by Madame Zingara se jongste aanbod, The Love Magic Tour, word jy dan ook oorweldig deur dieselfde speelse atmosfeer wat die Vaudeville-era kenmerk, maar met ’n tikkie Afrika-nostalgie rondom die tentkoepel.

Die sink-en-plastiek-uitbeelding van township-lewe, kompleet met verskeie tematiese sjebeens, vorm deel van Zingara se fondsinsamelingsprojek Ikamva Labuntu, wat dit ten doel het om selfonderhoudende projekte in townships te fasiliteer. ’n Deel van die Kaapstadse speelvak se deurinkomste word dan ook geoormerk vir die ontwikkeling van ’n gemeenskapsentrum in Khayelitsha.

Dis egter wanneer jy die Victoria-tentkoepel betree dat die werklikheid daarbuite gou vergete raak. Hier is jy omring deur medegehoorlede en Zingaryne, almal geklee in kostuums en modieuse parafernalia. Die Belgies-vervaardigde Victoria-tentkoepel is ook een van die laaste spieël-en-geglasuurde reisende tente in die wêreld, en doen al vir meer as tagtig jaar die ronde.

Met die lui van ’n klok en skarrelende kelners word die tafel gedek vir ’n aand se gehalte-vermaak. Aktrise Rory Avenstrüp as The Little Queen of Tarts verwelkom die gehoor, en kort voor lank word jy meegevoer deur verskeie aanbiedinge met ’n viergangmaaltyd wat tussendeur bedien word.


Ons pikante kelnerin Cleopatra vertel tussendeur dat hulle elke dis binne elf minute aan meer as 400 gaste bedien. En wanneer sy later ’n smaaklike porsie springbokskenkel voor my neersit, wonder ek hoekom jy so lank op diens moet wag by restaurante waar daar minder as tien tafels is.

Die vertoning self loop vlot van die een aanbod na die ander, en dis veral die akrobatiese Diva Dasi’s en die Las Vegas hoela-hoep arties wat hierdie gehoorlid sy entrée per ongeluk in die wyn laat doop het.

Die twee Oekraïniese sweefartieste en Charles Tertiens se vermaaklike “majieksian”-toertjies is saam met die Mongoolse akrobate verdere hoogtepunte van die aand. Maar dit is wanneer die Russiese rolskaatspaar opkom dat die gehoor snak na hul asems, as die prins sy prinses deur die lug laat tol soos ’n yo-yo.

Teen die einde van die aand betree die gewilde sang-trio Three Tons of Fun weer die verhoog en sing bekende nommertjies van ’n vervloë era, en ons as gehoor word saamsingend en kuierend deel van die burleske ervaring.

Mens kan maar net jou hoed afhaal vir ’n aanbieding wat logisties vlot en professioneel deur al die betrokkenes uitgevoer is. Die beduidende gehoorbywoning by vertonings het hierdie dramaturg op pad huis toe laat wonder of ons teaterskeppers nie miskien hier ‘n les of twee kan leer nie. Gee die volk nog koek!

Madame Zingara se The Love Magic Tour is nog tot einde Augustus by Century City voor dit na Johannesburg verskuif. Besprekings kan aanlyn by hul webtuiste, www.madamezingara.com, gedoen word. Die kaartjies (wat ‘n viergangmaaltyd insluit) kos vanaf R300 en die vertoning skop om 20h00 af.

“Chicago ... had a fierce pioneer gaiety that enlivened the senses, yet underlying it throbbed masculine loneliness. Counteracting this somatic ailment was a national distraction known as the burlesque show, consisting of a coterie of rough-and-tumble comedians supported by twenty or more chorus girls. Some were pretty, others shopworn. Some of the comedians were funny, most of the shows were smutty harem comedies – coarse and cynical affairs.”  – Charles Chaplin, 1910.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top