Kuberklas Kreatief-kortverhaal: Madam 50's Glam Vintage

  • 0

Stella de Bruin kyk intens na die beeld in die spieël. Eintlik kyk sy nie na haarself nie, maar uit die hoek van haar oog na Brenda Vermaak wat langs haar staan en grimering opknap. Dié het blonde hare wat sy altyd los laat hang sodat dit in die wind swiep as sy verby die waaiers loop. Haar vel is radient, haar oë is die diepste blou. Sy is gebou soos ’n model. Dis nie regverdig nie, dink Stella. Sy wil ook mooi wees. Almal in die kantoor is mooier as sy! Halfhartig verskuif sy haar blik terug na haarself, sodat Brenda nie die verkeerde idee moet kry nie. Haar vaalbruin hare is in die gewone poniestert vas en haar denim en wit bloesie lyk onvleiend en outyds teenoor Brenda se swart mini en blou halternek toppie, afgerond deur dramatiese swart hoë hakke. Stella kan nie met die goed loop nie. Sy dra maar elke dag tekkies. Sy kan sien hoe die mans in die kantoor haar met afsku aankyk. Hulle sal tog nooit in haar belang stel nie. Dis immers die rede hoekom sy so omgekrap is vanoggend. Brenda het gister aangekondig dat sy en Hendrik Tredoux, die hunk van die Regs Agentskap oorkant die straat, verloof is. Dit sal seker nooit vir haar wat Stella is beskore wees nie. Sy kyk op haar horlosie. Sy het nog ’n drie-kwartier van haar etenstyd oor. Sy besluit om bietjie uit te kom. Sy glip by die hysbak in net voor die deur toegaan en maak of sy nie sien hoe die mense wat alreeds binne is haar aangluur toe sy die knoppie vir die eerste verdieping druk nie. Omdat sy so vaal voorkom, praat mense nie sommer met haar nie, dink sy vies en wens weereens dat sy net ’n bietjie mooier, of dalk ’n bietjie slimmer kon gewees het. Selfs al is mens net slim en nie mooi nie hou mense sommer net van jou.

Die hysbak kom tot stilstand en sy verlaat dit vinnig sonder om om te kyk, vir ingeval die mense nog kwaad is. Sy is nou op die grondvloer van die besige gebou, wat hoofsaaklik as kantore vir groot firmas dien. Dit is een van Johannesburg se hoogste geboue, in die middestad, naby baie ander soortgelyke geboue. Sy staan eers ’n ruk stil buite die groot skuifdeur wanneer sy buite kom, en besluit dan maar om koers te kies na die rits boutiques, koffiewinkels en kunsplekkies in dieselfde straat af. Natuurlik sal sy net kan venster-inkopies doen, want iemand soos sy verdien nie ’n groot genoeg salaris om by sulke ’n plekke in te gaan nie. Eintlik moet sy nie eens daar verby loop nie, want dan voel sy sommer mismoedig, maar vanoggend het sy iets nodig om haar op te beur, en al kan sy net kyk, is dit darem iets wat vertroostend klink.

Sy stap verby talle sulke winkeltjies en kom dan met ’n gesnak na asem en ’n hart wat in haar keel klop voor die een winkelvenster tot stilstand. Haar oë rek. Dit voel asof iets vir haar sê ... toe, gaan binne, kom, kom ... Dis natuurlik die asemrowende nommertjie op vertoning wat haar so laat voel. Dis net eenvoudig die mooiste rok wat sy nog ooit gesien het, maar sy weet nie hoekom nie. Dis eenvoudig, dog perfek. Dit is ’n tipiese 1950s affêre, met ’n uitklok-romp en ’n nougesette bostuk. Sy kan haar self nie help nie, sy moet dit net hê! Voor sy haar self kan vind is sy in die aantrekkamer besig om die rok aan te pas. Dan is sy by die toonbank, besig om haar kredietkaart se pin-nommer in te tik. Sy byt op haar tande toe die groot bedrag op die kasregisterstrokie haar oog vang. Maar nou ja, dit is die moetie werd verseker sy haarself en bedank die kasier. Dan stap sy vrolik die winkel uit, skielik in ’n besonders beter bui.

Die volgende oggend toe sy by die werk instap, is dit asof iets ontplof. Almal kyk na haar. Sy lyk nie baie anders as gewoonlik nie. Dit moet dan die rok wees, besluit sy. Sy het al baie rokke aangetrek, maar nie soos hierdie een nie. Sy weet sommer daar is iets aan die rok wat die koppe laat draai. Dis asof die mans in die kantoor soos ’n klomp skape geword het. Hulle staan en staar haar oopmond aan, openlik, asof hulle nie verleë is om so na haar te kyk nie. Die vroue is jaloers, en trek hulle oë op skrefies soos wat sy verbyloop. Dit alles vat net ’n paar sekondes en dan, skielik, verhelder almal se gesigte. Sy word hartlik gegroet, hande word geskud, omhels deur ‘vriendinne’, gevra hoe haar dag so ver verloop het, daar word gewonder of iemand iets vir haar kan bring. Wil sy koffie hê? ’n Ruiker reuse pers en pienk blomme word in haar arms geplaas. Sy weet nie watter kant toe nie. Dis asof ... asof almal skielik van haar hou. Asof sy die mees populêre persoon in die hele gebou is.. Amper soos ’n filmster wat op die hande gedra word. Sy kan dit nie glo nie. Maar vir een of ander rede bly sy koel en kalm ... dit voel so natuurlik. Asof dit nog altyd so was. En dít kan sy nie lekker kop nie, al probeer sy hoe. Dit kan tog nie die rok wees wat almal se aandag na haar toe trek nie? Vir die res van die dag bevind sy haarself in ’n dwaal. Sy kan nie glo dat almal skielik blyk dink dat sy die son is nie, want dit is kompleet soos hulle aangaan. Selfs die grootbaas kom persoonlik na haar kantoor toe om haar te groet en ’n koppie koffie saam met haar te drink, terwyl hy met haar gesels asof hulle ou vriende is. Dit is net die vreemdste ding wat sy nog ooit oorgekom het. Teen die tyd wat die dag verby is, het sy vier selfoonnommers van die mees aantreklikste enkellopendes in haar firma en het twee beloftes gemaak om een of ander tyd saam met haar uit te gaan. Wanneer sy by die huis kom, en later in die bed klim, kan sy nie slaap nie. Duisende vrae maal in haar kop rond. Wat op aarde het vandag gebeur, wonder sy male sonder tal. Dit kan onmoontlik nie haar voorkoms gewees het nie. Ook nie haar persoonlikheid nie. Nee, dis eerder asof almal by die werk verander het. Selfs Brenda het een of twee keer by haar kantoor ingeloer en haar raad gevra oor dit of dat. Oor dit was sy seker die meeste verbaas van alles. Sy raak uiteindelik aan die slaap met ’n vlinder gevoel in haar maag.

Die volgende dag is sy weer stomgeslaan, maar vir totaal ander redes. Niemand kyk eens op toe sy die vertrek binnekom nie. Geen een groet haar nie. Dis ... dis asof sy nie bestaan nie. Sy kyk af na haar kakie broek en laventel kleurige t-hemp. Sy probeer daardie loopplank-loop doen wat sy gister so goed reggekry het, maar slaag nie daarmee nie. Sy val amper oor haar eie voete en nog steeds kyk nie ’n siel na haar nie. Sy is heeltemal verward. Het sy dan gedroom? Sy kan tog nie een dag soos ’n prinses behandel word en die volgende totaal onder die radar verdwyn nie?

Etenstyd maak sy ’n draai by haar woonstel wat nie te ver van haar kantoor af is nie, sy loop gewoonlik werk toe en terug. Sy het besluit om ’n bietjie te eksperimenteer. Vol selfvertroue loop sy ’n uur later by die werk in, geklee in die '50s-rok, natuurlik. Dis nou wel nie baie van pas om dieselfde klere twee keer  na mekaar aan te trek nie, veral nie in ’n firma waar almal so modebewus is nie, maar sy moet net weet. En waarlik, die reaksie is presies dieselfde as die vorige oggend. Sy word byna bestorm, kry ’n geskenpakkie met parfuum en badsout. Die grootste skok van die dag is toe sy die woorde by haar eie lippe hoor uitkom wat bevestig dat sy daardie aand saam met Neil, ’n baie aantreklike, gesogte mede-werknemer gaan eet. Dit dring eers eintlik tot haar deur toe sy later daardie middag voor haar spieëlkas sit en haar hare vir die eerste keer in wie weet hoe lank in ’n mooi styl probeer opdoen. Dit lyk seker maar ok, dink sy en sug. Sy is nou eenmaal nie ’n haarkapper nie. Dan glip sy weer in die rok in. Sy gaan liewer nie kanse waag nie. Versigtig maak sy die swart skoenboks langs haar bed oop en haal die allemintige hoë porselein hakskoene uit wat sy daardie middag sowaar by die selfde boutique gewaar het, toe sy op pad huis toe die snaakste, oorrompelende gevoel gekry het om net gou weer daar verby te stap. Dit was asof die skoene arms gehad het om vir haar te waai, om na haar te hunker. En ’n mond om haar na binne te roep en te verseker dat sy hulle wil dra. Sy glip tevrede haar voete daarin, en kyk met selfvertroue in die spieël. Dit lyk of dit vir die rok gemaak is, om presies daar by te pas, dink sy verslae. Sy het vandag moeite gedoen om die boutique se naam te memoriseer. Madam 50’s Glam Vintage. Dit klink sommer geskik vir een of ander filmster.

In die rok sien sy kans om ’n berg uit te klim, dog sal sy dit nie kan waag nie, want dit sal beslis verniel. Sy spuit van die reukwater aan wat sy daardie oggend present gekry het en besluit dat sy reg is vir die aand. Dan hoor sy ’n kar se toeter net buite haar woonstel en haar oë rek. Neil, in sy swart Mercedes, is in die parkeerterein. Sy haas daarna en die deur word vir haar oopgehou. Hulle gesels oor dit en dat terwyl hulle na die restuarant ry en dit voel asof sy hom jare al ken. As sy haar oë uitvee is dit die volgende oggend, en ... en wat? Sy sit regop. Sy kan niks onthou nie. Sy kyk om haar rond. Sy is definitief in haar kamer, in haar bed. Sy het haar slaapklere aan en haar hare is los. Dan onthou sy die geluid wat haar wakker gemaak het – haar wekker. Sy gee die irriterende ding ’n geweldige klap en dit hou op loei. Dis sesuur, tyd om op te staan. Die rok wat sy die vorige aand nog aangehad het hang netjies oor haar gemakstoel in die hoek van die kamer. Sy skud haar kop verward. Sy kan glad nie onthou wat gebeur het nie. Sy weet hulle het heerlike Chinese kos bestel en elk ’n glasie rooiwyn. Hulle het oor so baie gesels en sy was totaal in haar element. Dit was asof sy ’n nuutgevonde selfvertroue ontdek het wat sy nog nooit van tevore gehad het nie. En toe, wat toe? Sy weet nie. Sy hoop net nie sy het iets onverantwoordeliks aangevang nie. Wel, darem kan sy nie onthou nie. Sy besluit dat dit haar nêrens gaan bring om verder oor die saak te tob nie en begin regmaak vir werk. Sy slaan ’n glas melk met ’n handvol muesli weg en spring gou onder die stort. Dan trek sy weer die rok aan. Sy kan haarself nie help nie. Dit voel asof die rok na haar roep elke keer wat sy daarna kyk. Sy pluk ook die skoene aan en vleg haar hare in ’n elegante kantvlegsel.

Net soos sy gedink het, is almal gereed om haar met sterre in die oë te ontvang. Sy begin al amper gewoond raak daaraan om so gepamperlang en verstaan te word, dat sy byna vergeet hoe dit voel om geïgnoreer te word. Dit is eers heelwat later toe sy in die kantoor tyd kry om deur die oggendkoerant te blaai (aangedra deur een van haar ywerige bewonderaars natuurlik) wat sy voel hoe ’n koue rilling deur haar trek. Groot op die voorblad is daar ’n foto van Neil onder die opskrif: Man dood in sy woonstel gevind. Haar oë wil nie lees nie, maar sy dwing haarself. Dit sê in die artikel dat Neil om tienuur die aand gewaar is saam met ’n metgesel wat hom na sy woonstel vergesel het. Ooggetuies het waargeneem dat die twee by sy woonstel ingegaan het, en die metgesel, ’n vrou, het ’n ruk later met ’n grynslag en stralende selfvertroue die woonstelgebou verlaat, en nogal vir omstanders gewaai en poseer. Hulle het nie gesien of Neil haar na die deur vergesel het nie. Maar later daardie aand het die polisie ’n oproep van sy woonstelmaat gekry dat hy Neil dood op die rusbank aangetref het. Die oorsaak van dood, deur die outopsie bepaal, was gif. Vermoedelik arseen.                                                                                                                    

Sy voel hoe sy ys, yskoud word toe sy verder lees. Dit sê dat die polisie vermoed dit was moord en dat hulle binnekort die metgesel gaan opspoor en ondervra. Nee. Dit kan nie wees nie, dink sy. Dis onsin. Skielik kyk sy af na die rok en besef dat iets baie verkeerd is. Dit voel asof ... asof sy dit nooit weer wil uitrek nie. Dit voel asof sy totaal en al bewus is van hoe sy daarin voel. Asof sy werklik ’n filmster is wat in die vyftigs bekend geraak het of so iets. En sy voel ook verkeerd. So asof daar stukke van haar geheue weg is. Vinnig skakel sy haar rekenaar aan en tik op die ingewing van die oomblik die boutique se naam op Google in. Sy klik op die tuisblad en begin lees. Madam 50’s Glam Vintage. Gestig deur Mevrou Klara Hoogenhoud sowat tien jaar gelede. Die boutique spog met net gesogte ‘vintage’ klere van die vyftigs, oorspronklik gedra deur van ons land se bekroonde filmsterre en teater-aktrises ...

Sy lees nie veel verder nie, want ’n foto vang haar oog. Dit is haar rok. Sy wonder hoe oud hierdie webblad is, want volgens hulle is die rok steeds beskikbaar. Sy klik op die prentjie en die blad maak daarby oop. Dit is definitief haar rok. Dit het behoort aan die Amerikaanse sepiester Margaret Odeal, wat in 1952 ’n sensasie was. Sy was glo soos Suid-Afrika se eie Marilyn Monroe en was bekend vir haar klassieke styl. Daar is ’n skakel na nog ’n webblad.’n Hoofopskrif van een of ander koerant. Sy maak dit oop. Dit is ’n koerant van 1955. En dan word sy nog meer koud in haar binneste en haar bors trek toe, haar mond word droog en sy voel flou. Die einste Margaret Odeal is daardie jaar in hegtenis geneem vir die moord op haar mede-ster, ’n aantreklike jong man waarmee sy vermoedelik ’n verhouding gehad het. Sy is laaste in sy woonstelblok gewaar, waar hy later daardie aand dood aangetref is, die oorsaak arseen-vergiftiging. Dit was duidelik ’n groot storie en Margaret het ’n swaar vonnis gekry. Dit het ook gedurende die hofsaak uitgekom dat die man nie haar eerste slagoffer was nie, en dat sy in die vier jaar of so wat sy beroemdheid verwerf het, nog twee ander mans probeer vermoor het, maar nie suksesvol was nie. Sy het hulle deur afpersing gekry om stil te bly daaroor, en toe slaan sy weer toe op die arme man.                           

Stella kyk af na die rok wat sy aan het en voel ’n verskriklike drang om te skree. Nee. Hoe op aarde is so iets tog moontlik? Sy kan nie ... sy kon nie ... Maar tog. Sy kan niks onthou van die vorige aand nie. En nou is Neil dood aan vergiftiging en die persoon aan wie die rok behoort het, was jare gelede verantwoordelik vir moord. Sy snak na haar asem en dit voel asof sy heeltemal verstar het. Sy kan haar bene nie vind nie, want dié voel soos jellie. “Ek moet hier uit ... ” prewel sy vir haarself en probeer iewers binne haar die krag kry om uit haar kantoorstoel optestaan. Sy kry dit net-net reg om tot by die hysbak te kom. Almal wil weet wat verkeerd is met arme Stella en is daar nie iets wat hulle vir haar kan bring nie want sy lyk ’n bietjie bleek om die kiewe. “Nee ... ” sukkel sy dit uit en verdwyn dan met die hysbak af. Sy hardloop amper huis toe, so desperaat is sy, maar die rooi hoë hakke maak dit effe aan die moeilike kant. In haar slaapkamer sak sy ineen, ’n hopie op die bed en voel hoe trane in haar oë opdam. Sy wou maar net mooi wees. Sy wou maar net vir eens soos ... ’n ster behandel word. En kyk nou. Nou is sy in hierdie gemors.

Miskien as sy van die aaklige rok onstlae raak ... Sy trek dit vinnig uit, gooi die rok in ’n plastieksak, bind dit verwoed toe en gooi dit in die asblik. Dan gaan klim sy onder die duvet in en trek dit oor haar kop. Sy sal more aan ’n verskoning dink hoekom sy nie terug is werk toe nie. Die volgende oggend voel sy nog hoe haar hart wild rondspring in haar borskkas, maar doen haar bes om dit te ignoreer. Sy het taamlik later geslaap as gewoonlik en besef dat sy vinnig sal moet maak of laat vir wer kwees. Nie dat sy kans sien nie, maar sy kan nie vir ewig wegkruip nie. Sonder om daaroor te dink, of om te weet wat sy doen, vind sy haarself in die kombuis, besig om die plastieksak oop te maak, die rok daaruit te haal en dit oor haar kop te trek. Dan loop sy kamer toe en die bypassende skoene is aan haar voete. Sy staan geskok vir haar beeld in die spieël en kyk en besef dan eers wat sy gedoen het. Sy raak weer koud en voel rillings teen haar rug af. Wat is aan die gang? Dis hierdie rok. Dis asof dit nou ’n houvas op haar gekry het. Sy weet net dat dit nie reg is nie. Dit is beslis nie normaal nie. Maar sy kan haarself nie so ver kry om die rok uit te trek nie. Daarin geklee daag sy by die werk op, en vind dat almal net vir haar wag. Maar vir die verkeerde rede. Daar is twee polisiemanne in die gebou en sy snak na haar asem toe hulle reguit op haar afpyl. Haar hande word agter haar rug vasgepen deur die groot bul van ’n konstabel. U is onder arres vir die moord van Neil Stander op die aand van 22 September. Jy het die reg om stil te bly, enige iets wat jy sê kan en sal teen jou in die hof gebruik word.” Sy skop woes en probeer losruk. “Dis die rok ... dis die rok,” prewel sy met ’n gejaagde asem en probeer haarself hoorbaar maak bo die gedreun van geskokte kollegas. Maar dis tevergeefs. Skielik weet sy nie wat sy doen nie, maar sy kry dit reg om een van haar hande los te ruk, gee dan ’n harde pluk aan die rok se soom en die vleserige materiaal maak ’n snaakse skeurgeluid. Sy hou ’n stuk van die romp in haar hand en voel nogal skaam oor haar bobeen wat nou effens meer beklemtoon is deur die kaal kol. Maar op dieselfde oomblik raak dit stil. Die polisie het haar hande gelos en almal in die kantoor staan  met verslae uitdrukkings op hulle gesigte. Almal kyk om hulle rond, die polisiemanne nog meer verbaas as enige iemand anders, blyk dit. Dan skud hulle hulle koppe en die sersant vra, “Wat soek ons nou weer hier, boys?”.

Die ander skud hulle koppe met oophangmonde en: “Ek weet nie eintlik nie ... Dan gaan ons maar". Dit klink meer soos ’n vraag en die polisiemanne kies koers na die hysbak. Sy kom terselftertyd agter dat niemand meer vir haar kyk nie. Sy staan verslae met die stuk geskeurde rok in haar hand en voel weer soos haar ou self. In haar kantoor vind sy dat die koerant van gister nie meer op haar tafel lê soos sy dit gister gelos het nie. Sy het haar kantoordeur agter haar gesluit toe sy weg is, so hoe op aarde is dit dan net weg? Sy sak in die stoel neer. Dit was beslis die vreemdste week van haar lewe. Aspoestertjie se koets was toe net ’n pampoen.

 

Hou ons Facebook-blad dop vir nuus oor die volgende WF-kompetisie wat binnekort afskop!

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top